|
ZOEM IN - Hoe goggas rêrig lyk
Kom saam op ons goggatoer in die Herfs uitgawe van Pols en ontdek die monsters van die mikrowêreld.
Sien gediertes seshonderd keer so groot as wat hulle werklik is – en gril! Deur Michelle Pietersen
Swaar dra, dierasie!
Die larwe van ’n gaasvlieg dra plantstukkies op sy rug as kamoeflering. Dié gogga maak stukkies
blare en stokkies bymekaar en pak dit op sy rug sodat ander diere (en jy) hom nie dadelik moet
raaksien nie. Die stekels op sy rug hou sy vrag bymekaar. Al lyk hy so vreemd met sy vrag en sy
lang snoet, hoef jy glad nie vir hom bang te wees nie, want hy kan nie mense seermaak nie. Ander
insekte moet ligloop – gaasvlieë eet plantluise, die klein groen goggatjies wat op blomme boer.
Mislike muskiet
Dit lyk miskien soos ’n
onskadelike groen strooitjie
met ’n rooi punt, maar dis ’n
gevaarlike kalant dié. As ’n
muskiet jou steek, deurboor
die rooi punt jou vel en
suig hy met die groen
strooitjie jou bloed op.
Muskietbyte kan vreeslik
jeuk en sommige kan
malaria veroorsaak.
Slaap dus liewer onder
’n muskietnet en drink
jou malariamedisyne as
jy in die Krugerwildtuin,
Mpumalanga, KwaZulu-
Natal, Limpopo of Mosambiek
gaan vakansie hou.
Harige
meneer mot
Wie sou ooit kon raai dat die
mot se voelers oortrek is deur
skubberige vel en hare? Motte
gebruik die hare op hul voelers om
dinge mee te voel. Terwyl jy snags
slaap, is dié gediertes wawyd
wakker en bedrywig. Daarom
word hulle naginsekte genoem.
Wit verskrikking
So ’n klein witvliegie kan groot
verwoesting saai. Dié insek laat
heuningdou op plantblare agter,
wat dan ander plae en skimmel
aantrek. Op hul beurt verniel
hulle die blare. Witvlieë kan in
swerms voorkom en groot skade
aan groente en katoenboerdery
aanrig.
Hierdie brakkie blaf nie
Sy groot oë lyk gevaarlik en sy hare is byna soos dié
van ’n steekhaarbrakkie – dis hoe die heuningby van
naby lyk. Bye is dapper klein soldate as hulle hul heuning
moet beskerm. As ’n by dink jy wil die nes of koningin
seermaak, sal hy jou steek met sy angel, wat op sy
stert sit. Praat van ’n brandpyn! Sommige mense
is baie allergies vir bysteke en jy moet
met hulle hospitaal toe jaag as hulle
gesteek word.
Kyk hoe kyk
hy vir my!
Die vrugtevlieg se yslike rooi oog kan
’n mens groot laat skrik. Dis eintlik
honderde ogies wat almal langs
mekaar sit. Daarmee kan die vlieg in
alle rigtings kyk, selfs agter sy kop.
Jy moet maar na jou ma luister en
’n vrug afwas voor jy die eerste hap
vat, want die vrugtevlieg het dalk sy
eiertjies op die skil gelê.
Foto's van hierdie insekte wat tot 600 keer vergroot is het verskyn in die Herfs 2008 uitgawe van Pols.
|