|
Van die hemel tot die dieptes van die hel
Mense gebruik dwelms omdat dit hulle fantasties laat voel. Maar hulle het nie ’n benul van die enorme breinskade wat die nuwe soorte dwelms kan aanrig nie. Ook dokters en psigiaters begin nou eers dié skade op breinskanderings sien
Deur David Moseley en die Health24-span
VAN DIE toppunt van ekstase tot in die dieptes van die hel. Binne ’n oogwink. En dan: Breinskade vir die res van jou lewe.
Dis wat die jongste straatdwelms aan jou kan doen.
En selfs ná jy opgehou het daarmee, kan hierdie dwelms die delikate weefsels van jou brein verskroei, sodat jy verander in ’n monster wat tot die allerverskriklikste geweld in staat is. Of net in ’n donker moeras van depressie versink waaruit NIKS jou weer sal kan verlos nie.
Maak nie saak watter dwelm jy beproef nie, al is dit net vir één aand se rave, jy kan maar weet jy speel met vuur. Dit wat jy daar rook of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein met die geweld van ’n weerligstraal tref.
Dis nie sedebewakers, onderwysers en predikante wat só sê nie. Dis geharde polisiemanne, chemiese wetenskaplikes en psigiaters wat die uitwerking van dié dwelms met verbystering aanskou.
Vergeet maar alles wat jy gedink het jy van dwelms weet. Niks kan jou voorberei op die verskrikking wat nou deur charlie en rock, crystal, hot ice, china white en liquid ecstasy gesaai word nie. En dis nie elders nie, dis hier, in doodgewone buurte, in ons skole en universiteite waar dit gebeur onder gewone tieners wat net pret wil hê en grootmense wat van beter behoort te weet.
Die hippies en dwelms van ’n vorige era begin soos ’n kindertuin lyk. Vandag se dwelms is soveel kragtiger, werk soveel intenser op jou in, bring jou tot ekstatiese hoogtepunte van euforie en energie, en slinger jou daarna in die dieptes neer. Dis nie verniet dat hulle sê jy ‘crash’ nie.
Tot dusver het niemand geweet watter verwoesting hierdie chemiese geweld in jou brein saai nie. Nou begin ons weet. En dis ’n skrikwekkende gesig.
- Psigiaters sien die skisofreniese wrakke wat voor hulle sit.
- Verloskundiges staan met babas wat met hul derms buitekant hul lyfies gebore is.
- Polisiemanne hanteer die slagoffers van meedoënlose misdade.
- Neuroloë peil met die jongste tegnologie vir die eerste keer werklik die omvang van die breinskade wat aangerig is.
As jy dink dít is erg, dan moet jy jou
staal vir die volgende dwelmgolf wat die
land gaan tref, sê superintendent Casper
Venter van die SAPD se forensiese laboratoriums.
Daar is die dwelm yellow honey,
’n dodelike nuwe vorm van marijuana,
wat sewe keer sterker as gewone dagga
is en tot ’n “inploffing” in jou brein kan
lei. Dit het onlangs in Los Angeles kop
uitgesteek. Die SAPD se narkotikaburo
voorspel dat dit binnekort in Suid-Afrika
vastrapplek kan kry en dat dit die tikprobleem
na ’n piekniek gaan laat lyk.
Plaaslike dwelms is nie veel veiliger nie.
’n Mens het geen idee van wat werklik in
daardie middels skuil wat êrens in ’n toilet,
huis of pakkamer vervaardig word nie.
Straatdwelms word dikwels met die
hoogs verslawende heroïen gemeng om
te verseker dat jy fisiek afhanklik raak.
Mense besef ook nie altyd hoe gekonsentreerd
straatdwelms kan wees nie; dis
soms tot 1 500 keer meer as die dosis wat
die liggaam met veiligheid kan hanteer.
Dis soos om vuurpylbrandstof in ’n
stokou kar te gooi.
Dis ook moontlik dat straatdwelms
skadelike onsuiwerhede kan bevat. ’n
Voorbeeld is ’n chemiese stof in Mandraxpille
wat longkanker kan veroorsaak.
Op die spoor van dwelmgebruik volg
die misdade wat daarmee saamhang.
