Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
How UV hurts
Suntan, sunburn, ageing. The sun can affect your skin in many ways. How does it work?
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Herfs 2008
 
Spelers en Krygers

Hulle is die krygers en rugby die krygsdaad. Maar saam met die oorwinning gaan ook die verwonding. Hoe laat jy jou kind die vreugde van die spel ken, maar beskerm hom teen beserings wat sy lewe kan kos?
Deur Elise-Marie Tancred en die Health24-span

DIS bul teen bul. Brute krag. Taktiek. Moed. Spoed.

In skrums of lynstane lóói hulle mekaar met hul krag en vernuf.

Lóóp die een wat die bal kry! Elke oomblik in die stryd tel; ook elke uur, dag, maand en jaar van fanatieke voorbereiding.

Dan kom die glorie. Oorwinning. Voor honderde of duisende rasende toeskouers. Soms voor die hele wêreld. As helde stap hulle van die veld af, skouerhoog word hulle gedra, goue seuns, gode.

Maar daar is ook ’n ander werklikheid. Soms loop nie almal af nie; soms is daardie veld ’n slagveld. Rugby, so opwindend soos dit is, het sy donker kant.

Daar is altyd die gevaar van beserings. Verlamming. Selfs die dood . . .

Vandag, soos baie ander voor hulle, droom duisende jong seuns hul rugbydrome.

Soggens vyfuur oefen hulle reeds in die gimnasium, party van hulle maar dertien jaar oud. Hulle sluk aanvullers en proteïenpoeiers, sê beslis nee vir kos wat vet maak en gaan slaap vroeg. Hulle weet alles van anaboliese steroïede en baie beproef dit.

En sommige breek bene, skeur ligamente, ontwrig skouers, doen harsingskudding op of kry nekbeserings, want hulle is bereid om alles op die spel te plaas. Hulle is krygers en rugby die krygsdaad.

Dit kos ’n sterk en geharde speler met ’n kragtige nek om teen 800 kg spier en beendere in ’n skrum te beur of om op volle vaart teen ’n massa van 120 kg te bots sonder om iets te breek of te skeur. As iets skeefloop en ’n kop, arm of been net te hard en teen die verkeerde hoek getref word – soos toe die superflank Schalk Burger in 2006 ’n teenstander geduik het – kan jou lyf met ernstige gevolge meegee.

Een ontoelaatbare hoogvat waarin die nek sywaarts en agtertoe geruk word, ’n skrum wat in duie stort, of ’n losgemaal waar ’n speler se nek teen sy bors vasgedruk of agteroor geknak word, kan ’n speler se lewe vir altyd verander.

As selfs ’n geharde speler wat reg geoefen en deeglik voorberei het, ernstig kan seerkry met so ’n groot trefslag, is dit te verstane dat skoolseuns, wie se spiere en bene nog aan die ontwikkel is, bitter ernstig beseer kan word.

Jy het ’n reuse verantwoordelikheid as jou kind rugby speel, sê dr. Derik Coetzee, die Wêreldbeker-Springbokke se kondisioneringskundige. Want speel sal jou kannetjie wil speel. Oor sy eie drome en oor sy ouers se drome.

In Suid-Afrikaanse skole is daar enorme druk op seuns om rugby te speel, sê Jannie Putter, die Blou Bulle se sportsielkundige en skrywer van Wie Wen . . . Ek of My Kind? (R80, Lapa Uitgewers).

“Rugby is ’n nasionale sport en as jy dit speel, styg jou gewildheid en status dadelik. Dis goed vir ’n kind se selfbeeld – hy is ‘in’.”

Met die regte afrigting het dié sportsoort baie mooi en positiewe eienskappe. Dit bou karakter en leer kinders om saam te werk, te deel en leierseienskappe te ontwikkel.

Hulle leer doelwitstelling en motivering – alles dinge wat ’n mens later in jou lewe kan help.

Maar daar is ook groot emosionele en fisieke gevare verbonde aan veral laerskoolrugby. “Kinders word te vroeg daaraan blootgestel. Hulle is oor die algemeen nie emosioneel gereed vir hierdie soort kontaksport nie.

Op sewe- of agtjarige ouderdom het hulle in elk geval nie werklik ’n benul van waaroor dit gaan nie; eers van twaalf jaar af verstaan hulle die begrip van spansport,” sê Jannie.

“Vir ’n sewejarige kos dit net een genadelose duikslag om ’n vrees vir die sport te ontwikkel wat hom die res van sy lewe gaan bybly. Dit kleineer hom ook en kan maak dat ’n vrees vir mislukking hom tot in volwassenheid ry.”

Dan praat jy nog nie eens van die fisieke beserings nie. Daar is omtrent nie ’n deel van die lyf wat nie deurloop nie, en al kan knie- en enkelbeserings ’n speler lank van die veld hou, kom dit nie naby die gevare van ’n gebreekte nek en harsingskudding nie.

’n Beskadigde rugmurg kan tot verlamming of selfs die dood lei, en ’n ligte stampie teen die kop gou ná die eerste harsingskudding kan breinskade veroorsaak.

Dit alles begin by verkeerde oefening en eetpatrone, onnodige of gevaarlike aanvullings en die drang om tot elke prys te wen.

Oefen slim

Baie jong seuns se begeerte om “spiere te bou” en groot en sterk te lyk, dryf hulle tot oefeninge met gewigte wat hopeloos te swaar is vir hul spiere en skeletbene.

Dis niks snaaks om tienerseuns op hul rug in gimnasiums met swaar ge - wigte te sien oefen nie – die kommerwekkende bench press-gier.

Tussen twaalf en sewentien jaar groei seuns se skelet en spiere baie vinnig, en tieners kla dikwels van krampe en pyne in hul bene. Met oordadige en verkeerde oefening loop hulle die gevaar om een van twee soorte ernstige beserings op te doen: Hulle kan hul groeiplate beskadig of ’n avulsiewe breuk opdoen.

’n Groeiplaat is waar beengroei in die been self plaasvind. As ’n kind sy been of arm in die groei - plaat breek, is dit ’n baie ernstige en onomkeerbare besering wat nooit herstel nie.

Beengroei vind nie verder normaal plaas nie en die kind ontwikkel dan gebreklik – een been sal byvoorbeeld langer as die ander wees.

Verkeerde oefeninge, soos weerstandsoefeninge, kan ook tot ’n avulsiewe breuk lei.

Dis nou waar die spiere vinniger ontwikkel as wat die spier aan die been kan heg.

Die spier trek letterlik ’n stukkie van die been af omdat die hegting nie sterk genoeg is nie. Dis ernstig genoeg om ’n kind se sportloopbaan vir goed te kelder.

Kinders se oefening moet pas by die sport waarin hulle wil verbeter. Afrigters by gimnasiums het meestal nie die nodige kennis nie, en kinders behoort dus eers deur ’n biokinetikus geëvalueer te word voor hulle lostrek met oefeninge wat hulle kan skaad.

’n Biokinetikus bepaal eers jou kind se sterk en swak punte, werk dan ’n gespesialiseerde oefenprogram uit en skryf die regte oefeninge vir spoed, eksplosiewe krag en spiermassa voor, sê Derik.

Natuurlik het groter en sterker spiere ook hul nut. “Dit kan die beseringsrisiko help verlaag omdat dit die ligamente en gewrigte beskerm. Sulke oefening móét egter oor ’n lang tyd stapsgewys opgebou word, onder die toesig van ’n opgeleide afrigter – anders is die beseringsgevaar groter,” benadruk hy.

Eet reg

Nog ’n euwel waaraan tieners wat dol is oor rugby veral in gimnasiums blootgestel word, is anaboliese steroïede.

Die gebruik van steroïede onder skoolseuns is skokkend algemeen, was die ontstellende navorsingsbevinding deur die Universiteit van die Vrystaat.

Dié middels is so gewild omdat hulle die rustyd wat tussen oefeninge nodig is, verkort. Kinders kan dus meer oefen en vinniger spiere bou.

Verlede jaar het Huisgenoot selfs berig oor laerskoolseuns wat hulle met perdehormone inspuit om groter spiere te bou. “Die spiervergroting is dramaties en vinnig, maar ek ys as ek daaraan dink,” sê Derik.

Steroïede kan lewensgevaarlik wees indien dit verkeerd geneem word. As jy agterkom jou kind se vel raak skielik lelik en vol puisies, sy spiere vergroot vinnig en sy testes raak kleiner, behoort jy baie bekommerd te wees. Hy kan reeds op pad wees na ’n hartaanval, beroerte of lewerskade.

Ouers moet ook waak teen sekere diëte en voedselaanvullers. “Vir kinders om byvoorbeeld geen rooivleis te eet nie omdat die vetinhoud te hoog is, is loutere bog,” sê Derik.

“Ek is ook baie skepties oor die waarde van proteïenaanvullings, want dit kan selfs die niere beskadig.

“Tieners is in ’n snelgroeifase en skade aan sekere organe kan nie later reggedokter word nie. Jy moet jou afvra of jy jou kind graag twintig jaar later op ’n dialisemasjien wil sien.”

Volgens Derik is daar geen goeie wetenskaplike bewyse dat voedselen vitamienaanvullers van enige werk - like waarde is nie.

“Sowat 95 persent van die bevolking het geen aanvullers nodig nie en sal fiks en gesond bly deur doodgewoon gesond te eet; dus ’n dieet wat bestaan uit om en by 55 persent koolhidrate, 20 tot 30 persent vette en 15 persent proteïene.

“Dis veel eerder die kombinasie van goeie voeding en die regte oefening wat kinders sal help om beter rugbyspelers te word – nie steroïede en oordadige oefening nie.”

Gevaarlike speletjie

DIE spel rugby het die afgelope dekades baie verander.

Die speelseisoen is langer en die spelreëls het verander om die spel beter te laat vloei. Spelers speel nou langer sonder blaaskans en dit vergroot die gevaar van beserings aangesien hulle hulle makliker ooreis.

Dié veranderings lei tot ’n groter moontlikheid van ernstige beserings wat jou mank, verlam of geestelik geknak kan laat, of selfs jou lewe kan kos.

Groter kundigheid en mediese navorsing is nodig om die spel veilig te maak.

Dit kos net een plettervat om ’n lewe te verwoes, bevestig dr. Ansa Erasmus van die Groote Schuur-hospitaal se akutespinalebeseringseenheid.

Hier het hulle verlede jaar binne ’n enkele seisoen ses ernstige rugbybeserings behandel. Vyf van die jong pasiënte was uiteindelik kwadrupleë, dus verlam in al vier ledemate.

Die volle omvang van ernstige rugbybeserings tref jou as jy na landwye syfers kyk: Die afgelope sewe jaar het 46 seuns en 106 mans ernstige nek- of kopbeserings opgedoen. Van hulle is 21 dood en 35 sal nooit weer loop nie, volgens die Chris Burger/Petro Jackson-spelersfonds.

Hoogvatte, skrums en losskrums is die gevaarlikste fases van die spel wat beserings betref, maar enige beweging wat die nek onnatuurlik laat buig of draai, kan dodelik wees.

“Enige fleksie (vorentoe buig) of ekstensie (agteroor buig) met of sonder rotasie is genoeg om jou nekwerwels te laat skuif of plat te druk. Dit kan die rugmurg beseer en verlamming veroorsaak. As ’n klein outjie deur groot ouens geduik word, kan dit sy nek breek,” sê Ansa.

Dan het sommige mense boonop ’n aangebore neiging tot swak werwels of ’n broos skelet. Hulle behoort nooit aan ’n kontaksport deel te neem nie.

