|
Kuberdok
Health24.com se kuberdok, dr. Bets Breedt, antwoord vrae oor alledaagse gesondheidsprobleme.
1. V: My seun, wat maar net dertien jaar oud is, het gewrigsrumatiek, waarvoor hy behandel word. Sy neus bloei soms, gewoonlik net uit die een neusgat. Dit bekommer my, want dit gebeur in die nag, selfs in die middel van die winter. Die bloeiery het al begin voor hy met gewrigsrumatiek gediagnoseer is. Gelukkig bloei hy nie baie nie en duur dit ook nie lank nie. Die bloeding word met neussproei en –room behandel. Dit is nie dalk hemofilie nie, is dit?
A: Nee, dis nie ’n teken van hemofilie nie. Dit kan dalk wees dat daar ’n aartjie in sy neus is wat maklik bars. Laat jou dokter ondersoek instel. Indien hy ’n aanvulling drink wat visolie bevat, kan dit sy neus laat bloei (omdat dit die vorming van bloedklonte belemmer). Sekere anti-ontstekingsmiddels kan ook die bloed verdun.
2. V: Ek kry elke maand iets wat net soos ’n mondseer
lyk. Dit bly omtrent twee weke en dan verdwyn
dit weer. Ek is desperaat.
A: Niemand weet eintlik wat mondsere veroorsaak nie. Stres,
natriumlauriel wat in tandepasta voorkom, hoë nitraatvlakke
in water, geurmiddels, essensiële olies, bensoësuur, kaneel, gluten,
koeimelk, koffie, sjokolade, aartappels, kaas, vye, neute, sitrusvrugte
en sekere speserye kan mondsere aanwakker. Dit kan help om die
salf Kenalog In Orabase Ointment onmiddellik op die seertjie te
smeer sodra dit verskyn. Sit ’n dik laag op. ’n Goeie vitamien Baanvulling
kan ook help; so ook die gereelde gebruik van ’n antibakteriese
mondspoelmiddel.
3. V: My seun sukkel met verskriklike winderigheid.
Sosiaal is dit vir hom ’n verleentheid. Sy opelyf is
normaal, hy het geen probleme met spysvertering nie
en ons kan dit nie met ’n spesifieke kossoort verbind
nie. Sy dieet is baie gesond. Dink jy behandeling met
probiotika kan help? Wat beveel jy aan?
A: Probeer probiotika drie keer per dag, Pancreoflat drie
keer per dag, en vermy gaskoeldrank en kos wat gas
veroorsaak. Hierdie kossoorte sluit in aspersies, broccoli, spruitkool,
kool, blomkool, mielies, komkommer, raapkool, preie,
uie, ertjies, rissies, radyse, suurkool en rape. Omdat daar ander
kossoorte is wat ook winderigheid kan vererger, laat jou seun ‘n
eliminasiedieet volg om uit te vind watter die sondaars is. Sny vir
’n paar dae ’n sekere kos uit en kyk of die winderigheid verbeter.
Dit beteken nie al die onderstaande kossoorte is vir altyd van die
spyskaart af nie. Hy moet net minder daarvan eet en dié wat sy
simptome vererger vermy. Kossoorte waarvoor ’n mens moet
ligloop is gebraaide en vetterige kos, suiker, laktose, fruktose,
sorbitol, versoeters, bone en ander peulplante soos sousbone,
kekerertjies, nierboontjies, lensies, hereboontjies, pintoboontjies,
koring en volkoring. Daarby kom sekere vrugte soos appelkose,
spanspeksoorte, pruime, rou appels, melk en ander suiwelprodukte,
waaronder hoogs gefermenteerde kaas, eiers en onverteerbare
vette soos Olestra (wat in aartappelskyfies gevind word).
4. V: Ek het ’n paar maande gelede knoppies op my ooglede
begin kry. Ek het nou twee tot drie op elke lid!
Hulle is nie te groot nie, maar is sigbaar as iemand van
naderby kyk. Die knoppies het geen koppie of opening
nie. Hulle is ook nie seer nie. Help asseblief.
A: As die knoppies ontsteek, pynlik is en tussen jou wimpers sit,
het jy heel moontlik ‘n meibom-sist. Kliertjies in die ooglid
genaamd meibom-kliere skei gewoonlik ’n dik, vetterige vloeistof,
’n velsmeer, in die wimpers se haarfollikels af. Wanneer hierdie kliere
chronies ontsteek raak, vorm ’n chalasion, oftewel ’n meibom-sist.
Jou dokter sal dit moet dreineer of jou verwys na ’n oogspesialis
indien die sist op ’n gevoelige plek geleë is. As die knoppies geel en
in die middel van die ooglid is, nie pynlik is nie en ook nie opklaar
nie, kan dit vetknoppies wees weens die oorerflike siekte familiële
hipercholesterolemie (FH). Gesels met jou dokter oor ’n cholesteroltoets.
Behandeling met cholesterolverlagende middels kan baie
help om mense met FH se risiko vir ’n hartaanval te verlaag.
Huisgenoot Pols Somer 2007/8
|