|
Spelers en Krygers
Hulle is die krygers en rugby die krygsdaad. Maar saam met die
oorwinning gaan ook die verwonding. Hoe laat jy jou kind die
vreugde van die spel ken, maar beskerm hom teen beserings wat
sy lewe kan kos?
Deur Elise-Marie Tancred en die Health24-span
DIS bul teen
bul. Brute
krag. Taktiek.
Moed. Spoed.
In skrums of
lynstane lóói
hulle mekaar
met hul krag en vernuf. Lóóp die een wat
die bal kry! Elke oomblik in die stryd
tel; ook elke uur, dag, maand en jaar van
fanatieke voorbereiding.
Dan kom die glorie. Oorwinning. Voor
honderde of duisende rasende toeskouers.
Soms voor die hele wêreld. As helde stap
hulle van die veld af, skouerhoog word
hulle gedra, goue seuns, gode.
Maar daar is ook ’n ander werklikheid.
Soms loop nie almal af nie; soms
is daardie veld ’n slagveld. Rugby, so opwindend
soos dit is, het sy donker kant.
Daar is altyd die gevaar van beserings.
Verlamming. Selfs die dood . . .
Vandag, soos baie ander voor hulle,
droom duisende jong seuns hul rugbydrome.
Soggens vyfuur oefen hulle reeds
in die gimnasium, party van hulle maar
dertien jaar oud. Hulle sluk aanvullers
en proteïenpoeiers, sê beslis nee vir kos wat vet
maak en gaan slaap vroeg. Hulle weet alles van
anaboliese steroïede en baie beproef dit.
En sommige breek bene, skeur ligamente,
ontwrig skouers, doen harsingskudding op of
kry nekbeserings, want hulle is bereid om alles
op die spel te plaas. Hulle is krygers en rugby
die krygsdaad.
Dit kos ’n sterk en geharde speler met ’n
kragtige nek om teen 800 kg spier en beendere
in ’n skrum te beur of om op volle vaart teen
’n massa van 120 kg te bots
sonder om iets te breek of te
skeur. As iets skeefloop en ’n
kop, arm of been net te hard
en teen die verkeerde hoek
getref word – soos toe die
superflank Schalk Burger in
2006 ’n teenstander geduik
het – kan jou lyf met ernstige
gevolge meegee.
Een ontoelaatbare hoogvat
waarin die nek sywaarts en agtertoe geruk
word, ’n skrum wat in duie stort, of ’n losgemaal
waar ’n speler se nek teen sy bors vasgedruk
of agteroor geknak word, kan ’n speler
se lewe vir altyd verander.
As selfs ’n geharde speler wat reg geoefen
en deeglik voorberei het, ernstig kan seerkry
met so ’n groot trefslag, is dit te verstane dat
skoolseuns, wie se spiere en bene nog aan die
ontwikkel is, bitter ernstig beseer kan word.
Jy het ’n reuse verantwoordelikheid as jou
kind rugby speel, sê dr. Derik Coetzee, die
Wêreldbeker-Springbokke se kondisioneringskundige.
Want speel sal jou kannetjie wil speel. Oor
sy eie drome en oor sy ouers se drome.
In Suid-Afrikaanse skole is daar enorme
druk op seuns om rugby te speel, sê Jannie
Putter, die Blou Bulle se sportsielkundige en
skrywer van Wie Wen . . . Ek of My Kind?
(R80, Lapa Uitgewers). “Rugby is ’n nasionale
sport en as jy dit speel, styg jou gewildheid
en status dadelik. Dis goed vir ’n kind se
selfbeeld – hy is ‘in’.”
Met die regte afrigting het dié sportsoort
baie mooi en positiewe eienskappe. Dit
bou karakter en leer kinders om saam te
werk, te deel en leierseienskappe te ontwikkel.
Hulle leer doelwitstelling en motivering
– alles dinge wat ’n mens later in jou lewe
kan help.
