Dick Cheney, die Amerikaanse vise-president, het 'n ruk terug hartprobleme gehad. Die volgende dag was hy terug by die werk. Moes hy uitgetree het?
Op die oog af sou min mense kon raai dat hartspesialiste die vorige dag ‘n vernoude hartvat van Cheney met ‘n ballonnetjie oopgedruk het.
Advertisement
Sy dokters hou vol hy is gesond; dat sy hart niks makeer nie.
Maar in November verlede jaar het dokters ook volgehou hy makeer niks toe hy ‘n ligte hartaanval gehad het, en hulle ‘n sambreel-skroefie (stent) in die vernoude slagaartjie geplaas het om dit oop te hou. In een uit elke tien gevalle reageer die bloedvat-binnewand en vorm littekenweefsel sodat die vat weer toegaan. Cheney was een van dié ongelukkiges. Sy hartvat het, skroefie en al, binne vier maande weer toegegaan, en die kans is nou sowat 40 % dat dit weer kan gebeur.
“Cheney moet uittree”, “Cheney is op ‘n selfmoordmissie”, skryf Amerikaanse rubriekskrywers en politieke kommentators in toonaangewende en nie-toonaangewende Amerikaanse koerante.
“Die Amerikaanse vise-president behoort uit te tree om sy eie lewe en dié van miljoene ander hartpasiënte wat hom as ‘n voorbeeld dophou, te red”, skryf Amerikaanse rubriekskrywer Ariana Huffington in salon.com.
Ná drie hartaanvalle tussen 1978 (toe hy slegs 37 jaar oud was) en 1988, ‘n viervoudige hartvatomleidingsoperasie in 1988, ‘n vierde hartaanval in November verlede jaar, ‘n skroefie in sy hartvate om die vernoude vate weer oop te druk, en ‘n ballon in Februarie om dieselfde slagaartjie weereens oop te druk, klink Cheney inderdaad na ‘n lopende tydbom.
Sommige mediese en politieke kenners reken dat hy dit aan homself en sy volk verskuldig is om uit die damp- en streskring van vise-presidentskap te tree.
Die Amerikaanse Hartvereniging (AHA) stem nie saam nie. Met optimale sorg en behandeling – en Cheney is beslis ‘n voorbeeld – kan baie hartpasiënte ‘n normale lewe ly ná ‘n hartaanval.
Te min mense – ook Suid-Afrikaners - is egter so gelukkig soos Cheney om optimale behandeling en sorg na ‘n hartaanval te kry. Te min mense gebruik aspiriene en die bloedverdunningsbehandeling, cholesterolverlagende middels, bloeddrukmiddels, hou op met rook, verloor oortollige gewig, eet minder diervette en doen genoeg oefening.
Wetenskaplik is daar nou geen twyfel dat diegene wat reg eet, oefening doen, en hulle medikasie neem, goed herstel nie. Om stres te vermy, is belangrik, maar om nie te werk nie, kan dalk meer stresvol wees, waarsku Amerikaanse kardioloë en ook die Kaapstadse kardioloog dr. Elwyn Lloyd.
Ondanks die openbare debat, reken baie kardioloë die kans is goed dat Cheney oor vier jaar nog gesond sal wees. Hy sal weliswaar goed gemonitor word. Maar as sy hartvate weer toegaan, sal dokters dit tien teen een betyds opspoor, en met ‘n nuwe en uiters belowende tegniek weer oopmaak.
Die nuwe tegniek, wat onlangs deur die Amerikaanse Administrasie vir Voedsel- en Medisyne (FDA) goedgekeur is, behels radio-aktiewe bestraling inwendig binne-in die bloedvat.
Die tegniek is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie, maar dr. Lloyd voorspel dat dit slegs ‘n kwessie van tyd is voordat ook Suid-Afrikaanse pasiënte hierby sal kan baat.
Volgens Suid-Afrikaanse kardioloë is waarhede en wetenskaplike feite wat in Cheney se geval geld, ook van toepassing op baie Suid-Afrikaners:
Feit 1: Baie mense met hartprobleme is adrenalien-slawe wat deur stres gedryf en gemotiveer word. Oefening is deel van goeie stresbeheer.
