|
Diere dink ook
Sjimpansees, orangoetangs en dolfyne is van die slimste diere en ’n kommando miere is ’n gedugte taakspan. Kyk net wat gaan in diere se koppe aan.
Deur Betina Louw
Dolfyne slaap met ’n halwe brein
Dolfyne haal bewustelik asem en daarom kan net die een helfte van hul brein op ’n slag slaap. As hulle hul bewussyn verloor terwyl hulle slaap, sal hulle versmoor of verdrink. ’n Dolfyn se een oog is dus altyd oop en die ander een toe, afhangende van die kant van die brein wat slaap.
Die sjimpansee in die spiel
Sjimpansees, orangoetangs en dolfyne is die enigste diere waarvan ons weet wat hul eie weerkaatsing in ’n spieël kan herken. Ander “intelligente” diere, soos gorillas, honde en olifante, slaag nie dié toets nie.
Miere dink in kolonies
’n Enkele mier is ’n taamlik onbeholpe skepsel. Maar kyk mooi volgende keer wanneer jy ’n kolonie miere sien. Al daardie honderde oë en kake is soos breinselle met mekaar verbind en vorm ’n netwerk wat baie intelligent op prikkels van buite reageer. Elke keer wanneer twee miere se antennas aan mekaar raak, word inligting uitgeruil oor die take waarmee elkeen besig is. Is te veel miere met dieselfde taak besig, kom hulle dit gou agter en doen iets anders. Sien jy, dit werk amper net soos die verbindings in jou brein?
Watter hond is die slimste?
Kolliehonde, poedels, labradors en Duitse herdershonde is van die slimste honderasse. Sommige kan ’n nuwe taak ná net vyf herhalings uitvoer. Sommige Afgaanse honde, bulhonde en basenji’s leer honderd keer stadiger.
Voëls het ’n oer-kompas in hul brein
Hoe kry sommige voëls dit reg om hul nes te verlaat, duisende kilometer ver te vlieg en weer die pad, boonop na presies dieselfde nes, terug te kry? Wetenskaplikes is dit eens dat sommige soorte voëls se breine doodeenvoudig vir ’n bepaalde roete geprogrammeer is en dat dit moontlik die rede is waarom voëls wat nog nooit tevore ’n roete gevlieg het nie daarheen kan koers inslaan sonder om te verdwaal. Ander voëlsoorte volg weer bakens soos kuslyne, bergreekse of riviere terwyl nog ander van die son, sterre en ander magnetiese kragte vir navigasie gebruik maak.
Slimjan onder die diere
Het jy geweet dat ’n olifant se brein bykans 5 kg weeg? Dis meer as ’n groot maand ou baba. Dit is groter as enige ander soogdier. Maar al het olifante so ’n groot brein, is hulle nie die slimjanne van die diereryk nie.
Hoe weet wetenskaplikes dan watter dier is die slimste? Hulle kyk hoe groot ’n dier se brein in vergelyking met sy lyf is. Volgens dié meting is die mens die slimste. Sjimpansees en dolfyne is moontlik die slimste diere. Olifante is ook slim, maar ’n vark is maar dommerig.
Kan diere vooruitbeplan?
Sommige diere kan beslis. Bewers en erdvarke is klein diere-argitekte waar dit by huisbou kom. Hulle het reeds ’n prentjie in hul kop nog voor hulle aan ’n nuwe skuilplek begin bou. Met dié bloudruk in gedagte beplan hulle wáár om hul huis te bou en hóé om seker te maak dat dit aan hul behoeftes voldoen.
Brein-blitsfeite
- Die heuningby word beskou as die slimste insek
- ’n Volstruis se oog is groter as sy brein
- ’n Seester het nie ’n brein nie
- 11 – die aantal breine wat ’n sywurm het. Net jammer hy gebruik minder as vyf daarvan.
- ’n Olifant se brein weeg bykans 5 kg; die mens s’n gemiddeld 1,3 kg
Bronne: www.news.nationalgeographic.com , www.news.bbc.co.uk , www.courierpress.com (Migration Mystery: Birds Follow Landmarks, Stars by Sharon Sorenson), www.LiveScience.com; http://dsc.discovery.com/news/briefs/20041108/dolphin.html, Monkeyshines on Health & Science, Mar 2004 Your Brain, p36, 1p; Reader’s Digest Making the Most of Your Brain – How to Use Your Mind to Improve Your Life (2002)
Click here to visit our Pet centre
|