“Ons het ’n jong pasiënt hier gehad wie se nekwerwels so fyn was dat hy nooit eens naby ’n rugbyveld moes gekom het nie. Dit het min geverg om sy werwels te vergruis.”

Enige nekbesering op die rugbyveld moet met erns bejeën word en X-strale is die minste wat gedoen moet word, meen sy. ’n Stywe nek, speldeprikke in ledemate of ander tekens van verlamming moet onmiddellik deur kundiges ondersoek word.

Kinders, veral snelgroeiende tieners, is aan groot gevare blootgestel omdat die beentjies in hul nek en rug nog sag is. Byna al die beserings kan voorkom word, meen dokters.

Spelers behoort nie te speel voor hul beserings volkome genees het nie. Skeidsregters behoort strenger op te tree, veral by klubrugby. Noodhulpbehandeling en -toerusting moet langs die veld beskikbaar wees: die regtige tydige behandeling kan verlamming voorkom.

Dit bly ouers se plig om toe te sien dat afrigters op standaard is en dat kinders oefeninge doen om hul nekspiere te versterk.

Keer vir jou kop!

EEN uit elke vier rugbybeserings is aan die kop. Hiervan is harsingskudding en skedelbreuk verreweg die gevaarlikste.

Met laasgenoemde kan stukkies been in die brein insteek of breinweefsel gekneus word. Dit kan lei tot bloeding op die brein en uiteindelik die dood.

Harsingskudding word veroorsaak wanneer ’n speler ’n harde hou teen die kop of kakebeen kry, as twee spelers teen mekaar vashardloop of as daar ’n skielike draaibeweging van die kop is.

“Die brein is ’n sagte massa binne ’n harde dop. ’n Hou teen die kop laat die brein hard teen die skedel vasslaan, waarna dit terugwip en dan die ander kant van die skedel tref,” verduidelik dr. Jon Patricios van Sports Concussion South Africa.

“Die brein word amper soos jellie in ’n blik binne die skedelkas geskommel, wat skeuring van senuselle en skade aan die bloedvate kan veroorsaak.

Weens die skade vind ’n kettingreaksie in die brein plaas. Die beskadigde dele het meer voedingstowwe soos glukose nodig – maar omdat bloedvloei afneem, is daar juis minder suurstof en voedingstowwe. Dit veroorsaak swelling en verdere skade.”

’n Speler hoef nie te val om harsingskudding op te doen nie. Hy hoef ook nie bewusteloos te wees nie. Tipiese simptome sluit in disoriëntasie, geheueverlies, hoofpyn, duiseligheid, naarheid, slaperigheid en ’n verlies aan balans. Jou ore kan tuit en jy kan sterre sien of dubbelvisie kry. Selfs met matige harsingskudding moet spelers minstens drie weke rus voor hulle weer speel.

Dit gee die uiters weerlose brein kans om te herstel. As hulle twee keer binne een seisoen harsingskudding opdoen, moet hulle die res van die seisoen ophou speel – en as dit drie keer gebeur, moet hul brein ’n hele jaar lank rus, al wys ’n CT- of MR-skandering geen skade nie.

Dié skanderings kan soms misleidend wees en wys alles is in orde in gevalle waar daar reeds ernstige breinskade is. Indien ’n speler dan ná ’n kort tydjie ’n ligte stampie teen die kop kry, kan dit sy dood beteken.

Dit staan as sekondêre-impaksindroom bekend. Kinders se ontwikkelende brein is kwesbaarder en hulle doen makliker harsingskudding op as volwassenes.

Hoewel die rugbygemeenskap harsingskudding nou ernstiger opneem as drie jaar gelede, ontbreek die nodige erns steeds, sê Jon. In 2006 het ’n sentrum vir die behandeling van sportharsingskudding 158 skoolseuns vir harsingskudding behandel.

Dit was net in Johannesburg en in net een rugbyseisoen! “Ek is ’n rugbyliefhebber, maar ons moet dringend meer aandag aan die oorsake van ernstige beserings in dié sport gee,” sê hy.

Wenners, wenners, wenners!

DIE drang om te wen wat van kleins af by kinders aangewakker word, kan nie goedgepraat word nie. Voeg hierby afrigters wat nie altyd ewe kundig is nie en laerskoolkinders wat nie teen dieselfde tempo groei en spierkrag ontwikkel nie, en jy het ’n resep vir besering.

Die druk op skoolseuns om te presteer, is waar dinge in rugby begin skeefloop. Die seun speel uit sy eie (of onder druk van sy ouers of die afrigter) te vinnig weer ná ’n besering.

Hy kan hom ook “ooroefen” en selfs anaboliese steroïede begin gebruik. Kinders doen dikwels alles in hul vermoë om nie hul ouers teleur te stel nie.

Afrigters kan baie doen om hierdie ingesteldheid te verander. Daar bestaan ’n groot gebrek aan kundige afrigters op laerskoolvlak en daar is ongelukkig van hulle wat hul spannetjies probeer aanspoor deur op hulle te skree. “Maar dit wakker net aggressie en frustrasie aan.

Wanneer aggressie geloof word, word laerskoolkinders soms so erg op die rugbyveld beseer dat dit lyk asof hulle in ’n motorongeluk was,” sê Jannie.

Ouers moet eintlik ook ’n slag goed na hulself kyk. Daar is ouers wat uitermate dom dinge doen, soos die Pretoriase pa wat ’n dokter wou omkoop om sy seun, met sy skedelbreuk en al, fiks te verklaar vir die Cravenweek.

Daar is selfs ouers wat hul kinders aanmoedig om steroïede te gebruik. Maar jy hoef nie so ver te gaan nie. Jou teleurgestelde gesig as jou kind nie die beste is nie, is genoeg om die boodskap duidelik deur te gee dat alles om wen draai.

Mense vergeet dat dit net kinders is wat speel, sê Theo Kleynhans, hoof van WPjunior rugby wat al 27 jaar by dié spel betrokke is.

Dit is geen wonder dat daar nou al gepraat word van amptelike gedragskodes vir ouers oor hul optrede langs die veld nie.

“Ons moet ons kinders leer om bloot die spel te geniet,” sê Jannie. Daar kan selfs daaraan gedink word om, soos in Australië en Nieu-Seeland, geen ligas en toernooie op skoolvlak te hê nie.

Ander voorstelle vir gesonde skolerugby sluit in:

  • Lig kinders en ouers beter in oor die gevare van steroïede, te veel proteïen skommels en oordrewe oefening.
  • Deel laerskoolspanne in volgens grootte en nie ouderdom nie. Party tienjariges lyk soos hoërskoolseuns, ander soos agtjariges. Die gevare spreek vanself.

  • Verbeter afrigting op skolevlak ingrypend. Kleintjies moet eers vaardighede ontwikkel en hul lyf sterk maak.

    Stoei is die ideale sport vir jong kinders wat graag eendag wil rugby speel. Dit stel kinders op ’n beheerste manier aan fisieke kontak bloot terwyl hulle hul krag opbou en selfvertroue ontwikkel.

    Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het reeds die bal aan die rol gesit en verlede jaar ’n omvattende nuwe program aangekondig om rugby veiliger te maak.

    Dit sluit in ’n poging om skeidsregters en afrigters beter op te lei en net afrigters met die nodige opleiding toe te laat om kinders af te rig.

    Noodhulpbehandeling by skole sal verbeter moet word en alle ernstige beserings aan die rugbyunies gerapporteer moet word. Een van die groot dryfvere agter die wenkultuur en die wortel voor enige rugbymal skoolseun se neus is natuurlik die finansiële beloning vir topspelers.

    Rugby is deesdae groot geld. Internasionale agente sak toe op die senior Cravenweektoernooi, een van die grootste skolerugbytoernooie ter wêreld, om nuwe talent te ontgin.

    Skole probeer mekaar se topspelers kaap en beurse en kontrakte word soos stokkielekkers uitgedeel. Kophou deur die belowende jong seuns en hul ouers kan die verskil beteken tussen ’n lang en roemryke rugbyloopbaan en ’n kortstondige een wat deur beserings gekniehalter word.

    Dit is die drome van Groen-en-Goud en Wêreldbekerglorie wat maak dat groot provinsiale en nasionale spelers hul lyf op die spel plaas.

    Maar is al die bloedsweet die moeite werd? “Beslis!” antwoord ’n bekende Super14- speler. “Niks kom daarby om ná ’n goeie wedstryd saam met die manne in die kleedkamer te sit en te weet jy het jou bes gegee nie. Dat jy gehelp het om jou span te laat wen. Daar is broederskap, ’n gevoel wat jy moeilik kan beskryf. Elke krieseltjie pyn is dan die moeite werd.”

    Rugby is en bly ’n fantastiese spel, voeg Derik by, maar dan moet almal saamwerk om dit so veilig moontlik te maak. “Ons kinders is ons toekoms. In Suid-Afrika het ons gesien watter saambindende krag rugby kan wees. Ons kan soveel meer doen om die spel verantwoordelik te ontwikkel.”

    Dit sal net gebeur as ons nie kortpaaie na roem soek nie, maar die regte dinge doen om te verseker ons kinders stap elke keer heelhuids van die veld af. En so ook as hulle die land se nuwe Springbokhelde is.

    Gevaarlikste posisies

    Die heel gevaarlikste posisie op die rugbyveld is dié van agtsteman. Hulle doen tussen 12 en 14 persent van alle beserings op.

    Skrumskakel is die veiligste met ’n beseringskans van net 6 tot 8 persent.

    ’n Haker, flank, slot en vleuel (10 tot 12 persent) deel die tweede gevaarlikste posisie, terwyl die heelagter, stut en senter (8 tot 10 persent) die derde posisie deel.

    Die losskakel het ’n kans van 8 tot 9 persent op besering en is naas die skrumskakel die veiligste posisie op die veld.

    Supermanne gesoek

    Moderne rugby stel groot nuwe fisieke eise aan spelers. Dis ’n heeltemal ander soort spel as in die tyd van Mannetjies Roux.

    Nou is dit ’n gevaarlike kontaksport waar spierkrag en aggressie gebruik word om druk uit te oefen en jou teenstanders te intimideer.

    Die dae van oorgewig voorspelers en skraal agterspelers is vir goed verby.

    As ’n mens kyk na Jake White se fiksheidsvereistes vir sy Wêreldbekerspan, besef jy hoeveel die spel verander het.

    Nie net moet ’n stut byna soos ’n Olimpiese naelloper vinnig uit die blokke kan versnel en 40 m binne 5,56 sekondes kan aflê nie, hy moet ook so sterk wees dat hy 180 kg gehurk kan opstoot.

    Dan moet hy ook so veerkragtig soos ’n ballerina wees en 55 cm in die lug kan opspring.

    Daar is ’n 24-uur-noodnommer vir inligting oor harsingskudding.
    Skakel 084-272-4624 as jy vermoed jou kind het harsingskudding.

    Rugby focus centre


 
Previous article: Next article:
Virusse en bakterieë Artritis in kinders
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Esmaré skryf...
Brieweblad
IETS IN DIE LUG
Spelers en Krygers
Jeug-artritis: Nuwe Hoop
In die kop van 'n monster
Lewe met 'n doel
Dodelike kieme
Al lê die berge nog so blou
Hou, rug, hou!
Basta sigarette, basta vet!
Liefde met gevoel
Eina, my rug!
Wat laat tieners uitrafel?
ZOEM IN - Hoe goggas rêrig lyk
Kweek jy gif in jou tuin?
Kuberpsigiater
Seesieketrooster
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Streel jou sintuie
Hg-Pols Blokraai Nommer 3
GROTER! STERKER! VINNIGER!
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement