|
Donker Liefde
Heroïen het verwoesting gesaai in die lewe van Anoux Venter en die mense om haar. In dié kort uittreksels uit Donker Liefde – My verhouding met heroïen, beskryf sy haar eerste bekendstelling aan dié dwelm en haar verval. Sy het by die dood omgedraai, maar haar verhaal is ook een van hoop en oorwinning want sy is nou ses jaar lank skoon.
RAINE wou my gaan voorstel aan sy nuwe baas en sy kollegas. Hy het ook gesê hy gaan my aan Brown Sugar voorstel.
Om eerlik te wees, ek kan nou glad nie onthou wat ek gedink het nie. Dat Brown Sugar heroïen is, het ek nie een keer aan gedink nie, dit weet ek vir seker. Ek sou die stuipe gekry het as ek dit geweet het. Maar ek moes geweet het dis dwelms; dwelms het mos sulke snaakse name.
Brett, sy baas, was ’n gay man wat in ’n pragtige woonstel teen die berg gewoon het. Hy was netjies, en ek was beïndruk. Die oomblik toe ek by sy huis instap, het ek gemaklik gevoel. Die sitkamer was skemer, met kleurvolle lappe oor die ligte gegooi om ’n warm, gesellige atmosfeer te skep. Daar was ’n klomp gemaklike banke en alles was stylvol. Ek kon die dagga ruik wat hulle moes gerook het net voor ons daar aangekom het. Ek was verbaas daaroor; ek het gemeen dat iemand wat so suksesvol is nie dwelms sou doen nie.
Ek is aan almal voorgestel, en ná die groetery is die vraag dadelik op die tafel gesit: ‘Is julle reg vir chasing the dragon?’
Toe hulle foelie, vuurhoutjies en sakkies vol bruin poeier uithaal, was ek baie senuagtig. Ek het een en een bymekaargetel en aanvaar die bruin poeier is die Brown Sugar, wat dit ook al was. Vandag kan ek nie glo ek was so dom, naïef en desperaat vir Raine se liefde nie. Maar daardie dag was ek, en dit het al die verskil gemaak. Hy was in my oë net die beste, net die mooiste. Hy was myne en ek wou hom vir niks in die wêreld verloor nie. Ek sou hom volg nes ek daardie aand gedoen het, na enige plek, pateties en stil in sy skaduwee.
Toe die foelie vir my aangegee is, was ek nuuskierig, en sonder
om te blik of te bloos het ek die rook ingeasem. Vir my was dit net
nog ’n eksperiment, nog iets waarmee ek sou speel. Net om in te
pas, net vir liefde. Maar dit was baie meer as dit. So ongelooflik
baie meer.
Toe ek al taamlik sterk in die ding was, het mense my vertel dat
die liggaam se normale reaksie op heroïen gewoonlik sleg is, dat
jy siek word en opgooi. Hulle was baie verbaas dat ek dit so goed
hanteer het.
My eerste asempie van die dood was soos enige
ander dwelm wat ek al probeer het: wonderlik! Eintlik baie meer as
wonderlik.
Daar is geen woorde om te beskryf hoe dit gevoel het
nie. Soos die rook in my keel afgegly het tot in my longe, het alles
getintel en toe lam geword. Ek het teruggesak op die bank en dit
het gevoel asof ek een word daarmee.
Elke lewende senupunt het verdoof. Die geluide om my was sagter, die ligte mooier, my
asemhaling makliker, my liggaam ligter, my probleme het verdwyn.
Selfs Raine het vervloei en verdwyn te midde van my ekstase. Ek was
alleen op ’n wolk wat ver weggedryf het van alles en almal om my.
En vir die eerste keer ooit was dit vir my okay om alleen te wees –
ek was nog altyd baie bang om alleen te wees.
Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies
en gevoelens was enorm. Maar ek moes dit net nooit gedoen het
nie, dis die punt.
Sommige mense, soos ek, is gemaak om van heroïen te hou. Ons
persoonlikheid, swakhede, vrese en liggaamselle is gemaak om
heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit
beproef het nie, en dan is dit reeds te laat.
DIT het so vinnig gebeur dat ek dit nie eens agtergekom
het nie: Ek was nie meer ’n geleentheidsgebruiker nie, dit
was elke liewe dag. Met ’n passie. Ek wou nie daarsonder
nie; ek wou nie eens probeer nie. Ons was permanent op heroïen,
dag in, dag uit.
My brein het oorgegee en ek het nie meer probeer om die verslawing
te keer nie. Hoe meer ons dit gebruik het, hoe lekkerder was
dit.
Ek en Raine het soos kluisenaars geword. Ons het eenvoudig die
deur agter ons toegemaak en skelm ons dwelms gebruik. Kombinasies
van alle soorte. Daar was net mooi niks op die mark wat ons nie
gebruik het nie.
Ek het lankal ophou baklei en rasionaliseer en dit
net eenvoudig geniet.
MY LYF kon ook nie meer nie. Ek het vreeslik siek begin
word van al die gesnuif. Ek het ná elke lyn gaan opgooi,
net om dan weer te probeer. Ek het aangehou tot dit
binne gebly het. Ek kon nie meer nie, maar ek het ook nie geweet
hoe om op te hou nie.
Hoe meer coke ons gebruik het, hoe meer heroïen moes ons rook
om weer af te kom van die verskriklike buzz. Dit was soos ’n wipplank
wat buite beheer was.
Ek het teen ’n verstommende spoed in die verslawing verval. Ek
het elke dag heroïen gebruik; ek kon nie langer as ’n paar uur daarsonder
nie. Dan sou my neus begin loop en my rug pyn, maar een
teugie en binne oomblikke was alles normaal, perfek.
My porsies het al groter geword, die onttrekking as ek wakker
word al meer intens. Ek kon nie meer laat slaap nie. As ek langer as
ses uur aaneen geslaap het, het ek met krampe wakker geskrik. My
metabolisme was net so vinnig, indien nie vinniger nie, as Raine s’n
destyds. My lyf het aangepas by die dosis wat ek ingepomp het, en
ek het meer en meer en meer nodig gehad om lekker te voel. Eintlik
om net normaal te voel. Heroïen was lankal nie meer lekker nie – ek
moes dit rook om die krampe weg te hou.
KERSOGGEND skrik ek te laat wakker. Ek moet kerk toe, my
ma wil geen verskoning hoor nie – niks nie. Ek het die
kerk meer as ooit gehaat.
Ek kon God nie in die oë kyk
nie, ek was skaam. Ek was in elk geval seker Hy wil my nie meer ken
nie, hoekom sou Hy?
Ek het jare laas aan Hom gedink of met Hom
kontak gemaak. Ek het alles gedoen wat teen sy wil was, en al wou
ek dit soms regmaak, was ek nie sterk genoeg nie.
My neus het al geloop toe ek my oë oopmaak.
Ek het goed geweet ek het net een klein krummeltjie heroïen oor; ek het skoon
vergeet van die kerktoeganery. Ek was gewoond ek kon vroeg
opstaan en doen wat ek wil, maar nie daardie oggend nie.
Ek rook versigtig die laaste bietjie en bid dat dit my sal hou tot ná
die diens. Hoe ironies. Ek bid, vir die eerste keer, dat my heroïen nie
sal uitwerk in God se tempel nie.
Wat ’n siek grap. Maar ek het nog
steeds vurig gebid, want ek het geweet as dit sou uitwerk, sou ek
in die hel wees.
Die diens was ’n nagmerrie – asof die duiwel langs my gesit en
my heelpad getart het. Die onttrekkingsimptome het vinnig en verwoed
gekom; my neus het sommer begin stroom. Ek het snuif-snuif
daar gesit tot almal later omgekyk het.
My ma het geïrriteerd vir my ’n tissue aangegee. Een tissue? Dit
gaan niks help nie. My bene het begin kramp; ek het hulpeloos
die bank voor my met my voete gesit en tik-tik. Ek het my oë styf
toegeknyp en gebid, weer eens, dat die diens net moet verbygaan.
Die duiwel het nie my gebede verhoor nie. Inteendeel, dit was die
langste diens van my hele lewe. Ek is in trane by die kerk uit, die
Here se teleurstelling warm op my wange.
Ek gaan hulp kry, besluit ek. Een van die dae. Nog net ’n klein
rukkie, asseblief.
OP ‘N dag, terwyl ek by die werk is,
bel my ma my. Sy is kortaf en sê sy
wil my die volgende dag tweeuur
in haar kantoor sien. Sy was saaklik en ek kon
hoor dis baie ernstig. Ek was dadelik bang; ek
het haar nog nooit só gehoor nie.
Ek kan sien sy is tegelyk hartseer en kwaad.
Snaaks, dink ek nog, my ma is amper nooit
emosioneel nie, ek wonder wat so ernstig kan
wees. Ons sit oorkant mekaar en kyk mekaar
stip in die oë. Ek is vreeslik ongemaklik.
Sy sê niks nie.
Ek sê niks nie.
Sy wag en ek wag. Tot ek dit nie meer kan
hou nie en met ’n bewerige stem vra wat
aangaan. Sy is rustiger as wat ek verwag het; sy
antwoord my sonder om te skree of te gil: Sy
wil by my hoor wat fout is.
Ek haal diep asem vir die eerste leuen:
“Moenie worry nie, Ma, ek is fine, alles is
onder beheer.’”
Sy is onmiddellik woedend en ek kan nie
verstaan hoekom nie, ek ís dan okay en alles
ís mos onder beheer. Ek besef ek sal iets meer
moet sê. Ek rook nog steeds dagga, lieg ek,
maar dis glad nie so erg nie. As sy wil hê ek
moet ophou, sal ek, no big deal. Hoe meer ek
praat, hoe kwater word sy.
Ek besef met ’n nare skok dat alles verby
is, dat sy weet en dat ek nie weer hieruit sal
kom nie. Naarheid stoot in my keel op en vir
’n oomblik vrees ek dat ek gaan opgooi in my
ma se kantoor.
Sy sê dis my laaste kans. Ek weet dit is.
Dit was die eienaardigste gevoel: die oomblik
toe ek oorgee. My lyf het onmiddellik slap
geword, asof die demone een vir een daaruit
gespoel word. Hulle kon dit nie hanteer dat ek
hulle so bedrieg en die waarheid vertel nie.
Ek het diep asemgehaal en net laat
gaan. My mond het oop en toe gegaan
soos ek gepraat het; ek kon nie keer wat
uitkom nie.
Die verligting was enorm. Dit was letterlik
asof die gewig soos ’n berg van my skouers
afgeval het.
My trane het vinnig gekom. Só vinnig dat
ek vir ’n paar oomblikke nie kon praat nie. Ek
het net gesit en snik in my ma se stoel in haar
kantoor by die werk. Nooit het ek kon dink dat
alles hiér sou eindig nie.
Toe ek opkyk in haar oë, het ek verwag hulle
sal hard en kwaai wees. Maar hulle was sag
en vol liefde. Daar was geen woede nie, geen
beskuldigings, net liefde en ondersteuning.
En verligting.
Uiteindelik verbreek my ma die stilte en sê
ons moet ry. Ek wil nie vra nie, maar ek weet.
Dit ruk my met ’n skok terug tot my sinne. Ek
sit regop, ewe skielik gereed om te baklei. Die
verligting was so oorweldigend dat ek ’n ruk
vergeet het van die gevolge van my openbaring.
Die spanning is terug in my rug, en my
vingers klou aan die rand van die stoel.
Die woord rehabilitasie het skaars oor my
ma se lippe gekom toe ek haar begin smeek
én dreig: Ek sal eenvoudig wegloop as sy
my daarheen vat. Ek is in geen posisie om te
onderhandel nie, maar ek is vasberade om op
my manier vir my vryheid te baklei.
So bly soos ek was dat alles nou in die ope
was, was ek glad nie bereid om na ’n inrigting
gestuur te word nie. My ma vra wat anders
stel ek dan voor.
Ek het nog nooit daaraan gedink nie, maar
op daardie oomblik besef ek dat ek net een
opsie het en dis by die huis. Alleen. Sy is baie
skepties, maar is tog bereid om my een kans
te gun. Dis die ooreenkoms: Ek kan dit op
my manier probeer, maar as dit nie werk nie,
moet ek instem om rehab toe te gaan.
EK WORD vroeg wakker van maagkrampe
en die naarheid wat in my
keel opstoot. Ek is gewoond aan
naarheid, maar hierdie keer kan ek skaars die
badkamer haal. Niks wil binne bly nie, nie
eens water nie. Dit is skaars in my maag,
dan stoot dit weer in my keel op. Ek is pap
en kan skaars regop staan; alles in en aan
my pyn. My maag begin werk. Ek sweet en
is terselfdertyd vol hoendervleis asof ek
koud kry.
Ek bevuil myself. Ek is nes die junkies op TV
wat in hulle eie pie en sweet en kots lê. Ek is
niks beter as hulle nie.
Dit was my eerste dag. Die eerste van sewe
sulke dae.
Teen dag vyf is ek seker ek gaan dood. Ek
is leeg. Ek is ’n geraamte op geleende tyd.
Daar is niks meer oor in my nie; ek is seker ek
het my siel ook uitgekots. Ek is te skaam om
in die spieël te kyk, ek wil myself nie sien nie.
Ek is volkome gedehidreer en het dringend
vloeistof en voedingstowwe nodig, maar ek
kan niks inhou nie.
Darren, wat saam met ons by die seekosrestaurant gewerk
het, se ma is ’n verpleegster wat mense help detox. Sy is dadelik
bereid om te help. Ek moet so gou as moontlik vloeistof inkry,
anders sal my liggaam in hewige skok gaan en kan ek ’n
hartaanval kry en sterf.
Sy vra hoe lank tevore ek enigiets ingeneem het en watter
medikasie ek gebruik. Toe ek sê dat ek al die vyfde dag van onttrekking
beleef, is sy baie geskok dat ek so ver gekom het sonder
enige medikasie of hulp. Sy verduidelik hoe ontsettend gevaarlik
dit is om so iets op jou eie te probeer doen.
Uiteindelik het ek my aan die Here oorgegee. Die las wat ek
moes dra, was net te veel. Ek kon nie meer nie. Ek was dubbel
gevou onder die gewig en ek het God aangeroep en gevra dat
Hy kom oorneem.
Teen dag tien raak ek vir die eerste keer normaal aan die slaap . . .
ABBY, my terapeut, het my lewe gered. Sy was die laaste
stilhouplek op my pad na vryheid. Sy het geluister en
verstaan. Sy het geweet waar ek was en hoekom ek daar
was. Sy het aan my en my ma verduidelik dat hoewel ek baie dapper
was om alleen deur die heroïenonttrekking te gaan, dit baie
gevaarlik was. ’n Rehabilitasiesentrum is nie net ’n plek waar die
fisieke aspekte van verslawing oorkom word nie; ’n mens word ook
geleer hoe om met jou emosies te werk, en jy word gehelp om
weer deel te word van die samelewing.
Ek was onder die indruk dat wanneer die fisieke pyn, die lus vir
heroïen en die siek word verby was, sou alles sommer net so in
plek val. Maar sy het verduidelik dat dit maar net die begin van
my stryd was – ’n stryd wat ek sou stry vir die res van my lewe. En
al sou dit mettertyd makliker word, is verslawing ’n demoon wat
nooit werklik verwoes kan word nie.
Dis nou al ses jaar sedert daardie middag in my ma se kantoor
toe ek my verslawing erken het. Ek is weer heel. Ek is getroud met
die wonderlikste en geduldigste man in die wêreld. Hy het my lief,
waarlik lief.
Ek het niks meer nodig in my lewe nie. Ek wens vir niks meer nie.
By my familie het ek liefde, ondersteuning en vergifnis gevind. En
ek het geleer hoe om waarlik te lewe met die Here aan my sy.
All about heroin
Donker liefde - My verhouding met heroïen, deur Anoux Venter.
Uitgegee in 2007 deur Human & Rousseau, ’n afdeling van NB-Uitgewers (Edms) Beperk.
Dit kos R135.00
ISBN-10 0-7981-4816-0
ISBN-13 978-0-7981- 4816-0
Huisgenoot Pols Somer 2007/8
|