Maar daar is ook groot emosionele en
fisieke gevare verbonde aan veral laerskoolrugby.
“Kinders word te vroeg daaraan blootgestel.
Hulle is oor die algemeen nie emosioneel
gereed vir hierdie soort kontaksport nie. Op
sewe- of agtjarige ouderdom het hulle in elk
geval nie werklik ’n benul van waaroor dit gaan
nie; eers van twaalf jaar af verstaan hulle die
begrip van spansport,” sê Jannie.
“Vir ’n sewejarige kos dit net een genadelose
duikslag om ’n vrees vir die sport te ontwikkel
wat hom die res van sy lewe gaan bybly. Dit
kleineer hom ook en kan maak dat ’n vrees vir
mislukking hom tot in volwassenheid
ry.”
Dan praat jy nog nie eens van
die fisieke beserings nie. Daar
is omtrent nie ’n deel van die
lyf wat nie deurloop nie, en al
kan knie- en enkelbeserings ’n
speler lank van die veld hou, kom
dit nie naby die gevare van ’n
gebreekte nek en harsingskudding
nie. ’n Beskadigde rugmurg kan
tot verlamming of selfs die dood lei, en ’n ligte
stampie teen die kop gou ná die eerste harsingskudding
kan breinskade veroorsaak.
Dit alles begin by verkeerde oefening en
eetpatrone, onnodige of gevaarlike aanvullings
en die drang om tot elke prys te wen.
Oefen slim
Baie jong seuns se begeerte om “spiere te bou”
en groot en sterk te lyk, dryf hulle tot oefeninge
met gewigte wat hopeloos te swaar is vir hul
spiere en skeletbene. Dis niks snaaks om tienerseuns
op hul rug in gimnasiums met swaar ge -
wigte te sien oefen nie – die kommerwekkende
bench press-gier.
Tussen twaalf en sewentien jaar groei seuns se
skelet en spiere baie vinnig, en tieners kla dikwels
van krampe en pyne in hul bene. Met oordadige
en verkeerde oefening loop hulle die gevaar om
een van twee soorte ernstige beserings op te
doen: Hulle kan hul groeiplate beskadig of ’n
avulsiewe breuk opdoen.
’n Groeiplaat is waar beengroei in die been self
plaasvind. As ’n kind sy been of arm in die groei -
plaat breek, is dit ’n baie ernstige en onomkeerbare
besering wat nooit herstel nie. Beengroei
vind nie verder normaal plaas nie en die kind
ontwikkel dan gebreklik – een
been sal byvoorbeeld langer as
die ander wees.
Verkeerde oefeninge, soos
weerstandsoefeninge, kan ook
tot ’n avulsiewe breuk lei. Dis
nou waar die spiere vinniger
ontwikkel as wat die spier aan
die been kan heg. Die spier trek letterlik ’n stukkie
van die been af omdat die hegting nie sterk
genoeg is nie. Dis ernstig genoeg om ’n kind se
sportloopbaan vir goed te kelder.
Kinders se oefening moet pas by die sport
waarin hulle wil verbeter. Afrigters by gimnasiums
het meestal nie die nodige kennis nie, en kinders
behoort dus eers deur ’n biokinetikus geëvalueer
te word voor hulle lostrek met oefeninge
wat hulle kan skaad. ’n Biokinetikus bepaal eers
jou kind se sterk en swak punte, werk dan ’n
gespesialiseerde oefenprogram uit en skryf die
regte oefeninge vir spoed, eksplosiewe krag en
spiermassa voor, sê Derik.
Natuurlik het groter en sterker spiere ook hul
nut. “Dit kan die beseringsrisiko help verlaag
omdat dit die ligamente en gewrigte beskerm.
Sulke oefening móét egter oor ’n lang tyd
stapsgewys opgebou word, onder die toesig van
’n opgeleide afrigter – anders is die beseringsgevaar
groter,” benadruk hy.
Eet reg
Nog ’n euwel waaraan tieners wat dol is oor
rugby veral in gimnasiums blootgestel word, is
anaboliese steroïede.
