|
Nuwe hoop vir diabeteslyers
SA span se stille sukses
EKSKLUSIEF Pankreas-en-nieroorplantings op diabete wie se niere ingee, word reeds met groot sukses in Suid-Afrika gedoen. Sonder ophef het ’n span Gautengse chirurge vyf jaar gelede geskiedenis gemaak toe hulle met die deurbraakoperasies begin het. Huisgenoot-Pols het die span oorreed om vir die eerste keer in ’n eksklusiewe onderhoud meer daaroor te vertel. Van die ontvangers vertel ook watter dramatiese ommeswaai die operasie in hul lewe veroorsaak het
Deur Marí Hudson
Een is ’n onderwyser, die ander ’n haarkapper. Ook is daar ’n elektroniese ingenieur, ’n prokureur, ’n pa van klein kindertjies. Almal van hulle het as kinders tipe 1-diabetes ontwikkel, moes hulle talle kere daagliks self insulien inspuit en was ure lank elke week aan nierdialisemasjiene gekoppel. Komplikasies soos blindheid en hartsiektes het op hulle gewag. Van hulle was baie siek en byna altyd tot die dood toe moeg.
Nou staan die onderwyser weer voor haar klas, en nog ander 31 Suid-Afrikaners gaan met hul lewe aan sonder insulieninspuitings en nierdialise.
Hulle het ’n nuwe toekoms gekry danksy ’n uiters delikate dubbele pankreas-en-nieroorplanting.
Die uiters bekwame span dokters van die Universiteit van die Witwatersrand, die enigste in die land wat die ingewikkelde operasie uitvoer, het stilweg hierdie mense se lewe verander. Dis dieselfde span wat verkies om uit die nuus te bly, maar die koerantvoorblaaie gehaal het ná die gesondheidsminister, dr. Manto Tshabalala-Msimang, se geslaagde leweroorplanting wat hulle ook behartig het.
Op 6 Junie 2002 het die 34-jarige Melanie Breedt
van die Oos-Rand Suid-Afrika se eerste pankreas-ennieroorplantingspasiënt
geword.
Die dokters wat die dubbele orgaanoorplanting uitgevoer het, is Jean
Botha, ’n Suid-Afrikaner wat uit Omaha, Amerika,
gekom het om die span te leer om dié moeilike
oorplantings te doen, René Botha (Jean se pa), Russell
Britz, Graham Pitcher en Gary Fetter (wat die meeste
van die besonder delikate pankreasoorplantings behartig).
Hulle is almal verbonde aan die departement
chirurgie van die fakulteit gesondheidswetenskappe
by die Universiteit van die Witwatersrand. Die hoofnarkotiseur
was dr. Bill Wilson.
Die eerste oorplantings is in die Garden City-kliniek
gedoen, maar sedertdien meestal in Wits se Donald
Gordon- Mediese Sentrum.
Die marathon-operasie het agttien uur geduur en
is in vier fases uitgevoer, met die chirurge wat mekaar
afgelos het.
’n Oorplanting van ’n pankreas is veral ingewikkeld
omdat die orgaan uiters maklik in die uithaalproses en
die inplanting beskadig kan word. Die moontlikheid van lewensgevaarlike
komplikasies soos pankreatitis (pankreasontsteking) en septisemie
(uitgebreide ontsteking) is baie groot, verduidelik Russell en Gary.
’n Dubbele pankreas-en-nieroorplanting word in vier stappe gedoen:
Die skenkernier en -pankreas word uit die skenker gehaal,
die ontvanger word voorberei, die skenkerpankreas word in die
ontvanger se maagholte ingeplant sonder dat die eerste pankreas
verwyder word en laastens word die nier oorgeplant. Die laaste twee
fases duur gemiddeld agt uur.
So onmiddellik en ingrypend is die uitwerking van ’n werkende
pankreas dat die pasiënte se glukosevlak na normaal begin terugkeer
terwyl hulle nog onder narkose is.
Soos alle oorplantingspasiënte moet die nier-en-pankreas-ontvangers
lewenslank middels teen orgaanverwerping gebruik. Juis omdat
die middels jou weerstand teen siektes kan verlaag en ook ander
newe-effekte het, word die pankreas net oorgeplant as die pasiënt ’n
nier ook moet kry.
Alles gaan oor tydsberekening: Die gevare van pankreasoorplantings
is groot vir tipe 1-diabete wie se niere nog werk, maar dit moet
gedoen word voor verdere ernstige diabetes-komplikasies intree.
Altesaam 32 van die 38 pasiënte op wie oorplantings gedoen is,
lewe nog, en 31 (80 persent) kan nou soetgoed en kitskos eet, gim
toe gaan, die insulien-spuitnaalde weggooi en van dialisemasjiene
vergeet.
Hul oorgeplante pankreas en nier werk normaal. Vier het
weens komplikasies ná die hoërisiko-operasie gesterf, twee het met
’n perfek werkende pankreas en nier gesterf (een in ’n motorfietsongeluk
en die ander aan kanker) en een pasiënt se oorgeplante
pankreas moes weens komplikasies binne dae ná die operasie
verwyder word.
Op die oomblik wag sowat dertig mense met tipe 1-diabetes en
nierskade op ’n pankreas-en-nieroorplanting, en net sowat tien van
hulle sal binne ’n jaar ’n oorplanting kan kry as gevolg van die tekort
aan veral skenkerpankreasse.
“As ons kollegas tog net meer skenkers
na die oorplantingsentra sal verwys . . .” sê Russell.
MORNÉ HATTINGH, 33
HAARSTILIS VAN DIE STRAND
- Op twee gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierdialise op 28
- Oorplanting: April 2007
OP VYFJARIGE ouderdom moes Morné hom al self met insulien
begin inspuit. Hy was van kleintyd af te siek om aan sport deel te
neem en skoolkampe was ’n nagmerrie omdat hy hom aan koek
vergryp het.
Voor hy dertig was, het sy niere begin ingee, en twaalf
uur lange nierdialise-sessies drie keer per week het spoedig gevolg.
“Ek het later nie meer genoeg krag gehad om langer as tien minute
op my voete te staan en werk nie. Daar was tye dat ek gewonder het
of so ’n lewe die moeite werd is.’’
Morné het drie jaar lank op ’n oorplanting gewag. “Ek sal my eerste
ete ná die operasie nooit vergeet nie. Hospitaalbiefstuk het nog
nooit so lekker gesmaak nie; ek het dit letterlik verslind.’’
Vandag is daar geen inspuitings of dialise meer nodig nie en
Morné oefen gereeld in die gimnasium. “Ná die oorplanting het dit
gevoel asof die sak sement wat op my gerus het, verdwyn het. Daar
is skielik so baie om te doen; ek is gedurig bang ek loop iets mis.”
MELANIE BREEDT, 39
SKAKELBORDOPERATEUR VAN DIE OOS RAND
- Op vyf gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierversaking op twintig
- Oorplanting: 6 Junie 2002
“My jonger sussie, Estie, het ’n jaar voor
my oorplanting weens diabeteskomplikasies
gesterf. Sy het blind geword
en haar niere het ingegee. Die operasie
het my ’n kans op lewe gegee. Vandag het
ek weer energie en lewenslus. Ek bak en
maak tuin soos nooit tevore nie. Ek
dink eintlik dis hoog tyd vir ’n
dogtertjie in die Breedt-gesin.”
MELCHIOR MARX, 32
PROKUREUR VAN DIE OOS RAND EN SPORTMAN - Op ses gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierdialise op 29
- Oorplanting: 22 Februarie 2007
Melchior het in st. 7 (gr. 9) provinsiale
kleure in krieket verwerf en was op universiteit
lid van die Suid-Afrikaanse stoeispan.
Selfs toe hy twee keer per week nierdialise
moes kry, het hy aan sport deelgeneem.
Hy het komplikasies ontwikkel ná sy oorplanting
en moes maande in die hospitaal deurbring. Dit het hom meer as R60 000 uit
sy eie sak gejaag.
“Ek is dankbaar dat my
pankreas en nier werk. Ek het beslis meer
energie en het selfs onlangs my eerste potjie
gholf gaan speel. Maar as ek nou weer moet
kies, sou ek weens die komplikasies nie die
oorplantings laat doen het nie.”
HERMAN MOSTERT, 37
ELEKTRONIESE INGENIEUR VAN SOMERSET WES
- Op sestien gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierdialise op 32
- Oorplanting: April 2004
Drie weke ná sy oorplanting was Herman terug
by die werk.
“Ek eet alte lekker poeding en kan
naweke saam met my vriende braai en ’n bier
geniet. Tydens die dialise kon ek nie om my
huis stap sonder om moeg te raak nie. Ná die
oorplanting het ek ’n motorfiets gekoop. Ek kan
nou reis sonder om bekommerd te wees oor waar
die naaste hospitaal vir dialise is.”
HILDA LANCIA VAN DER MERWE, 41
(SAAM MET HAAR MAN, JOHAN, OP DIE FOTO)
BOEKHOUER VAN PRETORIA
- Op agt gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierdialise op 36
- Oorplanting: 1 Julie 2006
“Ek was in ’n rolstoel. Op veertig was my lewe
verby. Die hele ervaring was eenvoudig een
groot wonderwerk.”
NOLUNDI LUTHULI, 29
GEGRADUEERDE VAN RICHARDSBAAI
- Op twaalf gediagnoseer met tipe 1-diabetes
- Nierdialise op 25
- Oorplanting: Augustus 2006
“Ek het genoeg gely onder diabetes; my sig was
ook al aangetas. Vandag voel ek soos ’n nuwe
mens. My boodskap aan ander wat dieselfde
deurmaak, is om nie moed te verloor nie.”
– Betina Louw
Click here to visit our diabetes centre
|