Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
How UV hurts
Suntan, sunburn, ageing. The sun can affect your skin in many ways. How does it work?
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Somer 2007/08
 
Kettingreaksie

Jy kan jou pad ooptrap na die lieflikste plekke in die natuur en sommer goeie gesondheid langs pad ook oplaai. Hier is ses roetes wat wissel van maklike paaie vir die gesin tot rowwe roetes vir die ervare bergfietsryer.
Deur Jacques Marais

DIE goeie nuus is dat jy in ’n japtrap lid van die kettingbende kan word.

Al wat jy nodig het, is ’n fiets en jy kan laat wiel. Jy moet natuurlik fiks word daarvoor, maar jy sal so baie pret hê dat jy sommer gou sal vet gee – en in die proses jou vetrolletjies verloor!

Bygesê, jy sal dalk ’n opknapkursus (laat ons dit nie nou al ’n blitskursus noem nie!) moet volg voor jy jou eerste veldpad aandurf.

Bergfietstegnologie het so gevorder dat jy deesdae fietse kan koop met allerlei blink uitvindsels soos voorvering, deurklik-ratte (clickshift gears), ’n intelligente dryfstel en voorspellende agterwiel-skokbrekers wat sommer al vooraf weet wat van hulle verwag word.

Stap ’n fietswinkel binne en jy sal fietse daar kan uitstoot wat jou enigiets tussen R1 000 en R50 000 en meer vir ’n fiets van formaat uit die sak kan jaag.

Om ’n sitvlakpasfiets te kry, maak seker dat jy weet waar jy wil laat wiel en hoe vermoënd jy is voor jy uithaal en betaal.

DIE REGTE ROETE

Suid-Afrika bied volop ryplekke – van ’n stowwerige slingerpad deur woestyne tot woudpaaie en rustige kusroetes.

Amptelike roetes is gewoonlik volgens die moeilikheidsgraad gegradeer. Groen beteken “maklik”, blou is “matig”, rooi is “moeilik” en swart is “uiters moeilik”.

Wanneer ’n roete gegradeer word, word gekyk na die tyd wat dit verg om die afstand af te lê, hoe steil die pad is, die algehele afstand en die terrein. Ry met respek – nie net ter wille van die ander roeteryers nie, maar ook die omgewing. Probeer om nie hard te rem of te gly nie, want dit kan erosie veroorsaak en die roete beskadig.

Verminder altyd jou spoed as jy stappers of diere gewaar; hulle geniet voorrang in die natuur. Reël vooraf vir toegang, koop die nodige permitte en hou by die gemerkte roete. Moet ook nie rommel strooi of skade aanrig nie.

Dit was moeilik om uit die uitstekende roetes in ons land te kies, maar die volgende roetes is goed verteenwoordigend van die verskeidenheid en elkeen is besonder uit eie reg. Daar’s ook ’n roete oorsee.

1. Golden Gate Hoogland Nasionale Park, Vrystaat

Gradering: Jy ry op teerpaaie in die Park – ’n maklike rit.

Hoe fiks: Selfs vir stoepsitters.

Waar: Dié dramatiese Nasionale Park is in die Maloti-bergreeks in die Oos-Vrystaat geleë, 14 km langs die R712, vanaf Clarens.

Waarom: Jy sal voel asof jy met jou kop in die wolke ry terwyl jy jou verlustig in die elande, sebras en ander diere wat teen die grashellings wei.

Afstand: Minder as 20 km as jy op die teerpaaie in die Park bly, maar die opdraande is nogal steil en daar is baie ander roetekeuses ook.

Roetebeskrywing: Vir ’n teertrapsessie vanaf Clarens, laat wiel al langs die R712 in die rigting van Golden Gate (13,4 km), draai dan regs na Blesbokdraai ná 2 km. Dié 7 km-lange eenrigtingpad klim steil tot in elandgebied waar jy asemrowende uitsigte kan geniet voordat jy terugswenk al met die afdraandes af tot by die R712. Draai byna onmiddellik skerp links om die Oribi te verken – nóg sowat 4 km van hooglandtrapgenot. Daarvandaan is dit ’n blitsige 22,5 km terug tot in Clarens.

Kaarte en aanwysers Kaarte is beskikbaar by die parkkantore waar jy jou permit koop.

Toegang Alle paaie is toeganklik vir die publiek, maar jy moet parktoegangsgeld betaal. Toegang is gratis vir Wild-kaarthouers. Fietsryers moet op die teerpaaie bly.

Kontak Bel 058-255-0075 of gaan na www.sanparks.org; klik op“Parks A – Z”en dan op“Golden Gate Highlands National Park”.

2. Augrabies Nasionale Park, Noord-Kaap

Gradering: Die oppervlak is goed en die ryvlakke taamlik gelyk.

Hoe fiks: As jy om die blok kan ry, sal jy dié roete maklik kan kafdraf.

Waar: Langs die Oranjerivier, sowat 120 km wes van Upington. Dit strek byna 40 km langs die R359 wat uit die N14 vertak.

Waarom: Dis ideaal vir die hele gesin, met gemaklike grondpaaie, kalm kameelperde en eindelose uitsigte oor die maanlandskap. Moenie die roete in die middel van die dag in die somer aanpak nie!

Afstand: As jy elke liewe afdraai vat, en boonop ook afdraai na al die uitkykpunte by die Augrabieskloof, sal jy sowat 36 km aflê.

Roetebeskrywing: Vat die grondpad vanaf die Augrabieshoofkamp en bly op die grondpaaie wat langs Maanrots kronkel tot aan die rand van die asemrowende skeur. Verken die afritte na Ararat, Oranjekom, Eggohoek en Fonteintjie en verlustig jou in die pragtige uitsigte oor die ravyn. Dis nie te steil nie en die pad is nie te rof nie. Niks keer jou ook om die riverbeddings te verken nie.

Kaarte en aanwysers: Jy sal ’n kaart by die parkhek kry as jy jou toegangspermit koop. Gratis toegang vir Wild-kaarthouers.

Toegang Dagbesoekers mag hul eie fietse bring; afhangend van beskikbaarheid is daar ook fietse by die hoofkamp te huur.

Kontak Bel 054-452-9200 of gaan na www.sanparks.org; klik op “Parks A – Z”en dan op“Augrabies Falls National Park”. E-pos dericks@sanparks.org.

3. Harkervilleroete, Tuinroete

Gradering: Bring die gesin saam, want die roetes wissel van ’n rustige rit vir die kinders tot rowwe ritte wat jou bleek om die kiewe sal laat.

Hoe fiks: As jy nog leef nadat jy 6 tot 8 km op ’n Sondagmiddag afgelê het, kan jy dié roete aanpak.

Waar: Reg in die hartjie van die Tuinroete, halfpad tussen Plettenbergbaai en Knysna.

Waarom: Ongelooflike natuurtonele, moordende enkelbaanroetes en goeie aanwysings dra by tot dié roete se gewildheid.

Afstand: Daar is vier opsies in kleurkodes aangedui, wat afstande van 12 km tot 24 km bied. Jy kan selfs al dié roetes kombineer en die hele dag rondry. Daar is ook die moontlikheid van ’n tweedaglange rit met oornagverblyf in ’n woudhut.

Roetebeskrywing: Elke roete verskil, maar in die meeste gevalle kan jy in die skaduryke woude wegspring voor jy die netwerk van enkelbaanroetes tref. ’n Stywe trappie tussen die heide en proteas deur sal jou verras met ’n beeldskone uitsig oor die Tuinroetekuslyn. Dan is dit weer terug na die groen geilte van die kuswoude.

Kaarte en aanwysers Kaarte is beskikbaar by die meeste fietswinkels in die Knysnagebied.

Toegang Kry jou permit by die DWAF Garden of Eden- kiosk, Kranshoekhek, of by Knysna Cycle Works (044-382-5153). Gratis toegang met‘n Wild-kaart.

Kontak Bel 044-302-5606 of gaan na www.sanparks.co.za; klik op “Parks A – Z”, en dan op“Knysna National Lake Area”.

4. Tokaibos, Kaapse Wynland

Gradering: Die roete wissel van gemiddeld tot uiters moeilik, afhangend van die opsies wat jy kies.

Hoe fiks: Indien jy 10 km ver oor heuwelagtige terrein kan ry in minder as ’n uur, kan jy dié roete aandurf.

Waar: Die roete deurkruis die oostelike hange van Tafelberg bokant die woonbuurt Tokai.

Waarom: Dis ’n ritsrit wat die bloed vinnig laat pomp terwyl jy die denneboomplantasies, Kaapse fynbos en stukke inheemse bos deurkruis.

Afstand: Daar is ’n aantal roete-opsies, maar die algehele afstand is sowat 30 km, en jy kan verwag om sowat twee tot drie uur in die saal deur te bring.

Roetebeskrywing: Spring weg by die Tokaiboomtuin (arboretum) en maak jou gereed vir ’n stewige steilte in die grondpad wat tot by die Sentechtoring bokant Olifantsooggrot kronkel. Sowat 9 km verder het jy die keuse om links tot by die toring te hou op ’n steil teerpad.

Of jy kan regs draai op ’n pad wat teen die hange af kronkel. Jy sal weer uitkom by die tweespoorpad, maar bly op die uitkyk vir enkelbaanroetes wat links en regs na die denneplantasies uitskiet. As dit jou eerste keer is, ry saam met iemand wat die roete ken of jy kan dalk net ’n paar pragtige versteekte plekkies misloop.

Kaarte en aanwysers Die kaart is blykbaar uit druk. Maar splinternuwe roeteaanwysers sal verseker dat jy die meeste van die tyd weet waarheen jy op pad is.

Toegang Koop ’n permit by die kantoortjie langs die opstal aan die bopunt van Tokaiweg.

Kontak Stuur ’n e-pos aan info@mtoecotourism.co.za of bel MTO-bosbou (SAFCOL) by 021-712-7471.

5. Rhodes MTB-uitdaging, Oos-Kaap

Gradering: Naudesnek sal jou al klaar ’n goeie 20 km teen ’n steilte laat uittrap.

Hoe fiks: Baie fiks en ervare.

Waar: Heel bo in die verste noordelike hoek van Suid-Afrika, waar die Oos-Kaap aan Lesotho grens.

Waarom: Vir die uitsig, en om te kan sê dat jy tot heel bo teen Suid-Afrika se hoogste grondpadpas uitgetrap het.

Afstand: Hierdie kringroete strek maklik 80 km ver.

Roetebeskrywing: Vanaf Rhodes is daar ’n gruispad wat tot die bopunt van Naudesnek klim voor die roete na links, al langs die platorand af, draai.

Ry verby die Cairntoul-polisiekantoor en hou wes met die strawwe tweespoorpad op tot by Lesotho View, die hoogste punt op die roete. Sak dan af na die Ben Macdhuivlakte, verby Tiffindell en trap dat dit bars teen die berugte Carlisleshoekpas af.

Kaarte en aanwysers Die bergfietsroete is nie gemerk nie; ’n topografiese kaart sal nuttig wees.

Toegang Die grondpaaie is toeganklik vir die publiek. Jy het dus geen rede om kleinkoppie te trek nie.

Kontak Stuur e-pos aan dave@walkerbouts.co.za of besoek www.rhodesvillage.co.za.

VER PAAIE

6. Ceske Les Nasionale Park, Tsjeggiese Republiek

Gradering: Enigiets onder die son, van rustig tot rof.

Hoe fiks: As jy elke dag 10 km ver op ’n grondpad kan ry, sal jy die roete geniet.

Waar: In die streek neffens die pragtige dorp Marianske Lazne, waar die Tsjeggiese Republiek aan Pole en Duitsland grens.

Waarom: Maak jou gereed vir relingritte op skuins enkelbaanroetes wat ’n web deur sprokiesboekwoude weef.

Afstand: Jy kan dae lank ry op paaie wat die verskillende dorpe in die omgewing met mekaar verbind.

Roetebeskrywing: Skiroetes, woudpaaie, enkelbaanroetes wat vir die doel aangelê is, staproetes en kronkelende teerpaaie smelt saam in ’n eindelose en opwindende rit verby woudmere en sprokieskastele in die woude.

Oral is klein tavernes wat jou nader wink om verlei te word deur luilekker middagetes en die beste pilsenerbier ter wêreld. Jy moet dit doen voor jy te sterwe kom.

Kaarte en aanwysers Topografiese kaarte word by die uitstekende (en bekostigbare) plaaslike fietswinkels verkoop.

Toegang Vind uit by die plaaslike fietswinkels of by die bosboukantore.

Kontak Besoek www.marianskelazne.cz/en vir meer inligting, insluitend fietsroetes.

DIE REGTE FIETS

Trapsuutjies As jy ’n outydse dikwielsypaadjiesluiper het, gaan ry rustig ’n entjie op ’n gelyk grondpad in ’n park, natuurreservaat of op ’n vriend se plaas.

Beginner Om met enige sport te begin, kos geld, maar jy kan in die saal sit vir so min soos R1 000, hoewel dié soort fietse nie lank sal hou op ’n veldpad nie.

Veldverkenner Reken daarop om sowat R3 500 aan jou eerste fiets te bestee. As jy van plan is om die veldpad te vat, kies een met ’n harde sitkant (hard tail) en skaf die beste voorvering aan wat jy kan bekostig.

Skokbrekers sal jou help om die fiets beter te hanteer. Dit sal ook die spanning op jou arms en skouers verlig waar die pad rof raak.

Jaagduiwel Jy benodig ’n hoogs reaktiewe, liggewigraam met onderdele wat teen als bestand is as jy aan veldwedrenne (XC) wil deelneem. Maak jou maar reg om minstens R10 000 te bestee.

Ontdekkingsreisiger As jy eerder teen ’n rustige spoed die Wildekus wil verken, benodig jy ’n “alle berge”-fiets. Dis ’n weeldefiets met volle vering waarmee jy lang afstande kan aflê.

Dié gemaklike fietse met hul sagte sitkante (soft tails) absorbeer stampe en stote sit-sit so en kos enigiets van R10 000 tot R45 000.

SKOENE VIR BETER TRAP

Noem dit wat jy wil – aanknip, klamp- of SPD- (Shimano-pedaaldinamiese) skoene – die feit is dat mense wat dié skoene dra, hul trapvermoë met tot 15 persent verbeter.

’n Metaalknip (wat blitsig losmaak) maak jou skoen aan die pedaal vas. Dit help jou om sowel die opwaartse beweging vir trekkrag te gebruik as die afwaartse krag van ’n normale trapslag.

Soek ’n onbuigbare sool (om seker te maak dat die drukkrag eweredig oor die hele voet versprei word), ’n opgestopte flap (vir ekstra gemak tydens die opwaartse beweging) en ’n loopvlak met diep groewe (vir wanneer jy jou fiets moet stoot of dra).

LEER OM TE RY

Is jy te bang om enkelbaanroetes aan te durf? Baie ryers wat aan teer- of grondpaaie gewoond is, raak die eerste keer nogal benoud. Klim terug in die saal en sluit aan by ’n bergfietsryskool!

Daar is verskeie mense en organisasies in en om Suid-Afrika wat lesse gee, maar dié op die lysie hier onder ken hul storie.

  • CLUB 100 (Gauteng): www.club100.co.za

  • EPIC BIKE SHOP (Wes-Kaap): www.epicbikeshop.co.za

  • MOUNTAIN BIKE SCHOOL (Wes-Kaap):www.mountainbike-school.com

  • DIRTOPIA (Wes-Kaap): www.dirtopia.co.za

  • MAVERICK CYCLES (KZN): www.maverickworld.co.za

  • DRAKENSBERG BICYCLE CLUB (KZN): Bel 082-576-7825

NOG BERGFIETSROETES

Vir meer inligting oor bergfietsroetes in Suid-Afrika, besoek www.mtbroutes.co.za of raadpleeg Best Mountain Bike Rides in South Africa deur Jacques Marais en Susanna en Herman Mills (Struik, R230).

VALHELM REËL NOMMER EEN

Geen valhelm, geen fietstoer nie.

Naas jou fiets is dit jou belangrikste aankoop. As die helm nie nommerpas is nie, sal dit nie jou kop beskerm nie.

Maak seker dat daar genoeg lugvloei deur die helm is sodat jy koel bly.

’n Internasionaal erkende trefslaggradering (wees op die uitkyk vir CE/EN-, ANSI- of CPSC-syfers) is ’n moet. ’n Verstelbare sonskerm is ’n groot aanwins.

Huisgenoot Pols SOMER 2007/2008

Kliek hier om die inligting af te laai.

Kliek hier om die oefenprogram af te laai.


 
Previous article: Next article:
Dieetklubs Melanoom
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese nuus brokkies
Astrante klein kalant!
Bly speel-speel fiks
Nuwe hoop vir diabeteslyers
Eksklusief: As kinders diabete is
Eksklusief: Tipe 2-Diabetes
Shaun Pollock - op sy tuisveld
Van die hemel tot die dieptes van die hel
Ons het bly lewe!
Dieetklubs: Kaf of koring?
Kettingreaksie
Hier kom die son
Die dokter in jou koskas
Só verdrink jou brein in drank
JOU BREIN
Diere dink ook
See-angels
Red 'n lewe
Sien met klank
Sak en pak
’n Nag in die lewe van ’n noodsorg-paramedikus
Kuberdok
Kuberveearts
Donker Liefde
Die manlike brein
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiets fiks: Inleiding tot oefenprogramme
Word fiets fiks: Die oefenprogramme
A step mom's story
Redakteursbrief
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement