|
IETS IN DIE LUG
Wat is die verskil tussen 'n bakterie en 'n virus? En wat werk teen griep?
Deur Betina Louw en die Health24-span
Bakterie
vs. virus
Baie bakterieë en virusse
is aansteeklik of oordraagbaar.
Albei kan jou lelik siek
of selfs doodmaak, tog werk
hulle op twee heeltemal
verskillende maniere.
’n Bakterie is ’n “lewende
diertjie” wat kan begin groei
net waar hy beland: op die
stoof of die bad se rand, of in
jou ore, longe of brein. Virusse
kan egter nie op hul eie buite ’n
gasheer soos ’n mens, dier of
plant vermeerder nie.
Alle bakterieë is nie skadelik
nie, maar sommige kan jou
baie siek maak. Siektes wat
deur bakterieë veroorsaak
word, is byvoorbeeld brongitis,
longontsteking, tuberkulose,
oorontsteking en rumatiekkoors.
Siektes wat deur virusse
veroorsaak word, sluit in griep,
verkoue, herpes, hepatitis,
klierkoors, masels, polio,
Duitse masels en vigs.
Hoe beveg jy bakterieë en virusse?
Bakteriële infeksies word met antibiotika behandel. Hoe meer spesifi ek
die antibiotikum teen die betrokke bakterie is, hoe doeltreff ender is die
behandeling. Sommige bakterieë word egter te slim vir antibiotika. Antibiotika help nie teen virusse nie, maar daar is spesifi eke antivirale
middels waarmee jy virusinfeksies kan behandel. Daar is ent stowwe teen
sommige virusse soos polio en masels.
Antibiotika magteloos teen griep
Geen antibiotikum gaan jou enigsins help teen ’n virus nie. Nuwe middels
teen griepvirusse wat as neuramidase-blokkers bekend staan (handelsname
Relenza en Tamiflu), kan jou gesond maak as jy dit binne 24 uur neem.
Maar griep verswak die immuunstelsel, en by party mense is dié swakker
weerstand net die ding waarop bakterieë wag om veral in die longe te
floreer. As jy griep kry met tipiese hoof- en lyfpyne, gevolg deur ’n bors
wat seer word en ’n gehoes wat eers droog is en dan los word, is dit
eintlik weens ’n opvolgende bakteriële infeksie in jou longe (brongitis of
longontsteking). Die bakteriële infeksie moet met antibiotika behandel
word, veral as jy geneig is tot asma en longprobleme.
En dan is daar prions . . .
’n Prion is nie ’n virus óf ’n bakterie nie, maar ’n baie slim klein proteïen wat die brein
aanval tot die mens of dier doodgaan. Dit kan tot drie jaar lank in die grond oorleef en
daar is geen behandeling daarvoor nie.
’n Prion-infeksie veroorsaak Creutzfeldt-Jakob-siekte in mense en malbeessiekte in
vee. Tans word aanvaar dat jy ’n prion-infeksie kan kry as jy besmette vleis eet, veral vleis
wat met breinvloeistof (serebrospinale vog) of breinweefsel in aanraking was.
’n Prion het geen DNS nie, maar kan homself verdubbel. Hoe hy dit doen, is steeds ’n
raaisel vir wetenskaplikes.
Saamgestel met die hulp van prof. Koos Albertyn, mikrobioloog aan die Universiteit van
die Vrystaat, en prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die
Universiteit van Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe.
|