|
Kweek jy gif in jou tuin?
Party plante en bessies kan jou
lelik siek maak of laat jeuk as jy
hulle kou. Mense raak ál meer
bewus van gevaarlike tuinplante,
maar weet nie altyd wat is
wat nie. Hier is die plante waarvoor
jy moet ligloop
Deur Betina Louw, Health24
VYFTIEN blare van die selonsroos, ’n beker maanblomtee, ’n
hand vol pitjies van die stinkblaar, ’n hap van ’n varkoorblaar
en tien seringbessies . . . Die eerste kan jou doodmaak, die
tweede en derde kan jou so mal soos ’n haas maak, die vierde
kan jou mond laat brand – en die laaste sal niks aan jou doen nie.
Dat Suid-Afrikaners besorg is oor giftige tuinplante, is nie altemit nie.
Gifinligtingsentrums kry weekliks navrae hieroor.
Daar is baie verwarring oor watter plante giftig is – dis duidelik uit dié
navrae, want die meeste mense is bekommerd oor die gifstowwe van die
seringboombessie.
Maar al is dié bessiepitte giftig, is dit so hard dat jy hulle skaars met ’n
voorhamer kan stuk kend slaan. Al sluk jy een, sal dit heel deur jou liggaam
beweeg sonder dat ’n kriesel gif uit die harde dop ontsnap. Dit is al keer op
keer bewys, sê dr. Gerbus Müller, kliniese toksikoloog by die Tygerberg-gifinligtingsentrum.
Hy meen plantvergiftiging word dikwels oorbeklemtoon
en die meeste mense jaag te vinnig spoke op.
Plante se name is ook verwarrend. Baie mense dink byvoorbeeld die
gewilde klimop wat so baie mure vol rank, is giftig – maar hulle verwar dié
rankplant uit Europa met die gif-klimop (poison ivy) wat glad nie in Suid-
Afrika voorkom nie. Selfs in Noord- en Suid-Amerika, waar die gif-klimop
inheems is, sal mense nie doodgaan as die blare teen hulle skuur nie. Hulle
sal wel blase daarvan kry.
Ons lysie van agt plante wat die afgelope twintig jaar die grootste probleme
in Suid-Afrika veroorsaak het, sluit gewilde tuinplante in. Dié bêregids
bevat inligting oor hul uitwerking en watter behandeling nodig is, asook die
drie plante wat die ergste velirritasies en gejeuk kan afgee.
Plante wat gifstowwe bevat
1. STINKBLAAR OF MALPITTE
(Datura stramonium)
Waar kom dit voor? Die plant is inheems
in Noord-Amerika, maar word
oral in Suid-Afrika aangetref.
Watter deel van die plant? Die
sade bevat hoë konsentrasies chemiese
stowwe wat soortgelyk is aan
atropien, ’n opkikker wat jou mond
droog maak en jou laat hallusineer.
Hoe gevaarlik is dit? Dit is ’n baie
giftige plant. As jy net vier van die
klein pitjies eet, kan dit al tekens
van vergiftiging veroorsaak – en
’n hand vol maak mense regtig so
mal soos ’n haas. ’n Koppie daarvan
kan noodlottig wees. As
’n baba ’n paar pitte inkry, moet
jy die kind hospitaal toe neem. Al
die gevalle van ernstige malpittevergiftiging
wat die afgelope tien
jaar in Suid-Afrika behandel is,
was tieners wat dit op die proef
gestel het.
Hoe sal jy voel? Jou mond en vel
voel droog, jou pupille vergroot, jy
voel koorsig en jou pols is vinniger.
Jy kan versteurde visie en hallusinasies
ervaar. In uitsonderlike gevalle
kan epileptiese aanvalle, nierversaking
en die dood volg.
Wat kan jy doen? Die meeste mense
wat dié pitte inkry, moet hospitaal
toe gaan omdat hulle beheer oor
hul optrede verloor en dom dinge
aanvang. Tieners wat daarmee eksperimenteer
weens die hallusinasies
wat dit veroorsaak, moet baie goed
opgepas word omdat hulle sommer
voor ’n motor kan inhardloop of by ’n
venster kan uitval. Mense word vir ’n
dag of wat in die hospitaal opgeneem
tot die gif uitgewerk is.
2. SELONSROOS
(Nerium oleander)
Waar kom dit voor? Dié Asiatiese
plant word oral in die land
aangetref, byvoorbeeld in tuine
en langs snelweë soos die N1 in
die Wes-Kaap. Die selonsroos met
sy kenmerkende pienk, geel of
wit blomme pas goed aan in droë
gebiede en is daarom ’n gewilde
tuinplant.