Die gebruik van steroïede onder skoolseuns
is skokkend algemeen, was die ontstellende navorsingsbevinding
deur die Universiteit van die
Vrystaat. Dié middels is so gewild omdat hulle
die rustyd wat tussen oefeninge nodig is, verkort.
Kinders kan dus meer oefen en
vinniger spiere bou.
Verlede jaar het Huisgenoot
selfs berig oor laerskoolseuns
wat hulle met perdehormone
inspuit om groter spiere te bou.
“Die spiervergroting is dramaties
en vinnig, maar ek ys as ek
daaraan dink,” sê Derik. Steroïede kan lewensgevaarlik
wees indien dit verkeerd geneem word.
As jy agterkom jou kind se vel raak skielik lelik
en vol puisies, sy spiere vergroot vinnig en sy
testes raak kleiner, behoort jy baie bekommerd
te wees. Hy kan reeds op pad wees na ’n hartaanval,
beroerte of lewerskade.
Ouers moet ook waak teen sekere diëte en
voedselaanvullers. “Vir kinders om byvoorbeeld
geen rooivleis te eet nie omdat die vetinhoud
te hoog is, is loutere bog,” sê Derik. “Ek is ook
baie skepties oor die waarde van proteïenaanvullings,
want dit kan selfs die
niere beskadig.
“Tieners is in ’n snelgroeifase en skade
aan sekere organe kan nie later reggedokter
word nie. Jy moet jou afvra of jy jou
kind graag twintig jaar later op ’n dialisemasjien
wil sien.”
Volgens Derik is daar geen goeie
wetenskaplike bewyse dat voedselen
vitamienaanvullers van enige werk -
like waarde is nie. “Sowat 95 persent van
die bevolking het geen aanvullers nodig
nie en sal fiks en gesond bly deur doodgewoon
gesond te eet; dus ’n dieet wat
bestaan uit om en by 55 persent koolhidrate,
20 tot 30 persent vette en 15 persent
proteïene.
“Dis veel eerder die kombinasie van
goeie voeding en die regte oefening wat
kinders sal help om beter rugbyspelers
te word – nie steroïede en oordadige
oefening nie.”
Gevaarlike speletjie
DIE spel rugby het die afgelope dekades
baie verander. Die speelseisoen is
langer en die spelreëls het verander om die
spel beter te laat vloei. Spelers speel nou
langer sonder blaaskans en dit vergroot
die gevaar van beserings aangesien hulle
hulle makliker ooreis.
Dié veranderings lei tot ’n groter
moontlikheid van ernstige beserings wat
jou mank, verlam of geestelik geknak
kan laat, of selfs jou lewe kan kos. Groter
kundigheid en mediese navorsing is nodig
om die spel veilig te maak.
Dit kos net een plettervat om ’n lewe
te verwoes, bevestig dr. Ansa Erasmus
van die Groote Schuur-hospitaal se akutespinalebeseringseenheid.
Hier het hulle
verlede jaar binne ’n enkele seisoen ses
ernstige rugbybeserings behandel. Vyf van
die jong pasiënte was uiteindelik kwadrupleë,
dus verlam in al vier ledemate.
Die volle omvang van ernstige rugbybeserings
tref jou as jy na landwye syfers kyk:
Die afgelope sewe jaar het 46 seuns en
106 mans ernstige nek- of kopbeserings
opgedoen. Van hulle is 21 dood en 35
sal nooit weer loop nie, volgens die Chris
Burger/Petro Jackson-spelersfonds.
Hoogvatte, skrums en losskrums is die
gevaarlikste fases van die spel wat beserings
betref, maar enige beweging wat die nek
onnatuurlik laat buig of draai, kan dodelik
wees. “Enige fleksie (vorentoe buig) of
ekstensie (agteroor buig) met of sonder
rotasie is genoeg om jou nekwerwels te laat
skuif of plat te druk. Dit kan die rugmurg
beseer en verlamming veroorsaak. As ’n
klein outjie deur groot ouens geduik word,
kan dit sy nek breek,” sê Ansa.
Dan het sommige mense boonop ’n
aangebore neiging tot swak werwels of
’n broos skelet. Hulle behoort nooit aan
’n kontaksport deel te neem nie. “Ons het
’n jong pasiënt hier gehad wie se nekwerwels
so fyn was dat hy nooit eens naby ’n
rugbyveld moes gekom het nie. Dit het
min geverg om sy werwels te vergruis.”
Enige nekbesering op die rugbyveld
moet met erns bejeën word en X-strale is
die minste wat gedoen moet word, meen
sy. ’n Stywe nek, speldeprikke in ledemate
of ander tekens van verlamming moet
onmiddellik deur kundiges ondersoek
word. Kinders, veral snelgroeiende tieners,
is aan groot gevare blootgestel omdat die
beentjies in hul nek en rug nog sag is.
Byna al die beserings kan voorkom
word, meen dokters.
Spelers behoort nie te speel voor hul
beserings volkome genees het nie. Skeidsregters behoort strenger op te tree, veral
by klubrugby. Noodhulpbehandeling en
-toerusting moet langs die veld beskikbaar
wees: die regtige tydige behandeling kan
verlamming voorkom.
Dit bly ouers se plig om toe te sien dat
afrigters op standaard is en dat kinders oefeninge
doen om hul nekspiere te versterk.
Keer vir jou kop!
EEN uit elke vier rugbybeserings is aan
die kop. Hiervan is harsingskudding
en skedelbreuk verreweg die gevaarlikste.
Met laasgenoemde kan stukkies been in
die brein insteek of breinweefsel gekneus
word. Dit kan lei tot bloeding op die brein
en uiteindelik die dood.
Harsingskudding word veroorsaak
wanneer ’n speler ’n harde hou teen die
kop of kakebeen kry, as twee spelers teen
mekaar vashardloop of as daar ’n skielike
draaibeweging van die kop is.
“Die brein is ’n sagte massa binne ’n
harde dop. ’n Hou teen die kop laat die
brein hard teen die skedel vasslaan, waarna
dit terugwip en dan die ander kant van die
skedel tref,” verduidelik dr. Jon Patricios
van Sports Concussion South Africa.
“Die brein word amper soos jellie in ’n blik
binne die skedelkas geskommel, wat skeuring
van senuselle en skade aan die bloedvate kan
veroorsaak. Weens die skade vind ’n kettingreaksie
in die brein plaas. Die beskadigde dele
het meer voedingstowwe soos glukose nodig
– maar omdat bloedvloei afneem, is daar
juis minder suurstof en voedingstowwe. Dit
veroorsaak swelling en verdere skade.”
’n Speler hoef nie te val om harsingskudding
op te doen nie. Hy hoef ook nie
bewusteloos te wees nie. Tipiese simptome
sluit in disoriëntasie, geheueverlies, hoofpyn,
duiseligheid, naarheid, slaperigheid en
’n verlies aan balans. Jou ore kan tuit en jy
kan sterre sien of dubbelvisie kry. Selfs met
matige harsingskudding moet spelers minstens
drie weke rus voor hulle weer speel.
Dit gee die uiters weerlose brein kans om te
herstel. As hulle twee keer binne een seisoen
harsingskudding opdoen, moet hulle die res
van die seisoen ophou speel – en as dit drie
keer gebeur, moet hul brein ’n hele jaar
lank rus, al wys ’n CT- of MR-skandering
geen skade nie. Dié skanderings kan soms
misleidend wees en wys alles is in orde in
gevalle waar daar reeds ernstige breinskade is.
Indien ’n speler dan ná ’n kort tydjie ’n ligte
stampie teen die kop kry, kan dit sy dood
beteken. Dit staan as sekondêre-impaksindroom
bekend. Kinders se ontwikkelende
brein is kwesbaarder en hulle doen makliker
harsingskudding op as volwassenes.
Hoewel die rugbygemeenskap harsingskudding
nou ernstiger opneem as drie jaar
gelede, ontbreek die nodige erns steeds, sê
Jon. In 2006 het ’n sentrum vir die behandeling
van sportharsingskudding 158
skoolseuns vir harsingskudding behandel.
Dit was net in Johannesburg en in net een
rugbyseisoen!
“Ek is ’n rugbyliefhebber, maar ons moet
dringend meer aandag aan die oorsake van
ernstige beserings in dié sport gee,” sê hy.
Wenners, wenners, wenners!
DIE drang om te wen wat van kleins af
by kinders aangewakker word, kan nie
goedgepraat word nie. Voeg hierby afrigters
wat nie altyd ewe kundig is nie en laerskoolkinders
wat nie teen dieselfde tempo
groei en spierkrag ontwikkel nie, en jy het
’n resep vir besering.
Die druk op skoolseuns om te presteer, is
waar dinge in rugby begin skeefloop. Die seun
speel uit sy eie (of onder druk van sy ouers of
die afrigter) te vinnig weer ná ’n besering. Hy
kan hom ook “ooroefen” en selfs anaboliese
steroïede begin gebruik. Kinders doen dikwels
alles in hul vermoë om nie hul ouers teleur
te stel nie.
Afrigters kan baie doen om hierdie ingesteldheid
te verander. Daar bestaan ’n groot
gebrek aan kundige afrigters op laerskoolvlak
en daar is ongelukkig van hulle wat hul
spannetjies probeer aanspoor deur op hulle
te skree. “Maar dit wakker net aggressie en
frustrasie aan. Wanneer aggressie geloof word,
word laerskoolkinders soms so erg op die
rugbyveld beseer dat dit lyk asof hulle in ’n
motorongeluk was,” sê Jannie.
Ouers moet eintlik ook ’n slag goed na
hulself kyk. Daar is ouers wat uitermate
dom dinge doen, soos die Pretoriase pa wat
’n dokter wou omkoop om sy seun, met sy
skedelbreuk en al, fiks te verklaar vir die
Cravenweek. Daar is selfs ouers wat hul kinders
aanmoedig om steroïede te gebruik. Maar jy
hoef nie so ver te gaan nie. Jou teleurgestelde
gesig as jou kind nie die beste is nie, is genoeg
om die boodskap duidelik deur te gee dat alles
om wen draai.
Mense vergeet dat dit net kinders is wat
speel, sê Theo Kleynhans, hoof van WPjunior
rugby wat al 27 jaar by dié spel betrokke
is. Dit is geen wonder dat daar nou al
gepraat word van amptelike gedragskodes vir
ouers oor hul optrede langs die veld nie.
“Ons moet ons kinders leer om bloot
die spel te geniet,” sê Jannie. Daar kan selfs
daaraan gedink word om, soos in Australië en Nieu-Seeland, geen ligas en toernooie op
skoolvlak te hê nie.
Ander voorstelle vir gesonde skolerugby
sluit in:
- Lig kinders en ouers beter in oor die gevare
van steroïede, te veel proteïen skommels en
oordrewe oefening.
- Deel laerskoolspanne in volgens grootte
en nie ouderdom nie. Party tienjariges lyk
soos hoërskoolseuns, ander soos agtjariges.
Die gevare spreek vanself.
- Verbeter afrigting op skolevlak ingrypend.
Kleintjies moet eers vaardighede ontwikkel
en hul lyf sterk maak.
Stoei is die ideale
sport vir jong kinders wat graag eendag
wil rugby speel. Dit stel kinders op ’n
beheerste manier aan fisieke kontak bloot
terwyl hulle hul krag opbou en selfvertroue
ontwikkel.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het reeds
die bal aan die rol gesit en verlede jaar ’n
omvattende nuwe program aangekondig
om rugby veiliger te maak. Dit sluit in ’n
poging om skeidsregters en afrigters beter
op te lei en net afrigters met die nodige
opleiding toe te laat om kinders af te rig.
