|
Amor oor spanning wat knak
Amor praat oor die
stemme wat haar
en Joost teister: “So kon ek nie aangaan nie.”
Deur Betina Louw en Schalk Schoombie
Dis asof die energie wat sy uitstraal soos elektrisiteit om Amor knetter. Daar
waar sy kaalvoet met die kinders op die gras rinkink, slaan die son vonke uit haar bos
goudbruin hare. Haar lag is vrolik tussen die kinders se plesierige gille deur.
Jy kyk, en kan nie glo dis dieselfde vrou wat verlede jaar skielik inmekaargesak het
omdat sy die stres van haar druk lewe nie langer kon verduur nie – en dat sy onlangs
weer ineengestort het nie.
Vandag gesels Amor openlik oor die groot spanning in haar lewe en dié van haar
man, oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen. Oor die ding wat al agttien
maande aan hulle vreet. Dit wat haar verlede jaar naar en duiselig, met ’n pyn op haar
maag en aanhoudende hoofpyn gelaat en elke “kriesel energie” uit haar getap het tot
sy ineengestort het.
Dit kon nie anders nie. Oor ’n tydperk van agttien maande word sy en haar gesin
gereeld getreiter deur onbekende mense wat elke beweging van hulle dophou en
dreig om haar of haar kinders te ontvoer of leed aan te doen.
“Ek sal net ’n oproep op my selfoon kry, en ’n stem sal my vertel presies wat ek
doen en waar ek en my kinders is. Of iemand sal Joost met sulke dreigemente bel. By
een van my onlangse vertonings het Joost se selfoon gelui. Die stem het gesê hy sit
in die gehoor en kyk na my en dat hulle ’n losprys wil hê in ruil vir my en die kinders
se veiligheid.” Die beller eis gewoonlik geld.
“ ’n Mens kan nie so lewe nie. Vrees maak deel van elke dag uit. Jy
kyk rond na wie jou dalk dophou. Ek word paniekerig as ek nie my
kinders sien of weet hulle is in veilige hande nie. Dit put ’n mens uit. “
Aan die begin het die onbekende mense net vir Joost met dreigemente
gebel. Hy het dit vir Amor probeer wegsteek omdat hy haar
nie wou ontstel nie. “Maar ek kon sien iets pla hom. Ek wou weet wat
aangaan.”
Hulle het lank stilgebly oor die spanning in hul lewe, deels om nie
die polisie se ondersoeke te belemmer nie, en deels omdat hulle nie
lus was vir skinderstories en verdere vergelykings met Posh en Becks
nie. Hulle het gehoop dit sal weggaan.
Ondanks al haar pogings om perspektief te behou, het Amor
einde September 2008 weer ’n laagtepunt bereik en inmekaargesak.
Die dreigemente duur steeds voort. Dit lyk of dit ’n georkestreerde
optrede is deur verskillende mense, ’n georganiseerde aanslag.
“Ek is keelvol. As ek my kinders buite laat speel, is ek nooit heeltemal
gerus as ek of Joost nie by is nie. Watter soort lewe is dit?” vra sy.
Dit kon nie anders as dat haar gesondheid onder die spanning
knak nie. Met haar ineenstorting einde verlede jaar is ’n ystertekort
boonop by Amor gediagnoseer. “As gevolg van die spanning het ek
verlede jaar nie meer na my liggaam geluister nie. Ek het nie genoeg
geëet nie, wat gemaak het dat ek nie genoeg energie gehad het nie.
Wanneer ek gestres
raak, maak kos my naar. Ek was uitgebrand en
het nie eens genoeg energie gehad om saam met my kinders op die
trampolien te spring nie.”
Ná haar ineenstorting moes sy doodeenvoudig leer om nee te sê vir
sommige versoeke. Haar dokter het vir haar gesê die onderliggende
oorsaak van haar bloedarmoede was stres en dat sy rustiger moes
lewe. “Maar dit was nog nooit vir my maklik om net af te skakel nie.”
Dis hier waar ’n lewensbegeleier (life coach) in haar lewe gekom
het*. “Joost het hom aan my voorgestel nadat hy hom deur sy werk
ontmoet het. Dis wonderlik vir ons twee om ons lewensdoelwitte met
so ’n persoon te kan deel. Ons gaan sien hom elkeen afsonderlik, sommer
in ’n koffiewinkel vir ’n twee-uur-sessie. Soms het ’n mens ’n totale
buitestander nodig wat objektief na jou lewe kyk om weer self beter
perspektief te kry.
“Hy bekyk ons elkeen se behoeftes, help dit vereenvoudig en lig
die heel belangrikste elemente uit. Hy help ons ook om ’n padkaart
met doelwitte op te stel. Waar wil ons oor een jaar of vyf jaar wees? Dit
kan gebeur dat jy ’n plafon van kompleksiteit bereik. Hoe kom jy daar
verby? My lewe bestaan uit drie dele: eggenoot, ma en sanger. Hoe
balanseer ek dit?
“Ons skryf ons doelwitte neer, praat en bid daaroor en vertrou dat dit
gaan gebeur.” Só het hulle geleer om alles uit te skuif wat tweede en
derde plek inneem, om struikelblokke skeppend te oorkom en beheer
te bly behou oor dit wat hulle doen. “Ons lees baie, soos pastoor Paula
White se boek You’re All That: Understanding God’s Design for Your Life.
Dit bekyk in ’n Bybelse konteks elke aspek van ’n besige mens se lewe.”
As gevolg hiervan het Amor huisvaster geword en meer tyd aan die
kinders begin bestee.
Die dag toe die foto’s vir HG-Pols geneem word, is dit
opvallend hoe ’n hegte gesin die Van der Westhuizens
is. Op die grasperk voor die huis in Pretoria is die
kleingoed aan’t stoei oor wie eerste op die Xtreme-kar
gestoot moet word. ’n Los gemaal, sou ’n mens dit kon
noem. ’n Taai stryd om karbesit. Kylie (2) is vir ’n oomblik aan die wenkant,
maar dan kry Jordan (4) die oorhand en die trane lóóp.
Joost moet ingryp. Hy stop ’n motorsleutel in Jordan se hand. “Kom,
klaar gehuil, een-twee-drie-tjoep!” beveel hy gemaak streng. Die trane
droog dadelik op.
“Kyk, dit werk soos ’n bom,” sê hy en die kuiltjies in sy wang wys hoe
hy die kinders se woeligheid geniet. “Hulle is albei mal oor karre; vir
Jordan is ’n motorsleutel so goed soos ’n trooskombersie.”
Terwyl Kylie ’n fopspeen by haar ma bedel, wys Jordan hoe goed
hy motors ken. Hy loop tussen ons motors deur en wys met ’n trotse
vingertjie: “Nissan. Volkswagen. Bakkie . . .”
“Die kinders kom eerste,” sê Amor. “Ek is ’n baie hands-on ma. Partykeer
té. Ek staan nog altyd drie keer elke nag op en gaan kyk na die
kinders. Dis so ’n aangebore ma-ding! Maar ek moet genoeg slaap om
gesond te voel, dit weet ek ook . . .”
Slaap is darem ook nie ál waarvoor die bed goed is nie. Amor sê sy en
Joost het ’n gesonde intieme lewe en skep baie “eie tyd” vir hulle twee alleen,
al is dit net om met ’n bottel sjampanje na ’n restaurant toe te gaan.
“Badtyd is kommunikasietyd. Ons bad baie saam en omdat ons albei
baie romanties is, steek ons ná ses jaar steeds kerse aan en tap vir mekaar
’n lekker bad as die een ’n moeilike dag gehad het. My man is steeds vir
my verskriklik aantreklik en ek hou daarvan om mooi te lyk vir hom en ’n
nuwe parfuum wat lekker ruik aan te sit of mooi onderklere te koop. Ek
en Joost het juis ’n paar aande gelede gesels oor hoe ons verliefdheid
ná ses jaar en twee kinders omgesit het in ’n liefheid vir mekaar. Ons is
geesgenote, beste pelle en probeer soveel moontlik dinge
saam doen.”
Vanoggend, terwyl ons foto’s neem, wys die 36-jarige
sangeres se sjampanje-vonkeling.
Op die oomblik werk sy kliphard aan die beplanning
vir haar volgende CD wat einde Maart uitgereik word. En
om seker te maak die lewe bokspring nie weer met hulle
nie, het die Van der Westhuizens
ook aanpassings
in hul weeklikse roetine
gemaak. Maandag, Dinsdag,
Donderdag en Vrydag
is werkdae. Saterdae word
oopgehou vir optredes en
ander verpligtinge – en
natuurlik rugby.
’n Stokperdjie wat Joost
en Amor saam geniet, is
fotografie. Joost, wat sit
en luister het, gesels nou
saam: “Ek neem graag
natuurfoto’s en hou van
vakansiefoto’s wat die
onbewaakte oomblikke
vasvang. Dit moenie geposeer
lyk nie,” sê hy, en nou
skyn sy oë liggrys.
“Ek het Amor geleer en
sy’s briljant om foto’s te ontwikkel en op die rekenaar te
liasseer – nie een ding is uit sy plek nie,” sê hy trots.
Hy en Amor gaan slaan dikwels ’n paar gholfballe
in die oggend wanneer die kinders nog in die skool is,
of besoek ’n spa. “En Joost gee darem ook die beste
masserings,” lag Amor.
Woensdag (wanneer moontlik) en Sondag is rusdae
vir die gesin.
“Ons antwoord nie eens as die foon lui nie. Ons is
buitemense wat in die tuin met die kinders speel, fietsry
of langs die rivier gaan stap. Ons het so ’n wonderlike
land en die beste klimaat. Wanneer dit reën, hou ons
die kinders binne en kyk DVD’s, maar ons speel nie
videospeletjies nie. Sondagaande is dit sop en roosterbrood
voor die fliek op televisie, en dan praat ons oor
die week wat voorlê.”
Só skep hulle ’n rustige vertrekpunt vir die week en
tuimel nie holderstebolder in die week met sy eise in nie.
“Jy moet die oomblikke wat saak maak, raaksien en
aangryp, en versigtig wees om nie te veel in die toekoms
te lewe nie. Dis wat ek aan gehore probeer oordra. Sodra
ek op die verhoog is, kom daar ’n groot kalmte oor my.
Dis wonderlik om te doen wat ek doen. Dis ’n seëning
en ’n uitlaatklep. Maar vir die eerste keer sien ek nou na
myself ook om.”
’n Nuwe leefpatroon
Dit was nie net stres en uitputting wat tot Amor se ineenstorting gelei het nie.
Daar was ook ander fisieke oorsake, soos bloedarmoede.
Bloedarmoede is in die gene van baie Italianers. Amor se pa, Dario, is ’n volbloed-
Italianer. Toe ’n ystertekort by haar gediagnoseer is, het sy besef haar hele leefwyse
moet verander, van haar daaglikse roetine tot haar eetpatroon en fiksheidsvlak.
“Vir die ystertekort moet ek elke oggend ysterkapsules neem, een bloue onder
my tong en die res sluk ek af,” vertel sy. “Biltong en rosyne en die kapsules gee my
’n bietjie meer energie vir die dag. Omdat ek ’n spastiese kolon het, sal ek miskien
soggens jogurt, roosterbrood en vrugte eet.
“Ek probeer ook elke aand ’n glas suurlemoenwater
met heuning drink voor ek gaan slaap.”
Amor is nie ’n groot aanhanger van oefeninge in ’n
gim nie. “My oefening is dans. Ek sit sommer my eie musiek
op en dans. ’n Stapmeul is gans te vervelig vir my en
die konsentrasie wat dans vereis, hou die brein fiks.
“Ná my siekte kon ek ’n groot verskil sien toe ek meer
begin oefen het. Al is ons nie behep daarmee nie, is ek
en Joost albei fisieke mense wat daagliks 45 minute
saam met ’n persoonlike breier oefen om gesond te lyk
en voel. “Joost doen kardiovaskulêre oefeninge en werk met
gewigte. Twee keer per week boks ons. Dis wonderlik,
want dit laat werk elke spier in jou liggaam, en dit laat
jou goed sweet.
“Voorkoms is belangrik in my beroep, en ’n gesonde
lewenstyl en voorkoms gaan vir my hand aan hand. Ek
eet maklik sommer ’n hele sak wortels op ’n dag. Die
vitamien A daarin doen wondere vir ’n mens se vel.”
Wat jy oor bloedarmoede moet weet
’n Ystertekort is ’n vorm van bloedarmoede, sê dr. Danie Pauw van Health24.
“Die liggaam gebruik of verloor yster vinniger as wat dit die mineraal kan
vervang. Dit kom veral voor onder vroue in hul vrugbare jare en kan ’n gevolg
wees van swaar menstruasie of hoër ystergebruik tydens swangerskap.” Ander
oorsake is ’n tekort aan maagsuur, chroniese diarree en wanabsorpsie, sê Danie.
As jy aan bloedarmoede ly, sal jy maklik moeg voel en gou uitasem raak.
Jou naels breek makliker en jou tong kan glad en opgeswel wees. ’n Ystertekort
kan reggedokter word met ystersulfaatpille wat jy vier tot ses maande
lank drink om jou ystervoorraad aan te vul. Jy kan ook yster inkry deur groen
blaargroente, rooivleis (veral lewer), hoender, vis en koringkiem te eet.
Stress centre
Anaemia - iron deficiency
|