|
’n Nag in die lewe van ’n noodsorg-paramedikus
Deur Rob Whitaker
Dis tyd om skofte te verander en die Netcare911-basis is ’n miernes van bedrywighede toe ek die boodskap op my foon kry – ’n vrou is met ’n mes aangeval en daarna aan die brand gesteek.
Ons is besig om skoon te maak, voorraad aan te vul, die ambulanse en reaksievoertuie gereed te kry vir die nag wat voorlê. Dit gaan dol. Ek het gehoop om nog gou ’n koppie koffie te drink, maar die boodskap laat geen twyfel nie – dis ernstig. Doodernstig. As ’n paramedikus wat in lewensondersteuning spesialiseer, moet ek altyd die ‘‘lewensbelangrike’’ oproepe – wanneer siekte of beserings ’n lewe kan kos – hanteer.
Die polisie het reeds die toneel afgesper toe ons daar opdaag. Die pasiënt lê in die deur van ’n kafee en is met ’n kombers toegegooi asof daar reeds aanvaar is sy’s dood. Sy is by haar bewussyn, maar toon geen teken van pyn nie. Die komplekse senuweenetwerk wat pynseine stuur, is vernietig deur die diep brandwonde op haar bors, nek en gesig.
Terwyl een van die paramedici ’n aar soek om vir haar vloeistof
toe te dien, is ’n ander een besig om haar suurstof te gee en pakkies
Burn Shield oop te ruk.
’n Stewige konkoksie van kalmeermiddels
en morfien word toegedien deur die enigste aar wat ons
kan kry – een in haar voet – sodat ons haar lugweg kan oophou
deur ’n pyp in haar longe te plaas.
Nadat ons die pasiënt by die hospitaal besorg het, maak ons
gereed vir die volgende oproep.
Dis ’n Vrydagaand – gewoonlik een van die nooddienste se
besigste tye. Die stilte ná die storm kom gewoonlik eers ná middernag.
Nou is dit tyd vir koffie en kos. In die nooddienste leer jy
gou: “Eet wanneer jy kan, slaap wanneer jy kan.”
Ek het skaars my koffie gedrink toe my foon weer piep. ‘‘Hartstilstand
– hartmassering reeds begin.”
Om met die ligte en sirenes aan te ry is altyd gevaarlik, selfs
al is dit eenuur in die oggend op ’n verlate snelweg. Soos ons ry,
maak ons seker dat die kruispaaie skoon is, word ons ingelig oor
die noodgeval en gaan in ons kop ons noodlysies na.
Die huis se hek is toe en kosbare tyd gaan verlore terwyl ek
die deurklokkie soek. Die pasiënt se hart toon geen elektriese
aktiwiteit nie.
Sy pupille is vergroot en toon geen reaksie nie. Die
pasiënt was te lank sonder suurstof. Dit is die moeilikste deel van
my werk – om dié nuus aan sy gesin oor te dra.
Drie jaar se opleiding en studie leer jou hoe om allerhande noodgevalle
te hanteer, maar dit leer jou nie hoe om iemand te vertel
dat sy geliefde gesterf het nie. In so ’n geval is daar nooit ’n “regte
ding” om te sê nie. ’n Mens kan maar net probeer om nie die
verkeerde ding te sê nie en dan kyk jy maar toe hoedat hul emosies
van angs en ontkenning verander na smart en aanvaarding.
Dis net ná vyf in die oggend toe ek weer deur die beheerkamer
wakker gemaak word: “VO (voertuigongeluk) op die
N1. Pasiënte vasgekeer.”
Die ongelukstoneel is ’n slagveld. Wrakstukke van die klein
motor lê oral. Daar was vier mense in die motor. Die drie passasiers
is nie beseer nie en staan verskrik eenkant.
Die bestuurder was nie so gelukkig nie. Hy is nog in die motor
en ek kan hom hoor kreun. Sy borskas is teen die stuurwiel vasgedruk,
sy bene onder die paneelbord vasgepen. Dis donker en
beknop, maar ek kry dit reg om sy nek te stabiliseer, suurstof toe
te dien en ’n aar in sy arm te vind sodat ek vloeistof kan toedien.
Nadat die motor se dak verwyder is, lig ons hom versigtig op ’n
werwelstabiliseringsbord en dra hom na die ambulans.
Op die monitors sien ek dat sy bloeddruk vinnig val en dat sy
suurstofvlak daal. Die bloeding is inwendig. Op pad na die hospitaal
probeer ek sy lugweg oophou en sy bloeddruk stabiliseer
sodat suurstof sy brein kan bereik.
Dis ’n multidissiplinêre ketting: Kry die pasiënt binne die
“goue uur” van die ongelukstoneel af by die ongevalle-afdeling
en tot op die operasietafel.
In die resussitasie-afdeling staan almal vir ons gereed. Teen die
tyd dat ons ons toerusting skoongemaak het, is die pasiënt reeds
in die operasiesaal. Sy familie staan in ’n bondeltjie in die gang.
Hulle huil saggies. Een van hulle kom bedank ons vir alles wat
ons gedoen het. Die chirurg het reeds met hulle gepraat en gesê
dat die kanse op oorlewing nie groot is nie. Maar hulle is dankbaar
dat hulle hom ten minste kon sien terwyl hy nog leef.
Ek vind later uit dat die pasiënt in die operasiesaal gesterf het.
Sy beserings – almal inwendig – was heeltemal te ernstig.
Daar lê nog twaalf uur van my skof voor. Ek ry stadig terug
basis toe. Mense wil dikwels weet hoe ons opgewasse is teen
die bloed, die verminking, die lewensverlies. Ek vra my net één
vraag af: Kan ek aan die einde van elke skof sê dat ek ’n positiewe
bydrae gelewer het?
Dit ís ’n wonderlike gevoel om te kan sê dat ons gehelp het om
iemand se lewe te red. Maar die meeste van die tyd help ons net
om die pyn te verlig, om mense ’n kans op oorlewing te gee en
om naasbestaandes te verseker dat ons alles gedoen het wat ons
kon, selfs al was dit vergeefs. Soms kry ons dit net reg om iemand
lank genoeg aan die lewe te hou dat sy familie vir hom tot siens
kan sê. Ook dít is al iets om voor dankbaar te wees.
Huisgenoot Pols Somer 2007/8
|