|
Shaun Pollock - op sy tuisveld
Hy het die Suid-Afrikaanse krieketspan deur die Hansie Cronjé-krisis gelei, was die land se suksesvolste toetskaptein én het sy eie terugslae dapper oorwin. Vandag is Shaun Pollock steeds ’n wenner, veral daar waar dit vir hom die belangrikste is – tuis by sy gesin
Deur Glynis Horning
SHAUN POLLOCK speel asof sy lewe daarvan afhang. Met die sestien maande oue Georgia kraaiend van plesier op sy breë skouers en die vierjarige Jemma kort op sy hakke, galop Suid-Afrika se eertydse kaptein deur sy Hillcrest-woning, net buite Durban, terwyl hy soos ’n perd runnik. Sonder om te blik of te bloos.
Sy elegante blonde vrou,Tricia, rol net haar oë kammakastig kwaad terwyl sy hulle buitentoe boender. Dis tyd om ystee en die uitsig te geniet. En watter uitsig is dit nie. Dit strek van die stalle (met regte perde!) van die naburige luukse bosherberg tot statige, skaduryke lanings, lappe bome en eindelose groen velde, oortrek met blomme. Dit laat jou dink aan die ander en heeltemal verskillende velde waarop Shaun tuis is.
“Glo my. Ek is mal oor krieket, maar die lewe is soveel meer as dit. Ewewig is vir my die wagwoord,” sê hy terwyl hy sy dogters op sy skoot optrek en sy oë oor die vertes laat dwaal.
DIE VROEË JARE
Shaun se kinderjare was gelukkig en
ontspanne. As die jongste van krieketlegende
Peter Pollock en sy vrou, Inez,
se vier kinders was hy “seker die een
wat die meeste verwen is”, sê hy met ’n
stoute glimlag.
Maar die bederf het geskied binne liefdevolle
grense – grense wat nog meer liefdevol
getrek is nadat sy ouers “God aangeneem
het’’. Hy was twaalf jaar oud toe
sy pa besluit het om evangelis te word.
“Die verandering in hom en my ma het
my geïnspireer om ook te verander. Die
waardes en lesse wat ek geleer het, gebruik
ek vandag om Tricia en ons gesin te lei.’’
Dié waardes sou ook ’n groot rol in
Shaun se loopbaan speel. Die krieketgogga
het hom gebyt toe hy op die grasperk van
sy ouers se beskeie huis in Durban vir die
eerste keer op sesjarige ouderdom ’n kolf
in die hand gestop is. “Ek het altyd teen
my ouer broer Gavin gespeel en ons het gemaak
asof ons vir verskillende lande speel!’’
Dit was gou duidelik dat Shaun voor in
die tou gestaan het toe sporttalent uitgedeel
is, maar ‘‘ek het hard gewoeker met
wat ek gekry het’’. Hy het ook hokkie en
krieket gespeel vir die plaaslike staatskool,
Northwood, sowel as vir die Universiteit
van KwaZulu-Natal, waar hy sportoorwinnings
behaal en ook ’n B.Com. in bemarking
gekry het.
Maar van die begin af was
dit op die krieketveld waar hy
geskitter het. Die verwagtinge
wat die Pollock-naam geskep
het, het hom eerder aangevuur
as geïntimideer. “Pa
was al afgetree, maar ek het
gereeld my oom (Graeme Pollock,
bekroonde Krieketspeler
van die Eeu) in aksie gesien.”
Shaun het op vyftien jaar
klubkrieket begin speel en
is op 22 vir die eerste keer vir ’n Suid-
Afrikaanse span gekies. “Ek is saamgegooi
met ouens van in die dertig, wat gesinne
en verskillende beroepe gehad het, en ek
het net soveel van die lewe geleer as van
krieket. So het ek geleer om met verskillende
mense oor die weg te kom, om te
luister, menings teen mekaar op te weeg
en besluite te neem wat op my waardes
gegrond is.”
KAPTEINSKAP
Die vuurdoop het gekom toe hy kaptein
geword het te midde van die hele debakel
oor die Hansie Cronjé-wedstrydknoeiery.
Hy was 26 jaar oud. “Die druk was
kwaai, maar ek hou daarvan om leiding
te neem. En my taak was eintlik heel
eenvoudig – ek moes weer die klem op
die spel laat val en mense se vertroue in
die span herstel.”
Ironies genoeg was van die dinge wat
hy toegepas het, lesse wat hy by Hansie
self geleer het, “soos dat dit belangrik is
om na ander se menings te luister en om
dan van die voorpunt te lei”. Hansie se
optrede ná afloop van die sage het hom
ook geleer “dat dit hom moed gekos
het om weer op die regte pad te probeer
kom, skuld te erken en reg te wil maak
waar hy verbrou het”.
Om moed aan die dag te lê is ook ’n
eienskap wat Shaun al baie sedertdien
gehelp het – soos toe sy spel verswak en
sy span verloor het. Maar sy moed moes
’n vuurdoop deurstaan toe Suid-Afrika
die Wêreldbekerreeks in 2003 verloor het
en hy van sy kapteinskap gestroop is. En
verlede jaar moes hy ook woes keer dat sy
moed in sy skoene sak toe hy vir die eerste
keer uit ’n toetsspan weggelaat is.
“Dis tog maar net menslik dat sterk
gevoelens by jou opwel,’’ sê hy bedaard
terwyl sy dogters wegdraf om op die
swaai te gaan speel en Tricia stil-stil langs
hom inskuif. ‘‘Ek glo dat sekere struikelblokke
op ons pad geplaas word om ons
te toets. Ek gebruik Bybelse beginsels
om die lewe te hanteer. My geloof, sowel
as Tricia en ons dogters, bring die beste
balans in my lewe.’’
ROMANSE
Shaun het die eertydse Mej. Suid-
Afrika-finalis sowat tien jaar gelede
ontmoet. Sy was lid van die bemarkingsafdeling
van ’n selfoonmaatskappy
wat die nasionale krieketspan
geborg het. Tricia het hom skoongeboul.
“Sy was hierdie gemaklike,
wonderlike en plat op die aarde
meisie.”
Ná twee jaar van “uitgaan en
uithou” terwyl Shaun die wêreld
platgereis het, het hy uiteindelik
langs ’n bergstroom
op sy knieë gegaan en die
jawoord gevra. Hulle is ’n
paar maande later getroud.
Agt jaar later is die hartstog
tussen die twee steeds tasbaar.
“Die feit dat Shaun twee derdes
van die jaar nie hier is nie,
is moeilik,” sê sy. “As dit enige ander beroep
was wat hom so lank van die huis af
weggeneem het, dink ek nie ek sou soveel
begrip gehad het nie. Maar ek weet dat
dit sal einde kry en dat dit in ons gesin se
belang is dat hy sy drome bewaarheid.”
Shaun knik. “As ’n mens self ’n gesin
het, verander dit jou uitkyk op die lewe,”
sê hy. “Vroeër was ek hoofsaaklik op sport
ingestel. Maar ’n vrou en kinders laat jou
besef daar is ander dinge wat baie belangriker
is. Ek speel steeds met alles wat
in my is, maar ek besef nou jou verhouding
met ander mense en wat jy van die
lewe maak, is die belangrikste.”
Hy en Tricia moes hard werk om,
met soveel kilometers tussen hulle, hul
verhouding sterk te hou. “Ons gesels drie
tot vier keer per dag en ons gebruik die
videofoon wanneer Shaun in die land is,”
sê Tricia. “Jemma en Georgia loop selfs
met hul speelgoedfoontjies rond, kliphard
besig om met Pappa te praat!”
Die selfoon help ook om hul romanse
vuurwarm te hou. “Ek kry elke week minstens
twee gedigte per SMS van Shaun. Hy
is weliswaar nie Wordsworth nie, maar
die gedigte rym en ek is mal daaroor. Soos
vir baie mans is dit vir hom moeilik om
soetsappig te wees, maar hy gebruik humor
om my hart te steel. Dis sy manier om in
my romantiese behoeftes te voorsien.”
Hulle is ook daar vir mekaar wanneer
dit tyd is om “ernstig te praat” en wanneer
’n liefdevolle en ondersteunende
skouer nodig is.
“Toe Shaun twee jaar gelede nie so goed
gevaar het op die veld nie, kon ek sien
dat dit hom frustreer. Maar ondanks al
die pessimisme en die sportkritici wat
hom afgekraak het, het hy net bly glo dat
dit in God se hande is en dat Hy hom
daardeur sou lei. Op die ou end het hy,
deur geloof en deursettingsvermoë, teruggekeer
as Krieketspeler van die Jaar, en
verlede seisoen is hy vier keer as Speler
van die Reeks gekies. God se hand was
duidelik hierin te sien!”
PA WEES
Shaun en Tricia deel dieselfde geloof en
waardes. Dit vorm die hoeksteen van hul
huwelik én is die perfekte teenvoeter vir
wat sy as twee uiteenlopende persoonlikhede
beskryf. “Dit help ons om mekaar
aan te vul en balans te vind.”
Weer daardie woord…balans. “Ek is
’n intense mens, terwyl Shaun die rustige
een is. Maar hy kan ook baie gedrewe
en georganiseerd wees as dit nodig is.”
As ouers sorg hulle dat hulle die kleingoed
met ’n ferm maar liefdevolle aanslag
grootmaak. ‘‘Hy en die meisiekinders
mis mekaar – en dis ook maar moeilik
om hulle nie te bederf nie,” sê Tricia en
sug. “Maar dis belangrik dat ons daarteen
waak en grense stel, veral omdat ek die
meeste van die tyd ’n enkelouer is. Dis ook
belangrik dat hulle onthou dat hy die hoof
van die huis is en nie net ’n besoeker nie.”
FIKSHEID
Shaun is bekend daarvoor dat hy net so ’n
reguit paadjie loop as wat hy balle sekuur
kan afstuur. Daarby is hy ’n geheelonthouer.
“Maar ek hou daarvan om pret
te hê en loop nie heeldag met die Bybel
onder die arm rond nie; my spanmaats
aanvaar my gelukkig soos ek is.”
Natuurlik is gesondheid belangrik, maar
weer eens is dit ’n kwessie van balans.
“Eintlik eet ek net waarvoor ek lus is, maar
ek bly weg van kos wat in olie gebraai is en
skep my bord vol slaai, gestoomde groente
en hoender. Ek bly ook weg van koolhidrate
ná middagete. Maar ek sê moeilik nee
vir ’n stukkie sjokolade en vir roomys!”
Shaun staan 1,87 m in sy sokkies en
weeg 89 kg. Hy bly fiks met krieketoefening
en -wedstryde, en oefen twee keer
per week 45 minute lank in die gim waar
hy gewig- en kernoefeninge doen – ‘‘ek
kry genoeg kardio-oefening op die veld”.
Hy speel gholf met ’n voorgee van twee,
maar “dit kan daal tot vier of vyf wanneer
ek krieket speel”. Daarby speel hy
hokkie vir die Mike Madsen Eleven – “dis hoofsaaklik oud-Springbokke wat die skole se eerste spanne pak” – en
soms tennis saam met Tricia, wat gereeld vir oefening gaan stap.
Tricia dring daarop aan dat Shaun twee keer per jaar na ’n velspesialis
gaan. “Dit help dat ek bruin oë het. Ek is nie so lig soos ander rooikoppe nie
en ek brand wel bruin. Nietemin gebruik ek ’n faktor 15- of faktor 16-sonskerm
en ’n nog hoër faktor vir my gesig. En Tricia gee my vogmiddel van
die Body Shop, nie waar nie, engel?”
DIE TOEKOMS
Shaun glo sy krieketdae is nog lank nie getel nie. Hy voel hy kan met sy ervaring
steeds ’n groot bydrae op die veld lewer. Wanneer die tyd wel aanbreek
om tot siens te sê – en hy weet reeds wanneer dit gaan wees – “sal ek net sê
‘dankie’ en dan is dit verby”.
Hy sien uit na nuwe uitdagings en wil graag sy bemarkingsgraad in ’n
sportverwante omgewing toepas en ook sy roem as sportman tot voordeel
van gemeenskapsprojekte aanwend. Hy en Tricia en hul goeie vriende Jonty
en Kate Rhodes ondersoek reeds projekte ten bate van vigswesies.
“Suid-Afrika is ’n fantastiese land, en ek waardeer dit al hoe meer elke keer
dat ek moet weggaan,” sê hy terwyl hy oor sy eie stukkie Afrika uitkyk. “Ons
wil maniere vind om hulpbronne en goeie waardes met ander te deel om dit ’n
veilige plek vir ons eie dogters en vir al die kinders van die land te maak.”
SHAUN se GEHEIME
VIR ’N GELUKKIGE
LEWE
- HÊ ’N VASTE GELOOF – en respekteer
ander se geloof.
- GLO IN JOUSELF – as jy dit nie doen
nie, wie sal?
- ONTHOU DAT GOD JOU TALENTE VIR
’N SEKERE AANTAL JARE AAN JOU LEEN
– gebruik hulle na die beste van
jou vermoë.
- WOEKER MET JOU TALENTE deur
harde werk en dissipline.
- DOEN ALLES MET OORGAWE.
As iets die moeite werd is om te doen,
doen dit deeglik.
- KOESTER JOU FAMILIE – op die ou
einde is verhoudings al wat saak maak.
- LEEF, NET SOOS MET KRIEKET, VAN
SEISOEN TOT SEISOEN; moenie te ver
vooruit wil dink nie.
- BESKOU ’N TERUGSLAG AS ’N
GELEENTHEID OMTE GROEI – soos die
beroemde basketbalspeler Michael
Jordan gesê het:“Ek het oor en oor in my
lewe misluk, en dis waarom ek sukses
behaal het.’’
- WEES ’N GOEIE ROLMODEL IN ALLES
WAT JY DOEN – jy weet nooit vir wie jy
nou en in die toekoms beïnvloed nie.
- BLY NEDERIG – moenie grootkop
wees nie; hou jou voete plat op die aarde.
GUNSTELINGE:
Kos: Hoenderslaai met aarbeie, amandels en pynappel,
en Mozart Super Caramel-roomys.
TV-Program: Enige sportsoort, Discovery-kanaal wanneer
ek buite Suid-Afrika is en ’n bietjie Disney-TV saam met
die meisiekinders wanneer ek by die huis is.
Boek: Wild at Heart deur John Eldredge (Thomas Nelson)
en The Power of Simple Prayer: How to Talk to God about
Everything deur Joyce Meyer (FaithWord).
Liedjie: Shining Light deur Tree 63.
Rolprent: Tans is dit High School Musical 2 sodat ek
met Jemma oor die karakters kan praat.
Vakansiebestemming: Zimbali, wanneer ons
vakansiehuis daar klaar gebou is.
Aanhaling: “As jy dit glo, kan dit gebeur. Onthou,
dit het alles met ’n klein muisie begin”(Walt Disney).
Krieketinspirasie: Graeme Pollock en die
gewese snelbouler van die Wes-Indiese Eilande
Malcolm Marshall.
Inspirasie: Mense wat die beste van hul lewe maak,
ongeag die omstandighede.
Specific sport: Cricket
Huisgenoot - POLS Somer 2007/8
|