“Ons sien ál meer dat as iemand vermoor
word, hy nie een keer gesteek of geskiet
word nie, maar sommer sestig keer. Tikgebruik
verander die chemiese werking
van die brein en stomp die verbruiker af.
Om iemand te verkrag of dood te maak,
is vir hom niks nie,” sê Casper.
Die nege algemeenste straatdwelms
Die middels wat hier bespreek word, is onwettig en word gelys in
die Dwelmwet, Wet 140/92. Die algemeenste straatdwelms wat
in Suid-Afrika misbruik word, kan geklassifiseer word volgens
hul uitwerking op die brein. Daar is drie hoofklasse: Opkikkers
(stimulante), onderdrukkers (depressante) en hallusinogene (wat jou
vreemde dinge laat ervaar).
OPKIKKERS (STIMULANTE)
Hieronder tel kokaïen, crack, Ecstasy, tik, crystal meths, amfetamiene, efedrien
en Khat. Dié middels stimuleer die brein en verhoog die hartklop.
Jong mense gebruik dit om hulle sterker en meer energiek en doelgerig te
laat voel. Tipiese tekens van die gebruik van stimulante is ’n kleiner eetlus,
hope energie, slapeloosheid, vergrote pupille, spraaksaamheid, prikkelbaarheid,
angs, hiperaktiwiteit, skielike buiveranderings, ongeduld en senuagtigheid.
1. Kokaïen
Straatname
Blow, charlie, coke
Dié dwelm, wat jou
verstand beïnvloed,
word van die kokabos
in Peru, Bolivia en
ander bergagtige lande
vervaardig en was eens
die glansdwelm van die
rykes en bekendes, maar
deesdae eksperimenteer ál meer
kinders daarmee.
Die hemel: ’n Gevoel van opgewektheid,
euforie, hiperaktiwiteit, selfvertroue,
verhoogde bewustheid en onbeperkte
energie.Dié opwelling vind plaas vyf tot
tien minute nadat die kokaïen gesnuif is.
Die hel: Party gebruikers ervaar hoofpyn,
bewerigheid, angstigheid en slapeloosheid
ná ’n enkele dosis. Groter dosisse kan tot
’n gekners van die tande en kompulsiewe
gedrag soos ’n gekrap en vingergetrommel
lei. Gebruikers kan stemme hoor en hewige
vervolgingswaansin kry. Hulle kan
angstig voel, irrasioneel dink en ook
aggressief word. ’n Oordosis kan rukkings, paniekaanvalle,
hartversaking, beroerte, asemhalingsprobleme
en die dood veroorsaak.
Uitwerking op die liggaam: Jou polsslag
en bloeddruk styg en jou pupille vergroot.
Mettertyd sal jy uitgeteer lyk, jou seksdrif
sal afneem en jy sal gereeld verkoue en
’n loopneus kry. Kortliks: Jy sal verskriklik
gehawend lyk. Kokaïen is sielkundig en
fisiek verslawend. As die euforie eers verby
is, smag gebruikers na nog stimulering.
Uitwerking op die brein: Kokaïen
meng in met die natuurlike afskeiding
van dopamien en serotonien, die brein se
chemiese boodskappers wat jou lekker laat
voel. Dit veroorsaak ophopings van hierdie
breinoordragstowwe en gee aanleiding tot
die welbekende “kruin”wat gebruikers
ervaar. Die vreesaanjaende feit is egter dat kokaïen
die breinoordragstowwe uiteindelik
so kan uitput dat dit depressie, apatie,
moegheid, angstigheid en selfmoordneigings
kan veroorsaak wat maande kan duur.
As die uitputting algeheel en blywend is,
sal selfs die beste antidepressante nie werk
nie en jy kan dalk nooit in staat wees om uit
dié donker dieptes te ontsnap nie.Jy kan
ook Parkinson se siekte ontwikkel wat jou
op ’n vroeë leeftyd soos ’n bejaarde sal
laat bewe.
2. Crack
Straatname
Rocks, freebase
Crack is ’n goedkoop vorm van kokaïen wat deur
bymiddels in rookbare rocks omskep word. Dis ’n
gekonsentreerde vorm van kokaïen en om op te
hou, is drie keer moeiliker as met ander dwelms.
Die hemel: Jy voel welgeluksalig, opgewek en
eufories. Die hoogtepunt is intens, maar duur maar
’n rapsie meer as tien minute.
Die hel: Die gevoel van euforie word vinnig opgevolg
deur net so ’n intense gevoel van depressie,
wat die behoefte skep om weer en weer te rook. Dié
siklus van kruine en insinkings lei tot ’n verslawing
wat vinniger as enige ander dwelm posvat. Die
risiko van ’n oordosis is ook baie hoog.
Uitwerking op die liggaam: Dieselfde as
kokaïen, maar intenser. Gebruikers kan “sneeuligte”
of stralekranse sien. Hul polsslag kan
onreëlmatig raak, wat ’n hartaanvalrisiko verhoog.
Uitwerking op die brein: Omdat dit gerook
word, bereik ’n hoë dosis die brein binne minder
as tien sekondes – met ’n vyf tot tien keer hoër
konsentrasie as kokaïen (wat gesnuif word). Dit
verander die biochemiese toestand van die brein
en put die voorraad van dopamien en serotonien,
twee goedvoel-oordragstowwe, uit. Hierdie skade
kan blywend wees, wat tot voortdurende paranoia,
selfmoordneigings en depressie, of hewige woedeaanvalle
kan lei.
3. Ice
(KRISTALMETAMFETAMIEN)
Straatname
Crystals, crystal, meth, rock,
candy, batu, glass,
LA glass, super ice,
hot ice, LA crystal,
Hawaiian salt
Hierdie nuwer vorm van gekristalliseerde metamfetamien
is byna 100 persent suiwer. Dis reukloos,
word in glaspype gerook en is dodeliker as crack
en kokaïen en blykbaar verslawender.
Die hemel: Rokers voel binne sekondes ’n intense
opwelling van fisieke en geestelike opwinding. Die
uitwerking kan van vier tot veertien uur aanhou.
Die hel: ’n Intense angs- en depressiegevoel,
slapeloosheid, moegheid en uiteindelik raak jy die
kluts kwyt. ’n Toestand soortgelyk aan paranoïese
skisofrenie kan ook op swaar gebruik volg.
Uitwerking op die liggaam: Gebruikers het
groter en groter dosisse nodig vir dieselfde kruin.
Langdurige gebruik beskadig die longe, lewer en niere.
Uitwerking op die brein: Breinskade soos met
tik, maar in ’n nog erger graad.
4. Ecstacy
Straatname
XTC, e, Adam, MDMA
Ecstasy is ’n “rave”- of “paartie’’-dwelm
en word dikwels gebruik om nagdeur
te kan dans. Dis ’n saamgeflanste
dwelm of dwelmkonkoksie, soos tik.
Hoekom het dit so ’n cool naam? Omdat
metieleendioksiemetamfetamien
(MDMA) vir selfs die mees gesoute
dwelmslaaf een te veel sal wees.
Die hemel: Daar is ’n verhoogde gevoel
van plesier, verhoogde selfvertroue en hope
energie, vreedsaamheid, aanvaarding en
empatie. Die kruin-fase duur tussen vier en
ses uur.
Die hel: Gebruikers kan onduidelik sien,
baie sweet en op hul tande kners of die
binnekant van hul wange byt. Hulle kan
begin ruk, naar voel, opgooi en epileptiese
aanvalle kry. Gereelde of langdurige
gebruik of groot dosisse kan jou in ’n hoogs
depressiewe, paranoïese mens verander
wat angsaanvalle kry.
Uitwerking op die liggaam: Ecstasy
kan selfs in klein dosisse gevaarlik wees
vir mense met hartsiektes en asma. Groot
dosisse kan tot oorverhitting van die
liggaam en brein, waterterughouding,
beroerte en hartaanvalle lei.
Uitwerking op die brein: Ecstasy
beïnvloed jou brein deur minstens drie
brein-oordragstowwe te laat toeneem
(serotonien, dopamien en norepinefrien)
en wanneer dit hierdie voorraad uitput,
veral die serotonienvoorraad, is ernstige
depressie gewoonlik jou voorland. Psigiaters
sê hulle sien al meer hoe Ecstacy-gebruikers
se kop uithaak en hulle blywende
breinskade kry.
GEVAAR: Baie saamgeflanste
straatdwelms of dwelmkonkoksies
(met die misleidende naam designer
drugs) word aan naïewe of desperate
gebruikers verkoop as heroïen- of
kokaïen-plaasvervangers. Omdat jy
nie weet wat jy koop nie, is die gevaar
groot dat jy ’n oordosis kan inkry.
5. Metamfetamien
Straatname
Tik, tik-tik,
crystal, meth, crystal
meth, crank, uppers,
speed
Tik is ’n dwelmkonkoksie en word verkoop
as poeiers, pille en kapsules wat
gesnuif, gerook of ingespuit word. Dit
kan tuis gemaak word uit medisyne wat
oor die toonbank te koop is.
Die hemel Net soos kokaïen en crack lei
tik tot ’n toename in wakkerheid en meer
energie, selfvertroue, seksdrif en euforie.
Die hel: Aggressie, geweld, psigotiese
gedrag, geheueverlies en hart- en
breinskade. Langtermyn-gebruikers kan
feitlik seker wees van slapeloosheid,
psigotiese episodes, vervolgingswaansin,
hallusinasies en ineenstorting.
Uitwerking op die liggaam: Bewende
hande, verhoogde polsslag en kwaai sweet.
’n Oordosis kan koors en hartversaking
veroorsaak. Langtermyngebruik maak
die gevaar groter dat jy hepatitis C of MIV
opdoen omdat dit ingespuit word en tot
hoërisiko- seksuele gedrag lei.
Uitwerking op die brein Tik werk as ’n
stimulant, net soos kokaïen. Dit bly egter
veel langer in die liggaam. Die uitputting
van die brein se dopamienvoorraad is uiters
kommerwekkend. ’n Tik-verslaafde verloor
elke twee jaar tot die helfte van sy dopamienvoorraad,
teenoor die vyf tot tien persent
elke tien jaar vir die gemiddelde mens.
Dopamien help gekoördineerde bewegings
reguleer en sodra die vlak met vyftien
persent daal, ontwikkel die slagoffer Parkinson
se siekte, wat gekenmerk word deur
bewerige en rukkerige hande en kop.
In die Wes-Kaap is daar jong tik-gebruikers
wat reeds aan Parkinson se siekte ly.
Psigiaters is ook besorg oor die toename in
gevalle van skisofrenie en psigoses onder tikgebruikers.
Dit lyk of tik mense se breine so
beskadig dat hulle soos uiters aggressiewe
psigopate begin optree. Dít word weerspieël
in die Narkotikaburo se bevestiging dat
moorde en verkragtings deur tik-gebruikers
sinloser en aggressiewer raak.
Die babas van vroue wat tik tydens hul
swangerskap gebruik, het ’n groter kans om
al in hul kinderjare Parkinson se siekte te
ontwikkel. Nog erger: Dié babas se derms
ontwikkel aan die buitekant van hul lyfies.
Babas met dié afwyking word gereeld in
sekere hospitale in die Skiereiland gebore.
ONDERDRUKKERS (DEPRESSANTE)
Dié middels onderdruk of vertraag sekere breinfunksies. Afhangend van watter deel van die
brein onderdruk word, word dit in subgroepe verdeel, naamlik narkotiese of verdowende
middels soos heroïen of middels wat jou slaperig kan maak soos onder meer Mandrax.
6. Heroïen
Straatname
Smack, mud,
China white, brown, Mexican
brown, brown sugar, gear,
H, horse, junk
Heroïen word vervaardig van die hars van
die opium-papawer en is die gevaarlikste
en verslawendste dwelm. Suiwer heroïen is
’n wit, reuklose, kristalagtige poeier met ’n
bitter smaak. Hoe bruiner die kleur, hoe meer
onsuiwerhede bevat dit. Dit word dikwels
versny met stysel, suiker soos glukose,
poeiermelk, babapoeier, waspoeier, strignien
of selfs ander gifstowwe voordat dit verkoop
word. Dit word gerook, gesnuif of ingespuit.
Die hemel: ’n Diepgaande gevoel van warmte
en welsyn deurspoel die gebruiker en blokkeer
alle gewaarwordings van pyn en
onsekerheid.
Die hel: Binne ses tot agt uur kan
simptome soos naarheid, braking,
koudkry, hewige gesweet en
spier- en beenpyne volg. Die
eintlike hel begin met die intrede
van onttrekkingsimptome
wat binne twee dae ná die
laaste fix kan begin.
Uitwerking op die liggaam: Heel eerste lei dit
tot pyn-onderdrukking, lomerigheid, swaarheid
van die ledemate, vlak asemhaling, ’n swak pols,
droë mond en erg vernoude pupille. Langtermyngebruik
lei tot lewerskade en vergiftiging as
gevolg van bymiddels, bakteriële besmetting,
absesse, infeksie van die hartvoering en -kleppe,
en artritis. Babas van ma’s wat gedurende hul
swangerskap heroïen gebruik, kan verslaaf gebore
word.
Uitwerking op die brein: In die brein verander
heroïen vinnig in morfien, wat aan sekere
reseptors bind om die gevoel van geluksaligheid
te gee. Maar die brein reageer op dié bindings
deur minder van sy eie goedvoel-endorfiene te
vervaardig. Heroïen mors die chemiese balans
in die brein só op dat die
gebruiker begin om pyn te
ervaar sonder dat daar enige
beserings is. Onvoorspelbare
bui-veranderings en
verwarring is die gevolg van
die veranderde chemiese
stowwe in die brein.
7. Mandrax
Straatname Whites,
Buttons
Suid-Afrika het die hoogste misbruik per
kop in die wêreld en die mandrax- (metakwaloon-)
tablette word gewoonlik
fyngemaak en saam met ’n mengsel
van dagga of tabak in ’n bottelnekpyp,
’n sogenaamde white pipe of “witwyf”,
gerook.
Die hemel: Jy voel heeltemal ontspanne,
vreedsaam en sorgeloos. Niks ter wêreld
kan jou skeel nie.
Die hel: As jy te veel rook, sal jy naar voel,
of bewusteloos of heeltemal bedwelm raak.
Uitwerking op die liggaam: Mandrax-
gebruikers kan fisieke en sielkundige
afhanklikheid van die dwelm ontwikkel
en aanhoudend daarna smag. Hulle het al
hoe meer daarvan nodig om die gewenste
uitwerking te kry.
Uitwerking op die brein: Mandraxgebruik
verander die brein-chemikalieë met
die gevolg dat die gebruiker soos ’n zombie
word weens die onderdrukking van die
werking van die brein.
HALLUSINOGENE
Hierdie psigedeliese dwelms vervorm ’n mens se werklikheid heeltemal en dompel die
gebruiker in ’n droomwêreld waar alles vervorm is, en kleure hoorbaar en klanke sigbaar
word. As groot hoeveelhede gebruik word, kan dit jou brein deurmekaarkrap en sinsbedrog en hallusinasies veroorsaak. Dit versnel ook die brein, wat gemoedskommelinge van euforie tot die diepste depressie tot gewelddadigheid kan veroorsaak. Partykeer kan die verlies van identiteit en depressie so erg raak dat dit tot selfmoord kan lei.
8. Kannabis
Straatname
Marijuana,
dagga, dope, grass, ghanja,
weed
In Suid-Afrika word kannabis op die platteland
gekweek en verkoop om die pot aan die kook
te hou. Die cannabis-plant bevat meer as 426
bekende chemikalieë, onder meer stowwe wat
bekendstaan as THC (tetrahidrokannabinol).
Die hemel: Jy voel eufories en ontspanne.
Die hel: Paniekaanvalle, hallusinasies, terugflitse
en geheueverlies kan voorkom.
Uitwerking op die liggaam: Dit veroorsaak
sinusitis en brongitis en kan tot longkanker lei. Onvrugbaarheid by mans en vroue, miskrame,
doodgeboorte en vroeë sterfte by babas is
van die ander gevare.
Fetale marijuana-sindroom – gekenmerk
deur lae geboortegewig en ontwikkelingsabnormaliteite
– kom vyf keer meer voor as
fetale alkoholsindroom.
Uitwerking op die brein: THC verander die
brein-chemikalieë wat jou gevoelens, geheue,
sintuie en bewegingskoördinasie beheer.
9. LSD
(Lisergiensuurdiëtielamied)
Straatname Acid, blotter
acid, microdot, white lightning
LSD is ’n geurlose en kleurlose dwelm wat
in twee vorms beskikbaar is: LSD-papier
wat met LSD deurdrenk is; of mikrotablette
(“microdots”) wat ’n baie lae konsentrasie
LSD bevat.
Die hemel: Dit voel asof jou sintuie omgeruil
is, wat jou laat voel asof jy kleure hoor en klanke
sien. As jy genoeg LSD neem, veroorsaak dit
illusies en visuele hallusinasies.
Die hel: Geestesafwykings soos skisofrenie en
hewige depressie kan deur die gebruik van
LSD aangebring word.
Uitwerking op die liggaam: Verhoogde
polsslag en bloeddruk, gevoelloosheid en
swakheid.
Uitwerking op die brein: LSD beïnvloed
’n groot aantal chemikalieë in die brein,
insluitende dopamien en serotonien. Dit
lyk of die dwelm moontlik die vlakke van die
stof glutamaat in baie spesifieke dele van die
brein verhoog, wat die breinselle oorstimuleer
en ’n “elektriese storm”in die brein ontketen. Elke elektriese storm kan tot blywende
breinveranderings lei.
JOU BREIN WORD BESPIED
Nuwe tegnologie stel dokters in staat om mikroskopiese areas van die
brein – die gebiede wat die meeste deur dwelmgebruik beïnvloed word –
te bekyk. Die een metode is die sogenaamde Brain SPECT (Single Photon
Emission Computed Tomography), waar gammastrale gebruik word om
twee- of driedimensionele beelde van aktiewe breingebiede te skep.
Met ’n brein-SPECT kan dokters kyk na die skade wat deur verskillende dwelms as gevolg van
aangetaste bloedtoevloei aangerig is, verduidelik dr. Pieter Botha van die radiologie-departement
by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad. Dwelms soos alkohol, kokaïen en dagga tas die
doetreffendheid van bloedvate in die brein aan en belemmer die bloedtoevoer na sekere
gebiede. Op skanderings verskyn die aangetaste dele as “gate” in die brein. Die skanderings hierbo
wys die brein-SPECT’e van drie verskillende crack-gebruikers. Die kleure op die skandering dui
breinaktiwiteitsvlakke aan. Rooi is die beste en geel, groen en blou dui die areas met laer aktiwiteit
in afnemende volgorde aan.
4 STAPPE NA
DWELMAFHANKLIKHEID
- Die eksperimentele stadium.
- Die geleentheidsgebruikfase. Jy
probeer nie die dwelm aktief verkry
nie, maar aanvaar dit as vriende jou
dit aanbied.
- Die tyd van gereelde gebruik. Jy
kry self die dwelm en maak seker
dat jy altyd voorraad byderhand
het. Jy gebruik dwelms een tot twee
keer per week.
- Die fase van afhanklikheid
of verslawing. In dié stadium sal
dwelms die grootste deel van jou
lewe uitmaak, en enige poging
om jou van die dwelm te skei,
sal aansienlike weerstand uitlok.
- Dwelmafhanklikheid is ’n dodelike
siekte indien dit nie behandel word
nie. Dit is al met reg beskryf as ’n
reis na nêrens.
FEIT
Al hoe meer dwelms
word deesdae chemies só
vervaardig dat dit gerook kan
word, omdat die effek dan vinniger
ervaar kan word. Wanneer
’n mens tik (metamfetamien) rook,
bereik dit binne dertig sekondes
die brein en raak jy ‘hoog’,
maar as jy dit sluk, neem dit
tien tot vyftien minute om
by die brein uit
te kom.
Bronne: Drugs and Drug Abuse in Southern
Africa, Sylvain de Miranda (Van Schaik,
1987) en Donker Liefde, My Verhouding
met Heroïen, Anoux Venter, (Tafelberg-
Uitgewers, 2007).
Dié artikel is saamgestel met die hulp van
een van Suid-Afrika se voorste dwelmkenners,
superintendent Casper Venter, chemikus
van die chemie-eenheid van die forensiese
wetenskap-laboratorium van die SAPD;
senior superintendent Deven Naicker, die
nasionale hoof van dwelms van die Suid-
Afrikaanse Polisiediens; en die Mediese
Navorsingsraad.
Click here for our guide to drugs
|