|
Die spoed van Lewe
Dokters weet hoe belangrik blitsige reaksie is as iemand ernstig beseer is – des te meer as die
noodgeval ver in Afrika is en hulle soontoe moet vlieg Deur dr. Anske van As
DIE telefoon lui net ná middernag. “Gaan asseblief dadelik
na die lughawe,” kom die noodsentrum-operateur se
oorbekende versoek.
“Wat is die pasiënt se toestand?” vra ek amper outomaties.
“Sy is ’n veertigjarige Franse verpleegster in Oos-Afrika, in ’n
kritieke toestand ná ’n motorongeluk ’n paar uur gelede. Veelvuldige
beenbreuke en orgaanbeserings. Sy het baie bloed verloor.
Sy word geventileer – is op masjiene vir asemhaling.”
Ek spring in my vluguniform. Op pad na die lughawe gee
die noodsentrumdokter my telefonies meer besonderhede van
die pasiënt se mediese toestand, soos haar bloeddruk, hoeveel
eenhede bloed sy al ontvang het en watter mediese behandeling
reeds op haar toegepas is. Die noodsentrum skakel my deur na
die paramedikus wat saam met my op die noodvlug gaan, en
saam bespreek ons in detail die behandeling, voorrade en apparaat
wat nodig is. (Die gewig van die voorrade is baie belangrik,
want dit beïnvloed dié van die vliegtuig.)
By die lughawe is die grondpersoneel al druk besig om te
reël vir klarings, dat die vliegtuig genoeg brandstof het en dat
ons deur doeane gaan. ’n Miernes van bedrywigheid! Wat is die
weerstoestande? Hoe moet die vlugplan lyk? Reëlings word getref
vir opname in ’n trauma-hospitaal in Suid-Afrika.
Die lugambulans is skroefaangedrewe, want
die beskikbare straalvliegtuig-lugambulanse se
landingspoed sou te vinnig wees vir die landingstrook
naaste aan die pasiënt. Die strook het nie
landingsligte nie, net olielampe wat ’n vlieënier
in ’n straalvliegtuig-lugambulans te laat sou sien.
Die pasiënt se man wag ons by die lughawe in.
Hy het reeds van sy eie bloed vir sy vrou geskenk.
Ons pak vinnig die eerstewêreld- mediese toerusting
in die wagtende ambulans en jaag deur die klam
Afrika-lug na die hospitaaltjie.
Die pasiënt is in ’n kritieke toestand en uitgebloei.
Die Russiese dokter het haar lewe gered deur haar
regternier te verwyder toe dit te veel gebloei het
– en dít in ’n hospitaaltjie waar daar nie eens
X-strale beskikbaar is nie. Behalwe vir veelvuldige
beenbreuke het sy ’n geskeurde lewer,
milt en pankreas, en twee platgevalde longe.
Ek en die paramedikus werk soos een mens: lugweg, asemhaling,
sirkulasie . . . Eenhede bloed en resussitasievog, dreineringspype
in die longe, spalking van die beenbreuke en immobilisasie
van die pasiënt se liggaam – ons moet haar behandel asof haar
nek en rug gebreek is, want sonder X-strale wéét jy net nie. Alles
word sorgvuldig gedokumenteer; as jy dit nie gedokumenteer het
nie, het jy dit nie gedoen nie.
Ons moet so vinnig as wat ons kan die pasiënt so stabiel
moontlik kry. Sy kry behandeling sodat die lugdrukverskille in
die vliegtuig haar toestand nie sal laat verswak nie.
Tydens die terugvlug hou ons letterlik elke polsslag en asemteug
dop, en dien deurgaans binne-aars medisyne toe. Die
lug ambulans se binnekant is in ’n hoësorgeenheid omskep. Van
bloedgasse tot bloeddruk word kort-kort gemonitor.
Met die aankoms by die trauma-hospitaal in Johannesburg
staan ’n span van sewe spesialis-dokters en -verpleegkundiges
gereed. ’n Berader neem die pasiënt se man eenkant terwyl ek
aan hulle verslag doen.
Sommige pasiënte is eintlik te siek om te vlieg en soms is daar
niks wat ’n mens kan doen om ’n lewe te red nie.
Maar twee maande later bel dié een my en vra dat ons saam
met haar en haar man moet gaan koffie drink. En in die koffiewinkel
is ons hele groepie verstom oor die genade wat
hierdie vrou ontvang het . . .
Ná vyf jaar as ’n lugambulans-dokter het ek daardie
snelle, adrenaliengevulde lewe verruil vir ’n voorspelbare
bestaan met gereelder ure. Ons kollegas het
nogal so ewe gesê dit is daarna ’n aanpassing om
pasiënte te behandel wat self kan loop en asemhaal,
maar ek het geleer dat dit vir ’n ma met ’n
koorsige kind in my eie omgewing net so ’n
verligting is om haar kind weer koorsvry
te sien, as vir ’n ma op enige ander
plek ter wêreld.
Ek salueer elk van my kollegas in
lugambulanse en alle mediese en
niemediese noodpersoneel regoor
die wêreld – mense met ’n moeilike,
stresvolle werk, maar met ’n
passie vir wat hulle doen.
Huisgenoot Pols Junie 2008.
|