Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
Stem cell miracles
A transplant of a windpipe using stem cells has given a woman a new lease on life.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 HG Pols Des 2007
 
Dieetklubs: Kaf of koring?

Is jy een van die meer as 150 000 Suid-Afrikaners wat van ’n dieetklub gebruik maak om gewig af te skud? Maar durf jy die dieetklubs se aansprake vir soetkoek opeet? Ons span dieetkundiges weeg die klubs teen mekaar op
Deur die Health24-span

JY WIL gewig verloor. Dit kan wees op aandrang van jou dokter omdat jy gevaarlik oorgewig is of sommer net omdat jy graag slanker vir somer, strand en swemklere wil wees.

Wat doen jy? Gewoonlik een van twee dinge. Jy gryp na die doen-dit-self-kitsoplossings van maermaakpille, verslankingsdrankies en eetlusdempers. Of jy sluit by ’n dieetklub aan wat jou belowe jy sál met hul hulp gewig verloor.

Suid-Afrika se groot dieetklubs, Weight Watchers, Weigh-Less en SureSlim, verseker jou hulle sal toesien dat jy gewig afskud. En te oordeel na hul honderdduisende lede is dit ook nie net praatjies nie.

Benewens die bekende dieetklubs neem die nuwe soort klubs waar oefening die hooffokus is, maar spesiale aandag aan jou dieet gegee word, in gewildheid toe. Onder dié klubs is Virgin Active Life Care wat veral op ’n gesonde leefstyl gerig is en twee soortgelyke oefenklubs spesiaal vir vroue, Shapes for Women en Curves.

Op die oog af is die resep van steungroepe, eetplanne en vaste teikens vir gewigsverlies een wat werk. Maar is al die eetprogramme ewe gesond en goed vir jou?

HG-Pols het die benaderings van ses verskillende dieetklubs vergelyk en hul eetprogramme aan ’n streng, wetenskaplike beoordeling onderwerp. Health24 se DietDoc, dr. Ingrid van Heerden, en die dieetkundiges Irene Labuschagne en Celeste Naudé van die Voedingsinligtingsentrum aan die Universiteit van Stellenbosch (Nicus) help jou in dié artikel om die koring van die kaf te skei.

Hier ontleed ons Weight Watchers, Weigh-less, Sureslim, Virgin Active Life Care en Curves se dieet programme.

Waarop berus die program?

1. WEIGHT WATCHERS

• Dis nie ’n dieet nie, maar ’n lewenstyl-eetprogram.
• Dis nie voorskriftelik nie en kos hoef nie geweeg te word nie.
• Die program is op ’n daaglikse puntestelsel gegrond en beïnvloed jou denkpatroon sodat jy gesonder kos koop.
• Die gebruik van dieetaanvullings en -pille word ontmoedig.

2. WEIGH – LESS

• Die Weigh-Less Target Plusprogram wil lede help om ’n gesonde eetprogram te volg en slim voedselkeuses te maak.
• Die program is gegrond op ’n sekere aantal porsies per dag.
• Die weeg van kos word aan die begin aangemoedig om lede te leer hoe groot ’n porsie is.

3. SURESLIM

• Die Quick Loss Eating Plan is ’n hoëproteïen-laekoolhidraateetplan.
• Dit behels drie maaltye per dag en vyf uur van vas tussenin.
• Volgens SureSlim versnel dit die afskeiding van menslike groeihormoon (MGH) en serotonien, en voorkom dit die oorproduksie van insulien.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

• Virgin Active Life Care seVOOMAprogram se oefen- en eetplanne is op persoonlike behoeftes en doelwitte gegrond.
• Die plan moedig jou aan om 30 minute per dag te oefen.
• Jy ontvang jou persoonlike eetplan nadat jy ’n vraelys voltooi het.
• Lede kan hul gewig, vetpersentasie en bloeddruk by ’n groot netwerk van HealthZones monitor.

5. SHAPES FOR WOMEN

• Dié gewigsverliesprogram vir vroue het twee pilare: oefening en ’n gesonde eetplan om jou metabolisme te versnel.
• Jy kan een van twee eetplanne volg: ’n hoëproteïen-laekoolhidraat-dieet vir mense wat sensitief vir koolhidrate is óf ’n eetplan met beperkte kilojoules.
• Die plan help jou om met die Metabolic Mover geleidelik meer te eet sonder dat jy gewig aansit.

6. CURVES

• Dis ’n oefen-en-eetplan vir vroue gegrond op navorsing deur die Baylor-universiteit in Texas, Amerika.
• Die gims is reeds in Suid-Afrika en die eetplan sal binnekort beskikbaar wees.
• Die program versnel jou metabolisme sodat jy nie vir ewig ’n laekilojoule-eetplan moet volg om slank te bly nie.
• Volgraanprodukte, maer proteïen, vrugte, groente, ‘‘goeie’’ vette en laevet-suiwelprodukte vorm die basis van die eetplan.

Hoe word lede bygestaan?

1. WEIGHT WATCHERS

• Weeklikse weegsessies.
• Steungroepe.

2. WEIGH-LESS

• Weeklikse weegsessies.
• Steungroepe.

3. SURESLIM

• Weeklikse weegsessies.
• Steungroepe.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

• Aanlyn-ondersteuning.
• Biokinetici is beskikbaar.
• ’n Weeklikse telefoonoproep van ’n dieetkundige.
• Selfmonitering.

5. SHAPES FOR WOMEN

• Oefening in die groep se eie gimnasiums.
• Weeklikse weegsessies en aanmoediging.

6. CURVES

• Oefening in die groep se eie gimnasiums.
• Weeklikse weegsessies.
• Mates word elke drie weke geneem.

Moet jy spesiale bloedtoetse laat doen?

1. WEIGHT WATCHERS

Nee. As jy ’n mediese probleem het, moet jou dokter skriftelik toestemming gee.

2. WEIGH-LESS

Nee. As jy ’n mediese probleem het, moet jou dokter skriftelik toestemming gee.

3. SURESLIM

Ja. ’n Volle bloedprofiel van tiroïed- en nierfunksietoetse tot glukose- en bloedlipiedvlak.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

Nee. Mense met ’n mediese probleem moet hul dokter vooraf raadpleeg oor deelname.

5. SHAPES FOR WOMEN

Nee. Mense met ’n mediese probleem moet skriftelike toestemming van hul dokter kry.

6. CURVES

Nee. Mense met ’n mediese probleem moet hul dokter vooraf raadpleeg.

Hoeveel kos die program?

1. WEIGHT WATCHERS

8 weke: R350.
12 weke: R450, plus R35 vir elke week se inweegsessie. Sodra jy jou teikengewig bereik, word jy ’n lewenslange lid.

2. WEIGH-LESS

Aansluitingstarief: R90.
Maandelikse tarief: R150.
Talle spesiale kontrakte beskikbaar.

3. SURESLIM

Die driemaandekursus kos R1 250.
Bloedtoetse kos tussen R525 en R744,80.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

Dis gratis vir Virgin Active se gim-lede en sommige mediese fondse se lede kry afslag. Alle ander mense kan die program teen R295 by sekere Dis-Chem-apteke koop.

5. SHAPES FOR WOMEN

Aansluitingstarief: R200 tot R400.
Maandelikse tarief: R200 en R240 na gelang van die gim. Die eetplan is by dié koste ingesluit.

6. CURVES

Aansluitingstarief: R649 of R324.
Maandelikse tarief: R249 tot R299.
Curves-aanvullings kos sowat R200 per maand.

Sluit die program ook oefeninge in?

1. WEIGHT WATCHERS

Dis noodsaaklik. Jy kry ’n pamflet met oefeninge.

2. WEIGH-LESS

Lede word aangemoedig om oefening te doen.

3. SURESLIM

Die program sluit ’n liggaam- en leefstyl-ontleding in waarvolgens ’n oefenplan uitgewerk word.

3. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

Gereelde oefening is die grondslag van die program. Jou oefenprogram word nommerpas vir jou uitgewerk.

5. SHAPES FOR WOMEN

Oefening is grondliggend. Die oefenplan is uitgewerk om jou gewig te laat verloor en jou metabolisme te versnel sodat jy meer kilojoules verbrand.

6. CURVES

Curves bied ’n 30 minute-oefenplan, wat drie maal ’n week gedoen moet word, om jou fiks te maak en jou metabolisme te versnel.

Is daar nommerpas gewigsverlies-programme vir spesiale groepe (kinders, diabete, ens.)?

1. WEIGHT WATCHERS

Ja. Kinders ouer as tien is welkom.

2. WEIGH-LESS

Ja. Kinders ouer as nege is welkom.

3. SURESLIM

Ja. Die eetplan is gegrond op die bloedtoetse, mediese geskiedenis en spesiale behoeftes.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

Ja. Spesiale programme is beskikbaar vir hartpasiënte, mense met hoë bloeddruk, diabete, sportbeseerdes en ander.

5. SHAPES FOR WOMEN

Ja. Kies een van twee planne: een vir mense wat sensitief vir koolhidrate is of een vir dié wat sensitief vir kilojoules is. Kinders se eetplanne word aangepas.

6. CURVES

Nee. Die dieet word egter gratis aangepas vir mense met spesiale behoeftes. Kinders het dokterstoestemming nodig.

Kontakbesonderhede in SA en webtuiste

WEIGHT WATCHERS

0861-113-225
info@weightwatchers.co.za
www.weightwatchers.com

WEIGH-LESS

0861-100-551
info@weigh-less.co.za
www.weigh-less.co.za

SURESLIM

021-797-6003
info@sure-slim.co.za
www.sure-slim.co.zaL

VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

0860-263-947
info@virginlifecare.co.za
www.virginlifecare.co.za

SHAPES FOR WOMEN

011-791-1838
info@shapesforwomen.co.za
www.shapesforwomen.co.za

CURVES

0800-287-837
www.curves.co.za

WAT SÊ DIE KENNERS?

Dr. Ingrid van Heerden, Health24 se DietDoc, en Nicus neem die dieetklubs onder die loep.

As jy na die ledetalle kyk, is dit duidelik dat al die dieet- en oefenklubs dit regkry om mense gewig te laat verloor, maar is die klubs se benadering gesond en help dit jou om vir altyd slank te bly?

1&2 - WEIGHT WATCHERS EN WEIGH-LESS

Weight Watchers en Weigh-Less het ’n stewige, wetenskaplike grondslag. Hulle weet dat as jy gewig wil verloor, jy jou energie-inname moet verminder en jou energieproduksie opstoot – en dat jy daardie gewig stadig moet verloor.

Hul eetplanne sluit al die voedselgroepe in en daar’s geen kitsoplossings of gierdiëte nie. Albei se dieetplanne is gebalanseerd en vereis nie bykomende aanvullings of spesiale dieetprodukte nie.

Weigh-Less het ’n baie goeie benadering tot die bevordering van goeie voedselkeuses en gesonde eetpatrone.

Dis egter moontlik om Weight Watchers se puntestelsel so te bewimpel dat jy met minder gesonde voedselkeuses steeds by die aanbevole punte uitkom. Dit is egter net tot die lid se eie nadeel.
DIEETKUNDIGES SE SLOTSOM: Dié twee programme is beslis aan te beveel.

3 – SURESLIM

Hulle beloof vinnige gewigverlies binne ’n baie kort tydjie.

Hul aanspraak dat die Quick Loss Eating Plan ontwerp is om die afskeiding van menslike groeihormoon (MGH) en serotonien te versnel terwyl dit die oorproduksie van insulien teëwerk, berus miskien op goeie, wetenskaplike navorsing, maar word buite verband gebruik.

