|
Seesieketrooster
Die werk van ’n dokter aan boord ’n plesierboot is nie net om skemerkelkies by te woon en seesiekpille
uit te deel nie. Op die oop see kan baie dinge gebeur . . .
Deur dr. Jacques Badenhorst
DEUR die kantopening in
die skip se romp sien ek hoe
fl ikker die Portugese kus se
liggies. Langs my gaan die verpleegster
vir oulaas die infusie-verbindings
van ons pasiënt se drup na. Nou-nou
moet ons hom oortel op die kuswag se
ambulansbootjie, wat versigtig vanuit die
donker na ons toe aangevaar kom...
Die sterk seewind en hoë golwe is
gevaarlik, want die bootjie kan maklik teen die romp vasgeslaan
word – ons skip is twaalf verdiepings hoog.
Die pasiënt is ’n afgetrede Londense taxibestuurder. Hy het
gister in sy sterk Cockney-aksent vertel hoe lank hy al uitgesien
het na dié vaart.
Maar toe hy vandag by ons kliniek ingestap kom en kla van
duiseligheid, het net een kyk na sy bleek gesig my laat besef sy
vakansie gaan waarskynlik vroeër eindig as wat hy beplan het.
’n Ondersoek het my vermoedens bevestig – hy het ’n bloeiende
maagseer gehad en het dringend ’n bloedoortapping benodig.
Ons het onmiddellik tot aksie oorgegaan. Ek het opgedraf na die
brug toe om te vra dat vrywilligers na ons mediese sentrum moet
kom om bloed te skenk.
Terwyl ons met die oortapping besig was, het die kaptein die
skip van rigting laat verander sodat ons nader aan die kus kon
beweeg en die kuswag die ambulansboot kon uitstuur.
Nou staan ek hier in die koue en wag vir daardie boot. Al is ek
klam van die seesproei, kan ek nie anders as om te glimlag nie. In
een dag was ek dokter, bloedoortappingsdiens en matroos!
Met vierduisend siele aan boord is ons skip ’n drywende stadjie.
Wat ek in ’n stadshospitaal se ongevalle-afdeling aantref, kan dus
ook hier voorkom – en soms méér, want ek sien dikwels siek passasiers
wie se dokters hulle juis aangeraai het om seelug te kry vir
hul gesondheid . . .
Ek het destyds gedink die werk sal eintlik maar beteken dat ek
die een swierige skemerkelkie-geleentheid ná die ander bywoon en
net af en toe ’n paar seesiekpille uitdeel, maar ek was jammerlik
verkeerd.
Hoewel ek al genoeg gevalle van sonbrand behandel het om as
’n spesialis op dié gebied gereken te word, is dit meestal ernstiger
gevalle wat my in die nag besig hou. Nie te lank gelede nie het
’n vrou ons kort ná middernag gekontak oor kwaai “sinuspyne”
in haar gesig. Die ondersoek het getoon dat dit eintlik ’n tipe
verwysde pyn uit haar borskas was en toe bevestig haar EKG dat
sy ’n ernstige hartaanval gehad het. In
sulke gevalle is ek dankbaar dat ons
hospitaal so goed toegerus is, want
ons kon haar betyds medisyne gee om die klont wat haar hartvate verstop het, op te breek.
Soms gebeur iets wat jy nie kan
voorsien nie. Onlangs is ek twee-uur
die oggend wakker gebel deur ’n
bekommerde sekuriteitsbeampte. ’n Paar passasiers het gekla omdat
’n medepassasier poedelnaak in die gange op en af gehardloop
het terwyl hy kliphard “God save the Queen” sing. Dit blyk toe
dat dié bejaarde passasier, wat aan bipolêre steurnis ly, ’n chemiese
wanbalans in sy brein ontwikkel het omdat hy sy medikasie by die
huis vergeet het. Dit het nogal ’n gespook afgegee om hom sover te
kry om ingespuit te word sodat hy kon bedaar.
Omdat ’n groot klomp mense in noue kontak met mekaar op
skepe moet saamleef, is ek en my kollegas altyd deeglik bewus
van die gevare wat ’n vinnig verspreidende kiem soos ’n maagvirus
kan inhou. So ’n jaar of wat gelede het ’n gevaarlike maagkiem
meer as tweehonderd van ons passasiers siek gemaak.
Met inspuitings en pille het ons moedig teen die virus geveg, maar dit
het my en die span nogtans amper ’n week van middernagtelike
kajuitbesoeke gekos om die uitbraak onder beheer te kry.
In daardie stadium was daar ’n woeste storm en het die skip
heen en weer gekantel. Dit was moeilik om nie self eff ens groen
om die kiewe te word nie.
’n Belangrike deel van my en die span se werk is dat ons verantwoordelik
is vir die fi sieke (en soms geestelike) welsyn van die
sowat duisend bemanningslede wat uit tot 22 verskillende lande
kom. Terwyl die meeste passasiers maar so ’n week of twee aan
boord is, kan van die bemanningslede soms tot agt maande lank
daar wees! Vir hulle het ek ’n groter rol as net dié van dokter.
Soms moet ek soos die predikant van ’n klein dorpie simpatiek
luister wanneer dit duidelik word dat ’n pasiënt se vae pyn of skeet
eintlik niks meer as verlange na familie en vriende is nie. Ander
kere is ek weer die mediese vertolker, as hulle my kom vra om
familielede se doktersverslae te interpreteer. En soms is ek boonop
tandarts, want daar is niemand anders wat vulsels kan vervang of
slegte tande kan trek nie.
Só ontdek ek nog steeds byna elke week ’n nuwe rol. By tye is
ek ’n bloedoortappingsdiens, tandarts, berader of epidemioloog.
Soms is my kundigheid akademies korrek en soms moet ek improviseer.
Op die oop see moet ’n mens álles kan regdokter.
|