|
Al lê die berge nog so blou
Wit kneukels en angssweet – of ’n
heerlike berguitstappie? As jy lid is
van die Spiderman-brigade, sal jy
weet dis laasgenoemde. Komaan,
ontdek nuwe hoogtes . . .
Deur Mark Johnston
HET jy onlangs jou kinders op ’n binnemuurse klimapparaat losgelaat? Nog
nie? Dan’s dit nou tyd. Ál meer gesinne ontdek dat rotsklim allesbehalwe ’n
gevaarlike sport vir waaghalse is. Dis eintlik ’n wonderlike, bevredigende sport
wat nie net jou liggaam oefening gee nie, maar ook jou brein. Blote krag is
nie genoeg om jou liggaam teen ’n rotswand op te hys nie – jy moet ook kan
besluit watter handgrepe om te gebruik, wanneer om jouself verder te dryf en wanneer om ’n
blaaskans te vat. Dis eintlik baie soos skaak, want jou strategie bepaal jou sukses.
Bergklim is uitstekende oefening vir jou hele lyf. Elke spiergroep word gebruik as jy jou moet
optrek, opstoot en strek om die volgende hand- of voetgreep te bereik. Navorsing wys dat net ’n
bietjie blootstelling aan rotsklim al lei tot ’n waarneembare verbetering in spierkrag, soepelheid
en kardiovaskulêre uithouvermoë.
Daar is drie soorte bergklimsport. By tradisionele bergklim is daar ’n leier wat spesiaal ontwerpte
stukke toerusting in die oorhange en skeure inpas om die veiligheidstou mee vas te
maak. Dis ’n stadige proses en kan gevaarlik wees as jy nie ’n geskikte vasmaakplek in die rots kry
nie. Wanneer ’n rots te steil of glad is om toerusting aan vas te maak, moet die klimmers boute
as ankers gebruik. Die boute word in die rots ingeboor. Dié soort aktiwiteit is aansienlik vinniger
en veiliger en word sportklim genoem. ’n Mens kry ook rotsklim, waar die klimmers vasvatplek
met hul vingers op kleiner rotse en berghange vind. Die roetes is kort, gewoonlik net ’n paar
klimgrepe, maar die klimproses self is ongeloofl ik uitdagend. Binnemuurse klimgimnasiums bied
’n veilige, beheerde omgewing waar jy jou klimgrepe kan oefen en sterker kan word. Sommige
bied ook beginnerskursusse aan.
Maar rotsklim gaan oor baie meer as om aan plastiekvasvatplekke teen ’n muur te klou.
Die eintlike avontuur begin in die natuur. In die berge. Op regte, egte rots. En hier in die suide
van Afrika is ons geseën met die interessantste en grootste verskeidenheid rotsformasies ter
wêreld, van die indrukwekkende basaltiese hange van die Drakensberg tot die pragtige oranje
sandsteen van die Sederberg. Ons het die beste plaaslike roetes vir jou uitgesoek.
1. SEDERBERG: TAFELBERG STANDAARD-ROETE
Gradering Maklik. Geskik vir beginners. Daar
is net een kort gedeelte wat ’n bietjie dink- en
klimwerk verg, maar daar is ’n ketting en jy het
dus geen toue of spesiale toerusting nodig nie.
Hoe fiks moet ek wees?
Al is die klimgedeelte kort
en maklik, is die stappie teen
Tafelberg op taamlik steil, dus
sal dit beter wees as jy taamlik
stapfiks is.
Waar?
Die Sederberg, Wes-Kaap.
Is dit die klim werd?
Al is Tafelberg nie die hoogste piek in
die Sederbergreeks nie – dié eer behoort
aan Sneeuberg, wat jy aan die ander kant
van die vallei kan sien – is dit ’n gewilde
roete danksy die beroemde plat bokant
en die feit dat jy moet klouter om die piek
te bereik.
Tyd Sit ’n hele dag opsy vir die uittog van
die Welbedacht-parkeerterrein en terug.
Baie mense maak sommer ’n naweek
daarvan en oornag in die Tuitgrot aan die
onderkant van Tafelberg.
Roetebeskrywing Volg die roete van
die eikebome by Welbedacht oor die rivier
en teen die vallei op tot by die Welbedachtgrot.
Jy kry dan ’n kort maar uiters welkome
plat gedeelte voor die paadjie weer steil
word op pad na die nek tussen Tafelberg en
die Tuit – die rotstoring wat die piek uit ’n
sekere hoek soos ’n teepot laat lyk. Van daar
af kronkel die pad onder die dramatiese rooi
hange deur na ’n rotskloof wat steil tot op
die kruin van die berg lei.
Gids Peter Slingsby se Cederberg:
The Map (www.themaps.co.za) is ’n
goeie algemene gids oor dié gebied,
maar Tony Lourens se nuwe gids, Tafelberg
& Spout, Central Cederberg, Western
Cape: a Climber’s Guide, bied ’n meer
gedetailleerde beskrywing van rotsklim
op Tafelberg. Jy kan dit by bergklim -
winkels kry.
Toegang Jy het ’n permit nodig om
Tafelberg te besoek, wat jy by Cape Nature
kan koop. Wild Card-houers kry afslag.
Kontak: www.capenature.co.za, 021-659-3500
2. TAFELBERG REGTERKANT-BOOGKANTDWARSKLIM
Gradering Geskik vir beginners. Die roete is maklik, maar
daar is ’n paar kort ente waar jy teenaan afgronde moet
klouter, dus moet jy nie skrikkerig wees vir hoogtes nie.
Hoe fiks moet ek wees? Taamlik fiks. As jy gereeld
stap, sal jy nie probleme hê nie.
Waar? Die roete oorkruis die Afrika-amfi teater aan
die voorkant van Tafelberg.
Is dit die klim werd? Dis die klassieke klim van
Tafelberg, met sy fantastiese afgronde en asemrowende
uitsig oor Kaapstad en die Atlantiese Oseaan.
Tyd Sowat vyf uur vanaf die onderste kabelkarstasie by
die Tafelberg-pad.
Roetebeskrywing Klim vanaf die onderste
kabelkarstasie teen die gewilde India Venster-pad op
tot teenaan die onderkant van die boonste rotshange.
(Wees versigtig, want dié roete het wel ontblote
kloutergedeeltes.) Waar die pad regs in die rigting van
Kampsbaai begin neig, draai links en volg die onderste
van drie prominente bosagtige rotslyste wat oor die
bergwand sny. Die roete kronkel al langs dié lys en neem
jou oor ’n hindernisroete bo-oor rotse en ’n reeks smal
skeure tot jy aan die ander kant in Union-ravyn uitkom.
Gids Adventure Walks & Scrambles in the Cape Peninsula:
deur Karen Watkins, by Mountain Mail Order, 021-790-
6026, www.mountainmailorder.co.za
Toegang Geen permit is nodig nie.
Kontak: Tafelberg Nasionale Park
www.sanparks.org/parks/table_mountain 021-701-8692
3. WATERVALBOVEN SPORTKLIM
Gradering Daar is meer as vyfhonderd geboute sportroetes.
Dit wissel van ’n maklike tot ’n moeilike gradering.
Hoe fiks moet ek wees? Omdat daar so ’n wye
verskeidenheid roetes beskikbaar is, is daar iets vir
almal – van beginner- tot ratse klimmers.
Waar? Net buite die dorpie Waterval-Boven in
Mpumalanga, sowat twee uur se ry vanaf Pretoria.
Is dit die klim werd? Waterval-Boven is dié
vakansie-klimbestemming vir werkmoeë Gautengers.
Die atmosfeer is heerlik, daar is amper te
veel roetes om uit te kies en die rooi sandsteenrotse
bied van die beste klimervarings in die land.
Tyd Jy kan kies. Klim ’n paar roetes en ontspan dan in
die kamp, of bring die hele dag tussen die rotse deur.
Roetebeskrywing Vir volledige roetebeskrywings,
raadpleeg die Boven-gidsboek (besonderhede hier
onder). Beginners kan wegspring by die Flying Is
Fun- en Hallucinogen-wand. Die Crèche (aan die
Tranquilitas-wand) het ook ’n paar maklike graderings.
Vir meer uitdagende roetes, meet jou kragte met die
Superbowl- en God No!-klim.
Gids The Restaurant (At the End of the Universe
Crags) deur Gustav Janse van Rensburg is die beste
gids vir klimme in dié gebied.
Toegang Daag op en klim!
Kontak: Roc ’n Rope Adventures is die plaaslike
spesialis en bied ook verblyf en begeleiding. Jy kan
ook by hulle toerusting huur of koop. www.rocrope.com, 013-257-0363
4. SENTINEL-PIEK ANGUS LEPPAN-ROETE
Gradering Dit is ’n tegniese klimervaring en jy
sal toue en die regte klimtoerusting nodig kry. Die
graad is 17.
Hoe fiks moet ek
wees? Taamlik fiks.
Behalwe die spitshelling is
die klim self oor die algemeen
heel maklik.
Waar? Sentinel-piek,
Noord-Drakensberg.
Is dit die klim werd? Die Angus
Leppan is ’n klassieke klimterrein wat met
verrassende gemak teen die Sentinel se
angswekkende steil noordelike wand
uitkronkel. Die rots is van ’n taamlik goeie
gehalte. Terwyl baie Drakensberg-klimme
pynlik lang staptogte behels voor jy kan
begin klim, begin dié roete tussen een
en twee uur vanaf die Witsieshoekparkeerterrein.
Dit is ’n gemaklike stappie.
Tyd Ses tot sewe uur heen en weer.
Roetebeskrywing Volg die gevestigde
pad van die parkeerterrein in die rigting van
die kettinglere en Mount-Aux-Sources. Dit
loop reg onder die noordelike wand van die
Sentinel verby en skiet dan om die hoek regs
na die piek se agterkant. Daarvandaan sal jy
’n diep, grasbegroeide sloot sien wat tussen
die hoofkruin en ’n kleiner spits op linkerhand
oploop. Jy sal aan die bokant van dié sloot,
aan die regterkant, begin klim.
Gids Daar is tans geen klimgidse vir die
gebied beskikbaar nie, maar jy kan ’n
uitstekende roetebeskrywing afl aai van die
Bergklimklub van Suid-Afrika se webtuiste,
www.kzn.mcsa.org.za/berg/bsentrds.html.
Toegang Koop permitte by die wag by
die blyplek vir rugsakstappers langs die
Witsieshoek-parkeerterrein.
Kontak: www.drakensberg.kzn.org.za,
036-438-6310
Vir begeleide klimme teen die Sentinel- en
ander Drakensberg-pieke, bel Peak High
Mountaineering by 033-343-3168 of besoek
www.peakhigh.co.za.
5. SPITZKOPPE NORMALE ROETE
Gradering Dis ’n tegniese
rotsklim met ’n gradering van
17. Al is die roete wel hier en
daar gebout, sal jy tradisionele
toerusting nodig kry.
Hoe fiks moet ek
wees? Baie fiks. Daar
is steil ente, ontblote
kloutergedeeltes en verskeie
touklimme.
Waar? In die middel van die
Namib-woestyn, sowat 300 km noordwes
van Windhoek.
Is dit die klim werd? Natuurlik! Geen
rotsklimmer sal dié stuk granietspits wat
so trots bo die woestyn uittoring, kan
weerstaan nie!
Tyd Volgens die gids duur dit omtrent ses
uur vanaf die kampeerterrein tot by die kruin
en terug kamp toe, maar dis natuurlik as alles
vlot verloop. Dit kan nogal ’n storie wees
om die roete te kry en dis nie ongehoord
dat klimgroepe partykeer ’n hele dag op die
berg deurbring nie. Begin so vroeg moontlik
(voor sonsopkoms) om te keer dat die son jou
uitmekaar bak.
Roetebeskrywing Dis ’n waarlik avontuurlike
klimslag vol moeilike klouterplekke,
’n skoorsteen waardeur jy moet wikkel en
selfs ’n verpligte abseil. Die roete begin
aan die oostekant van die berg en word
aangedui deur klipbakens na die noordelike
kant van die piek, waar die klim in alle erns
begin. Vyf pieke wat met toue toegerus is,
lei na die bergspits.
Gids Spitzkoppe & Pontoks – Namibia:
A Climber’s Guide deur Eckhard Haber,
verkrygbaar by Mountain Mail Order,
021-79006026, www.mountainmailorder.co.za.
Toegang Die Spitzkoppe-gebied is
toeganklik vir almal en jy hoef nie te bespreek
nie. Jy moet egter permitte by die reservaat
se ingang koop.
Kontak: Namibiese afdeling van
die Bergklimklub van Suid-Afrika,
http://nam.mcsa.org.za/
KLIMGRADERING ROTSKLIMME WORD VOLGENS ’N NUMERIESE STELSEL GE GRADEER. HOE HOËR DIE GETAL, HOE MOEILIKER DIE ROETE:
10 en laer: Maklike klimme,
geskik vir ’n Sondagmiddagklouter.
Ruim vashouplek, ’n
gemaklike helling en genoeg
rusplekke om asem te skep.
10 – 15: Gemiddeld. Geskik
vir mense met ’n bietjie meer
ervaring. Die grepe is eff ens
kleiner, dus is meer vinger- en
armkrag nodig.
15 – 20: Gemiddeld tot moeilik
– meer onafgebroke klimme
met steil rotswande of klein
handgrepe. Moenie klimme
met dié gradering aanpak as jy
min ervaring het nie.
20 en hoër: Ongeloofl ik
moeilike klimme wat liefs
aan die bergbokke oorgelaat
moet word!
Rus jou toe
Skoene Rotsklimmers gebruik styfpassende skoene met spesiale rubbersole
wat nie maklik op rots gly nie.
Tou Ma se wasgoedlyn is ongelukkig nie goed genoeg nie! Die korrekte klimtou
het ’n anti-wrywingskede wat ontwerp is om eff ens te strek om van die gewig te
kan hanteer as jy val.
Harnas In die ou dae het klimmers bloot tou om hul middel geknoop, maar
vandag bied opgestopte harnasse baie meer gemak en veiligheid.
Krytsakkie Net soos gimnaste gebruik klimmers poeierkryt op hul hande om
die sweet te absorbeer sodat hulle ’n beter greep kan hê.
Ophoutoestel Pleks daarvan om die tou met die hand vas te hou indien die
ander klimmer sou val, maak klimmers staat op ’n ophoutoestel waar wrywing
gebruik word om die tou styf te laat trek en in posisie te hou.
Carabiners Dié sterk metaalknippe word gebruik om die tou vas te maak aan
die boute of enige ander beskerming wat jy in die rotse plaas.
SLUIT AAN BY DIE BERGKLIMKLUB
Wil jy graag ander klimmers ontmoet?
Is jy nie seker waar in die berge om
heen te gaan nie? Sluit dan aan by die
Bergklimklub van Suid-Afrika (MCSA),
’n landwye organisasie vir aktiewe
klimmers, rotsklimmers en bergklimmers.
Dié organisasie bied gereelde
byeenkomste, opleidingsprogramme en
ander bergverwante aktiwiteite aan.
Vir nog inligting oor die MCSA of om
aan te sluit, bel 021-465-3412 of besoek
www.mcsa.org.za.
BINNEMUURSE KLIMGIMS
Johannesburg Wonder Wall: 011-708-6467, www.wonderwall.co.za
Pretoria The Climbing Barn:
082-335-3220, www.climbingbarn.co.za
Kaapstad CityRock: 021-447-1326, www.cityrock.co.za
Durban The Rock: 031-570-9200
Click here for more on rock climbing
|