Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
How UV hurts
Suntan, sunburn, ageing. The sun can affect your skin in many ways. How does it work?
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Herfs 2008
 
Seesieketrooster

Die werk van ’n dokter aan boord ’n plesierboot is nie net om skemerkelkies by te woon en seesiekpille uit te deel nie. Op die oop see kan baie dinge gebeur . . .
Deur dr. Jacques Badenhorst

DEUR die kantopening in die skip se romp sien ek hoe fl ikker die Portugese kus se liggies.

Langs my gaan die verpleegster vir oulaas die infusie-verbindings van ons pasiënt se drup na.

Nou-nou moet ons hom oortel op die kuswag se ambulansbootjie, wat versigtig vanuit die donker na ons toe aangevaar kom...

Die sterk seewind en hoë golwe is gevaarlik, want die bootjie kan maklik teen die romp vasgeslaan word – ons skip is twaalf verdiepings hoog. Die pasiënt is ’n afgetrede Londense taxibestuurder. Hy het gister in sy sterk Cockney-aksent vertel hoe lank hy al uitgesien het na dié vaart.

Maar toe hy vandag by ons kliniek ingestap kom en kla van duiseligheid, het net een kyk na sy bleek gesig my laat besef sy vakansie gaan waarskynlik vroeër eindig as wat hy beplan het. ’n Ondersoek het my vermoedens bevestig – hy het ’n bloeiende maagseer gehad en het dringend ’n bloedoortapping benodig.

Ons het onmiddellik tot aksie oorgegaan. Ek het opgedraf na die brug toe om te vra dat vrywilligers na ons mediese sentrum moet kom om bloed te skenk.

Terwyl ons met die oortapping besig was, het die kaptein die skip van rigting laat verander sodat ons nader aan die kus kon beweeg en die kuswag die ambulansboot kon uitstuur. Nou staan ek hier in die koue en wag vir daardie boot. Al is ek klam van die seesproei, kan ek nie anders as om te glimlag nie. In een dag was ek dokter, bloedoortappingsdiens en matroos!

Met vierduisend siele aan boord is ons skip ’n drywende stadjie. Wat ek in ’n stadshospitaal se ongevalle-afdeling aantref, kan dus ook hier voorkom – en soms méér, want ek sien dikwels siek passasiers wie se dokters hulle juis aangeraai het om seelug te kry vir hul gesondheid . . .

Ek het destyds gedink die werk sal eintlik maar beteken dat ek die een swierige skemerkelkie-geleentheid ná die ander bywoon en net af en toe ’n paar seesiekpille uitdeel, maar ek was jammerlik verkeerd.

Hoewel ek al genoeg gevalle van sonbrand behandel het om as ’n spesialis op dié gebied gereken te word, is dit meestal ernstiger gevalle wat my in die nag besig hou. Nie te lank gelede nie het ’n vrou ons kort ná middernag gekontak oor kwaai “sinuspyne” in haar gesig.

Die ondersoek het getoon dat dit eintlik ’n tipe verwysde pyn uit haar borskas was en toe bevestig haar EKG dat sy ’n ernstige hartaanval gehad het. In sulke gevalle is ek dankbaar dat ons hospitaal so goed toegerus is, want ons kon haar betyds medisyne gee om die klont wat haar hartvate verstop het, op te breek.

Soms gebeur iets wat jy nie kan voorsien nie. Onlangs is ek twee-uur die oggend wakker gebel deur ’n bekommerde sekuriteitsbeampte.

’n Paar passasiers het gekla omdat ’n medepassasier poedelnaak in die gange op en af gehardloop het terwyl hy kliphard “God save the Queen” sing. Dit blyk toe dat dié bejaarde passasier, wat aan bipolêre steurnis ly, ’n chemiese wanbalans in sy brein ontwikkel het omdat hy sy medikasie by die huis vergeet het. Dit het nogal ’n gespook afgegee om hom sover te kry om ingespuit te word sodat hy kon bedaar.

Omdat ’n groot klomp mense in noue kontak met mekaar op skepe moet saamleef, is ek en my kollegas altyd deeglik bewus van die gevare wat ’n vinnig verspreidende kiem soos ’n maagvirus kan inhou. So ’n jaar of wat gelede het ’n gevaarlike maagkiem meer as tweehonderd van ons passasiers siek gemaak.

Met inspuitings en pille het ons moedig teen die virus geveg, maar dit het my en die span nogtans amper ’n week van middernagtelike kajuitbesoeke gekos om die uitbraak onder beheer te kry. In daardie stadium was daar ’n woeste storm en het die skip heen en weer gekantel. Dit was moeilik om nie self eff ens groen om die kiewe te word nie.

’n Belangrike deel van my en die span se werk is dat ons verantwoordelik is vir die fi sieke (en soms geestelike) welsyn van die sowat duisend bemanningslede wat uit tot 22 verskillende lande kom. Terwyl die meeste passasiers maar so ’n week of twee aan boord is, kan van die bemanningslede soms tot agt maande lank daar wees! Vir hulle het ek ’n groter rol as net dié van dokter.

Soms moet ek soos die predikant van ’n klein dorpie simpatiek luister wanneer dit duidelik word dat ’n pasiënt se vae pyn of skeet eintlik niks meer as verlange na familie en vriende is nie.

Ander kere is ek weer die mediese vertolker, as hulle my kom vra om familielede se doktersverslae te interpreteer. En soms is ek boonop tandarts, want daar is niemand anders wat vulsels kan vervang of slegte tande kan trek nie.

Só ontdek ek nog steeds byna elke week ’n nuwe rol. By tye is ek ’n bloedoortappingsdiens, tandarts, berader of epidemioloog. Soms is my kundigheid akademies korrek en soms moet ek improviseer. Op die oop see moet ’n mens álles kan regdokter.


 
Previous article: Next article:
Raad Spesiale Aanbod
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Esmaré skryf...
Brieweblad
IETS IN DIE LUG
Spelers en Krygers
Jeug-artritis: Nuwe Hoop
In die kop van 'n monster
Lewe met 'n doel
Dodelike kieme
Al lê die berge nog so blou
Hou, rug, hou!
Basta sigarette, basta vet!
Liefde met gevoel
Eina, my rug!
Wat laat tieners uitrafel?
ZOEM IN - Hoe goggas rêrig lyk
Kweek jy gif in jou tuin?
Kuberpsigiater
Seesieketrooster
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Streel jou sintuie
Hg-Pols Blokraai Nommer 3
GROTER! STERKER! VINNIGER!
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement