|
Dodelike kieme
Dit lyk asof
die nuwe soort
superkieme besig is
om die oorhand oor
mense te kry. Is ons
medisyne sterk genoeg
om dié gevaarlike kalante
die doodskoot te gee?
Deur dr. Greg Calligaro
STEL jou die volgende voor:
Open bare plekke is verlate, leë
treine ry in en uit by stasies en die
paar passasiers wat dit nog waag om
openbare vervoer te gebruik, loer
wantrouig agter hul gasmaskers uit. Op lughawens
bespied die sekuriteitsmense inkomende passasiers
met hittegevoelige beeldkameras waarop dié wat
moontlik besmet is, se koors hulle in ’n infrarooi
gloed laat uitstaan. In die voorstede is verdagtes
onder kwarantyn, dopgehou deur videokameras en
gebrandmerk deur elektroniese pols-etikette wat
elke beweging monitor. As ’n vreemdeling hoes of
snuif, is daar paniek – die dood is in die lug.
Dit klink soos ’n skrikaanjaende toekomsvisie
uit ’n wetenskapsfi ksie-fliek, maar dit was werklike
scenario’s in Asiatiese stede soos Bangkok en Singapoer
tydens die ears- (ernstige akute respiratoriese
sindroom-) epidemie. Dié virus het einde 2002 in
die provinsie Guangdong in China kop uitgesteek,
maar wêreldwyd paniek gesaai toe dit meer as 8 000
mense aangesteek en 774 sterftes van Asië tot in
Noord-Amerika veroorsaak het.
Die wêreld het in baie opsigte lig daarvan af gekom:
Die siekte het verdwyn sonder om ’n wêreldwye
pandemie te word. Danksy vinnige optrede
kon dokters die uitbreking hokslaan. Deskundiges
sê die volgende keer as ’n dodelike kiem toeslaan,
sal ons dalk nie weer so gelukkig wees nie – hulle
waarsku dat die omstandighede vir die ontstaan en
verspreiding van so ’n kiem deesdae ideaal is.
“ ’n Virus leef net ’n 24-uur-vlug ver van
elke stad op aarde,” skryf Richard Preston in sy
blitsverkoper Th e Hot Zone. “Wanneer dit die
lugdiensnetwerk tref, kan dit binne ’n dag enige
plek ter wêreld bereik – Parys, Tokio, New York,
Los Angeles. Oral waarheen daar vliegtuie is.” Met
internasionale stralerverkeer kan mense wat met so
’n siekte besmet is, hul ongewenste “passasiers” na
verre lande of na hul families by die huis saamdra
selfs voor die eerste simptome kop uitsteek.
Dit is egter nie net die doeltreff ende inter nasionale
vervoer wat die omstandighede ryp gemaak
het vir ’n wêreldwye epidemie nie. Verskeie ander
mens like aktiwiteite het tot die verskyning en ver -
spreiding van nuwe siektes gelei. Die vernietiging
van die reënwoude en menslike inbreuk op natuurlike
leefwêrelde, gepaardgaande met die ontwikkeling
van nuwe dorpe en huisvestings in landelike
gebiede, lei tot kontak tussen mense en diere en hul
onbekende mikrobes.
Veranderings in die landbou, soos die bekendstelling
van nuwe gesaaides, trek op hul beurt nuwe
landbouplae aan wat boerdery gemeenskappe aan
onbekende siektes blootstel.
En die snelle groei van stede in baie ontwikkelende
lande veroorsaak dat groot getalle mense
in oorbevolkte gebiede met swak sanitasie saamtrek.
In sulke omstandighede vier dié aansteeklike
siektes hoogty.
Dodelike kieme op vrye voete
Die bedreiging van ’n nuwe
wêreld wye siekte het onlangs
op die horison verskyn. H5N1-
griep, algemeen bekend as
voëlgriep, is ’n subtipe van die
Infl uenza A-virus wat voëls
besmet, maar ook siekte onder
mense kan veroorsaak. Dit kom
in die natuur onder baie voëlbevolkings
in Suidoos-Asië voor,
maar is besig om wêreldwyd te
versprei en het reeds tientalle
miljoene voëls afgemaai. Dit het
ook gelei tot die onvermydelike
uitdunning van nog honderde
miljoene voëls, huis-pluimvee
inkluis, om die verspreiding van die virus
te stuit.
Tot dusver is dit net mense wat siek
voëls hanteer het wat aangesteek is, maar
as die virus muteer of ’n samestelling
vorm wat maklik van mens tot mens
oorgedra kan word, kan ons met ’n
wêreldwye noodtoestand te kampe hê.
In 2003 het die wêreldbekende viroloog
Robert Webster in ’n verslag geskryf die
wêreld staan op die rand van ’n pandemie
wat ’n groot deel van die menseras kan
uitroei. Hy het nie geoorreageer nie – daar
word geskat dat die uitbreek van die ver -
nietigende Spaanse Griep van 1918 en
1919 tussen 25 en 50 miljoen mense
doodgemaak het.
En net in November verlede jaar het
die dodelikste kiem wat aan die mensdom
bekend is, die Ebola-virus, weer vanuit sy
onbekende tuiste in die woude van Sentraal-Afrika in Uganda te voorskyn gekom
en nege uit elke tien mense wat daardeur
besmet is, doodgemaak. Dis ’n pynlike
dood en kom daarop neer dat die virus
binne ’n paar dae die interne organe
van die liggaam laat oplos en oral
bloeding veroorsaak – en daar is geen
geneesmiddel nie.
Hoe is dit moontlik dat ons nog so
kwesbaar vir aansteeklike siektes is, terwyl
daar gesofistikeerde antibiotika beskikbaar
is en ’n mens deurentyd van antivirale
deurbrake hoor?
Nie te lank gelede nie het dokters
gedink hulle het aansteeklike siektes
vir altyd hokgeslaan. Pokke is uitgewis,
daar is doeltreff ende inentings teen
polio en geelkoors ontwikkel, en
met die ontdekking van penisillien
en ander antibiotika was daar skielik
behandeling vir sulke oeroue siektes
soos sifi lis, melaatsheid en selfs die
builepes uit Bybelse dae. Siektes soos
witseerkeel, kinkhoes en klem-in-diekaak
was skynbaar iets van die verlede.
Wetenskaplikes het geglo dit was net ’n
kwessie van tyd voor ons fi naal vry sou
wees van die donker tye toe mikroskopiese
indringers uit ’n onsigbare wêreld
ons bestaan kon bedreig.
Louis Pasteur, een van die vaders van
mikrobiologie en uitvinder van die entstof
teen ’n ander gevreesde virus, hondsdolheid,
het gespog dat elke aansteeklike
siekte eendag net so maklik oorwin sal
kan word.
Niemand glo dit vandag meer nie. Ten
spyte van die arsenaal medisynes waaroor
die moderne wetenskap in die oorlog
teen dodelike siektes beskik, is dodelike
infeksies steeds vir almal oor die wêreld
heen ’n bedreiging. Wetenskaplikes van
die Amerikaanse Centers for Disease
Control and Prevention (CDC)
het reeds gewaarsku dat ons
’n tydperk betree het waar die
spektrum van aansteeklike
siektes besig is om uit te brei –
en dat baie aansteeklike siektes
wat skynbaar onder beheer was,
besig is om toe te neem.
Daar gaan skaars ’n week
verby sonder dat ’n verslag in
die media of wetenskaplike pers
oor die een of ander uitbreking
verskyn: Die pes in Indië,
“vleesetende” Streptococcus
in Brittanje, weerstandige
Staphylococcus in Amerikaanse
hospitale of moeilik behandelbare
wondbesmettings onder
soldate wat terugkeer uit Irak. Aan die
tuisfront hoor ons van diarree-epidemies
in Delmas in Mpumalanga, en ’n uitbreking
van ’n weerstandige bakteriële
infeksie in ’n waakeenheid vir pasgebore
babas in KwaZulu-Natal. Ons het ook
ons eie weergawe van Ebola: ’n Virus
met die naam Krim Kongo hemoragiese
koors, wat deur bosluise oorgedra word,
sporadies en onverwags te voorskyn
kom en mense, veral plaaswerkers, in
plattelandse gebiede doodmaak.
Ons skietgoed raak op
Selfs die ou dodelike kieme, dié wat ons
gedink het ons verslaan het, het intussen
geleer om by ons wondermedisynes aan
te pas. Dit behoort eintlik geen verrassing
te wees nie – bakterieë is per slot van
rekening die suksesvolste organismes op die
planeet. Hulle het oor miljoene jare geleer
om by elke moontlike ekologiese variasie
aan te pas, van vuurwarm swa welfonteine
tot die bodem van die see. Net menslike
verwaandheid het ons laat dink ons kan
hulle binne vyftig jaar met ons versameling
chemiese wapens uitwis.
“Ongelukkig is bakterieë slimmer as
mense,” sê die Amerikaner dr. Harold Neu
van Columbia-universiteit in die joernaal
Science. “Om mee te begin, is ons hopeloos
in die min derheid. Selfs in ons eie
liggaam is daar tien keer meer bakterieë
wat ons vel en spysverteringskanale koloniseer,
as selle.”
Die sleutel tot hul vermoë om ’n
weerstand teen antibiotika op te bou, is
die feit dat hulle kan leer om te muteer of hul genetiese struktuur te verander.
In iemand met ’n aktiewe infeksie kan
elke individuele bakterie tot elke twintig
minute repliseer. Met elke verdeling
ontwikkel daar spontane mutasies in hul
DNS. Terwyl die meeste van die blinde
herskommelings eienskappe ontwikkel
wat óf nutteloos óf verswakkend is, gebeur
daar elke dan en wan iets wat ’n spesifi eke
bakterie ’n oorlewingsvoordeel gee – soos
die vermoë om medisyne uit hul selle uit
te pomp of ensieme te vervaardig wat dit
vernietig.
Streptococcus pneumoniae, die bakterie
wat meestal longontsteking
en breinvliesontsteking
veroorsaak, is deesdae dikwels
penisillien-weerstandig. En
die gevreesde Staphylococcus
aureus (MRSA), een van
die sogenaamde superhospitaalkieme,
is besig om
toenemend weerstandig teen
behandeling te word.
’n Nog meer onrusbarende feit is dat
dié weerstandige bakterieë reeds gesonde
mense buite ons hospitaalsale aanval.
Die onverskillige, oormatige gebruik van
antibiotika en die feit dat oorywerige dokters
dit te maklik voorskryf, dra in ’n groot
mate die skuld hiervoor. Volgens ’n studie
wat in die Journal of the American Medical
Association verskyn het, is bevind dat
die helfte van pasiënte met ’n doodgewone
verkoue antibiotika gekry het, hoewel dit
net doeltreff end is teen bakterieë en ’n
verkoue deur ’n virus veroorsaak word.
Menslike gedrag maak dinge net erger.
Pasiënte neem dikwels nie gereeld hul
antibiotika nie, of hou op om dit te neem
wanneer hul simptome verbeter, voor die
infeksie heeltemal opgeklaar het.
As daar nie genoeg van ’n spesifi eke medisyne
toegedien word nie, is daar vinnig
meer van die taaier en sterker bakterieë as
van hul tingerige maats, wat die ontwikkeling
van weerstandige mutasies aanmoedig.
Stroop ons die arsenaal?
In ’n onlangse deurbraak teen griep het
wetenskaplikes die antivirale middels
Relenza en Tamifl u geskep – die eerste
doeltreff ende behandeling teen die virus.
Aangesien dié medisyne ook teen voëlgriep
werk, het byvoorbeeld Amerika enorme
hoeveelhede hiervan vir ’n moontlike
pandemie opgeberg.
Ongelukkig lyk dit nou asof die griepvirusse
besig is om ’n weerstand daarteen
op te bou. Wanneer ’n ware pandemie
toeslaan, sal ons dalk niks meer vuurkrag
in ons arsenaal oorhê nie.
Antibiotika word ook deurentyd deur
die landbousektor misbruik: Veeboere
voeg dit by voer om groei aan te moedig
en siektes te voorkom. Weerstandige
organismes kan dan vanaf diere of diereprodukte
na mense oorgedra word.
Tuberkulose het ook al geleer om die
wetenskaplikes te uitoorlê. TB is ’n
buitengewoon taai en stadig groeiende
kiem en word gewoonlik behandel met ’n
kombinasie van vier middels wat saam ses
maande lank gebruik word.
Indien pasiënte se behandeling onvoldoende
is – óf omdat hulle nie die voorgeskrewe
middels korrek neem nie, óf
omdat laegehalte-medisyne gebruik word
– kan sogenaamde multimiddel-weerstandige
TB (MDR-TB) ontstaan.
Hoewel dit nie aansteekliker as normale
TB is nie, is dit ’n belangrike gesondheidskwessie
aangesien die behandeling langer
duur en die medisyne duurder is.
Uitgebreide middelweerstandige TB
(XDR-TB), wat ook ’n weerstand teen
party van dié duurder middels opgebou
het, het onlangs in Suid-Afrika sy verskyning
gemaak. Ons behandelingsopsies is
besig om op te raak.
In Suid-Afrika het TB natuurlik ’n selfs
meer noodlottige krygskameraad: die
menslike immuun gebreksvirus (MIV),
wat vigs veroorsaak. So het ’n oeroue
bakterie en ’n taamlik nuwe virus ’n
bose bondgenootskap gevorm. Byna die
helfte van alle pasiënte by wie TB deesdae
gediag noseer word, is ook draers van die
MI-virus.
Openbare vyand nommer een
MIV/vigs is seker die grootste nood toestand
van ons geslag wat aansteeklike siektes
betref. Dit is in 1981 ontdek en volgens
’n skatting van die Wêreldgesondheidsorganisasie
het die MIV-virus reeds meer as
25 miljoen mense doodgemaak, die meeste
in Afrika suid van die Sahara. Dit is een
van die mees vernietigende pandemies in
die geskiedenis en veral ’n derduiwel omdat
sy slagoff ers (anders as in die geval van
Ebola, wat mense binne ure kan doodmaak)
’n klompie jare taamlik gesond bly. Dit
beteken daar is oorgenoeg
geleentheid dat hulle dit aan
ander kan oordra.
Tot dusver was alle pogings
om die verspreiding van
MIV hok te slaan deur ’n
doeltreff ende entstof te
ontwikkel onsuksesvol.
Daarvoor is die proteïene
wat die virus omring te
veranderlik en sy vermoë
om te muteer te suksesvol.
MIV fassineer deskundiges op die
gebied van aansteeklike siektes veral omdat
dit die bastion aanval wat gewoonlik al
die mikroskopiese pestilensies terughou:
ons immuunstelsel. MIV besmet en maak
die bataljonne gespesialiseerde witbloedselle
dood en verswak so besmette pasiënte
se immuunstelsel tot hulle vatbaar raak
vir elke moontlike aanval. Die gevolg?
’n Magdom opportunistiese mikrobes
wat gewoonlik maklik deur ’n gesonde
immuunstelsel weggevee sou word, oorrompel
die liggaam se verdedigingstelsel
en veroorsaak siektes.
Slaggereed?
Eerder as om die situasie te probeer red, lyk
dit asof die farmaseutiese bedryf se idees
aan die opraak is. Party van die grootste
maatskappye (Bristol-Myers-Squibb, Eli
Lilly, Roche en meer onlangs Bayer) het hul
navorsing oor nuwe antibiotiese middels
ten gunste van meer winsgewende opsies
laat vaar. Sedert 2000 het net sewe nuwe
antibiotika kliniese toetse geslaag, vergeleke
met dertig in die vorige dekade.
Ná die valse bravade van die vorige eeu
het ons deesdae nuwe respek vir dié kieme,
veral aangesien dit op die oomblik lyk asof
hulle besig is om die stryd te wen.
Al die nuus is darem nie net sleg nie.
Al is antiretrovirale middels nie geneesmiddels
nie, het hulle ’n omwenteling
in die behandeling van pasiënte met vigs
teweeggebring. Dit stel hulle in staat om
hul immuniteit te herwin en feitlik ’n
normale lewe te lei.
Die soektog na nuwe vorms van behandeling
duur voort, met hulp uit ’n paar
onverwagte oorde. In 2006, nadat hulle
250 000 natuurlike ekstrakte ondersoek
het, het wetenskaplikes van Merck
Pharmaceuticals besonderhede gepubliseer
van ’n nuwe antibiotikum wat uit
’n grondmonster in Suid-Afrika verkry
is. Dit word platensimisien genoem en
maak baie soorte bakterieë dood, MRSA
inkluis. Indien dit kliniese toetse slaag,
sal dit slegs die derde splinternuwe klas
antibiotika wees wat die afgelope vier
dekades ontwikkel is.
En in die woude van Noord-Europa
het navorsers ’n klein swart sampioentjie
gevind wat die eerste van ’n moontlike
nuwe klas antibiotika en antiretrovirale
middels kan wees. Dit word defensiene
genoem – ’n soort proteïen wat aktief
teen bakterieë en omhulde virusse is. Op
sekere gebiede was die moderne wetenskap
nog nooit so goed toegerus om die
bedreiging van nuwe siektes die hoof
te bied nie, met beter laboratoriumtegnieke
wat ons in staat stel om siektes
veel vroeër op te spoor.
Dr. Joe Jarvis, ’n plaaslike deskundige
op die gebied van aansteeklike siektes wat
navorsing doen oor ’n soort swam-breinvliesontsteking
wat vigspasiënte aantas,
sê egter die volgende: “Om te voorkom
dat ons ’n toekoms tegemoetgaan waar
kieme weer eens dood en verwoesting
saai, sal meer verg as bloot nuwe wondermiddels.”
Antibiotika sal wêreldwyd in gesondheidsorg
en die landbou verstandiger gebruik
moet word. Natuurlik is beter tegnieke
ten opsigte van die ontwikkeling van
nuwe medisyne ook ’n vereiste.
Gesondheidsowerhede moet op ’n
gereedheidsgrondslag bly om uitbrekings
te beheer voor dit in epidemies ontaard.
In ontwikkelende lande waar cholera en
disenterie deur oorlog, armoede, oorbevol-
king en swak sanitasie veroorsaak word,
is die voorsiening van skoon water en
toegang tot basiese gesondheidsorg steeds
van kardinale belang.
Ons beste verdediging
Op persoonlike vlak is daar baie wat ons
kan doen om ons te verdedig teen die
kieme waarmee ons in aanraking kom.
Die gebruik van kondome en veiliger
seksuele gedrag – strategieë wat op die
samewerking van individue staatmaak,
nie wetenskaplikes of dokters nie – bly
ons grootste staatmakers in die stryd teen
MIV/vigs. Eenvoudige maatreëls soos om
jou hande te was, wat in die negentiende
eeu die eerste keer voorgestel is, is vandag
net so belangrik om die verspreiding van
besmetting in hospitale te voorkom.
Om seker te maak dat kinders al hul inentings
kry, bly een van die beste maniere
om hulle teen potensieel dodelike virusse
soos masels en polio te beskerm.
Daar is nie noodwendig ’n pil vir elke
skeet nie, dus is dit ’n goeie idee om
alternatiewe strategieë te ondersoek. As jy
’n verkoue het, kan jy skerp kos eet –
brandrissies bevat ’n natuurlike ontstuwingsmiddel.
Eet kool as jy ’n maagseer
het – die sap daarvan bevat ’n middel
met die naam sulforafaan wat die bakterie
Helicobacter pylori, wat 90 persent van
alle maagsere veroorsaak, doodmaak. En
jy kan sinktablette suig vir ’n seer keel –
volgens studies gee sink die liggaam se
immuniteit ’n hupstoot.
Jou ma was reg. Baie van die raad
wat dokters teen alledaagse huishoudelike
kieme gee, is basies gewone, outydse
higiëne: Was jou vrugte en groente, skrop
jou snyplank nadat jy rou vleis daarop gesny
het, en gebruik ’n bleikmiddel – wat
ten spyte van al die wonderlike middels
op die winkelrakke ’n uitstekende skoonmaakmiddel
vir byna alles bly.
Maar kieme is oral om ons. Dit maak
nie saak hoe hard ons probeer nie, ons sal
nooit heeltemal daarin slaag om siektes
te voorkom nie. Ons beste strategie om
siekte te bekamp, is om ons immuunstelsel
slaggereed te hou. Stres, sigaretrook,
’n swak dieet en ’n tekort aan slaap
verswak die immuunstelsel en maak ons
vatbaar vir besmetting, of maak dit vir
ons moeiliker om ná ’n siekte te herstel.
Dit is beter om uit die staanspoor ’n paar
voorsorgmaatreëls te tref en seker te maak
jy is gesond, as om elke keer dokter toe
te hardloop. Voorsorg voorkom altyd
nasorg!
Hoe ’n griepepidemie die
wêreld kan tref
As die H5N1-voëlgriepvirus muteer en
maklik van mens tot mens oorgedra word
(soos blyk uit gebeure in Indonesië) sodat
dit so dodelik raak soos die 1918-griep, kan
dit tot die volgende scenario lei:
New Page 1
| |
DIE 1918-GRIEP |
VANDAG |
| Jaar |
1918 |
2008 |
| Wêreldwye bevolking |
1,8 biljoen |
6,5 biljoen |
| Hoof-vervoermiddels |
Troepeskepe, treine |
Vliegtuie |
| Tyd wat dit verg vir die virus om alle
uithoeke van die planeet te bereik |
Vier maande |
Vier dae |
| Beskermings- en voorkomingsmaatreëls |
Maskers en antiseptiese middels |
Griep-inentings |
| Behandeling |
Bedrus, aspirien |
Antivirale middels soos Relenza en
Tamiflu |
| Geraamde sterftes |
25 - 50 miljoen |
100 miljoen as die nuwe virus taai en die
antivirale middels nie so doeltreffend is soos wetenskaplikes hoop nie |
Click here for more on germs
|