Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
Stem cell miracles
A transplant of a windpipe using stem cells has given a woman a new lease on life.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 HG Pols Des 2007
 
Só verdrink jou brein in drank

Deur die Health24-verslagspan

Een drankie en jy gesels ’n bietjie makliker. Nog enetjie en jy voel hoe jy ontspan en jou selfvertroue groei. Jy wil nou net partytjie hou. Ná nog ’n drankie voel jy oulik en flambojant. Maar klim jy later in die bed, draai die wêreld. En die volgende oggend het jy die moeder van alle hoofpyne.
Wat het met jou brein gebeur?

Wetenskaplikes het vasgestel dat alkohol soos ’n brander deur die brein spoel.

Alkohol is ’n onderdrukkende middel; dit onderdruk dus die normale funksies van jou brein. Dis geen toeval dat jy eers joviaal voel en later sukkel om regop te bly nie. Die onderdrukkende uitwerking van alkohol is amper soos ’n golf of brander wat deur die brein spoel, het wetenskaplikes bevestig.

Die golf breek voor in die brein, spoel dan sywaarts en agtertoe, oor en deur die brein, en versprei ten slotte na die diepste en weerloosste binnekant daarvan, sê dr. Izak Loftus, forensiese en anatomiese patoloog van die Pathcare-groep op Somerset-Wes.

Jou sywaartse sig kan ná ’n enkele glasie wyn aangetas wees, al het die volle golf nog nie jou agterbrein bereik nie.

Kyk ’n bietjie, stap vir stap, hoe die alkohol deur jou brein spoel:

1. Die Joviale fase

Ná minder as ’n halwe glasie per uur onderdruk alkohol die funksies van die frontale lobbe, wat jou inhibisies, selfbeheer, wilskrag, oordeelsvermoë en konsentrasie beheer.

As dié deel van die brein onderdruk word, verminder jou inhibisies, jou selfvertroue neem toe, en jy raak gemoedeliker en ook waagmoediger. Jy praat meer en sommer ook luidrugtiger. Alkohol is werklik ’n goeie sosiale smeermiddel.

Dié fase begin reeds as die vlak van alkohol in jou bloed 0,01 g/100 ml is.

Minder as ’n halwe glas per uur is nodig om dié vlak te bereik en dis ver onder die wetlike perk van 0,05 g/100 ml.

Maar glo dit as jy wil, jy ervaar reeds ’n verlies aan oordeel en ’n veranderende persoonlikheid wat jou risiko verhoog om weens onnatuurlike oorsake, soos in ’n ongeluk of bakleiery, te sterf.

Baie mense kan deur goeie selfbeheer vir hulself en ander wegsteek dat hul oordeel aangetas is, maar of jy dit kan verdoesel of nie, jou oordeel ís wel aangetas.

2. Sleeptong-fase

Die volgende deel van jou brein waaroor die alkoholbrander spoel, is die pariëtale lobbe bo-op en langs die kant van jou kop.

As jy sowat 0,10 g/100 ml (so twee tot drie drankies per uur) gedrink het, word jou motoriese vaardighede ingekort.

Jy praat moeiliker en met n sleeptong wat jy – snaaks genoeg – self nie hoor nie. Jy kan begin bewe en ingewikkelde bewegings, soos die vasmaak van hempsknope, raak moeiliker.

Jy sal nie meer so maklik op ’n reguit lyn kan loop nie. Terselfdertyd stomp jou sintuie af en jou reuk-, smaak- en tassin is net nie meer wat dit behoort te wees nie.

3. Sukkel-om-te-sien fase

As die alkohol jou agterkop en oksipitale lob bereik, is die vlak van alkohol in jou bloed gewoonlik sowat 0,15 g/100 ml.

Jy het dan al so vier tot vyf drankies (of twee tot drie dubbels) in ’n uur weggeslaan.

Nou begin dinge werklik gevaarlik raak, al dink jy nie so nie. Jy sien ál slegter. Jy sukkel ál meer om beweging en afstand te skat, en jy kan nie meer goed uit die hoek van jou oog sien nie.

As jy nou in skemerlig jou kar bestuur, gaan jy sukkel om ’n voetganger of die seuntjie wat agter sy bal aanhardloop, betyds te sien. Jy kan hulle doodry of agter in ’n stadig bewegende vragmotor vasjaag.

4. Omval-fase

As jou bloedalkoholvlak ongeveer 0,20 g/ 100 ml is, en jy dus so vier tot ses doppe of so drie dubbels per uur agter die blad het, tref die alkoholgolf jou kleinbrein.

Nou is jou balans aangetas en sukkel jy om regop te bly.
Hopelik het jou vriende jou al êrens veilig neergelê sodat jy jou roes kan afslaap.

5. Papdronk-fase

Ons hoop jy is êrens veilig in ’n bed, want jy is nou byna bewusteloos van dronkenskap.

Die vlak van alkohol in jou bloed is digby 0,25 g/100 ml en dit spoel oor jou middelbrein.

Jy is lam. Jy bewe. Jy kan naar word en jou reflekse is kwaai onder druk. Hopelik hou jy net-net kop sodat jy in dié toestand maar liewer op jou maag aan die slaap raak – lê jy op jou rug, kan jy stik en sterf.

Teen dié tyd is jou bewussyn só onder druk dat jy in ’n koma kan wees.

6. Doodsake-fase

As jy vier dubbels per uur drink, sal jou bloedalkoholvlak gou hoër wees as 0,35 g tot 0,40 g/100 ml, en met soveel alkohol in jou lyf, tref die alkoholgolf jou weerlose breinstam met mening.

Dis nou doodsake, want onderdruk die alkohol die medulla oblongata (die dele van die brein wat jou asemhaling en bloedsomloop beheer), sterf jy.

DIE VOLGENDE OGGEND
Jy het nie bedoel om te veel te drink nie, maar . . .

Dokter só die kopseer beter:

  • Drink baie water, verkieslik met ’n bietjie suiker of glukose daarin. ’n Goot, soet sportdrankie kan help, of ’n paar koppies soet tee.

    Die vloeistof sal ontwatering voorkom en die alkohol ’n bietjie verdun, en die suiker sal jou bloedglukosevlak verhoog. Die ekstra glukose help om asetaldehied, die giftige afbraakproduk van alkohol wat die hoofpyn veroorsaak, uit die breinselle te verplaas.


  • ’n Bruistablet wat vitamien B, C en die slymlosmaker N-asetielsisteïen bevat, kan jou liggaam gouer van asetaldehied help ontslae raak.

  • As jy ’n pynstiller nodig het, kan een wat aspirien of die teeninflammatoriese middel naproksien bevat, goed werk. Moet nooit meer as die voorgeskrewe dosis gebruik nie.

Voorkoming bly die beste genesing

Dis sekerlik beter om glad nie te drink nie. Maar dis somer en ’n mens bly ’n mens.
Beperk so die uitwerking van alkohol op jou brein:

  • Eet ’n vrug, ’n toebroodjie of ’n stukkie wildsbiltong voor of wanneer jy drink. Kies ’n versnapering wat nie te olierig of vetterig is nie, anders sal jy dalk later weer na drank wil gryp as jy sien hoe vet jy die vakansie geword het as gevolg van al die eetgoed.

  • Drink stadig as jy moeg is of oefening gedoen het – alkohol tas jou gouer aan as jy moeg is.

  • Probeer om nie meer as een drankie per uur te drink nie. Só maak jy ook seker jou bloedalkoholvlak bly binne die wetlike perk van 0,05 g/100 ml bloed.

  • ’n Vrou se liggaam verwerk alkohol stadiger as dié van ’n man omdat mans meer spiere en dus ’n vinniger metabolisme het.

Het jy Geweet?

As jy tot in die vroeë oggendure drink en die wêreld om jou draai wanneer jy uiteindelik in die bed neerval, is jou bloed-alkoholvlak waarskynlik 0,2 g/100 ml (vier keer hoër as die wetlike perk). Dit beteken as jy seweuur die oggend werk toe ry en die verkeerspolisie trek jou van die pad af, kan jy van dronkbestuur aangekla word.

HOEVEEL DRANKIES VOOR DIE GEVAAR DAAR IS?

’n Enkele drankie kan genoeg wees om die vlak van alkohol in jou bloed tot bokant die wetlike perk van 0,05 g/100 ml te laat styg.

Daar is eintlik net een reël: As jy gaan bestuur, moet glad nie drink nie.

Met behulp van die meegaande tabel van die Mediese Navorsingsraad (MNR) kan jy vasstel hoeveel jy kan drink voor jy die wet oortree. Die veronderstelling is dat jou lewer gesond is en dat dit ’n drankie per uur kan verwerk.

Die eerste kolom dui die aantal sopies per uur aan. In die kolomme daarnaas kan jy sien wat jou bloedalkoholvlak sal wees ’n uur ná jou laaste drankie, na gelang van jou geslag en gewig.

’n Sopie word geag ’n bier (340 ml), ’n klein glas wyn (125 ml) of ’n enkele dop brandewyn of ander hardehout (25 ml). Alles in rooi op die tabel hiernaas beteken gevaar.

Jy sal gouer die wetlike perk oorskry as jy op ’n leë maag drink of moeg, onfiks of siek is.

New Page 1
Drankies  45 KG 63 KG   81 KG  100 KG  GESLAG
    1 0,04 0,03 0,02 0,02 Manlik
0,05 0,04 0,03 0,02 Vroulik
    2 0,09 0,06 0,05 0,04 Manlik
  0,1 0,07 0,06 0,05 Vroulik
     3 0,13 0,09 0,07 0,06 Manlik
  0,15  0,11  0,08 0,07 Vroulik
    5 0,22 0,16 0,12 0,1 Manlik
  0,25 0,18 0,14 0,12 Vroulik
    10 0,44 0,31 0,24 0,2 Manlik
  0,51 0,36 0,28 0,23 Vroulik

Alcohol and your brain

WENK: Drink voor elke glasie alkohol eers ‘n glas water of nie-alkoholiese drankie.

Huisgenoot Pols SOMER 2007/2008


 
Previous article: Next article:
Eet jouself gesond JOU BREIN
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese nuus brokkies
Astrante klein kalant!
Bly speel-speel fiks
Nuwe hoop vir diabeteslyers
Eksklusief: As kinders diabete is
Eksklusief: Tipe 2-Diabetes
Shaun Pollock - op sy tuisveld
Van die hemel tot die dieptes van die hel
Ons het bly lewe!
Dieetklubs: Kaf of koring?
Kettingreaksie
Hier kom die son
Die dokter in jou koskas
Só verdrink jou brein in drank
JOU BREIN
Diere dink ook
See-angels
Red 'n lewe
Sien met klank
Sak en pak
’n Nag in die lewe van ’n noodsorg-paramedikus
Kuberdok
Kuberveearts
Donker Liefde
Die manlike brein
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiets fiks: Inleiding tot oefenprogramme
Word fiets fiks: Die oefenprogramme
A step mom's story
Redakteursbrief
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement