|
Wat laat tieners uitrafel?
Tieners kan vreemde wesens
wees. Hulle duiwel deure toe,
gaan maklik aan die huil en
kry puisies juis wanneer hulle
op hul beste wil lyk. Hormone
en chemiese stowwe speel
rondomtalie in hul lyf. Hoe
verstaan ’n mens dit?
Deur Elise-Marie Tancred en
die Health24-span
IS DIT hormone se skuld as jy
buierig en opstandig raak? Of ’n
puisie kry voor ’n groot aand uit?
Of selfs as jy soggens sukkel om
op te staan?
As jy verstaan wat in jou lyf gebeur, help dit dalk
om te verstaan hoekom jy is soos jy is. Dit kan jou
ook help om sekere goed te behandel – byvoorbeeld
puisies . . .
Jy word tussen die ouderdom van ses en agt jaar
vir die eerste keer aan die mens se eie hormonale
towerdoepa blootgestel; dis nou wanneer die adre -
nale kliere (ook bekend as die byniere) aan die bokant
van die niere androgene
begin vrystel.
Die vervaardiging van androgene
is maar net die begin van
’n stortvloed hormone waaraan
jy blootgestel word. Saam vorm
die hormone ’n ingewikkelde
en sen sitiewe stelsel waarin een
hormoon se vlak dié van ’n
ander bepaal, of in ’n snellereff
ek die vrystelling van ’n ander
meebring.
Op ongeveer tien jaar vir meisies
en twaalf vir seuns is die androgeenvlakke hoog
genoeg om hare op jou skaamdele en onder jou
arms te laat groei, jou vel olieriger te maak en aknee
te veroorsaak. Oeg, en hulle is ook nog verantwoordelik
daarvoor dat jy in jou tienerjare so sleg kan
ruik as jy sweet en nie gereeld bad nie.
Androgene word opgevolg deur gonadotropien,
’n hormoon wat die geslagskliere stimuleer.
Oor die volgende jaar of twee neem die vlak van
gonadotropien in die bloed skerp toe. Dit lei tot die
vrystelling van nóg hormone deur die hipofi se – ’n
klein klier in die brein – wat jou eierstokke
(as jy ’n meisie is) of jou testes (as jy ’n
seun is) aanskakel.
Nou is jy nóg vis nóg vlees, maar al
kniediep in jou puberteit. Namate
jy dieper in jou puberteit ingaan,
word meer hormone vrygestel.
Meisies se eierstokke produseer
estrogeen en progesteroon,
terwyl seuns se testes testosteroon
vrystel. ’n Tienerseun
se testosteroon styg vinnig
tot op ’n volwasse vlak,
vyftig keer so hoog as
voorheen – ’n ongekende
hormoonontploffing!
En dan wonder ouers
hoekom ’n seun van
dertien of veertien soms vreemd optree.
Dis danksy estrogeen dat meisies se borste groei.
Dit bepaal ook die vorm van ’n jong vrou se figuur
deur die herverspreiding van liggaamsvet. Vet gaan
sit nou op meisies se heupe. (Dankie, hormone!)
Testosteroon neem weer seuns se liggaamsvorm onder
hande: Babavet maak plek vir spiermassa en hare
verskyn vir die eerste keer op onverwagte plekke.
Uiteindelik kry meisies hul eerste maandstonde
en seuns hul eerste volwaardige ereksie en ejakulasie.
Nou is wat die ou mense rooi hakskene genoem
het, jou voorland – jy raak halsoorkop dolverlief en
die geringste aanraking, of selfs net ’n knipoog, van
daardie spesiale persoon laat jou hart
woes aan die klop gaan.
Volgens prof. Steven Hough,
endokrinoloog van die Universiteit
van Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe,
krap wetenskaplikes
nog steeds kop oor wát as sneller
dien vir die liggaam om hormone te
begin vrystel.
Waarskynlik speel die senuweestelsel,
sosiale en sielkundige faktore ’n
rol, asook jou dieet.
Dit is algemeen bekend dat puberteit
vandag vroeër by kinders voorkom as voorheen.
In 1850 het meisies gewoonlik hul eerste maandstonde
op sewentien gekry. Vandag gebeur dit op
twaalf jaar.
Beter eetpatrone, algemene voorspoed en beter
mediese sorg en sosio-ekonomiese omstandighede
kan redes hiervoor wees. As jy oorgewig is, kan jy
ook vroeër begin ontwikkel.
Baie mense dink hormone het net so ’n dramatiese
uitwerking op tieners se gedrag as op hul liggaamsvorm.
Ouers praat van “hormone op wiele” en kla oor tieners se wispelturigheid, impulsiewe
gedrag en emosionele optrede. Dit wil lyk of
jong mense opwinding najaag en genot put
uit wilde optrede.
Volgens statistieke is dit ook so, skryf
Vivienne Parry in haar boek Th e Truth
about Hormones (Atlantic Books,
2005). Meer as driekwart van tienersterftes
word veroorsaak deur die
een of ander ongeluk of die soeke na
opwinding. Die storm-en-drang-jare,
noem sommige dit.
Maar of hormone die kwaadstoker
is as jy laatnag by die huis
uitsluip na ’n partytjie toe, is
te betwyfel. In die verlede
is geglo die brein is teen
adolessensie reeds volledig ontwikkel, maar nuwe navorsing wys dat
biologiese volwassenheid eers teen die laat
tienerjare en vroeë twintigerjare bereik
word. In die tienerjare word die senuweeeindpunte
in die voorbrein “gesnoei” om
hulle doeltreff ender te maak. Dit verduidelik
hoekom denkprosesse soos doelwitstelling,
die uitwerk van prioriteite en
impulsbeheer eers later ontwikkel.
“Hormone kan dus glad nie alleen die
skuld vir tienergedrag kry nie. Dit is nie
net testosteroon wat verantwoordelik is
vir gevaarlike optrede nie, maar ook die
onvermoë van ’n onvolwasse brein om
gevaarlike gedrag waar te neem en te beoordeel,”
skryf Vivienne.
Volgens haar is die onvolwasse brein
wat seksuele gedrag betref soos ’n voortsnellende
motor sonder ’n bestuurder. ’n
Tienermeisie het die hormone en liggaamsvorm
van ’n volwasse vrou, terwyl testosteroon
seuns weer elke ses sekondes aan
seks laat dink – dit alles terwyl die brein se
redenasievermoë nog onder konstruksie is!
Hormone sit wel daaragter dat jy nou
so lief is vir slaap. Gedurende puberteit is
daar ’n subtiele verskuiwing van slaappatrone
– die snelgroeifase wat jy in jou
tienerjare beleef, vereis waarskynlik meer
slaap. Dit word gedeeltelik
verklaar deur ’n verhoging van
die melatonienvlakke (die slaaphormoon)
in tieners se bloed.
Wanneer die wekker seweuur in
die oggend lui, dink jou tienerlyf
dit is nog vieruur in die
oggend. Baie tieners
kry deurentyd te min
slaap, iets wat hulle met
dieselfde simptome as
vlugvoosheid laat.
Jong mense het nege uur slaap per nag
nodig, maar as jy soos die meeste tieners is,
sal jy nie voor die vroeë oggendure moeg
voel nie. Navorsers sê dis normaal: Tieners
se sirkadiese ritme veroorsaak dat hulle eers
om en by tweeuur in die oggend vaak word
en dan tot elfuur wil slaap.
Dr. Steve Delport, ’n spesialis in endokrino
logie (die studie van hormone) van
Kaapstad en ’n pa van twee seuns wat reeds
deur puberteit is, sê daar is niks buitengewoons
aan puberteit nie.
“Dit is ’n nor male groeiperiode en moet
so hanteer word. Baie van die tienergedrag
wat ouers rasend maak, kan voorkom
word as ouers hul kinders die regte feite
oor puberteit gee en gereeld met hulle
daaroor praat.
“Ouers dink verkeerdelik dat hul kinders
nou groot is en vertrou dan verantwoordelikhede
aan hulle toe waarvoor
hulle nie gereed is nie,” sê Steve. (Dis
goed om te weet ’n mens se ouers is nie
altyd reg nie!)
“Tieners het hul ouers se ondersteuning
en raad nou nodiger as ooit tevore om
groepsdruk en liggaamsveranderinge te
hanteer.”
In jou tienerjare verander jou selfbeeld,
nes jou liggaam, dramaties. Daarom bring
’n mens ure voor die spieël deur en voel jy
dikwels selfbewus. Jou ouers moet besef dis
normaal dat jy in dié tyd alleen wil wees.
Steve wys ook op groot verskille in
rypingsmylpale tussen die geslagte.
By tienermeisies begin die
snelgroeifase gewoonlik teen om
en by twaalf jaar, maar by party
meisies begin dit reeds op tien of
selfs vroeër. Seuns begin om en by
op veertien met snelgroei,
sommige eers later. Puberteit,
wat veel later begin, kan ’n
ernstige verskynsel wees wat
mediese hulp verg.
“In die meeste gevalle is ’n goeie dosis
geduld al wat nodig is, maar soms moet
kinders medies behandel word,” verduidelik
Steve. Kyk na die mylpale langsaan
om te sien op watter ouderdom watter
verandering plaasvind.
New Page 1
| MEISIES |
GEMIDDELDE OUDERDOM |
ODERDOMREIKWYDTE |
| 1. Borste begin ontluik |
10 |
8-13 |
| 2. Lengtesnelgroei |
10 |
8-13 |
| 3. Skaamhare begin verskyn |
10,5 |
8-14 |
| 4. Piek van lengte-groei |
11,7 |
10-13,5 |
| 5. Eerste maandstonde |
12,5 |
10,5-15,5 |
| 6. Borsgroei voltooid |
14 |
10-16 |
| 7. Skaamhaargroei voltooid |
14,5 |
14-15 |
| 8. Volwasse grootte |
13 |
10-16 |
New Page 1
| SEUNS |
GEMIDDELDE OUDERDOM |
OUDERDOMREIKWYDTE |
| 1.Testes begin groei |
11,5 |
9,5-13,5 |
| 2. Skaamhare begin verskyn |
12 |
10-15 |
| 3. Penis begin vergroot |
12 |
10,5-14,5 |
| 4. Lengtesnelgroei begin |
12,5 |
10,5-16 |
| 5. Eerste ereksie en ejakulasie |
13 |
12-16 |
| 6. Piek van lengtesnelgroei |
14 |
12,5-15,5 |
| 7. Baard verskyn |
14 |
12,5-15,5 |
| 8. Stem breek |
14 |
12,5-15,5 |
| 9. Penisgroei voltooid |
14,5 |
12,5-16 |
| 10. Skaamhare se groei voltooid |
15,5 |
14-17 |
| 11. Volwasse grootte |
15,5 |
13,5-17,5 |
Puisies – hoe nou gemaak?
Dis juis in jou tienerjare, wanneer jy die minste met puisies
wil sukkel, dat hulle kop uitsteek.
ANDERS as wat baie mense dink, het puisies niks te
make met hoeveel sjokolade, koekies, vetkosse,
tamaties of enigiets soets of suurs jy eet nie. Dit
het alles te doen met hormoonvlakke. In tienermeisies en
-seuns word puisies regstreeks verbind met die styging in
die vlak van manlike hormone. By tienerseuns weet almal
dat die vlak van manlike hormone styg as die seuns snor
en baard begin kry en hul stem breek, maar by meisies
styg die vlak van manlike hormone ongesiens omdat dit
oorheers word deur die nog groter styging in die vlak van
vroulike hormone.
As ’n mens dan en wan ’n puisietjie kry, is dit nie nodig
om dit met honderde rome en pille te probeer wegtower
nie, maar as puisies jou gesig begin ontsier en jou pla,
is daar beslis raad. Onthou, alle middels werk nie ewe
goed vir almal nie. ’n Verandering is by sommige tieners
al in die eerste maand sigbaar, maar vir ander kan dit tot
agt weke duur voor die uitwerking van die behandeling
gesien kan word.
Hier is ’n gids vir elke tiener oor hoe om jou vel te
versorg en aknee hok te slaan.
STADIUM 1: Jy is net bekom merd,
maar wil tog net nie puisies kry
nie.
Was jou gesig twee maal per dag
met ’n seep wat sagkens werk. As jy
jou gesig meer dikwels was, kan dit
jou vel irriteer en uitdroog. Vermy
baie warm water, want dit kan aknee
vererger.
Moenie afskilfermiddels, saamtrekmiddels
en maskers gebruik tensy
jou dokter dit voorgestel het nie,
want dit kan ook die vel irriteer en
aknee erger maak.
Moenie aan jou vel druk, vryf of
krap nie. As jy puisies uitdruk, kan
dit tot erger aknee lei.
Ontspan. Stres veroorsaak nie
aknee nie, maar kan dit vererger.
STADIUM 2: Jy kry dan en wan
’n klein puisie of probleme met
swartkoppies.
Soek ’n salf wat bensoïel-peroksied,
alfa-hidroksiesuur of salisielsuur bevat.
Maak seker dat jy nie ’n olierige of
vetterige room of salf gebruik nie, en
ook nie salwe en rome wat alkohol of
allerlei geurmiddels bevat nie.
Dermatoloë beveel aan dat tieners
Cetaphil gebruik om hul gesig mee
te was.
STADIUM 3: Jy sukkel met puisies
maar dis darem nie te erg nie en
dis nie ontsteek nie.
Salisielsuur- of bensoïel-peroksied 5%
(Panoxyl) -room saans is ’n goeie ding.
’n Dermatoloog sal moontlik ’n room
wat tretinoïen (Retin A, retinoïeksuur),
’n vitamien A-derivaat, of adapalien
(Differin) bevat voorskryf, of albei. Retin
A en Panoxyl kan albei velirritasie
en branderige rooi vel veroorsaak en
jou maklik laat rooi brand as jy in die
son kom. As dit gebeur, moet jy net
die room elke tweede aand aansmeer
tot jou vel nie meer so rooi word nie.
Ander middels wat gebruik kan
word, is tazaroteen en plaaslike antibiotika,
maar ’n dermatoloog moet
dit voorskryf.
STADIUM 4: Jy sukkel nogal
met puisies wat ontsteek is en
sommer boos lyk.
Jy kan die oor-die-toonbank-rome
beproef, maar dit is beter as jy by ’n
dermatoloog uitkom voor die puisies
handuit ruk. Hy sal moontlik vir jou ’n
antibiotiese salf soos Eryderm voor -
skryf. Dit is selfs moontlik dat hy vir
jou ’n antibiotikum soos tetrasiklien
sal gee om te drink. Dit is meestal ook
nodig om, saam met die antibiotikum-
kapsules, aan te hou met die
tretinoïen-salf. (Die antibiotikum kan
vroue meer vatbaar maak vir swaminfeksies,
en moet ook nie deur
swanger vroue geneem word nie
aangesien dit die ongebore baba se
tande kan geel maak.)
STADIUM 5: Jy sukkel met
kwaai aknee.
Sake is nou baie erg. Jou aknee is diep,
chronies ontsteekte siste. As jy nog nie
by ’n dermatoloog uitgekom het nie,
maak ’n plan, want daar is raad. Die
dermatoloog sal moontlik die middel
isotretinoïen (Roaccutane) voorskryf.
Dit het potensieel ernstige neweeff
ekte en die dokter sal jou bloed trek
en jou lewerfunksies monitor terwyl jy
dit gebruik. Die middel moet beslis nie
deur swanger vroue gebruik word nie
omdat dit sleg kan wees vir die
ongebore baba. Dit kan ook soms tot
depressie lei, en ouers moet tieners
wat dit gebruik goed dophou. Die
middel is egter baie doeltreff end en
kan tussen 70 en 80 persent van kwaai
aknee binne vyf maande laat opklaar.
Die anti-androgeniese kontraseptiewe
pil bekend as Diane-35 kan baie
tienermeisies of vroue help om hul
aknee onder beheer te bring, maar
dit het newe-effekte: ’n Meisie kan
makliker vetter word, meer emosioneel
voel en pigmentasievlekke op
haar gesig kry.
Dan is daar nog behandelingsmetodes
soos chemiese skuurmetodes,
laser en die verwydering
van littekenweefsel.
Teen centre
|