Noodhulpbehandeling by skole sal verbeter
moet word en alle ernstige beserings aan die
rugbyunies gerapporteer moet word.
Een van die groot dryfvere agter die
wenkultuur en die wortel voor enige
rugbymal skoolseun se neus is natuurlik
die finansiële beloning vir topspelers.
Rugby is deesdae groot geld. Internasionale
agente sak toe op die senior Cravenweektoernooi,
een van die grootste skolerugbytoernooie
ter wêreld, om nuwe talent te
ontgin. Skole probeer mekaar se topspelers
kaap en beurse en kontrakte word soos
stokkielekkers uitgedeel. Kophou deur die
belowende jong seuns en hul ouers kan die
verskil beteken tussen ’n lang en roemryke
rugbyloopbaan en ’n kortstondige een wat
deur beserings gekniehalter word.
Dit is die drome van Groen-en-Goud
en Wêreldbekerglorie wat maak dat groot
provinsiale en nasionale spelers hul lyf op
die spel plaas.
Maar is al die bloedsweet die moeite werd?
“Beslis!” antwoord ’n bekende Super14-
speler. “Niks kom daarby om ná ’n goeie
wedstryd saam met die manne in die
kleedkamer te sit en te weet jy het jou bes
gegee nie. Dat jy gehelp het om jou span te
laat wen. Daar is broederskap, ’n gevoel wat
jy moeilik kan beskryf. Elke krieseltjie pyn
is dan die moeite werd.”
Rugby is en bly ’n fantastiese spel, voeg
Derik by, maar dan moet almal saamwerk
om dit so veilig moontlik te maak. “Ons
kinders is ons toekoms. In Suid-Afrika het
ons gesien watter saambindende krag rugby
kan wees. Ons kan soveel meer doen om die
spel verantwoordelik te ontwikkel.”
Dit sal net gebeur as ons nie kortpaaie na
roem soek nie, maar die regte dinge doen
om te verseker ons kinders stap elke keer
heelhuids van die veld af. En so ook as hulle
die land se nuwe Springbokhelde is.
Gevaarlikste posisies
Die heel gevaarlikste posisie
op die rugbyveld is dié van
agtsteman. Hulle doen tussen
12 en 14 persent van alle
beserings op.
Skrumskakel is die veiligste
met ’n beseringskans van net
6 tot 8 persent.
’n Haker, flank, slot en
vleuel (10 tot 12 persent) deel
die tweede gevaarlikste posisie,
terwyl die heelagter, stut
en senter (8 tot 10 persent)
die derde posisie deel.
Die losskakel het ’n kans
van 8 tot 9 persent op besering
en is naas die skrumskakel
die veiligste posisie
op die veld.
Supermanne gesoek
Moderne rugby stel groot
nuwe fisieke eise aan spelers. Dis ’n heeltemal ander soort
spel as in die tyd van Mannetjies
Roux. Nou is dit ’n
gevaarlike kontaksport
waar spierkrag en aggressie
gebruik word om druk uit te
oefen en jou teenstanders te
intimideer. Die dae van oorgewig
voorspelers en skraal
agterspelers is vir goed verby.
As ’n mens kyk na Jake
White se fiksheidsvereistes
vir sy Wêreldbekerspan, besef
jy hoeveel die spel verander
het. Nie net moet ’n stut byna
soos ’n Olimpiese naelloper
vinnig uit die blokke kan versnel
en 40 m binne 5,56 sekondes
kan aflê nie, hy moet
ook so sterk wees dat hy
180 kg gehurk kan opstoot.
Dan moet hy ook so veerkragtig
soos ’n ballerina
wees en 55 cm in die lug kan
opspring.
Daar is ’n 24-uur-noodnommer
vir inligting
oor harsingskudding.
Skakel 084-272-4624
as jy vermoed jou kind
het harsingskudding.
Rugby focus centre
|