|
Kuberpsigiater
Health24.com se kuberpsigiater,
prof. Michael Simpson, beantwoord
jou vrae oor geestelike welsyn.
V: Ek is ’n enkelma en my dogtertjie is drie en ’n half.
Ons het nog nooit meer as een nag weg van mekaar
deurgebring nie. Ek gaan binnekort vir ’n week by
’n vriendin in Brittanje kuier en my dogtertjie moet by
my ouers bly. Sy het ’n hegte verhouding met hulle en is
baie tevrede by hulle, maar ek is ’n bietjie bekommerd
dat sy nie ’n hele week sonder my sal kan klaarkom nie.
Wat is die beste manier om aan haar te verduidelik dat
ek so lank weggaan, maar dat ek haar soggens en saans
sal bel?
A: Wees bewus daarvan dat sy miskien jou angstigheid kan aanvoel
en dan self angstig kan voel. Omskep dit in ’n avontuur en
herinner haar aan hoe seker jy is dat sy die ervaring goed sal hanteer.
Kinders is oor die algemeen baie beter bestand teen stres as wat ons
verwag. Dit kan heel moontlik vir jou moeiliker wees as vir haar! In
die Tweede Wêreldoorlog het kinders die bomaanvalle – toe hele
strate snags verwoes is – verrassend goed hanteer as hul ouers
taamlik kalm en optimisties was.
V : Wanneer ek by ’n klub of partytjie is en iemand vra
my om te dans, is ek skielik doodbang vir dans.
My hart begin vinniger klop en ek voel naar. Ek het
uiteindelik gehoor dit word chorofobie genoem, maar
het al oral gesoek en kon nêrens vasstel hoe ’n mens dit
genees nie.
A: Dekades gelede het ’n groep mense met baie vrye tyd ’n
klomp uitheemse woorde uitgedink om elke moontlike soort
fobie te beskryf, maar hul moeite was nie eintlik van veel nut nie.
Wat jy het, is basies ’n fobiese angsafwyking en kan soos ander
fobiese angsafwykings behandel word. Die fobies waar dit dalk
kan help om subtipes te spesifi seer, is agorafobie en sosiale-angsafwyking
– en daar is ’n sweempie hiervan in jou brief. Ek wonder
of dit werklik ’n vrees vir dans is. As jy alleen in ’n kamer sou dans,
sal jy dan ook sleg voel? Dit klink meer na ’n sosiale fobie – ’n vrees om tussen ’n klomp mense uit te staan of om voor ander iets te doen wat hulle dalk na jou sal laat kyk. Mense met dié fobies
reageer goed op twee soorte behandeling: Party medisynes wat
gebruik word om depressie te behandel, kan help. So ook kognitiewe
gedragsterapie, ’n soort praatbehandeling.
V: My man stel my werklik teleur. Hy het ’n
stokperdjie wat vereis dat hy ure aaneen voor
sy rekenaar sit. Hy probeer nou al ’n hele ruk om ’n
nuwe werk te kry. Sy salaris is verskriklik klein en
sy baas ’n absolute nagmerrie. Daar was onlangs ’n
wonderlike geleentheid en hy het vir ’n onderhoud
gegaan. Hulle bied ’n baie goeie salaris aan, maar sy
werkure sal eff ens langer wees en hy sal dalk vir een
naweek per maand op bystand moet wees. Hy is nie
seker of hy die werk moet aanvaar nie, omdat hy dan
nie “sy ding” op die rekenaar sal kan doen nie. In die
nuwe maatskappy sal hy kan vorder, maar daar is nie
sulke moontlikhede waar hy nou is nie en dinge gaan
nie verbeter nie. Ons bly in ’n krot en dié werk sal
dinge vir ons makliker maak. Dit lyk my hy dink net
aan homself en ek weet nie meer wat om met hom te
maak nie.
A: Dit is nodig dat julle die saak kalm verder bespreek. ’n
Stokperdjie is goed vir ’n bietjie ontspanning en pret,
maar dit is kortsigtig om ’n moontlike werk met ’n goeie salaris
en vooruitsigte van die hand te wys net om meer tyd voor
die rekenaar te kan deurbring. Herinner hom daaraan dat die
feit dat hy so ’n slegte werk en baas het, moontlike redes is
hoekom dit deesdae vir hom so belangrik is om “sy ding” op
die rekenaar te doen. As die nuwe werk hom meer bevrediging
verskaf, sal hy miskien vind dat, hoewel hy nog steeds sy tyd
voor die rekenaar geniet, hy dit nie meer so nodig sal hê nie
aangesien dit nie sy enigste bron van plesier en vervulling sal
wees nie.
Click here to visit Cybershrink
|