SureSlim hou vol dat as ’n mens in die vyf uur tussen maaltye niks eet nie, dit die produksie van MGH en serotonien stimuleer en dié van insulien onderdruk.

Maar prof. Tessa van der Merwe, spesialis in gewigsverlies aan die Universiteit van die Vrystaat en een van Suid-Afrika se toonaangewende kundiges op dié gebied, sê: “Jou dieet kan nie die afskeiding van groeihormoon of die verhouding tussen groeihormoon en insulien beïnvloed nie.”

Baie mense wat die SureSlim-dieet gevolg het, kla dat hulle hoofpyn gekry en bewerig gevoel het. Die SureSlim-dieet bevat te veel proteïene en te min koolhidrate, dieetvesel en kalsium om as gebalanseerd beskou te word.

Die energie-inhoud van die dieet is so laag dat mense kosdrange kry en fisiek swak voel. Die omvattende en duur bloedtoetse wat vereis word voordat die kliënte met SureSlim kan begin, is nie nodig nie.

Hierdie eetplan word as ’n ketogeniese dieet beskou en is ongebalanseerd en ongesond, net soos die Atkins-dieet. Met so ’n hoëproteïen-laekoolhidraat-dieet tree ’n ongewenste en ongesonde aksie in werking: Ketone (afvalprodukte wat ontstaan as proteïene afgebreek word) word as die primêre bron van energie gebruik omdat jy heeltemal te min koolhidrate eet. Dit hou gevare in vir die liggaam, veral op lang termyn.

Van die neweeffekte wat kan voorkom, is kwaai moegheid, slapeloosheid, ontwatering, hardlywigheid, jig, ’n slegte asem, bewerigheid en duiseligheid, asook vitamien- en mineraaltekorte (veral van kalsium, B-vitamiene, folaat en magnesium).

Jy verloor wel aanvanklik vinnig gewig, maar dit is weens ontwatering en vogverlies. As jy baie min of geen koolhidrate eet nie, gaan van die vog wat in selle gebêre word, verlore.
DIEETKUNDIGES SE SLOTSOM: Dis baie moeilik om lank ’n hoëproteïen- (ketogeniese) dieet vol te hou en die meeste mense sit weer ’n groot deel van die gewig wat hulle afgeskud het, aan sodra hulle hul normale eetpatroon hervat.

4. VIRGIN ACTIVE LIFE CARE

Dié eetplan is op stewige, wetenskaplike beginsels gegrond en neem jou geslag, ouderdom, gewig, lengte, aktiwiteitsvlak en selfs voedselkeuses in ag.

Die eetplanne wat deur dieetkundiges van onder meer die Sportwetenskapinstituut van Suid-Afrika uitgewerk is, is gesond en gebalanseerd.

Die Virgin Active Life Care-program het ’n holistiese benadering en bied vir mense die geleentheid om hul lewenstyl te verbeter en om met die nodige ondersteuning op ’n gesonde en veilige manier te verslank.
DIEETKUNDIGES SE SLOTSOM: Hierdie program is beslis aan te beveel.

5. SHAPES FOR WOMEN

Dié fiksheidsgroep bied ’n keuse tussen twee eetplanne: een vir vroue wat sogenaamd koolhidraat-sensitief is en ’n ander vir vroue wat kilojoule-sensitief is.

Dié benamings of begrippe is die groep se eie en nie wetenskaplik gegrond nie. Die eerste eetplan het bitter min koolhidrate – net 20 g per dag in die eerste week vir mense wat “koolhidraat-sensitief ” is.

’n Dieet met minder as 100 g koolhidrate per dag word as ’n ketogeniese dieet beskou. Mense verloor op kort termyn vinniger en meer gewig met die hoëproteïen-laekoolhidraat-eetplan, maar dis baie moeilik om vol te hou en jy is geneig om vinnig gewig aan te sit sodra jy ’n gewone eetpatroon volg. Die aanvanklike gewigsverlies van 2 – 3 kg is aan kwaai waterverlies toe te skryf.

Albei eetplanne bevat meer proteïene as wat gewoonlik vir laekilojoule-diëte aanbeveel word.

Ongelukkig is die vetinhoud ook hoog omdat die eetplanne baie min koolhidrate, maar baie proteïene bevat. Ketogeniese diëte is veral gevaarlik vir diabete en mense met nierprobleme, en word ook glad nie aanbeveel vir kinders en swanger vroue nie.

Navorsing het bewys dat mense met ’n ketogeniese dieet die eerste ses maande wel meer gewig verloor (hoofsaaklik vanweë die waterverlies), maar as hul gewigsverlies ná twaalf maande vergelyk word met die gewigsverlies van mense op ’n laevet-hoëkoolhidraatdieet (met baie vesel) waarvan die kilojoules beperk is, word dit duidelik dat die tweede groep die agterstand in die volgende ses maande uitwis.

’n Laevet-hoëkoolhidraat-dieet hou gesondheidsvoordele in, teenoor ’n ketogeniese dieet waaraan nadele verbonde is.

Daar is ook nie wetenskaplike bewyse daarvoor dat ’n dieet ’n mens se metabolisme kan verander nie.
DIEETKUNDIGES SE SLOTSOM: Die eetplanne is ketogenies en ongebalanseerd. Dit sal tot vinnige gewigsverlies lei, maar gewigstoename sal later weer volg.

Dit is wel ’n pluspunt dat Shapes for Women vroue aan die oefen kry, hul fiksheid verbeter en hul metabolisme deur spieroefeninge versnel.

6. CURVES

Dié groep is besig om verskeie gimnasiums in die land te vestig en gaan waarskynlik aanstaande jaar hul eetplanne ook hier beskikbaar stel. Die eetplanne is gegrond op studies deur sportwetenskaplikes van die Baylor-universiteit in Texas, Amerika.

Dis hoofsaaklik laekilojoule-hoëproteïen- eetplanne en dus ook ketogenies. Die program beveel ook die gebruik van verskeie aanvullers aan soos Curves Glucose Control Formula.

Die doeltreffendheid van dié soort aanvullings word in twyfel getrek omdat daar nie goeie wetenskaplike navorsing is om te bewys dat hulle werk nie.
DIEETKUNDIGES SE SLOTSOM: Ons kan nie ’n ketogeniese eetplan en die gebruik van aanvullers aanbeveel nie, maar dit is goed dat Curves vroue die geleentheid bied en hulle aanmoedig om fiks te word, aangesien fiksheids- en spieroefeninge jou help om gewig te verloor.

HERKOU HIERAAN

Gesonde gewigsverlies verg dalk tyd en deursettingsvermoë, maar die moontlikheid dat hierdie gewigsverlies blywend sal wees, is soveel groter as wanneer jy ’n kitsprogram volg.

Oefening saam met ’n gesonde eetplan is koning.

Huisgenoot Pols SOMER 2007/2008

Click here to visit our diet centre

 
Previous article: Next article:
Kinders en kanker Kettingreaksie
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese nuus brokkies
Astrante klein kalant!
Bly speel-speel fiks
Nuwe hoop vir diabeteslyers
Eksklusief: As kinders diabete is
Eksklusief: Tipe 2-Diabetes
Shaun Pollock - op sy tuisveld
Van die hemel tot die dieptes van die hel
Ons het bly lewe!
Dieetklubs: Kaf of koring?
Kettingreaksie
Hier kom die son
Die dokter in jou koskas
Só verdrink jou brein in drank
JOU BREIN
Diere dink ook
See-angels
Red 'n lewe
Sien met klank
Sak en pak
’n Nag in die lewe van ’n noodsorg-paramedikus
Kuberdok
Kuberveearts
Donker Liefde
Die manlike brein
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiets fiks: Inleiding tot oefenprogramme
Word fiets fiks: Die oefenprogramme
A step mom's story
Redakteursbrief
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement