Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
Stem cell miracles
A transplant of a windpipe using stem cells has given a woman a new lease on life.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 HG Pols Des 2007
 
Shaun Pollock - op sy tuisveld

Hy het die Suid-Afrikaanse krieketspan deur die Hansie Cronjé-krisis gelei, was die land se suksesvolste toetskaptein én het sy eie terugslae dapper oorwin. Vandag is Shaun Pollock steeds ’n wenner, veral daar waar dit vir hom die belangrikste is – tuis by sy gesin
Deur Glynis Horning

SHAUN POLLOCK speel asof sy lewe daarvan afhang. Met die sestien maande oue Georgia kraaiend van plesier op sy breë skouers en die vierjarige Jemma kort op sy hakke, galop Suid-Afrika se eertydse kaptein deur sy Hillcrest-woning, net buite Durban, terwyl hy soos ’n perd runnik. Sonder om te blik of te bloos.

Sy elegante blonde vrou,Tricia, rol net haar oë kammakastig kwaad terwyl sy hulle buitentoe boender. Dis tyd om ystee en die uitsig te geniet. En watter uitsig is dit nie.

Dit strek van die stalle (met regte perde!) van die naburige luukse bosherberg tot statige, skaduryke lanings, lappe bome en eindelose groen velde, oortrek met blomme. Dit laat jou dink aan die ander en heeltemal verskillende velde waarop Shaun tuis is.

“Glo my. Ek is mal oor krieket, maar die lewe is soveel meer as dit. Ewewig is vir my die wagwoord,” sê hy terwyl hy sy dogters op sy skoot optrek en sy oë oor die vertes laat dwaal.

DIE VROEË JARE

Shaun se kinderjare was gelukkig en ontspanne. As die jongste van krieketlegende Peter Pollock en sy vrou, Inez, se vier kinders was hy “seker die een wat die meeste verwen is”, sê hy met ’n stoute glimlag.

Maar die bederf het geskied binne liefdevolle grense – grense wat nog meer liefdevol getrek is nadat sy ouers “God aangeneem het’’.

Hy was twaalf jaar oud toe sy pa besluit het om evangelis te word.

“Die verandering in hom en my ma het my geïnspireer om ook te verander. Die waardes en lesse wat ek geleer het, gebruik ek vandag om Tricia en ons gesin te lei.’’

Dié waardes sou ook ’n groot rol in Shaun se loopbaan speel. Die krieketgogga het hom gebyt toe hy op die grasperk van sy ouers se beskeie huis in Durban vir die eerste keer op sesjarige ouderdom ’n kolf in die hand gestop is.

“Ek het altyd teen my ouer broer Gavin gespeel en ons het gemaak asof ons vir verskillende lande speel!’’

Dit was gou duidelik dat Shaun voor in die tou gestaan het toe sporttalent uitgedeel is, maar ‘‘ek het hard gewoeker met wat ek gekry het’’.

Hy het ook hokkie en krieket gespeel vir die plaaslike staatskool, Northwood, sowel as vir die Universiteit van KwaZulu-Natal, waar hy sportoorwinnings behaal en ook ’n B.Com. in bemarking gekry het.

Maar van die begin af was dit op die krieketveld waar hy geskitter het. Die verwagtinge wat die Pollock-naam geskep het, het hom eerder aangevuur as geïntimideer.

“Pa was al afgetree, maar ek het gereeld my oom (Graeme Pollock, bekroonde Krieketspeler van die Eeu) in aksie gesien.” Shaun het op vyftien jaar klubkrieket begin speel en is op 22 vir die eerste keer vir ’n Suid- Afrikaanse span gekies. “Ek is saamgegooi met ouens van in die dertig, wat gesinne en verskillende beroepe gehad het, en ek het net soveel van die lewe geleer as van krieket.

So het ek geleer om met verskillende mense oor die weg te kom, om te luister, menings teen mekaar op te weeg en besluite te neem wat op my waardes gegrond is.”

KAPTEINSKAP

Die vuurdoop het gekom toe hy kaptein geword het te midde van die hele debakel oor die Hansie Cronjé-wedstrydknoeiery.

Hy was 26 jaar oud. “Die druk was kwaai, maar ek hou daarvan om leiding te neem. En my taak was eintlik heel eenvoudig – ek moes weer die klem op die spel laat val en mense se vertroue in die span herstel.”

Ironies genoeg was van die dinge wat hy toegepas het, lesse wat hy by Hansie self geleer het, “soos dat dit belangrik is om na ander se menings te luister en om dan van die voorpunt te lei”.

Hansie se optrede ná afloop van die sage het hom ook geleer “dat dit hom moed gekos het om weer op die regte pad te probeer kom, skuld te erken en reg te wil maak waar hy verbrou het”.

Om moed aan die dag te lê is ook ’n eienskap wat Shaun al baie sedertdien gehelp het – soos toe sy spel verswak en sy span verloor het. Maar sy moed moes ’n vuurdoop deurstaan toe Suid-Afrika die Wêreldbekerreeks in 2003 verloor het en hy van sy kapteinskap gestroop is.

En verlede jaar moes hy ook woes keer dat sy moed in sy skoene sak toe hy vir die eerste keer uit ’n toetsspan weggelaat is.

“Dis tog maar net menslik dat sterk gevoelens by jou opwel,’’ sê hy bedaard terwyl sy dogters wegdraf om op die swaai te gaan speel en Tricia stil-stil langs hom inskuif.

‘‘Ek glo dat sekere struikelblokke op ons pad geplaas word om ons te toets. Ek gebruik Bybelse beginsels om die lewe te hanteer. My geloof, sowel as Tricia en ons dogters, bring die beste balans in my lewe.’’

ROMANSE

Shaun het die eertydse Mej. Suid- Afrika-finalis sowat tien jaar gelede ontmoet. Sy was lid van die bemarkingsafdeling van ’n selfoonmaatskappy wat die nasionale krieketspan geborg het. Tricia het hom skoongeboul.

“Sy was hierdie gemaklike, wonderlike en plat op die aarde meisie.”

Ná twee jaar van “uitgaan en uithou” terwyl Shaun die wêreld platgereis het, het hy uiteindelik langs ’n bergstroom op sy knieë gegaan en die jawoord gevra.

Hulle is ’n paar maande later getroud. Agt jaar later is die hartstog tussen die twee steeds tasbaar. “Die feit dat Shaun twee derdes van die jaar nie hier is nie, is moeilik,” sê sy.

“As dit enige ander beroep was wat hom so lank van die huis af weggeneem het, dink ek nie ek sou soveel begrip gehad het nie.

Maar ek weet dat dit sal einde kry en dat dit in ons gesin se belang is dat hy sy drome bewaarheid.” Shaun knik. “As ’n mens self ’n gesin het, verander dit jou uitkyk op die lewe,” sê hy.

“Vroeër was ek hoofsaaklik op sport ingestel. Maar ’n vrou en kinders laat jou besef daar is ander dinge wat baie belangriker is. Ek speel steeds met alles wat in my is, maar ek besef nou jou verhouding met ander mense en wat jy van die lewe maak, is die belangrikste.”

Hy en Tricia moes hard werk om, met soveel kilometers tussen hulle, hul verhouding sterk te hou. “Ons gesels drie tot vier keer per dag en ons gebruik die videofoon wanneer Shaun in die land is,” sê Tricia. “Jemma en Georgia loop selfs met hul speelgoedfoontjies rond, kliphard besig om met Pappa te praat!”

Die selfoon help ook om hul romanse vuurwarm te hou. “Ek kry elke week minstens twee gedigte per SMS van Shaun. Hy is weliswaar nie Wordsworth nie, maar die gedigte rym en ek is mal daaroor. Soos vir baie mans is dit vir hom moeilik om soetsappig te wees, maar hy gebruik humor om my hart te steel.

Dis sy manier om in my romantiese behoeftes te voorsien.” Hulle is ook daar vir mekaar wanneer dit tyd is om “ernstig te praat” en wanneer ’n liefdevolle en ondersteunende skouer nodig is.

“Toe Shaun twee jaar gelede nie so goed gevaar het op die veld nie, kon ek sien dat dit hom frustreer.

Maar ondanks al die pessimisme en die sportkritici wat hom afgekraak het, het hy net bly glo dat dit in God se hande is en dat Hy hom daardeur sou lei.

Op die ou end het hy, deur geloof en deursettingsvermoë, teruggekeer as Krieketspeler van die Jaar, en verlede seisoen is hy vier keer as Speler van die Reeks gekies. God se hand was duidelik hierin te sien!”

PA WEES

Shaun en Tricia deel dieselfde geloof en waardes. Dit vorm die hoeksteen van hul huwelik én is die perfekte teenvoeter vir wat sy as twee uiteenlopende persoonlikhede beskryf.

“Dit help ons om mekaar aan te vul en balans te vind.” Weer daardie woord…balans.

“Ek is ’n intense mens, terwyl Shaun die rustige een is. Maar hy kan ook baie gedrewe en georganiseerd wees as dit nodig is.”

As ouers sorg hulle dat hulle die kleingoed met ’n ferm maar liefdevolle aanslag grootmaak. ‘‘Hy en die meisiekinders mis mekaar – en dis ook maar moeilik om hulle nie te bederf nie,” sê Tricia en sug.

“Maar dis belangrik dat ons daarteen waak en grense stel, veral omdat ek die meeste van die tyd ’n enkelouer is.

Dis ook belangrik dat hulle onthou dat hy die hoof van die huis is en nie net ’n besoeker nie.”

FIKSHEID

Shaun is bekend daarvoor dat hy net so ’n reguit paadjie loop as wat hy balle sekuur kan afstuur. Daarby is hy ’n geheelonthouer. “Maar ek hou daarvan om pret te hê en loop nie heeldag met die Bybel onder die arm rond nie; my spanmaats aanvaar my gelukkig soos ek is.”

Natuurlik is gesondheid belangrik, maar weer eens is dit ’n kwessie van balans.

“Eintlik eet ek net waarvoor ek lus is, maar ek bly weg van kos wat in olie gebraai is en skep my bord vol slaai, gestoomde groente en hoender.

Ek bly ook weg van koolhidrate ná middagete. Maar ek sê moeilik nee vir ’n stukkie sjokolade en vir roomys!”

Shaun staan 1,87 m in sy sokkies en weeg 89 kg. Hy bly fiks met krieketoefening en -wedstryde, en oefen twee keer per week 45 minute lank in die gim waar hy gewig- en kernoefeninge doen – ‘‘ek kry genoeg kardio-oefening op die veld”.

Hy speel gholf met ’n voorgee van twee, maar “dit kan daal tot vier of vyf wanneer ek krieket speel”.

Daarby speel hy hokkie vir die Mike Madsen Eleven – “dis hoofsaaklik oud-Springbokke wat die skole se eerste spanne pak” – en soms tennis saam met Tricia, wat gereeld vir oefening gaan stap.

Tricia dring daarop aan dat Shaun twee keer per jaar na ’n velspesialis gaan. “Dit help dat ek bruin oë het. Ek is nie so lig soos ander rooikoppe nie en ek brand wel bruin. Nietemin gebruik ek ’n faktor 15- of faktor 16-sonskerm en ’n nog hoër faktor vir my gesig. En Tricia gee my vogmiddel van die Body Shop, nie waar nie, engel?”

DIE TOEKOMS

Shaun glo sy krieketdae is nog lank nie getel nie. Hy voel hy kan met sy ervaring steeds ’n groot bydrae op die veld lewer.

Wanneer die tyd wel aanbreek om tot siens te sê – en hy weet reeds wanneer dit gaan wees – “sal ek net sê ‘dankie’ en dan is dit verby”.

Hy sien uit na nuwe uitdagings en wil graag sy bemarkingsgraad in ’n sportverwante omgewing toepas en ook sy roem as sportman tot voordeel van gemeenskapsprojekte aanwend.