Watter deel van die plant? Alle
dele is uiters giftig. Dit bevat die
hartverlammende en dodelike
gifstof oleandrien. Die bitter smaak
van die blare keer gelukkig dat
mense groot hoeveelhede inneem.
Hoe gevaarlik is dit? Die giftige
stof in die selonsroos se blare,
sade en takke kan die hart
aantas en jou dood veroorsaak.
Meer as vyftig mense het die
afgelope tien jaar dele van die
selonsroos ingekry, maar
gelukkig te min om vergiftig
te word. Sowat 4 g of vyftien
blare is genoeg om die dood
te veroorsaak. In Sri Lanka
maak mense wat wil selfmoord
pleeg, soms ’n tee
van die geel selonsroos se blare
en sade.
Hoe sal jy voel? Naar, verward en
swak. As jou hartspiere aangetas
word, kan hulle so verswak dat
jou hart kan gaan staan omdat
die ritme versteur is. Dié simptome
kan eers ure of ’n dag later
ontwikkel.
Wat kan jy doen? As daar ’n
verandering in jou hart se ritme
is, moet jy vinnig by ’n dokter of
hospitaal kom.
3. MAANBLOM
(Brugmansia candida)
Waar kom dit voor? Dit is gewilde
tuinblomme oral in Suid-Afrika, maar
is oorspronklik van Suid-Amerika.
Watter deel van die plant? Net
soos met malpitte, bevat die blare,
blomme en sade stowwe wat soos
atropien werk.
Hoe gevaarlik is dit? Die stof het
die kwaaiste uitwerking wanneer jy
tee van die blare en blomme maak
en dié konkoksie drink. Dit veroorsaak
hallusinasies en aggressiewe
gedrag, sodat gebruikers stapelgek
en onverantwoordelik kan optree.
Die uitwerking is minder ernstig
as jy bloot die plant se blare of
blomme eet. Al die gevalle van
maanblom-vergiftiging wat die
afgelope tien jaar in ons hospitale
voorgekom het, was tieners wat dit
op die proef wou stel. Gelukkig sal
iemand nie baie siek word as hy net
een blaar of pit eet nie.
Hoe sal jy voel? Maak jou reg vir
versteurde visie, hallusinasies, aggressiewe
gedrag, koors, ’n droë
vel, droë mond, vergrote pupille,
vinnige polsslag, gedisoriënteerdheid
en selfs epileptiese aanvalle,
nierver saking en die dood.
Wat kan jy doen? Pasiënte moet
24 uur lank in die hospitaal bly tot
die simptome uitgewerk het.
HET JY GEWEET? ’n Mens
dink gewoonlik dis kinders
wat deur plante vergiftig
word, maar ernstige vergiftiging
kom meer dikwels voor
onder volwassenes wat dink
’n giftige plant is eetbaar.
4. GEVLEKTE STOMRIET
(Dieff enbachia)
5. OLIFANTSOOR
(Colocasia esculenta)
6. GERAAMTEPLANT
(Monstera deliciosa,
algemeen bekend as
delicious monster)
7. VARKOOR (Zantedeschia
aethiopica)
Waar kom dit voor? Al vier dié
plante kom oral in Suid-Afrika voor.
Die varkoor is inheems, terwyl die
ander plante oorspronklik van Noorden
Suid-Amerika is.
Watter deel van die plant? Die blare,
en soms ook die blomme en vrugte,
bevat kalsium-oksalaatkristalle wat
die mond se slymvlies kan beskadig.
Hoe gevaarlik is dit? Die skerp,
langwerpige en onoplosbare
oksalaatkristalle in die blare se sap
is soos ’n klomp fyn spelde wat die
mond se slymvlies stukkend steek,
sodat jou mond kwaai begin brand.
Kinders is geneig om die plante te
kou, maar hulle hou gewoonlik gou
op as hul mond begin brand. Daar
is byna elke maand ’n kind wat aan
een van dié plante kou, maar die
meeste gevalle is nie ernstig nie.
Hoe sal jy voel? Jy sal dadelik ’n
brandgevoel in jou mond kry. As
jy nog daarvan inkry, kan jou keel
toeswel sodat jy moeilik asemhaal.
Hoewel dié simptome in handboeke
beskryf word, het Gerbus se span
nog nooit asemhalingsprobleme
gesien nie.
Wat kan jy doen? Suig aan ys of eet
roomys vir die brandgevoel. As jou
keel ook brand, gaan dokter toe om
seker te maak dit is nie geswel nie.
8. SERINGBOOM
(Melia azedarach)
Waar kom dit voor? Dié boom is inheems in
Asië, maar kom oral in Suid-Afrika voor.
Watter deel van die plant? Die ryp bessies se
pitte bevat meliatoksiene, wat giftige stowwe is.
Hoe gevaarlik is dit? Die seringbessie veroorsaak
byna nooit vergiftiging nie omdat die pit
binne-in die bessie so hard is dat jy selfs sal sukkel
om dit met ’n hamer oop te kap. Die pit word
gewoonlik heel ingesluk en beweeg amper
altyd heel deur die liggaam. Die afgelope dertig
jaar was daar net een geval waar diarree dalk
deur seringbessie-vergiftiging veroorsaak is.
Hoe sal jy voel? In uitsonderlike gevalle kan
naarheid, braking en diarree binne ’n uur voorkom.
Wat kan jy doen? Behandel die simptome met
middels teen naarheid en diarree. Stel die pasiënt
gerus en hou sy toestand dop.
Plante wat velreaksies veroorsaak
1. EUPHORBIA-SPESIES, SOOS
DIE NABOOM EN GIFMELKBOS
Waar kom dit voor? Oral in Suid-
Afrika.
Watter deel van die plant? Die melkerige,
wit sap bevat ingenol-verbindings
wat jou vel kan laat jeuk en swel.
Hoe gevaarlik is dit? Die chemiese
stowwe in die melksap kan jou vel
ernstig laat ontsteek. As die sap in
jou oë kom, kan jy blind word.
Hoe sal jy voel? ’n Rooierige veluitslag
en swelling, saam met ’n gejeuk,
brandgevoel en tintelende sensasie,
ontwikkel binne twee tot agt uur nadat
die plant aan jou vel geraak het.
Die ontsteking is gewoonlik net in
die deel waarop die melksap beland
het, maar dit kan na ander dele van
die vel versprei. Blase kan ook binne
twaalf uur vorm.
2. BERGSELDERY OF
BLISTER BUSH
(Peucedanum galbanum)
Waar kom dit voor? Net in die
fynbosgebiede van die Wes-Kaap,
veral bo-op Tafelberg.
Watter deel van die plant? Die blare.
Hoe gevaarlik is dit? Die chemiese
stowwe psoralen, xantotoksien
en bergapten in die blare
veroorsaak ’n kwaai gejeuk.
Hoe sal jy voel? Kontak met die
blare sal veertig tot vyftig uur later
’n rooi sweepslag-uitslag veroorsaak
wat baie sal jeuk. Omdat sonlig
nodig is vir die simptome om te
ontwikkel, is daar gewoonlik eers
die dag ná blootstelling ’n uitslag.
Groot blase, wat stadig gesond
word en weke lank donker kolle op
die vel laat, kan ook vorm.
3. BRANDNETEL
(Urtica-spesie)
Waar kom dit voor?
Letterlik oral in die
land.
Watter deel van die
plant? Die blare.
Hoe gevaarlik is
dit?
As jy aan ’n
brandnetel se blare
raak, sal jy ’n lastige,
branderige rooi
veluitslag kry. Dit is
nie gevaarlik nie.
Hoe sal jy voel?
Jeukerig. Dit sal vererger
en versprei as
jy die blootgestelde
deel krap om die
gejeuk te probeer
verlig.
Behandel velontsteking
deur
die naboom,
bergseldery of
brandnetel só:
Smeer antihistamien-
of kortisoonsalf
aan
die jeukplek.
Smeer ook Eulactol,
Lacticare en
SBR-lipsalf aan,
want dit bevat
urea, melksuur
of seramiede wat
die herstelproses
aanhelp. Die vel
word gewoonlik
binne drie of vier
dae gesond.
PLANT INHEEMS EN VEILIG
Dit is interessant dat die meeste plantsoorte wat giftig is of lastige reaksies veroorsaak, uitheems is. Ernst van Jaarsveld, kurator
en plantkundige van die Kirstenbosch- botaniese tuin se konservatorium in Kaapstad, het vir ons ’n lys opgestel van die toptien
inheemse blomme, struike, klimplante en bome wat nie lastige reaksies uitlok nie, maklik in ons klimaat groei en boonop mooi is.
- Malva (Pelargonium spp.
- Spekboom (Portulacaria afra)
- Vallende sterretjies (Crocosmia aurea)
- Pers haselaar of lintbos
(Hypoestes aristata)
- Wit katjiepiering (Gardenia thunbergia)
- Ligblou salie (Salvia chamelaeagnea)
- Clematis-klimop (Clematis brachiata)
- Soetdoringboom (Acacia karroo)
- Hen-en-kuikens
(Cholorophytum comosum)
- Persbesem (Polygala virgata)
Click here for more on poisoning
|