Advertisement
 
 Somer 2008/09
 
Amor oor spanning wat knak

Amor praat oor die stemme wat haar en Joost teister: “So kon ek nie aangaan nie.”
Deur Betina Louw en Schalk Schoombie

Dis asof die energie wat sy uitstraal soos elektrisiteit om Amor knetter. Daar waar sy kaalvoet met die kinders op die gras rinkink, slaan die son vonke uit haar bos goudbruin hare.

Haar lag is vrolik tussen die kinders se plesierige gille deur. Jy kyk, en kan nie glo dis dieselfde vrou wat verlede jaar skielik inmekaargesak het omdat sy die stres van haar druk lewe nie langer kon verduur nie – en dat sy onlangs weer ineengestort het nie.

Vandag gesels Amor openlik oor die groot spanning in haar lewe en dié van haar man, oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen. Oor die ding wat al agttien maande aan hulle vreet. Dit wat haar verlede jaar naar en duiselig, met ’n pyn op haar maag en aanhoudende hoofpyn gelaat en elke “kriesel energie” uit haar getap het tot sy ineengestort het.

Dit kon nie anders nie. Oor ’n tydperk van agttien maande word sy en haar gesin gereeld getreiter deur onbekende mense wat elke beweging van hulle dophou en dreig om haar of haar kinders te ontvoer of leed aan te doen.

“Ek sal net ’n oproep op my selfoon kry, en ’n stem sal my vertel presies wat ek doen en waar ek en my kinders is. Of iemand sal Joost met sulke dreigemente bel. By een van my onlangse vertonings het Joost se selfoon gelui. Die stem het gesê hy sit in die gehoor en kyk na my en dat hulle ’n losprys wil hê in ruil vir my en die kinders se veiligheid.” Die beller eis gewoonlik geld.

“ ’n Mens kan nie so lewe nie. Vrees maak deel van elke dag uit. Jy kyk rond na wie jou dalk dophou. Ek word paniekerig as ek nie my kinders sien of weet hulle is in veilige hande nie. Dit put ’n mens uit. “ Aan die begin het die onbekende mense net vir Joost met dreigemente gebel.

Hy het dit vir Amor probeer wegsteek omdat hy haar nie wou ontstel nie. “Maar ek kon sien iets pla hom. Ek wou weet wat aangaan.”

Hulle het lank stilgebly oor die spanning in hul lewe, deels om nie die polisie se ondersoeke te belemmer nie, en deels omdat hulle nie lus was vir skinderstories en verdere vergelykings met Posh en Becks nie. Hulle het gehoop dit sal weggaan.

Ondanks al haar pogings om perspektief te behou, het Amor einde September 2008 weer ’n laagtepunt bereik en inmekaargesak. Die dreigemente duur steeds voort. Dit lyk of dit ’n georkestreerde optrede is deur verskillende mense, ’n georganiseerde aanslag.

“Ek is keelvol. As ek my kinders buite laat speel, is ek nooit heeltemal gerus as ek of Joost nie by is nie. Watter soort lewe is dit?” vra sy. Dit kon nie anders as dat haar gesondheid onder die spanning knak nie. Met haar ineenstorting einde verlede jaar is ’n ystertekort boonop by Amor gediagnoseer.

“As gevolg van die spanning het ek verlede jaar nie meer na my liggaam geluister nie. Ek het nie genoeg geëet nie, wat gemaak het dat ek nie genoeg energie gehad het nie. Wanneer ek gestres raak, maak kos my naar. Ek was uitgebrand en het nie eens genoeg energie gehad om saam met my kinders op die trampolien te spring nie.”

Ná haar ineenstorting moes sy doodeenvoudig leer om nee te sê vir sommige versoeke. Haar dokter het vir haar gesê die onderliggende oorsaak van haar bloedarmoede was stres en dat sy rustiger moes lewe. “Maar dit was nog nooit vir my maklik om net af te skakel nie.”

Dis hier waar ’n lewensbegeleier (life coach) in haar lewe gekom het*. “Joost het hom aan my voorgestel nadat hy hom deur sy werk ontmoet het. Dis wonderlik vir ons twee om ons lewensdoelwitte met so ’n persoon te kan deel.

Ons gaan sien hom elkeen afsonderlik, sommer in ’n koffiewinkel vir ’n twee-uur-sessie. Soms het ’n mens ’n totale buitestander nodig wat objektief na jou lewe kyk om weer self beter perspektief te kry.

“Hy bekyk ons elkeen se behoeftes, help dit vereenvoudig en lig die heel belangrikste elemente uit. Hy help ons ook om ’n padkaart met doelwitte op te stel. Waar wil ons oor een jaar of vyf jaar wees? Dit kan gebeur dat jy ’n plafon van kompleksiteit bereik. Hoe kom jy daar verby? My lewe bestaan uit drie dele: eggenoot, ma en sanger. Hoe balanseer ek dit?

“Ons skryf ons doelwitte neer, praat en bid daaroor en vertrou dat dit gaan gebeur.” Só het hulle geleer om alles uit te skuif wat tweede en derde plek inneem, om struikelblokke skeppend te oorkom en beheer te bly behou oor dit wat hulle doen.

“Ons lees baie, soos pastoor Paula White se boek You’re All That: Understanding God’s Design for Your Life. Dit bekyk in ’n Bybelse konteks elke aspek van ’n besige mens se lewe.” As gevolg hiervan het Amor huisvaster geword en meer tyd aan die kinders begin bestee.

Die dag toe die foto’s vir HG-Pols geneem word, is dit opvallend hoe ’n hegte gesin die Van der Westhuizens is. Op die grasperk voor die huis in Pretoria is die kleingoed aan’t stoei oor wie eerste op die Xtreme-kar gestoot moet word. ’n Los gemaal, sou ’n mens dit kon noem.

’n Taai stryd om karbesit. Kylie (2) is vir ’n oomblik aan die wenkant, maar dan kry Jordan (4) die oorhand en die trane lóóp. Joost moet ingryp. Hy stop ’n motorsleutel in Jordan se hand. “Kom, klaar gehuil, een-twee-drie-tjoep!” beveel hy gemaak streng. Die trane droog dadelik op.

“Kyk, dit werk soos ’n bom,” sê hy en die kuiltjies in sy wang wys hoe hy die kinders se woeligheid geniet. “Hulle is albei mal oor karre; vir Jordan is ’n motorsleutel so goed soos ’n trooskombersie.” Terwyl Kylie ’n fopspeen by haar ma bedel, wys Jordan hoe goed hy motors ken. Hy loop tussen ons motors deur en wys met ’n trotse vingertjie: “Nissan. Volkswagen. Bakkie . . .”

“Die kinders kom eerste,” sê Amor. “Ek is ’n baie hands-on ma. Partykeer té. Ek staan nog altyd drie keer elke nag op en gaan kyk na die kinders. Dis so ’n aangebore ma-ding! Maar ek moet genoeg slaap om gesond te voel, dit weet ek ook . . .”

Slaap is darem ook nie ál waarvoor die bed goed is nie. Amor sê sy en Joost het ’n gesonde intieme lewe en skep baie “eie tyd” vir hulle twee alleen, al is dit net om met ’n bottel sjampanje na ’n restaurant toe te gaan.

“Badtyd is kommunikasietyd. Ons bad baie saam en omdat ons albei baie romanties is, steek ons ná ses jaar steeds kerse aan en tap vir mekaar ’n lekker bad as die een ’n moeilike dag gehad het. My man is steeds vir my verskriklik aantreklik en ek hou daarvan om mooi te lyk vir hom en ’n nuwe parfuum wat lekker ruik aan te sit of mooi onderklere te koop.

Ek en Joost het juis ’n paar aande gelede gesels oor hoe ons verliefdheid ná ses jaar en twee kinders omgesit het in ’n liefheid vir mekaar. Ons is geesgenote, beste pelle en probeer soveel moontlik dinge saam doen.”

Vanoggend, terwyl ons foto’s neem, wys die 36-jarige sangeres se sjampanje-vonkeling. Op die oomblik werk sy kliphard aan die beplanning vir haar volgende CD wat einde Maart uitgereik word. En om seker te maak die lewe bokspring nie weer met hulle nie, het die Van der Westhuizens ook aanpassings in hul weeklikse roetine gemaak.

Maandag, Dinsdag, Donderdag en Vrydag is werkdae. Saterdae word oopgehou vir optredes en ander verpligtinge – en natuurlik rugby.

’n Stokperdjie wat Joost en Amor saam geniet, is fotografie. Joost, wat sit en luister het, gesels nou saam: “Ek neem graag natuurfoto’s en hou van vakansiefoto’s wat die onbewaakte oomblikke vasvang. Dit moenie geposeer lyk nie,” sê hy, en nou skyn sy oë liggrys.

“Ek het Amor geleer en sy’s briljant om foto’s te ontwikkel en op die rekenaar te liasseer – nie een ding is uit sy plek nie,” sê hy trots. Hy en Amor gaan slaan dikwels ’n paar gholfballe in die oggend wanneer die kinders nog in die skool is, of besoek ’n spa. “En Joost gee darem ook die beste masserings,” lag Amor.

Woensdag (wanneer moontlik) en Sondag is rusdae vir die gesin. “Ons antwoord nie eens as die foon lui nie. Ons is buitemense wat in die tuin met die kinders speel, fietsry of langs die rivier gaan stap. Ons het so ’n wonderlike land en die beste klimaat.

Wanneer dit reën, hou ons die kinders binne en kyk DVD’s, maar ons speel nie videospeletjies nie. Sondagaande is dit sop en roosterbrood voor die fliek op televisie, en dan praat ons oor die week wat voorlê.”

Só skep hulle ’n rustige vertrekpunt vir die week en tuimel nie holderstebolder in die week met sy eise in nie. “Jy moet die oomblikke wat saak maak, raaksien en aangryp, en versigtig wees om nie te veel in die toekoms te lewe nie.

Dis wat ek aan gehore probeer oordra. Sodra ek op die verhoog is, kom daar ’n groot kalmte oor my. Dis wonderlik om te doen wat ek doen. Dis ’n seëning en ’n uitlaatklep. Maar vir die eerste keer sien ek nou na myself ook om.”

’n Nuwe leefpatroon
Dit was nie net stres en uitputting wat tot Amor se ineenstorting gelei het nie. Daar was ook ander fisieke oorsake, soos bloedarmoede. Bloedarmoede is in die gene van baie Italianers. Amor se pa, Dario, is ’n volbloed- Italianer. Toe ’n ystertekort by haar gediagnoseer is, het sy besef haar hele leefwyse moet verander, van haar daaglikse roetine tot haar eetpatroon en fiksheidsvlak.

“Vir die ystertekort moet ek elke oggend ysterkapsules neem, een bloue onder my tong en die res sluk ek af,” vertel sy. “Biltong en rosyne en die kapsules gee my ’n bietjie meer energie vir die dag. Omdat ek ’n spastiese kolon het, sal ek miskien soggens jogurt, roosterbrood en vrugte eet.

“Ek probeer ook elke aand ’n glas suurlemoenwater met heuning drink voor ek gaan slaap.” Amor is nie ’n groot aanhanger van oefeninge in ’n gim nie. “My oefening is dans. Ek sit sommer my eie musiek op en dans. ’n Stapmeul is gans te vervelig vir my en die konsentrasie wat dans vereis, hou die brein fiks.

“Ná my siekte kon ek ’n groot verskil sien toe ek meer begin oefen het. Al is ons nie behep daarmee nie, is ek en Joost albei fisieke mense wat daagliks 45 minute saam met ’n persoonlike breier oefen om gesond te lyk en voel.

“Joost doen kardiovaskulêre oefeninge en werk met gewigte. Twee keer per week boks ons. Dis wonderlik, want dit laat werk elke spier in jou liggaam, en dit laat jou goed sweet.

“Voorkoms is belangrik in my beroep, en ’n gesonde lewenstyl en voorkoms gaan vir my hand aan hand. Ek eet maklik sommer ’n hele sak wortels op ’n dag. Die vitamien A daarin doen wondere vir ’n mens se vel.”

Wat jy oor bloedarmoede moet weet
’n Ystertekort is ’n vorm van bloedarmoede, sê dr. Danie Pauw van Health24. “Die liggaam gebruik of verloor yster vinniger as wat dit die mineraal kan vervang. Dit kom veral voor onder vroue in hul vrugbare jare en kan ’n gevolg wees van swaar menstruasie of hoër ystergebruik tydens swangerskap.”

Ander oorsake is ’n tekort aan maagsuur, chroniese diarree en wanabsorpsie, sê Danie. As jy aan bloedarmoede ly, sal jy maklik moeg voel en gou uitasem raak. Jou naels breek makliker en jou tong kan glad en opgeswel wees.

’n Ystertekort kan reggedokter word met ystersulfaatpille wat jy vier tot ses maande lank drink om jou ystervoorraad aan te vul. Jy kan ook yster inkry deur groen blaargroente, rooivleis (veral lewer), hoender, vis en koringkiem te eet.

Stress centre

Anaemia - iron deficiency


 
Previous article: Next article:
Bou jou selfbeeld só Vitamien B12-inspuitings
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
10 Stappe na selfvertroue
Amor oor spanning wat knak
B12: Bobaas of bogtery?
Begeleier tot jou diens
Die gevaar in jou yskas
Die rooi dood
Ek deel jou mooiste oomblik
Erektiele disfunksie: die harde feite
Gesonde vakansiekos
Haal reg asem
Help my krap
Jou (veilige) plekkie in die son
Jy het dalk ook TB
Lyfkuns
Lyflik mooi
Jou plat magie vir die somer
Krieketveld of Slagveld?
Hoe om ‘n vishoek te verwyder
Onder die diep blou see
Onthou om te onthou
Ontsyfer disleksie
Padlangs
Rus vir kriewelbene
Selfdoen-dwelmtoetse
Sensuele somer
Uitsigloos
Ons lesers gesels saam
Welkom Somer
Hg-Pols Blokraai Nommer 6
HG-Pols Sudoku 6
Sensasionele someraanbod: Teken nou in!
 

Advertisement

 Sponsored links
 Health24 links




  

This website is certified by Health On the Net Foundation. Click to verify. This site complies with the HONcode standard for trustworthy health information: verify here.