|
Eksklusief: As kinders diabete is
Al die pankreas-en-nieroorplantingspasiënte
was as kinders reeds diabete wat hulle tot agt
keer per dag self moes inspuit. Die jongste
wetenskaplike benaderings help om diabetesbehandeling
vir die kleingoed draagliker te maak.
Deur Ilse Salzwedel
DIE voorkoms van diabetes by kinders het die afgelope dertig
jaar verdriedubbel. Sowel tipe 1- as tipe 2-diabetes is aan die toeneem,
maar verreweg die meeste kinders ly aan tipe 1-diabetes,
waar die pankreas nie ’n druppel insulien vervaardig nie.
Dis nie al nie. Ook tipe 2-diabetes, veroorsaak deur oorgewig,
onaktiwiteit en verkeerde eetgewoontes, is aan die toeneem
onder kinders en jong mense.
Maar medici krap nog kop oor die toename in tipe 1-diabetes.
“Sommige kinders erf ’n vatbaarheid vir die toestand.
Dit lyk nou ook of ’n virusinfeksie moontlik by ander kinders die sneller
kan wees vir die vernietiging van die insulien-produserende
selle in die pankreas.
’n Groot skok en ander buitefaktore kan
veroorsaak dat diabetes gouer intree,” verduidelik dr. Jacobus
van Dyk, ’n pediatriese endokrinoloog van Pretoria, wat aan die
hoof staan van ’n kliniek vir jong diabete.
Hoewel die oorsaak van die groot toename in tipe 1-
diabetes onder kinders nie duidelik is nie, stem dokters saam
met prof. Stuart Brink, kliniese professor in pediatrie aan die
Universiteit van Boston in Amerika, dat die behoorlike beheer
van kinders se insulienvlak van die uiterste belang is om
latere tipiese komplikasies soos hartsiektes, beroerte, nierversaking,
blindheid en amputasie van ledemate te keer.
HOE DIÉ MA DIT DOEN
Gevoelens van vernedering en afsondering maak baie
jong diabete se lewe swaar.
Kinders kan opstandig raak omdat hulle hulself moet toets en inspuit by die skool, en
dit sommer met opset nie doen nie.
Hulle kan ook skelm verbode eetgoed begin eet.
‘‘ ’n Kind bly maar ’n kind,” sê Delene du Toit van Pretoria,
ma van Ryno (6), wat drie jaar oud was toe hy gediagnoseer
is. “As ’n ma aanmekaar sê hy mag sekere goed
nie eet nie, gaan hy dit skelm eet, en dan het jy geen
beheer oor sy siekte nie.”
’n Diabetesopvoeder het toe aanbeveel dat Delene
Ryno soms iets ontoelaatbaars laat eet en dan net ekstra
insulien inspuit. “Jy sal nie glo watter verskil ’n melkskommel
af en toe of ’n stuk verjaardagkoek maak nie.’’
Baie ma’s vertel dat ouer kinders dikwels vergeet
om hulle gereeld te toets en in te spuit. Hulle raak
ook geïrriteerd as jy te veel daaroor uitvra. En natuurlik
geniet niemand daardie inspuitings nie.
MOET OUERS EKSTRA
VOORSORG TREF?
As jou kind baie hard oefen, het hy
meer insulien nodig, want oefening
verlaag die bloedsuikervlak. Te veel
insulien saam met harde oefening kan
egter ook die bloedsuikervlak skerp
laat daal. Maak seker jou kind het dan
iets soets byderhand. Gee ook ekstra
koolhidrate soos brood of vrugtesap
voor sportdeelname.
Ouers van diabete moet altyd ekstra
op hul hoede wees vir simptome soos
naarheid, ’n droë mond en buitengewone
dors, oormatige urinering, maagpyn,
vinnige, diep asemhaling, verwardheid
en ’n asem wat skerp ruik na ammoniak
of naellakverwyderaar. ’n Alledaagse
siekte soos verkoue kan veroorsaak dat
jou kind se suikervlak glad nie op die insulien
reageer nie en dat ketone (giftige
afvalstowwe) deur die niere uitgeskei word
– ’n toestand bekend as keto-asedose. Jou kind kan selfs sy bewussyn
verloor en moet dan hospitaal toe gaan. Toets jou kind
se ketoonvlak gereeld om keto-asedose te voorkom.
Jy moet ook ekstra versigtig wees wanneer jou kind siek is. Selfs
’n ligte kwaal kan komplikasies veroorsaak.
Onthou dat medisyne wat jy sonder voorskrif kan koop, dikwels
baie suiker en alkohol bevat, wat ’n verskil kan maak as dit in groot
hoeveelhede of gereeld geneem word. Medisyne met ibuprofeen is gevaarlik as
jou kind nierprobleme het. Raadpleeg eerder jou dokter.
Diabetiese tieners moet nog meer as ander bewus wees van die gesondheidsgevare
van sterk drank omdat dit hulle meer vatbaar maak vir hartsiektes, swak
bloedsomloop en ’n lae bloedsuikervlak, wat tot ’n koma kan lei.
Wees op die uitkyk vir tekens van depressie en eetversteurings.
TOP-RAAD VAN OUERS
- Jou kind se toetsstelletjie moet oral saamgaan.
- Kry ’n steunstelsel van kundiges, vriende
en familie.
- Betrek die onderwysers by jou kind se
toestand en sorg dat hulle ingelig is.
- Sluit by ’n diabeteskliniek of steungroep aan.
Hulle hou byvoorbeeld gereeld naweekkampe
om die kinders te leer om selfstandig te wees
en self hul siekte te bestuur.
- Vind ’n dokter wat omgee vir sy pasiënte en
deeglik ingelig is oor diabetes.
- Maak seker jy het ’n noodnommer vir jou
kind se dokter.
- Betrek die ander kinders in die gesin by
die diabetes-lyer se lewe. Dit keer dat hulle
uitgesluit of afgeskeep
voel. Hulle
kan ook help om
’n noodsituasie te voorkom.
HET JY GEWEET?
- Minstens een uit nege mense in
Suid-Afrika ly aan diabetes.
- Sowat drie miljoen mense sterf
jaarliks wêreldwyd aan diabetes
of diabetes-verwante oorsake.
- Baie kinders in Afrika sterf aan
tipe 1-diabetes sonder dat hulle
gediagnoseer word.
JOU GIDS TOT DIABETES
WAT IS DIABETES?
Dis ’n siekte wat veroorsaak
dat die pankreas geen insulien vervaardig nie (tipe 1-
diabetes) of dat insulien nie doeltreffend gebruik
word om suiker, stysel en ander voedingstowwe
om te skakel in energie nie (tipe
2-diabetes). Sonder insulien verval mense
in ’n koma en gaan hulle dood.
SIMPTOME EN TOETSE
Is jy gedurig uitgeput, urineer baie, bly dors en honger,
en kan jou oë nie mooi fokus nie? As jy
daarby skielik gewig verloor, kan jy diabetes
vermoed, maar toetse is nodig om dit te
bevestig: ’n bloedtoets en twee soorte
glukosetoetse.
Die toetse kan ook wys of
iemand op pad is om diabetes te ontwikkel.
As mense op die rand van diabetes gewig
verloor en gesond begin eet en oefening
doen, kan baie van hulle keer dat hulle tipe
2-diabetes kry.
Laat jou kind vir diabetes toets as hy
gereeld van maag- en hoofpyn kla,
skielik en onverklaarbaar
gewig verloor, gedragsprobleme
toon of sommer in die
middel van die dag wil gaan
slaap. Let ook op na hul oë:
Sommige kinders se pupille
is vergroot, ander kry rooi
kringe om hul oë. Soms raak
hulle wasbleek, asof al die
bloed uit hul gesig wegvloei.
BEHANDELING
Volgens Jacobus van Dyk is diabetes
allesbehalwe ’n doodsvonnis
en kan dit deesdae, ook by kinders, baie beter beheer word
deur insulien-toedienings, ’n gesonde eetpatroon en oefening.
“Dit beteken nie dat hulle net vaal, oninteressante
kos hoef te eet nie, maar dat hulle baie goed moet weet
hoe elke kossoort hul bloedsuiker gaan verander sodat
hulle die insuliendosis kan aanpas.”
INSULIENPOMPIES EN PENNE
Nuwe tegnologie
soos insulienpompies en -penne maak dit makliker om die
insulien toe te dien.
Die insulienpompie lyk soos ’n selfoon en word aan die lyf
gedra. (Dit word afgehaal wanneer jy swem of bad.) ’n Teflonkatetertjie
word gewoonlik op die boud of maag onder
die vel ingeskiet. Dit verbind die pompie met die liggaam.
Die pompie bevat ’n rekenaartjie wat elke uur outomaties
’n spesifieke dosis deur die kateter aan die liggaam
vrystel om die basiese insulienvlak, bekend as agtergrondinsulien,
te onderhou.
Wanneer diabete wil eet of meer insulien nodig het om
’n hoë bloedsuikervlak te verlaag, tik hulle eenvoudig hul
bloedglukosewaardes en/of die koolhidraatwaardes
van wat hulle geëet het, op die rekenaartjie in.
Die pompie bereken hoeveel insulien nodig is
en dit word dan deur die katetertjie ingespuit.
Waar baie ma’s voorheen soms skool toe
moes ry om hul kinders te gaan inspuit, plak
hulle nou net ’n briefie met die kospakkie se
koolhidraatinhoud op die kosblik.
“Voor die kind eet, word sy bloedsuiker
getoets, en ná pouse help die onderwysers
om te bereken of ekstra insulien nodig is,”
verduidelik Delene du Toit, ma van die sesjarige
diabeteslyer Ryno.
Die kateter hoef slegs elke derde dag
vervang te word, wat minder naaldprikke
per dag beteken.
Die insulienpen werk volgens dieselfde
beginsel, maar die diabeteskenner Jacobus
van Dyk waarsku dis net ’n hulpmiddel; die
kind moet steeds reg eet en van sy insulienvlak
bewus wees.
Naas insulien-behandeling is die regte
eetgewoontes die belangrikste vir tipe 1-diabetes en
ook van kardinale belang in die behandeling van tipe
2-diabetes.
Die beste kans op goeie diabetesbeheer by kinders
is ‘n holistiese benadering – dat jong pasiënte en hul
ouers van die diagnose af deur ‘n multidissiplinêre
span bestaande uit ‘n diabetesopvoeder, dieetkundige,
spelterapeut en sielkundige bygestaan word.
JONG PASIËNTJIES AAN DIE WOORD
Praat jy met jong
diabete, is dit gou
duidelik dat diabetes
baie meer as net
fisieke aanpassings
vereis. Dis nie
ongewoon dat
kinders alleen voel en
deur ander kinders
verwerp word nie.
RYNO DU TOIT, 6
VAN PRETORIA
“Die slegste is dat ek nie sommer
enigiets kan eet nie – veral by
partytjies. Mense moet altyd sorg
vir spesiale eetgoed vir my.”
MEGAN SWANEPOEL, 9
VAN BRYANSTON
“Kinders spot my,” vertel sy hortend tussen
die snikke deur.
BRANDON SWANEPOEL, 12
MEGAN SE BOETIE
“Vandat ek ’n insulienpompie gebruik en my
minder hoef in te spuit, het die ander kinders
my begin aanvaar.”
RACHEL LOMBAARD, 11
VAN DURBAN
“Die ergste is die ses of agt keer dat ek my
elke liewe dag moet inspuit. Kinders by
die skool spot my as ek sleg voel, of naar
word en bewe.”
Selfs toe sy ’n diabetespompie begin gebruik
het, het kinders dit probeer afneem
omdat hulle gedink het dis ’n iPod.
Huisgenoot - POLS Somer 2007/8
|