Feit 2: ‘n Hartaanval is sinoniem met skade aan die hartspier, weens ‘n afsluiting van die bloedtoevoer na ‘n deel van die hartspier. Dit gebeur as ‘n klein bloedstolsel by ‘n vernouiing in die klein hartvat vassteek. Die vernouiing vind oor jare plaas weens hoë bloedcholesterolvlakke (veral van LDL-cholesterol), te veel vette in die bloed, skade aan die binne voeringlagie van die bloedvate, en die blokkasie word vererger deur rook, hoë bloeddruk (wat stolselvorming aanhelp) en ander risikofaktore.
Feit 3: Elke jaar kry meer as 50 000 Suid-Afrikaners ‘n hartaanval. Sowat 12000 sterf onmiddellik. Net Skotland, Finland en Noord-Ierland het ‘n groter voorkoms van hartsterftes as Suid-Afrika. Meer mense sterf (108 per dag) in Suid-Afrika weens hartaanvalle en beroerte as aan kanker, vigs en geweld saam.
Feit 4: Meer mense se lewens sal gered kan word indien hulle binne drie tot vier ure ná die eerste simptome by ‘n dokter uitkom. As ‘n mens benoud voel, skielik vreemd moeg, ‘n sooibrandgevoel oor jou maag en bors, veral ná oefening, kan dit ‘n angina-aanval of ‘n hartaanval wees. Mense moet beslis nie eers wag en kyk of die sooibrand ‘n hartaanval is of nie. Toediening van ‘n stolsel-oplosser binne drie tot vier ure kan ‘n lewe red en die kans verhoog dat hy/sy sonder hartskade herstel, sê dr. Lloyd.
Feit 5: Hartvatomleidingsoperasies, ballontegnieke en sambreel-skroefies in hartvate is tydelike maniere om die hartspier weer van voldoende bloed te voorsien. Vyftien jaar gelede het sowat ‘n derde van oopgedrukte vate binne ses maande ná die oopdrukslag met ‘n ballon weer verstop. Sowat 22 % (‘n vyfde) van dié wat met skroefies oopgedruk is, het weer toegegaan . Nuwe skroefies is deesdae van titanium en het ‘n heparienlagie om te voorkom dat stolsels vorm. Na raming bly sowat 90 % van die oopgedrukte vate met die nuwe veertjies ná ses maande nou steeds oop. Ná hartvatomleidings met are uit die onderbeen, bly die vate gemiddeld 10 tot 15 jaar oop, indien die borsslagaartjie oorgeplant word pleks van ‘n been-aar, bly die slagaartjies sowat 20 jaar oop. Vate wat met ballonne of skroefies oorgedruk word, bly nie gemiddeld so lank as 10 jaar oop nie.
Feit 6 Baie meer ballon- en skroefie-prosedures word nou gedoen as 10 tot 15 jaar gelede. Indien moontlik is, word dié minder ingrypende prosedures eerder as ‘n hartvatomleidingsoperasie gedoen, maar dit kan slegs gedoen word indien die verstopping in die begindeel van die hartvat is waar die hartvat meer as 2,5 mm in deursnee is, daar slegs een lof twee letsels is, en die verstopping nie by ‘n vat-vertakking is nie, want druk jy een vat oop, druk jy die ander toe. Vier skroefies kos netsoveel soos ‘n hartvatomleidingsoperasie, en laasgenoemde se langtermynsukses is beter.
Feit 7: Drie groot studies het nou getoon dat wat oorlewingsyfers betref, daar min verskil is tussen tienjaar oorlewing ná hartvatomleidings of behandeling met cholesterolverlagende en ander pille. Die grootste voordeel van die omleidingsoperasie is pynverligting. Voorts is die koste van ‘n omleidingsoperasie (wat tussen R70 000 en R100 000 in Suid-Afrika kan beloop) dikwels laer as die koste van angina-pille vir 10 jaar.
Bookmark with:
What are social bookmarks?