Hy en Tricia en hul goeie vriende Jonty en Kate Rhodes ondersoek reeds projekte ten bate van vigswesies.

“Suid-Afrika is ’n fantastiese land, en ek waardeer dit al hoe meer elke keer dat ek moet weggaan,” sê hy terwyl hy oor sy eie stukkie Afrika uitkyk. “Ons wil maniere vind om hulpbronne en goeie waardes met ander te deel om dit ’n veilige plek vir ons eie dogters en vir al die kinders van die land te maak.”

SHAUN se GEHEIME VIR ’N GELUKKIGE LEWE

  1. HÊ ’N VASTE GELOOF – en respekteer ander se geloof.

  2. GLO IN JOUSELF – as jy dit nie doen nie, wie sal?

  3. ONTHOU DAT GOD JOU TALENTE VIR ’N SEKERE AANTAL JARE AAN JOU LEEN – gebruik hulle na die beste van jou vermoë.

  4. WOEKER MET JOU TALENTE deur harde werk en dissipline.

  5. DOEN ALLES MET OORGAWE. As iets die moeite werd is om te doen, doen dit deeglik.

  6. KOESTER JOU FAMILIE – op die ou einde is verhoudings al wat saak maak.

  7. LEEF, NET SOOS MET KRIEKET, VAN SEISOEN TOT SEISOEN; moenie te ver vooruit wil dink nie.

  8. BESKOU ’N TERUGSLAG AS ’N GELEENTHEID OMTE GROEI – soos die beroemde basketbalspeler Michael Jordan gesê het:“Ek het oor en oor in my lewe misluk, en dis waarom ek sukses behaal het.’’

  9. WEES ’N GOEIE ROLMODEL IN ALLES WAT JY DOEN – jy weet nooit vir wie jy nou en in die toekoms beïnvloed nie.

  10. BLY NEDERIG – moenie grootkop wees nie; hou jou voete plat op die aarde.

GUNSTELINGE:

Kos: Hoenderslaai met aarbeie, amandels en pynappel, en Mozart Super Caramel-roomys.
TV-Program: Enige sportsoort, Discovery-kanaal wanneer ek buite Suid-Afrika is en ’n bietjie Disney-TV saam met die meisiekinders wanneer ek by die huis is.
Boek: Wild at Heart deur John Eldredge (Thomas Nelson) en The Power of Simple Prayer: How to Talk to God about Everything deur Joyce Meyer (FaithWord).
Liedjie: Shining Light deur Tree 63.
Rolprent: Tans is dit High School Musical 2 sodat ek met Jemma oor die karakters kan praat.
Vakansiebestemming: Zimbali, wanneer ons vakansiehuis daar klaar gebou is.
Aanhaling: “As jy dit glo, kan dit gebeur. Onthou, dit het alles met ’n klein muisie begin”(Walt Disney).
Krieketinspirasie: Graeme Pollock en die gewese snelbouler van die Wes-Indiese Eilande Malcolm Marshall.
Inspirasie: Mense wat die beste van hul lewe maak, ongeag die omstandighede.

Specific sport: Cricket

Huisgenoot - POLS Somer 2007/8


 
Previous article: Next article:
Tipe 2-Diabetes DWELMS
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese nuus brokkies
Astrante klein kalant!
Bly speel-speel fiks
Nuwe hoop vir diabeteslyers
Eksklusief: As kinders diabete is
Eksklusief: Tipe 2-Diabetes
Shaun Pollock - op sy tuisveld
Van die hemel tot die dieptes van die hel
Ons het bly lewe!
Dieetklubs: Kaf of koring?
Kettingreaksie
Hier kom die son
Die dokter in jou koskas
Só verdrink jou brein in drank
JOU BREIN
Diere dink ook
See-angels
Red 'n lewe
Sien met klank
Sak en pak
’n Nag in die lewe van ’n noodsorg-paramedikus
Kuberdok
Kuberveearts
Donker Liefde
Die manlike brein
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiets fiks: Inleiding tot oefenprogramme
Word fiets fiks: Die oefenprogramme
A step mom's story
Redakteursbrief
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement