|
Hier kom die son
Die lewe op aarde is onmoontlik sonder die son. Maar die son se ultravioletstrale kan ook melanoom, ’n ernstige, aggressiewe en potensieel dodelike vorm van kanker, veroorsaak. Hier is ’n paar eenvoudige reëls wat jou sal help om dit te vermy of vroeg op te spoor
Deur David Moseley
DIE SON kan nou wel vir jou ’n gesonde sonbruin gee, maar te veel van dié goeie ding kan ook jou doodsteek wees.
Jou vel is jou grootste orgaan en sy doel is om jou andersins weerlose liggaam te pantser, maar dié dun, beskermende lagie is self baie kwesbaar.
Velkanker is die algemeenste vorm van kanker in Suid-Afrika. Dit is gelukkig ook die maklikste om te voorkom. Wat presies melanome (kwaadaardige moesies wat tot die dodelikste vorm van velkanker lei) veroorsaak, is nie duidelik nie. Maar party feite is onweerlegbaar: Oormatige blootstelling aan ultravioletbestraling deur die son en sonbeddens verhoog jou risiko om melanoom te ontwikkel.
Saam met Texas en Australië het Suid-Afrika die wêreld se hoogste voorkoms van velkanker. Jaarliks word by ons byna 10 000 nuwe gevalle gediagnoseer.
Party mense neig meer daartoe om melanoom te ontwikkel as ander. “Die mense wat die grootste risiko loop, is ‘sonvergrypers’. Hulle bly vir die grootste gedeelte van die jaar uit die son en braai hulle dan op een slag gaar,” sê dr. Ilsa Orrey, ’n dermatoloog van Constantiaberg-MediClinic in Kaapstad.
Net een ernstige sonbrand op enige
ouderdom kan jou risiko om later
kanker te kry, verhoog.
Ilse sê nog risikofaktore is ’n familiegeskiedenis
van velkanker en ’n
oorerflike neiging tot displastiese nevus-
sindroom (moesies staan medies
as nevi bekend).
Dit beteken dat jy baie ongewone
moesies het wat groter as die gemiddeld
is en ’n oneweredige vorm het.
Dié moesies het ’n groter kans om
kwaadaardig te raak.
Hoe hoog
is jóú
risiko vir
melanoom?
1. Het jy ’n ligte vel, ligte hare
en oë, of brand jy maklik wanneer
jy in die son kom?
2. Het jy by geboorte groot, bruin
moesies gehad?
3. Is jou moesies opvallend anders
(groter as 0,5 mm, oneweredig
of verskil in kleur)?
4. Het jy meer as vyftig gewone
moesies?
5. Het jy ’n geskiedenis van
kwaai sonbrand, veral toe jy
as tweejarige poedelkaal buite
rondgehardloop het, of in jou
tienerjare?
6. Bring jy baie tyd buite deur as
gevolg van jou werk of sport? Is
jy ’n boer, visserman, ingenieur,
geoloog, ’n krieket-, gholf- of
tennisspeler, of hou jy net daarvan
om bedags baie tyd buite
deur te bring?
7. As jou antwoord op net één
van hierdie vrae ‘‘ja’’ is, moet
jy ’n ekstra waaksame ogie
hou oor enige oënskynlik
spontane velveranderings.
VELSOORTE
Daar is verskeie
soorte velle,
met verskillende
grade van
vatbaarheid vir
die ontwikkeling
van melanoom.
Hierdie veltipes
word van nul tot
ses gegradeer
– nul tot drie loop
die hoogste risiko;
vier tot ses het ’n
kleiner kans op
velkanker.
TIPE 0
Albino-vel:
TIPE 1
Dié mense het ’n wit
vel en gewoonlik
rooi hare en sproete.
Hulle kry altyd
sonbrand en word
nooit bruin nie.
TIPE 2
’n Wit vel wat gewoonlik
brand,
maar tog bruin
word.
TIPE 3
’n Wit vel wat partykeer
brand, maar
altyd bruin word.
TIPE 4
’n Mediterreense
tipe vel.
TIPE 5
’n Asiatiese vel.
TIPE 6
’n Swart vel. Dit kan
volgens dr. Ilsa Orrey
wél melanome ontwikkel,
maar dis ongewoon
onder swart
Suid-Afrikaners. Daar
is wel ’n toename
in melanome onder
donker Weskusvissermanne,
wat
wys dat melanoom
nie uitsluitend onder
tipes 1 – 3 voorkom
nie.
Keer betyds
JY MOET deurentyd teen sonbrand waak. Melanome maak
hul verskyning nes verkeersboetes in die pos: skielik op ’n
dag met min of geen waarskuwing nie. En hulle groei nie noodwendig
uit bestaande moesies op jou liggaam nie. Dié onderduimse
klein vabonde kan nes ’n ongewenste tuinmol enige
tyd en op enige plek opduik. Baie mense kry melanoom op hul
rug, kop of nek, aan die onderkant van hul bene of op plekke
wat nooit aan die son blootgestel word nie.
“Jy voel glad nie siek nie”, sê Ilsa. “Die meeste gevalle word gediagnoseer wanneer
pasiënte nog heel onbewus van enige kwaadaardigheid in hul liggaam is.”
Die goeie nuus is dat mits dit betyds gediagnoseer word, melanoom
gewoonlik nie dodelik is nie. Die gewraakte letsel word vinnig ná die diagnose
verwyder, en, afhangende van die grootte van die “indringer”, het jy ’n taamlike
goeie kans op oorlewing. Maar as die letsel selfs net 1,5mmin jou vel ingedring
het, is jou oorlewingskanse op die lang termyn maar redelik skraal.
Die volgende oorlewingsuitkomste is op Australiese tienjaaroorlewingsyfers
gegrond:
• Indien die melanoom nie dieper as 0,75mmin jou vel ingedring het
nie, kan jou kanse op oorlewing 98 uit honderd wees.
• Indien die melanoom dieper as 1,5mmingedring, is jou kans een uit
tien dat jy nie langer as tien jaar sal oorleef nie.
Ál meer gevalle van melanoom word vroeër gediagnoseer as gevolg van
beter opsporingsmetodes en groter bewustheid, sê Ilsa.
Dis bykans onmoontlik om jou hele liggaam vir melanome te ondersoek
en selfdiagnose kan partykeer tot onnodige paniek lei. Daar’s ’n paar algemene
foute wat mense begaan wanneer hulle hulself ondersoek. Geïrriteerde,
opgehewe moesies, ouderdomsvratte (dit word deesdae seboreïese keratose
genoem en word veroorsaak deur druk op die vel, maar dis eintlik net skadelose
velletsels) en bloeding onder die vel kan alles soos melanome lyk.
Die eerste teken van ’n melanoom is ’n verandering in die grootte, vorm,
kleur of gevoel van ’n bestaande moesie. Die meeste melanome het ’n swart
of blouswart area en kan“lelik” lyk. Melanome kan ook in die vorm van ’n
nuwe moesie verskyn. Die letters ABCD in die tabel op die volgende bladsy
sal jou help onthou waarvoor jy op die uitkyk moet wees.
JOU ABCD-GIDS
A(ASYMMETRY) Wees op die uitkyk vir moesies met onreëlmatige
vorms. As die een helfte van die moesie anders lyk as die ander een,
kan dit moeilikheid beteken. Simmetriese moesies is gewoonlik nie
’n probleem nie.
B(BORDER) staan vir buitengewone omlyning. Let op moesies met
’n oneweredige, gekerfde of getande rand, of opgehewe riffels – die
algemeenste kenmerke van melanome. As die omlyning skerp en goed
gedefinieer is, is dit ’n goeie teken. As dit met die omliggende vel saamsmelt,
is dit ’n slegte teken.
C(COLOUR) Dit dui op kleurveranderinge, van lig tot donker, of wit tot
ligpienk. Let op groeisels met baie kleure of ’n onreëlmatige kleurverspreiding.
As jou moesie swart is of meer as een kleur het, laat dit ondersoek.
Wees ook op die uitkyk vir ’n letsel wat afdop, gesond word en dan weer
afdop – dit gaan gewoonlik gepaard met ’n grofheid wat jy eerder kan voel as
sien – of ’n letsel met ’n sweer in die middel wat nie gesond word nie, of ’n letsel
wat skielik weer sy verskyning maak. Hierdie growwe letsels jeuk ook partykeer.
D(DIAMETER) Let op ’n moesie wat groter as ongeveer 5 mm in deursnee
is en begin groei – dis so klein soos die uitveër bo-op ’n potlood.
“In ’n neutedop: Wees op die uitkyk vir enige verandering aan ’n moesie op
jou vel en enige letsel wat sy verskyning maak en nie normaal genees nie,” sê
Peter Hers, ’n melanoomlyer en aktivis van Johannesburg. “Jy sal gou weet hoe
‘ouderdomsvratte’ lyk, die dinge wat jy maar kan ignoreer en dít wat jy deur jou
huisdokter of dermatoloog moet laat ondersoek.”
SonSlim-WENKE
Dinge wat jy moet doen:
(Van die Kankervereniging van SA se SonSlimveldtog)
- ’n Gereelde aanwending van sonskermmiddel
met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF,
in Engels SPF) van minstens vyftien in die
eerste agttien jaar van jou lewe kan die
risiko vir sekere soorte velkanker met meer
as 75 persent verlaag. Hou aan om dit aan
te wend, selfs al is jy ouer as agttien.
- Dra klere! Beskerm jou vel – jou nek,
arms, romp en bene – teen die son.
- • Dra ’n hoed (nie ’n pet nie) wat jou nek en
gesig beskerm.
- Bly in die skaduwee en bly koel.
- Vermy regstreekse blootstelling aan die son
tussen soggens tienuur en smiddae drieuur.
- Beskerm jou en jou kinders se oë teen
ultravioletstrale. Koop vir jou kind ’n
sonbril met minstens 400 UV-straalbeskerming.
Moenie babas wat jonger
as een jaar is aan direkte sonlig blootstel
nie.
- Ultravioletstrale dring deur glas en water
– beskerm dus jou vel wanneer jy ry, swem
of met ’n snorkel duik.
HOE OM JOU
VEL TE ONDERSOEK
Die beste tyd om ’n selfondersoek te
doen, is ná ’n stort of bad. Ondersoek
jou vel in ’n helder verligte kamer
en gebruik ’n handspieël. Die beste
metode is om eers te kyk presies
waar jou geboortemerke, moesies
en vlekke is en hoe hulle gewoonlik
lyk en voel.
Ondersoek jou van kop tot tone.
Moenie vergeet om oral te kyk nie,
insluitende jou rug, kopvel, tussen
jou boude en jou geslagsdele.
- 1. Kyk na jou gesig, nek, ore
en kopvel. Jy kan ’n kam of
haardroër gebruik om jou hare uit
die pad te kry sodat jy beter kan
sien. Miskien kan jy ’n gesinslid of
vriend vra om jou kopvel te ondersoek
omdat dit moeilik is om self
te doen.
- 2. Kyk in die spieël na die voorkant
en agterkant van jou liggaam,
lig jou arms op en kyk na jou linkersy
en jou regtersy.
- 3. Buig jou elmboë en kyk
noukeurig na jou vingernaels,
handpalms, voorarms (ook die
onderkante) en bo-arms.
- 4. Ondersoek jou bene van voor,
van agter en langs die kante.
Kyk ook tussen jou boude en om
jou geslagsdele.
- 5. Gaan sit en ondersoek jou voete,
insluitende jou toonnaels,
voetsole en die plekkies tussen jou
tone noukeurig.
As jy jou vel gereeld ondersoek,
sal jy vertroud raak met dít wat
vir jou normaal is. As jy enigiets
ongewoon oplet, gaan dadelik
dokter toe.
DIE son se onsigbare ultravioletstrale (UV) is
veral gevaarlik. Daar is UV-A-, UV-B- en UVC-
strale. Hulle sny die DNS in die velselle soos
kettingsae en vernietig die boustene van die
selle. Die gevolg is plooie en velveroudering.
As die liggaam nie meer die voortdurende
herstelproses kan volhou nie, vorm die vernietigde
DNS onder die oppervlak van die
vel kankerselle wat enige plek op die vel te
voorskyn kan kom.
UV-A-strale is die strale wat jou laat bruin word.
Hierdie strale word nie deur die wolke versper nie
en is dwarsdeur die dag gevaarlik. Hulle dring diep
in die vel in en veroorsaak ernstige skade aan die
dieper vellae, selfs voordat jou vel begin rooi word.
Dís die strale wat langtermynskade soos plooie,
los vel en velverkleuring veroorsaak – wat sonbeskerming
een van die beste beskermingsmaatreëls
teen plooie maak.
UV-A-strale baan ook die weg vir velkanker en
word aan melanoom van die oog gekoppel.
Nie alle sonskermmiddels beskerm jou teen
skade wat deur UV-A-strale veroorsaak word
nie. Maak dus seker jou sonskermmiddel bied
beskerming daarteen deur te kyk wat op die
pakkie geskryf is.
UV-B-strale veroorsaak rooiheid en maak jou
vel in ’n mate bruin. Dis die UV-B-strale wat die
pyn, inflammasie en rooiheid veroorsaak wat as
sonbrand bekendstaan. Dié soort skade kan binne
nét vyftien minute aangerig word en kan vir tot
drie dae nadat jy aan die son blootgestel is, verder
ontwikkel. Sowel UV-A as UV-B- strale kan deur dik
glas, ’n meter water en nat katoenklere dring.
UV-C-strale is dodelik. Gelukkig word die
meeste hiervan steeds geabsorbeer deur die
osoonlaag wat ons teen vel- en ander soorte
kanker beskerm.
WAT’S JOU
RISIKO?
As jy meer as 50
gewone moesies
het, het jy ’n hoër
risiko vir
melanoom.
HET JY GEWEET?
Sonbeddens en sonlampe straal
UV-A-strale uit en is onveilig.
’n Sweispyp straal ook gevaarlike
UV-A-strale uit.
Slip, Slop, Slap
(Trek aan, smeer aan, sit op)
Suid-Afrika se SonSlim-veldtog en Australië se ‘Slip, Slop, Slap’-veldtog om mense van velkanker bewus te maak, het albei dieselfde boodskap: Slip on a shirt, slop on
sunscreen and slap on a hat.
SELFS EEN KEER
IS TE VEEL!
’n Enkele kwaai dosis sonbrand
in jou kinderjare (of later) kan
onomkeerbare velskade aanrig
en jou risiko verdubbel om
later in jou lewe velkanker
te kry. Pasop, julle naweeksonbaaiers!
Jul risiko vir
melanoom is groter
as wat julle dink.
Elke blootstelling tel, en
lang en gereelde blootstelling
aan die son verhoog jou risiko
aansienlik, aangesien die skade
kumulatief is en voortbou op ou
skade. Boere, krieketspelers, gholfspelers
en ander mense wat lank
en gereeld aan die son blootgestel
word, het ’n groter risiko om die
ander twee minder ernstige vorms
van velkanker te kry.
Reken dit by
Gebruik ’n sonskermmiddel met ’n sonbe-
skermingsfaktor (SBF) van
minstens 15+ op jou lyf en
minstens 30+ op jou gesig. Die
SBF bepaal hoeveel keer langer
jy in die son kan bly sonder om te
brand teenoor wanneer jy glad
nie sonskermmiddel gebruik
nie. Smeer altyd jou ore,
neus, nek en hande in.
Strooistories
’n Strooihoed het
maar net ’n sonbeskermingsfaktor
van ongeveer
agt, terwyl die beskermende
skaduwee
van ’n boom jou
ongeveer tien
bied.
Moesies
Die meeste mense het tussen tien
en veertig moesies. Partykeer
word ’n mens met hierdie moesies
gebore en partykeer verskyn hulle
eers later – gewoonlik voor die ouderdom
van veertig. Omtrent een
uit elke tien mense het minstens
een ongewone moesie wat anders
as gewone moesies lyk.
Baie dankie aan die volgende mense vir hul hulp met die artikel: dr. Beverley Summers, sonskerm-deskundige
van die Medunsa- PhotoBiology Lab; Peter Hers, ’n melanoomlyer wat baie doen om mense in te lig; en prof.
H.F. Jordaan, hoof van die departement dermatologie aan die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberghospitaal
in Kaapstad.
Huisgenoot Pols SOMER 2007/2008
Click here to visit our sun centre
|