|
In die kop van 'n monster
Psigopate ken geen medelye nie, het geen
gewete nie en toon geen berou nie. Nie wanneer
hulle keer op keer moor of jou om die bos lei om
presies te kry wat hulle wil hê nie. En die ergste van
alles is dat hulle jou baas, vriend of selfs eggenoot
kan wees. Sal jy ooit een herken as jy hom sien?
Deur Romi Boom
PARTY misdade is so skrikwekkend
en word op so ’n koelbloedige manier
gepleeg dat ons instinktief aanvoel dit
kan net die werk van ’n monster wees.
Ons praat van ’n mens wat op die oppervlak
heel normaal lyk, maar iemand
kan doodmaak en dan heerlik gaan vleisbraai.
Of die reeksmoordenaar wat die
ontbindende oorblyfsels van sy slagoffers
in sy klinies netjiese woonstel hou. Of die
misdadiger wat ’n huis of motor aan die
brand steek en dan staan en toekyk hoe
mense doodbrand.
Net mense sonder ’n gewete of ’n sprankie
medelye kan tot sulke dade in staat
wees. Dít is wat psigopatiese moordenaars
so angswekkend doeltreff end maak.
Op die oppervlak lyk en tree hulle soos
normale mense op – maar van binne is
hulle koud, berekend en gevoelloos.
Wat ’n mens nog banger maak, is
dat tensy hulle ’n misdaad pleeg en as
’n psigopaat gediagnoseer word, hulle
deel van die normale samelewing kan
bly. Hulle kan een van jou kollegas, ’n lid
van jou saamryklub, ’n ouderling in jou
kerk of ’n ouer by jou skool wees.
Psigopate word net dodelik wanneer jy
iets het wat hulle begeer. ’n Posisie by die
werk. ’n Plek in die samelewing. ’n Goeie
huwelik. Dan begin hulle genadeloos
konkel om te kry wat hulle wil hê.
Niemand is beter daarvoor toegerus
om te verduidelik wat in die kop van ’n
psigopaat aangaan nie as prof. Jan Viljoen,
’n spesialis-psigiater van Kaapstad. (Jan
Viljoen is nie sy regte naam nie – om
regs-professionele redes verkies hy ’n
skuilnaam.)
Jan het reeds duisende misdadigers
geëvalueer en ’n internasionale reputasie
deur sy werk met die polisie en die howe
opgebou. Binne dae ná die tweede moord
wat deur die sogenaamde Stasiemoordenaar
gepleeg is, kon hy vir die polisie sê
watter soort mens hulle moet soek. Dié
psigopatiese reeksmoordenaar het van
1986 tot 1994 die Kaapse Vlakte geterroriseer.
Die liggame van nie minder nie as
22 seuns is met hul gesig na onder en hul
hande agter hulle rug vasgebind in vlak
sandgrafte aangetref.
Die moordenaar na wie julle soek,
het Jan gesê, kan ’n onderwyser wees,
die gaafste man denkbaar, wat sonder
moeite jong seuns van videowinkels en
speletjiesarkades na stasies kan lok. Die
38-jarige Norman Simons, wat later skuldig
bevind is op een aanklag van moord,
het perfek by dié profi el gepas.
Psigopate kan tog te sjarmant wees
– soos die Amerikaner Jeff rey Dahmer,
die kannibaal-moordenaar wat in 1991
vasgetrek is nadat hy sewentien mans en
seuns verlei en vermoor het. Die polisie
het afgekapte liggaamsdele in sy vrieskas
en op ander plekke in sy andersins pynlik
netjiese woonstel gevind. Jan het ’n onderhoud
met hom gevoer en sê Dahmer
het net soos ’n werker in ’n sjokoladefabriek
gelyk – wat hy natuurlik wás.
Dis g’n wonder dat dié psigopatiese
moordenaar die polisie kon oortuig om
’n naakte jong seun wat dit reggekry het
om uit sy kloue te ontsnap, aan hom terug
te besorg nie. Nadat die polisie weg
is, het hy die verdoofde seun verwurg
en uitmekaargekap.
WIE IS DIÉ PSIGOPATE?
Die versoeking is groot om moordenaars soos Dahmer, Jack the Ripper,
Simons, Skroewie van der Merwe, Marlene Lehnberg en Daisy de
Melcker as gevolg van hul hartelose dade as psigopate te bestempel.
Maar psigopate is nie noodwendig koelbloedige moordenaars nie.
Ons ken almal mense met psigopatiese neigings wat gevoelloos
ander om hulle gebruik en manipuleer. Baie van ons moet selfs
hulpeloos tuis of by die werk met hul mishandeling saamleef. Sulke
psigopate pleeg dalk nie misdade nie, maar hulle kan die lewe van
die mense om hulle ernstig versuur omdat hulle sulke uitgeslape
manipuleerders is.
Dit is ’n feit dat een uit elke honderd mense psigopatiese neigings
het. Dit beteken dat daar in ’n skool met driehonderd kinders moontlik
drie psigopate is. Een van jou honderd kollegas kan een wees.
Wat maak iemand dus ’n psigopaat, behalwe die feit dat hy dalk
daartoe in staat is om mense sonder enige meegevoel dood te maak?
Deskundiges stem saam dat psigopate geen emosies, gewete of
berou toon nie. Hulle kan die vermoë hê om voor te gee dat hulle
emosies het sodat hulle hul doelwitte kan bereik, maar het nooit
meegevoel vir iemand anders se pyn nie. En hulle sal sonder om vir ’n
sekonde te aarsel ’n blatante leuen vertel.
Jan voltooi die prentjie deur te sê psigopate is lief vir hulleself en
niemand anders nie. Hulle is impulsief, irrasioneel en vertel dikwels
leuens. Hulle is onbetroubaar, onbedagsaam en sal keer op keer
dieselfde oortreding herhaal omdat hulle nie die vermoë het om uit
hul ervarings te leer nie. Hulle raak vinnig verveeld en gefrustreerd en
kan regtig naar en aggressief wees.
Klink dit bekend? Teen dié tyd wonder jy miskien al oor familielede,
vriende, bure en kollegas. Maar is hulle almal psigopate?
“ ’n Mens moet versigtig wees om nie net op een eienskap te fokus
en te sê iemand is ’n psigopaat nie,” waarsku Jan. Dit is uiters moeilik
om ’n psigopaat te identifi seer. “Iemand kan immoreel, impulsief, ’n
leuenaar en antisosiaal wees, maar steeds nie ’n psigopaat nie. En
niemand is ’n suiwer psigopaat nie. Dit is nie ’n geval van alles of niks
nie. Jy kan eienskappe van psigopatie toon sonder om tot die uiterste
van geweldsmisdaad oor te gaan.”
Hy voeg by: “Wees versigtig om nie die term ‘dekselse psigopaat’ te gebruik om na alle misdadigers of onaangename en ongevoelige mense te verwys
nie. Die grootste gevaar is as mense veralgemeen wanneer hulle ’n diagnose
maak waarvoor hulle nie gekwalifi seer is nie. Al die simptome wat op psigopatie
dui, kan ook deel uitmaak van ’n ander toestand.”
Psigopate is byvoorbeeld daarvoor bekend dat hulle onmiddellik moet kry wat
hulle wil hê. En hulle raak gewelddadig as dit nie gebeur nie. Dis dalk niks meer as
iemand se kinderagtige gedrag nie.
Psigopate kan lang tye ’n normale lewe lei en net in baie spesifi eke omstandighede
werklik onaangenaam raak. Selfs dan kan die antisosiale gedrag moontlik in
net een aspek van hul lewe tot uiting kom – hulle kan dalk sjarmant en sag by die
werk wees, maar ’n derduiwel by die huis. Dit is asof niemand weet wat die sneller
vir dié afskuwelike gedrag is nie. Partykeer verloor hulle hul humeur omdat hulle
gou gefrustreerd voel. Ander kere tree hulle weer koud en berekend op. Soms
kan die misbruik van middels soos alkohol of dwelms ’n uitbarsting ontketen.
Die feit dat daar verskillende soorte psigopate is, maak sake nog meer
ingewikkeld. Die ergste soort psigopaat is die genadelose reeksmoordenaar,
maar daar is baie ander wat tussen ons leef en net as psigopate bekend sal raak
indien iets ’n daad van geweld ontlok.
WORD ONS DEUR DIE WET BESKERM?
Tot 1993 het ons regstelsel nie voorsiening gemaak
vir die onbepaalde aanhouding van psigopate nie.
Die wet is egter verander as ’n direkte gevolg van die
tragedie wat plaasgevind het toe Skroewie van der
Merwe sewentien jaar ná sy eerste gewelddadige
aanvalle ’n woeste moordveldtog begin het.
Tussen September en November 1971 het die
Skroewedraaier-verkragter minstens nege vroue
aangeval. William (“Skroewie”) van der Merwe het
dikwels dieselfde modus operandi gebruik: Hy het ’n
wit werkpak aangetrek, vroue by die huis besoek en
gesê hy is ’n elektrisiën. Hy het ook ’n veertienjarige
skoolmeisie verkrag nadat hy haar mond toegebind
en haar met ’n skroewedraaier gedreig het. Sy gedrag
is tipies van ’n psigopaat; hy het alles noukeurig
beplan, oortuigend gelieg en seksuele bevrediging
deur middel van geweld gekry.
Nadat hy in hegtenis geneem is, het Van der
Merwe onder polisiebewaking ten volle met die
owerheid saamgewerk. Hy is vir 28 dae waarneming
na die Sterkfontein- sielkundige hospitaal gestuur en
daarna geskik verklaar om verhoor te word.
Waarnemende regter Irving Steyn, wat die hofsaak
behartig het, het gesê: “Dit is een van die ergste gevalle
van verkragting wat ek in my vyftien jaar as regter
teëgekom het. ’n Jong en baie mooi meisie, ’n maagd
tot sy deur Van der Merwe aangeval is – dit is die
soort mens wat ek gaan beskerm.” Op 22 Maart 1972
het hy die doodsvonnis uitgespreek, wat later deur
die appèlhof tot twintig jaar gevangenisstraf versag is.
Van der Merwe het die volgende vyftien jaar in die
tronk deurgebring. Hy het rehabilitasie en medikasieterapie
ontvang. In die beheerde omgewing van die
tronk se sielkundige hospitaal was daar geen snellers
wat hom weer só kon laat optree nie. Die moontlikheid
van ’n oortreding is heelwat verlaag en hy het
normaal voorgekom. Hy het alle evaluerings met
vlieënde vaandels geslaag en is “genees” verklaar.
Dit was ’n tragiese fout. ’n Psigopaat se bedrading
kan nie verander word nie. Die blote feit dat hy
saamgewerk en hom goed gedra het, wys net hoe
onverskrokke, sjarmant, uitgeslape en manipulerend
psigopate kan wees. Dit is egter nie die einde van
Van der Merwe se storie nie.
In Maart 1987 word parool aan hom toegestaan
en word hy uit die Zonderwater-gevangenis in Pretoria
vrygelaat. Minder as twee jaar later ryloop twee
jong vroue ná ’n dag op die strand by Muizenberg
na Tamboerskloof in Kaapstad. Hulle word in die hoofstraat van Tokai deur Van der Merwe opgelaai.
Dit blyk later dat hy drie stelle handboeie en
29 skroewedraaiers in die gereedskapskissie agterop
sy bakkie gehad het – hy was goed voorberei
vir ’n geleentheid om ’n misdaad te pleeg.
Van der Merwe ry toe na ’n verlate deel van die
Constantia-woud waar hy een van die meisies verkrag.
Later is hy ewe sjarmant en gee albei meisies
sigarette en beloof om hulle geen skade aan te
doen nie. Dit was ’n onbeskaamde leuen – kort
daarna dwing hy hulle terug in die bakkie en ry
met hulle na die Grabouw-bos ongeveer
60 km van Kaapstad. Daar trek hy sy klere uit,
verkrag die tweede meisie voor haar vriendin en
dwing haar om saam met hom in die bos in te
loop.
Die ander meisie se voete was vasgebind en
haar hande agter haar rug geboei. Toe sy rondkyk,
sien sy die man se broek en slaag daarin om sy
pistool daaruit te haal. Al het sy nog nooit ’n vuurwapen
hanteer nie, kry sy dit reg om die pis tool
oor te haal en sy wag tot sy weer sy voetstappe
hoor. Sy sien ’n mes in sy hand – die polisie sou
later haar vriendin se lyk in ’n plas bloed kry.
Toe Van der Merwe om die agterkant van die
bakkie geloop kom, rol die meisie op haar sy en
trek die sneller. Die koeël tref hom in die kop. Sy
vuur nog ’n skoot en tref hom in die skouer. Sy
kry toe ’n mes in die bakkie, sny die toue om haar
enkels los en sukkel tot by die pad. ’n Motoris
neem haar na die naaste polisiekantoor. ’n Paar
uur later sterf die Skroewedraaier-verkragter in die
hospitaal sonder dat hy sy bewussyn herwin.
Dit is skrikwekkend dat ’n gevaarlike maniak,
’n gewoontemisdadiger, uit die tronk vrygelaat
kon word vyftien jaar nadat hy vir ’n reeks aaklige
misdade ter dood veroordeel is. (In Suid-Afrika is
lewenslange tronkstraf twintig jaar, anders as in
die VSA, waar dit 99 jaar beteken.) Parool word
dikwels halfpad deur die vonnis toegestaan en as
die gevangene hom goed gedra, word sy tyd met
’n derde verminder. Om dié soort ongeregtigheid
te keer, spreek regters gereeld twee vonnisse uit,
byvoorbeeld vir verkragting én moord, wat nie
tegelyk uitgedien kan word nie.
Skroewie van der Merwe se saak het in 1993 ná
aanbevelings deur die Booysen-kommissie van
ondersoek tot wysigings aan die Wet op Kriminele
Prosedure gelei. Afdelings 286 A en 286 B verklaar
dat indien die hof oortuig is dat die persoon ’n gevaar
vir ander se fi sieke en geestelike welsyn inhou, en indien die gemeenskap teen hom of haar beskerm
moet word, die hof die individu tot ’n gevaarlike misdadiger
moet verklaar. Die hof moet dan gevangenisstraf
vir ’n onbepaalde tydperk oplê en verorden dat
die persoon ná ’n gespesifi seerde tydperk weer voor
die hof verskyn.
Dit is uiters moeilik om te bepaal wat in ’n
misdadiger se gemoed aangaan, en daar is nog
geen metode om vas te stel of ’n rehabilitasieprogram
suksesvol was nie. Daar is ook geen konkrete
bewyse dat ’n psigopaat enigsins genees kan word
nie. Volgens Jan beteken dit dat die publiek daarop
geregtig is om op beskermingsmaatreëls soos ’n
pedofi elregister aan te dring. In die verlede was die
reaksie op sulke versoeke altyd dat dit ’n skending
van die reg op privaatheid is, maar in die toekoms
kan dié beskerming dalk wel aan Suid-Afrikaners
toegestaan word. “Ons het tog sekerlik die reg om te
weet wanneer sulke oortreders vrygelaat gaan word,
wie hulle is en of hulle in ons straat gaan woon.”
VERSKILLENDE SOORTE PSIGOPATE
BEKOORDERS
Party psigopate
word charisma
tiese psigo -
pate genoem.
Hulle is gladde bekke
met ’n byna demoniese
vermoë om mense te oorreed
om van al hul besittings afstand
te doen. Hulle is welsprekend en
onweerstaanbaar. Hulle glo
dikwels hul eie fantasieë, is
leiers van godsdienstige sektes
of kultusse en word deur die
politiek aangetrek.
DIE VERPERSOONLIKING BOELIES
VAN BOOSHEID
Seksuele psigopate, dié wat mense
verkrag en doodmaak, is die ergste.
Hul moorde neig om passieloos of
prakties te wees. Dit maak hulle besonder
gevaarlik. Statisties gesproke is die deursnee-
reeksmoordenaar ’n wit man met ’n lae- tot middelklas-
agtergrond, gewoonlik in sy twintigs of dertigs.
Baie van hulle is fi siek of emosioneel deur hul ouers
mishandel. As kinders het hulle dikwels brande gestig,
diere afgeknou en hul bed natgemaak. Party van hulle
is baie intelligent en het belowende professionele
aanleg, maar breinskade kom ook voor. Hulle word
aangetrek deur posisies van mag.
BOELIES
’n Seun wat op skool sy
klas maats teister, sal nie
noodwendig ’n boef word nie,
maar so ’n wrede streep kan ’n
vroeë aanduiding van ’n aggressiewe
psigopatiese persoonlikheid
wees. Die Johannesburgse nagklub-uitsmyter
Gary Beuthin het vroeg reeds sulke neigings
getoon. Op sestien het hy sy ma in ’n woedeaanval
aangerand. Volgens hofdokumente is
hy reeds in daardie stadium as ’n psigopaat
gediagnoseer, maar hy het uit die pad van
die gereg gebly tot hy sy meisie elf jaar later
verwoed aangerand het net omdat sy hom by’n nagklub gelos het. Terwyl sy gelê en bloei
het, het hy gevoelloos gesê: “Ek gee nie om as sy
vrek nie!” Hy is vir vyftien jaar tronk toe gestuur.
Einde 2007, net ’n paar maande ná sy vrylating,
is hy van ’n wrede aanval op ’n voormalige
vriend aangekla.
Sulke gedrag is tipies van ’n aggressiewe
psigopaat wat daarvan hou om mense seer
of bang te maak en te manipuleer. Prof. Jan
Viljoen vertel van ’n man wat op ’n potplant in
’n nagklub se voorportaal geurineer het toe hy
toegang geweier is. Toe iemand hom daaroor
aanspreek, het hy die persoon tussen die oë
geskiet. “Dis hoe plofbaar psigopate kan wees.”
VLOEKERS EN SKELLERS
Die “humeurige
psigopaat” kry
gereeld woedeaanvalle
wat soos
epileptiese aanvalle
kan lyk. Hulle het baie seksuele drif
en sterk drange is algemeen – van
dwelmverslawing en kleptomanie
tot pedofi lie. Hulle hou van die
endorfi en-“kruin” wat opwinding
en risiko’s bied. Só ’n man sal geen
berou toon nadat hy sy vrou of
kinders half doodgeslaan het nie.
HOE WORD HULLE SO?
Op ongeveer drie- of vierjarige leeftyd
ontwikkel kinders die vermoë om ander te mislei, asook die
vermoë om empatie te hê. Hoewel witleuens of om ander mense
seer te maak, deel is van grootword, voel die meeste kinders
skuldig as hulle hulle sleg gedra – almal behalwe dié met aggressiewe
en antisosiale persoonlikheidsversteurings.
Navorsing dui daarop dat daar in dié mense ’n foutiewe skakel
tussen die diep, emosionele brein (die limbiese stelsel) en die
brein se dinkgedeelte (die frontale lob) kan wees. Dit beteken dat
die rasionele deel van die brein nie sy normale beheer oor sterk
emosies soos vrees en aggressie kan uitoefen nie. Dit kan wel die
rede wees hoekom dinge wat normale mense bang of hartseer
maak, geen uitwerking op psigopate het nie.
Skanderings wys dat daar in psigopate se brein eintlik geen
aktiwiteit in die senubondels is wat die frontale lob en die limbiese
stelsel verbind nie. Bowendien is daar dikwels abnormale
aktiwiteit in die limbiese stelsel.
Tensy die onmoontlike moontlik word en die foutiewe dele
van die brein reg met mekaar verbind kan word, sal impulsiwiteit,
’n gebrek aan beheer en emosionele abnormaliteite voortgaan
om psigopate soos vinnige motors sonder remme te laat
optree. Dit is nog steeds onduidelik of dié afwykings veroorsaak
word deur traumatiese ondervindings gedurende ’n mens se
kinderjare. Wat ons wél weet, is dat die saadjies van psigopatiese
misdaad reeds vroeg in sulke mense se lewe gesaai word.
KAN HULLE BEHANDEL WORD?
Party wetenskaplikes
is vol vertroue dat hulle stadig besig is om psigopate te leer
verstaan, danksy nuwe navorsingshulpmiddels – van breinskandering
tot sielkundige toetse.
Sê nou maar dit is moontlik om ’n psigopaat te identifi seer voor hy of sy ernstige fisieke of emosionele skade kan veroorsaak. Wat dan?
Konvensionele behandeling, soos groepterapie, maak psigopate net erger. Blykbaar
leer dit hulle net hoe om mense te manipuleer en emosies na te aap. Party neuroloë glo
dat ’n middel ontwikkel kan word om psigopate se breinchemikalieë aan te pas. In Swede
dui toetse op die rugmurgvog van misdadigers in tronke dat psigopate dalk aan ’n
wanbalans van die breinchemikalieë serotonien en dopamien ly. As medisyne gebruik
kan word om die emosies van depressiewe mense te beheer, kan die weten skap dalk
ook daarin slaag om emosies te gee aan mense by wie dit ontbreek.
Maar selfs al sou ’n mens psigopate emosies kon skenk, sou hulle nog altyd ’n inherente
gebrek aan moraliteit hê. Dit sal hulle nie noodwendig leer wat reg en verkeerd is nie.
“Ek dink nie dit is moontlik om hulle doeltreff end te behandel nie. Nie nou nie.
Nooit nie,” sê Jan Viljoen. “Moraliteit spruit uit ’n mens se opvoeding en omgewing,
maar ook uit sy genetiese samestelling. Dit is nooit net die een of die ander nie. ’n
Psigopaat in die tronk het op ’n dag vir my gesê ’n luiperd kan nie van sy kolle ontslae
raak nie, maar hy kan leer om daarmee saam te leef. Dis nou vir jou manipulering!’’
HOE OM ’N PSIGOPAAT TE HERKEN
Waarskuwingsligte moet begin
flits as jy drie of meer eienskappe
op dié lys kan aftik, veral as
dit voor die ouderdom van agttien
voorkom.
VERSUIM OM AAN SOSIALE NORME
TE VOLDOEN. Is die persoon eiewys
en ongehoorsaam, met onbeheerbare
gedrag? Is daar ’n gebrek aan respek
vir gesag? Leef hy volgens sy eie
reëls?
BEDRIEGLIKHEID, MANIPULERING,
OPPERVLAKKIGE SJARME. Is die
persoon ’n patologiese leuenaar?
Draai hy ander mense om sy pinkie?
IMPULSIWITEIT, VERSUIM OM
VOORUIT TE BEPLAN. Het die
persoon ’n gebrek aan realistiese
lang termyn-doelstellings? Vind hy
dit onmoontlik om ’n werk langer
as ’n paar weke te hou?
PRIKKELBAARHEID, AGGRESSIE,
WOEDE-UITBARSTINGS. Kry hy
woedebuie en skielike gewelddadige
aanvalle? Raak hy omgekrap as hy nie
kry wat hy wil hê nie?
ONVERSKILLIGE VERONTAGSAMING
VAN VEILIGHEID. Kry hy
bevrediging uit waaghalsige toertjies
waarvoor hy nie opgelei is nie? Vang
hy onnosele dinge aan?
HY DINK HY IS BETER AS ANDER
MENSE. Is daar ’n gevoel van eiegeregtigheid?
Glo hy vas hy “verdien”
geld of statussimbole?
’N PARASITIESE LEWENSTYL. Teer
hy op ander mense? Pleks daarvan om
vir iets te werk, kry hy dit deur emosionele
afpersing?
GEDURIGE ONVERANTWOORDELIKHEID.
Weier hy om verantwoordelikheid
vir sy eie dade te aanvaar en
is daar altyd verskonings? Is alles wat
verkeerd loop iemand anders se skuld?
GEBREK AAN BEROU NADAT HY
IEMAND ANDERS SEERGEMAAK OF
SLEG BEHANDEL HET. Gee hy nie vir
ander mense om nie, nie eens sy eie
familie nie?
RONDSLAPERY. Gaan sy lewe net
oor kortstondige fl irtasies en is daar
geen langdurige verbintenisse nie?
Is hy nie in staat om ’n standvastige
verhou ding met ’n ander persoon te skep nie?
Wat is hul dryfveer?
PSIGOPATIESE GEDRAG VAN BEKENDE REEKSMOORDENAARS
Word jy as psigopaat gebore?
Of veroorsaak hormone
dit? Of die manier
waarop jy grootgemaak
is? Jeff rey Dahmer het
gesê hy is sonder ’n sekere
‘onderdeel’ gebore. Ander
sê die tronk het hulle in monsters verander. Party
pak selfs die skuld op hul
slagoff ers en sê hulle het
verdien om te sterf.
Jack the ripper
MISDAAD: Vermoor in 1888 prostitute
in die Whitechapel-gebied in
Londen.
MAKABERE ELEMENT: Party
van die slagoff ers se interne organe is
deur die moordenaar verwyder.
STRAF Geen. Identiteit steeds
onseker.
SIELKUNDIGE KENMERK:
Psigopatiese moordenaars kies dikwels
slagoff ers wat kwesbaar is, soos
prostitute en wegloopkinders.
Ed Gein
Die inspirasie agter die fl iek Psycho en die
karakter Hannibal Lecter in The Silence of
the Lambs.
MISDAAD: Erken dat hy twee moorde
gepleeg het en ’n aantal grafte beroof het.
MAKABERE ELEMENT: Verwyder
slagoff ers se vel en gebruik dit om klere
en meubels te maak, en versier sy huis
met dele van hul liggaam.
STRAF: Sterf op 26 Julie 1984 in ’n
psigiatriese inrigting.
SIELKUNDIGE KENMERK: Die
slagoff ers het simboliese waarde; dis
duidelik uit die manier waarop hulle
vermoor word. Die moord is selde vir
materiële gewin: die motief is sielkundig.
Charles Manson
Leier van “The Family”, ’n hippiekultus wat in 1967
in San Francisco gestig is.
MISDAAD: Die reeksmoordenaar wat boosheid
nuwe betekenis gegee het. Hy oorreed kultuslede
om op moordtogte te gaan om rykes te beroof.
MAKABERE ELEMENT: Skryf boodskappe
in sy slagoffers se huise met hul eie bloed.
STRAF: Steeds in die tronk.
SIELKUNDIGE KENMERK: Daar is ’n behoefte
om die slagoffer sadisties te domineer.
Ted Bundy
Een van die berugste Amerikaanse
moordenaars in die geskiedenis.
MISDAAD Verkrag of verwurg
verskeie vroue tussen 1974 en
1978, of slaan hulle dood.
MAKABERE ELEMENT:
Maak soms die vroue eers dood
en verkrag hulle dan. Beweer dat
pornografie hom daartoe aangespoor
het.
STRAF: Sterf in die elektriese
stoel op 24 Januarie 1989.
SIELKUNDIGE KENMERK
Vermom hom as ’n polisieman om
toegang tot sy slagoffers te kry.
Daisy de Melcker
As verpleegster het sy oor gif geleer. Sy het
vyf kinders gehad, van wie vier as babas
oorlede is.
MISDAAD: Vermoor twee van haar mans
met strignien en haar enigste seun
met arseen.
MAKABERE ELEMENT: Maak haar
mans vir hul lewensversekering dood, maar
niemand weet wat haar gemotiveer het om
haar seun te vermoor nie.
STRAF: Word in Desember 1932 opgehang.
SIELKUNDIGE KENMERK Hou tot die
einde vol sy is onskuldig.
Gert van Rooyen en Joey Haarhoff
Hy is na ’n verbeteringskool gestuur en het van vroeg af al ’n misdaadgeskiedenis
gehad. In 1979 ontvoer hy twee meisies van tien en dertien,
neem hulle na die Hartbeespoortdam naby Pretoria en dwing hulle om
kaal uit te trek en seksuele dade te pleeg. Hy word in hegtenis geneem en
tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis, en word ná drie jaar vrygelaat.
MISDAAD: Ontvoer en vermoor tussen 1988 en 1989 minstens ses
jong meisies.
MAKABERE ELEMENT: Pedofilie. Geeneen van sy slagoff ers is ooit gevind nie.
STRAF: Wanneer hul laaste slagoff er ontsnap, pleeg Van Rooyen en sy medepligtige, Joey Haarhoff , selfmoord voor hulle in hegtenis geneem kan word.
SIELKUNDIGE KENMERK: Die moordenaar is gewoonlik nie aan
die slagoff er bekend nie. Die moorde is willekeurig en het skynbaar niks
gemeen nie. Daar is ’n tipiese “afkoeltydperk” tussen sy eerste seksuele
misdade en die moorde.
Ken jy een van die volgende soorte?
REBELLE Rebelse sosiopate geniet dit veral om die reëls te
buig of breek. As tieners loop hulle dikwels van die huis af weg.
Hoewel hulle gewoonlik ’n gemiddelde intelligensie het, vaar hulle
nie goed op skool nie. As volwassenes trek hulle baie rond – van die
een swak betaalde werk sonder goeie vooruitsigte na die volgende
– of buit maatskaplike instansies uit. Hulle geniet blykbaar hul lewe
as rebel en swerwer en ly nie aan ’n swak selfbeeld nie.
BUITESTANDERS Dié randeiers word as vervreemde
sosiopate bestempel. Hulle leef heeltemal afgesluit en enige menslike
lyding of maatskaplike probleme laat hulle koud. ’n Verhouding
of ’n huwelik met só iemand lei tot ’n steriele en leë bestaan. Hulle
is die soort mense wat nooit met die bure klaarkom nie en altyd ’n
klagte het – hulle voel altyd asof hulle op die een of ander manier
deur die gemeenskap ingeloop is. Boonop gee hulle ook nie eintlik
om nie – juis omdat hulle nie daartoe in staat is nie.
BOEWE Dié onsosiale sosiopate is tipiese uitgeworpenes wat
aangetrokke voel tot ander verstotenes en swartskape. Hulle kan
intens lojaal teenoor slegte vriende wees. As gevolg van die swak
keuses wat hulle maak, word hulle deur die ongeluk gery. Dan kla
hulle dat dit nie hul skuld is nie. ’n Goeie voorbeeld van ’n gevaarlike
sosiopaat is ’n motorkaper wat ’n geweer uitpluk en ’n onskuldige
slagoff er koelbloedig doodskiet.
SKURKE IN PAKKE Kyk rond en jy sal hulle herken.
Dit is die soort mense wat net geld of mag wil hê. Om hul doel te
bereik, betree hulle dikwels die moderne korporatiewe wêreld waar
hoë risiko’s tot groot winste kan lei. Hulle verfyn hul domine rende
benadering en soek aktief magsposisies. Hulle kan onderwysers,
burokrate, opsieners en polisiebeamptes wees. Hulle kan ook ouers
wees. Hulle gebruik onderduimse metodes en saboteer dikwels
stelselmatig ander mense se idees om hul eie planne in wer king te
stel. Hulle kry gewoonlik wat hulle wil hê. As jy nie saamwerk nie of
in hul pad staan, raak hulle wraaksugtig.
Psigopate VS. Sosiopate
Binne die groter groep
psigopate is daar dié subgroep,
al is die verskil nie
altyd so duidelik nie. Sosiopate
verontagsaam ander mense se gevoelens en
toon nooit berou oor wat hulle gedoen het
nie. Hulle is egter nie so koud, berekend en
manipulerend soos psigopate nie en neig
eintlik meer om die reëls van die samelewing
te verbreek omdat hulle impulsief is en nie
hul drifte kan beheer nie.
Die onrusbarende feit is dat jy psigopate
waarskynlik makliker sal vertrou as sosiopate
omdat hulle so sjarmant kan wees en instinktief
weet waar jou swak punte lê en hoe om
dit uit te buit.
Wat kan ek daaraan doen?
In ons samelewing is daar baie mense met psigopatiese
eienskappe, hoewel ons net weet van dié wat misdade
pleeg. Al doen wetenskaplikes fl uks navorsing oor
behandeling en bespiegel hulle selfs oor moontlike genesing,
is daar absoluut niks wat gedoen kan word aan
die foutiewe bedrading in psigopate se brein nie. Hulle
kan nie gerehabiliteer word of geleer word om tussen
goed en kwaad te onderskei nie. Ons kan nie aan hulle
emosies of ’n gewete gee nie.
Al wat ons kan doen om ons te beskerm, is om op die
uitkyk te wees vir rooivlag-gedrag, veral wanneer ons
met vleiers en patologiese leuenaars te doen kry. Daar is
niks wat jy kan doen om so ’n mens te verander nie. Die
tyd het miskien aangebreek om jou huwelik te beëindig
of op te hou om vir jou kind te sê dat skoolboelies nou
maar eenmaal ’n feit van die lewe is.
Dit is die vermoë om eerlike emosies soos liefde en
hartseer te ervaar wat jou van ’n psigopaat onderskei.
Polar madness is real
|