|
Brieweblad
ELKE GESIN
MOET
DIT LEES
Toe ek een oggend in my spreekkamer
sit en my pa (dr. Danie
Myburgh, wat jare lank op Oudtshoorn
as dokter gepraktiseer het
en steeds daar woon) my bel en
sê ek moet Huisgenoot-Pols gaan
koop aangesien dit ’n fantastiese
nuwe tydskrif met goeie artikels is,
was ek effe verbaas. My pa dink nie
maklik ’n artikel is goed nie, wat
nog te sê ’n hele tydskrif! Ek het
dieselfde middag Huisgenoot-Pols
gaan koop en stem 100 persent
met hom saam. Die artikels is goed
nagevors, maar tog verstaanbaar
geskryf en daar is volop praktiese
raad. Die verskeidenheid van artikels
maak die tydskrif heerlike dog
insiggewende leesstof: van diepteinligting
oor siektes, die stories van
regte mense wat self dinge beleef
en oorwin het, tot die aanloklikheid
van ’n gesonde leefstyl. Dit
vul ’n groot leemte, want mense
het altyd baie vrae oor gesondheidsdinge.
Nou koop ek elke keer
sommer twee Huisgenoot-Polse vir
my spreekkamer. Al my pasiënte is
gaande oor jul tydskrif!
Geluk en doen so voort!
Dr. Karen Ferreira, Kenridge
MY TIENERDOGTER
IS
MOEILIK
Ek verwys na die brief “Die kinders tart
’n mens uit” (Huisgenoot-Pols, Somer).
Hoe diagnoseer ’n mens aandaggebrek-
steurnis en hiperaktiwiteit? Ek het ’n
probleem met my tienerdogter van vyftien
jaar. Sy was tot in gr. 7 ’n pragtige, gehoorsame
kind en het baie goed presteer. Sedert
sy in gr. 8 is, het sy soos handomkeer verander.
Sy wil geen dissipline aanvaar nie en ignoreer
versoeke tensy sy gedreig word – en
dan sal sy ongeskik word en dit baie teësinnig
doen. Sy het al pille probeer drink, weggeloop
en vertel baie leuens om haar sin te kry. Ek is
raadop. Dit veroorsaak oneindige probleme.
Ek is ’n enkelouer. Ek werk nog al die jare en
kon haar seker nie soveel aandag gee soos ’n
ouer wat nie werk nie. Ek het dit vir ons huisdokter
genoem, maar hy sê dis doodeenvoudig
hoe ’n tiener is en dat daar baie groepdruk
in skole is. Kan julle help?
Ria, Vanderbijlpark
Ria, lees gerus ons artikel oor tieners.
Ons hoop dit help om nuwe insig en begrip te
bring. – Red.
DIE REGTE
MUSKIET
Die foto by die artikel
oor malaria (Astrante
klein kalant, HG-Pols,
Somer) is van ’n onskadelike
muskiet. ’n
Spesifieke soort muskiet,
die Anopheles-spesie, dra
malaria oor. Die soort
op die foto speel geen
rol nie en dit kan mense
net verwar.
Dr. Hugo van Niekerk,
Bailliepark
Inhoudsredakteur: Baie dankie,
dr. Van Niekerk.
Die spesifieke artikel was
oor muskiete in die algemeen,
maar daar is inderdaad
sowat 400 Anopheles-spesies
in die wêreld, waarvan sowat
dertig tot veertig malaria oordra.In Afrika is daar veral
drie soorte Anopheles-muskiete
waarvoor ’n mens moet
koes. Hulle is almal stewig en
nie so delikaat soos die onskadelike
muskiet nie. Die drie
soorte is Anopheles gambiae
(die bekendste), Anopheles
arabiensis en Anopheles
funestus.
UITSTEKENDE
BRON VAN
INLIGTING
Ek wil graag die span wat Huisgenoot-
Pols saamstel, gelukwens.
Hoe dikwels stap ons nie by ’n
winkel in nie en word oorgehaal om
’n tydskrif te koop deur reklamefoefi
es wat goeie leesstof van die
eerste tot die laaste bladsy belowe?
Net om tuis met teleurstelling agter
te kom dat daar hoogstens een
of twee ordentlike en intelligente
artikels is – die res is advertensie ná
advertensie, of gaan oor wie wat
gedoen het!
Uiteindelik het ek ’n tydskrif
gevind wat elke sent werd is. Huisgenoot-
Pols is soos ’n lang roman; jy
lees dit van voor tot agter. Selfs die
advertensies is gepas en die moeite
werd om te lees. As ’n opvoeder en
ouer van twee jong seuns vind ek
die artikels ’n merkwaardige bron
van inligting, inspirasie en opvoedkundige
waarde vir mans en vroue,
jonk en oud. Knap gedaan met die
eerste twee uitgawes. Ek sien uit na
die volgendes.
Suzie du Plessis, Port Elizabeth
VEILIG OM
BLOED TE
SKENK?
In Desember was daar verskeie
versoeke op die radio en televisie
dat mense moet bloed skenk. Ek het
nog nooit nie, uit vrees dat dit my
gesondheid kan benadeel. Kan julle
asseblief vir my en ander moontlike
skenkers inligting gee oor of dit
in Suid-Afrika veilig is om bloed te
skenk en te ontvang? Ek sou ook
graag wou weet of daar voordele
vir die skenker is.
Mev. H.J. Potgieter, Evander
Dit is nou op ons artikellys.
– Red.
Ons artikel oor dieetklubs het baie reaksie uitgelok.
Ketogeniese diëte – gevaarlik of nie?
Curves sê:
Ek skryf na aanleiding van die artikel “Dieetklubs: Watter plan werk?” (HG-Pols, Somer) en
spesifiek die dieetkundiges se slotsom met verwysing na Curves: “Ons kan nie ’n ketogeniese
eetplan aanbeveel nie.” As jy nie ’n nierprobleem het nie en gesond is, is matige ketose onskadelik
solank jy genoeg water (minstens agt glase per dag) drink om die ketone uit jou niere te
spoel. Op die Curves-maaltydplan moet lede wat die hoë-proteïendieet volg, hul koolhidrate
’n week lank beperk tot 100 g per dag, en daarna tot 120 g daagliks tot hulle hul teikengewig
bereik – wat meer is as die 60 g koolhidrate voor ketose begin. Curves se gewigsbeheerplan het
ook ’n wonderlike slot-strategie wat lede in staat stel om hul metabolisme te verhoog en hul
gewig te monitor. Oefening maak ’n belangrike deel van die plan uit.
Jacqui Brill, Curves-oefeninstrukteur, Uitenhage
SureSlim sê:
Sharon Lewis, SureSlim Wellness Clinics
Inhoudsredakteur: Ek het ’n paneel van
onafhanklike dieetkundiges en dokters
gevra om dié briewe te beantwoord. Volgens
hulle is matige ketose nie gesond en sonder
gevare nie. ’n Ketogeniese dieet kan die
laaste strooi wees wat tot nierversaking
lei. ’n Ketogeniese
dieet is enige eetplan waar ’n
mens minder as 100 tot 130 g
koolhidrate per dag inneem.
Dit gebeur ook maklik as die
proteïene meer as 15 persent
van jou dieet uitmaak.
Sowel Curves as SureSlim
se eetplanne bevat te veel proteïene
en te min koolhidrate. As
’n mens net ’n raps minder as
die 123 g koolhidrate per dag
op die SureSlim-dieet inneem,
kan dit maklik as ’n lae-koolhidraat-/ketogeniese
dieet geklassifiseer word.
As ’n mens vyf uur tussen maaltye wag en
jy neem net 4 200 kJ per dag in, kan jy lae
bloedglukosevlakke ontwikkel, wat sommige
mense moeg en honger laat voel.
Die dokters ondersteun prof. Tessa van
der Merwe se standpunt dat jy nie iets
kan eet wat jou groeihormoonvlak kan
verander nie.
Volgens die kundiges moet oorgewig of
vetsugtige mense hul dokter besoek voor hulle
met ’n dieet begin, veral as daar diabetes of
ander gesondheidsprobleme is.
Die kundiges is vol lof vir die oefeninge
wat by Curves-gimnasiums aangebied word
as ’n uiters belangrike komponent van ’n
gewigsverliesprogram. Ons wens Curves,
en oefenklubs soos Shapes for Women,
geluk omdat hulle so baie vroue aan die
oefen kry.
Die kundiges is ook bereid om SureSlim
en Curves te help om hul eetplanne te ontleed
en só aan te pas dat dit deur dieetkundiges
onderskryf kan word.
Pols Herfs 2008
|