|
Lewe met 'n doel
Sukses op die rugbyveld
het ’n jong Os du Randt
amper vernietig, maar
dié sterk boer het uit sy
ervarings geleer en sy
tweede kans met albei
hande aangegryp
Deur Betina Louw
GEBUKKEND. Aan die werskaf in sy plaasskuur. Os du Randt
in ’n donkerblou kortbroek en kakiehemp draai om en groet met
oliebesmeerde hande. Dis moeilik om te glo dié plat-op-die-aarde
boer is een van Suid-Afrika se grootste rugbylegendes. Hier woon
hy nou al die afgelope sewe jaar op die plaas Tama in die stowwerige
Vrystaat saam met sy vrou, Hannelie, en hul twee seuns, Thian
(10) en JP (7).
’n Paar helpers bou aan ’n kontrepsie wat sal help om water
uit die plaasdam te pomp. Dis te duur om te koop en, lag Os, sy
Wêreldbeker-bonus is lankal geblaas op ander plaasimplemente.
Hy gee ons sy bakkie om solank die plaas te verken terwyl hulle
klaar bou. Boerdery staan voor in die tou en hy is min lus vir lastige
joernaliste en fotosessies.
“Ai, dis hoekom ek nie meer hierdie soort van goete wil doen nie.
As hulle vra, sê ek soms ja – maar breek die dag aan, is daar altyd
iets op die plaas wat my aandag verg.”
Hy doen nog sweiswerk aan die apparaat terwyl ons solank in
die huis ligte gaan opstel vir die fotosessie. Dis ’n regte plaashuis
met ’n groot braaikamer vol aandenkings uit Os se twaalf glorieryke
rugbyjare. Hy is die enigste Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat twee
keer die gesogte Webb Ellis-trofee bo sy kop kon lig – die eerste
keer op Ellispark in 1995 en einde verlede jaar weer in Frankryk.
Tog was dinge nie altyd rooskleurig nie. Daar was ’n tyd toe hy
amper die pad byster geraak het.
Dit was kort ná 1999 se Wêreldbekertoernooi dat Os besluit het om
sy rugby stewels vir goed op te hang. “Ek was geestelik baie moeg. ’n
Kniebesering uit my skoolrugbyjare het my weer begin pla en dit het
daartoe bygedra dat ek nie weer in die Bokgroep ingesluit is nie. Ek
was uitgeput. Ek wou niks met rugby te doen hê nie. Ek het afgestomp
gevoel en het daardie hele jaar nie eens na ’n enkele wedstryd of rugbyprogram
op TV gekyk nie.”
In dié tyd het Os ook baie skuld aangegaan om sy droomplaas in die
Theunissen-distrik naby Bloemfontein te koop.
En hy het foute gemaak omdat hy so jonk was. Os vertel dat dit ook ’n
fout was om nooit werklik te besluit wat hy wou doen as hy klaar is met
rugby nie. “Ek was maar 22 toe ons die Wêreldbeker in 1995 gewen het en
skielik het ek geld gehad. Dan voel ’n mens sterk en dink jy dat jy man-alleen
en sonder God op jou eie voete kan staan. Ek het my geld op dinge soos
motors en motorfi etse geblaas. En skielik het my geld begin opdroog.”
“Die jaar nadat ek op 28 uit rugby getree het, 2001, was
’n moeilike tyd. Ek het geestelik ’n laagtepunt bereik. Ek
het te veel saam met pelle gekuier en die kommer oor
my geldsake alleen probeer dra deur nie vir Hannelie
daarvan te vertel nie. Die druk en stres was groot en ek
het my toevlug op ander plekke, weg van die huis, begin
soek. My gesin het nie die liefde en aandag gekry wat
hulle verdien het nie. Ek was nuut in die distrik en het
nie regtig vriende gehad wat ek met my probleme kon
vertrou nie. En ek was te trots om vir een van my rugbymaats
van my fi nansiële verknorsing te vertel.
“Dan het ek maar kroeg toe gegaan en daar met ’n
vreemdeling gesels en gehoop hy sou die volgende
oggend alles vergeet het.”
Hannelie vertel dat Os in dié tyd baie stil en teruggetrokke
geword het en min op die plaas was. “Dit het baie
stremming op ons verhouding geplaas en ons het by
mekaar begin verbyleef.”
Tot ’n vriend Os op ’n dag eenkant
geroep en gewaarsku het dat hy in ’n
doodloopstraat is.
“Ek het besef dat ek daadwerklik iets
moet doen voor dit te laat is,” vertel
hy. “Ek het met ander oë na my lewe
begin kyk.
“ ’n Goeie verhouding met my vrou en
kinders was opnuut vir my belangrik. My
geld sou ek ook slimmer moes gebruik.
Ek het besef dat ’n motor of motorfi ets
nie vir my ’n inkomste gaan bring nie. Ek
het ’n doelbewuste besluit geneem om
dinge reg te ruk voor dit te laat is.”
In dié tyd het hy weer tot bekering
gekom. “Ek het ’n geestelike verdieping
beleef. Vir die eerste keer het ek ’n doel
gehad en het ek elke sent in die plaas
begin pomp. Alles het om die plaas en
my vrou en kinders begin draai. Pleks
van ’n nuwe kar koop ek nou eerder
’n koei of trekker – dinge wat op lang
termyn betekenis het en vir my ’n
inkomste sal bring.”
Toe Os in 2003 teen almal se verwagtinge
in na rugby terugkeer, het hy sy
eerste tjek net so gevat en ’n spilpuntsproeier
vir die plaas gaan koop. “Ek het
my gedwing om te belê in dit waarin ek
nou glo.”
Net soos toe sportskrywers hom
afgeskryf het met sy terugkeer na rugby
op dertigjarige ouderdom, en hy toe
alles ingesit het, het Os ’n doelbewuste
besluit geneem om die uitdagings in sy
lewe ná rugby met oorgawe aan te pak.
“Ek het ’n brandende begeerte om ’n
sukses van my verhoudings en boerdery
te maak, net soos destyds met my
rugby. Toe ek hier gekom het, het baie
mense getwyfel aan my vermoë om
’n suksesvolle boer te wees. Ek het hul
wantroue egter positief begin ervaar, as
’n motivering, en nou wil ek die twyfelaars
verkeerd bewys.
“Op die oomblik is my twee laaities
my grootste dryfvere. Ek en Hannelie is
nou ’n span en saam sterk genoeg om dit selfs te kan verwerk as die boerdery sou misluk. Ek wil
net nooit hê my kinders moet hulle vir my skaam nie. Ek wil
nie hê hul maats moet hulle eendag spot omdat hul pa nie
meer die mas opkom nie.
“Tog voel ek vandag nie meer ek hoef my as mens te bewys
nie. Ek is rustiger en kyk na dinge uit ’n ander oogpunt.
Ek lewe naby die grond en is afhanklik van die natuur. Dit
hou my nederig en maak my elke dag opnuut bewus van
God se genade en krag.”
Dis ver verwyderd van die internasionale rugbyverhoë.
Os is doodtevrede om die glans agter te laat wat met sy
vorige lewe gepaardgegaan het. Om die waarheid te sê,
hy is verlig dat die lang tye weg van die huis af verby is.
“As ek ’n kluisenaar sou word, is dit ook goed. Solank ek
saam met my gesin en vriende kan wees, is ek gelukkig.
En as ek nooit weer in ’n koerant is nie, wonder ek of ek dit
eens sal agterkom!”
Nou sien Os net daarna uit om weer heeltyds eggenoot
en pa te wees. “My gesag oor die seuns het die tyd wat ek
so baie getoer het, afgeneem omdat ek nie regtig streng met hulle was nie,’’ sê hy laggend. ‘‘Ek was so min tuis en
wou nie heeltyd kwaai wees as ek hulle sien nie. Ek wou nie
hê hulle moet my met negatiewe gedrag verbind nie.”
Later met die fotosessie dra Os vir JP op sy rug oor
die dorings en boks en pak die klomp manne mekaar in
die mielielande. Die man van digby 2 m, wat ’n volle
128 kg weeg, speel en gesels liefdevol met sy kinders. Hy
deel maklik drukkies vir sy vrou en seuns uit.
Ons is almal agterop die plaasbakkie vir die terugrit plaashuis
toe. Os staan alleen agterop die sleepwa. Hy tuur met
’n tevrede glimlag in die verte.
Ons hou stil om ’n verdwaalde bulkalf terug kraal toe te
jaag – terug kraal toe op Tama, die plaas van “Os du Randt,
Hannelie en twee seuns”, soos die naambord by die afdraaipad
sê.
Os sê: ‘Dit weet ek nou’
Moenie vasval as jy ’n fout gemaak het
nie. Vergewe jouself, sit dit agter jou en kyk
vorentoe. Moenie dae en maande verloor deur
daaroor te tob nie. Die hede is al wat jy het.
Bring tyd deur met jou gesin en maak
tyd vir God in jou lewe. Jou gesin en God is al
wat altyd daar vir jou sal wees. My familie was
die mense wat by my gestaan het toe almal
gesê het ek is te oud om weer rugby te speel,
en dat ek dit nie gaan maak nie.
Druk en soen jou kinders elke
dag. Ek het dit nooit as kind ervaar nie en
daarom is dit vir my baie belangrik om ’n
liefdevolle pa te wees.
Wees getrou aan dit wat jou
hart vir jou sê en eerlik teenoor jouself
en ander. Moenie blindelings op ander vertrou
wat namens jou besluite neem nie. Kyk diep in
jou hart en jy sal weet wat die beste vir jou is.
Goeie verhoudings met jou
vriende, familie en ouers is die spil waarom
die lewe draai. Ondersteun hulle, wees lojaal
en moenie wrokke koester nie.
Wees die minste. Dis een van die
waardes wat ek by my pa geleer het. As kind
het ek nie juis daarvan gehou nie, maar ek
besef nou hoe belangrik dit is.
Weet waarheen jy op pad is.
Stel altyd vir jou doelwitte, werk hard en
droom dan gerus daaroor. Al bereik jy dit nie,
is dit steeds beter as om doelloos deur die lewe
te gaan.
Wees ’n vriend vir jou kinders;
geniet en ondersteun hulle. Ek wil hê dat my
kinders dinge saam met my sal wil doen. Dis
vir my belangrik om met hulle te kan speel
en grappe te maak, maar dis net so belangrik
dat hulle weet daar is ’n grens tussen ’n vriend
wees en ’n pa wees.
GUNSTELINGE
FLIEK
Enige aksiefliek.
ONTSPANNING
Watersport op die plaasdam of op
die Vaalrivier.
BESTE RAAD
Wees oop vir ander se idees en menings.
Jy hoef dit nie noodwendig
jou eie te maak nie.
KOS
Braaivleis.
DRANKIE
’n Koue Castle-bier.
BOEK Enige goeie speurverhaal
of riller.
HERINNERING
Toe Thian die eerste keer vir my gesê
het hy is lief vir my. Dis nie
iets wat in my ouerhuis
hardop gesê is nie.
INSPIRASIE ’n Uitdaging.
Wanneer mense aan my
vermoë twyfel, wil ek vir
hulle en myself wys dat ek
goed genoeg is om dit te
kan doen.
GROOTSTE OOMBLIK
Die geboorte van my kinders.
OS DIE RUGBYSPELER
Volle naam: Jacobus Petrus du Randt
Gebore: 8 September 1972
Grootgeword in: Elliot in die Oos-Kaap
SA Skolespan: 1990
Uitgedraf vir: Cheetahs, Bulls en Cats tussen
1994 en 2006
Debuut vir die Springbokke: 1994
Toetse gespeel vir die Springbokke: 80
Drieë vir die Springbokke: 5
SA Speler van die jaar: 1997
Spelers se speler van die jaar: 2004
|