|
Kuberpsigiater Junie 2008
V: Ons was ’n tyd gelede in ’n motorongeluk betrokke.
My gesig is vol steke en kneusplekke en my lyf is
pimpel en pers. My seun (2) en my dogter (7) was saam
met my in die motor. Hulle is ongedeerd en ons lewe
almal nog, dank die hemel. My seun is net verskriklik
getraumatiseer. Hy word snags skreeuend wakker en
weier eers dat ek aan hom raak of hom vashou, en dan,
minute later, wil hy my weer nie laat gaan nie. Hoe kan ek
hom help om die situasie te verwerk?
A: Op tweejarige ouderdom is dit vir hom moeilik om te verstaan
wat gebeur het; hy weet net dat dit skielik gebeur
het en dat dit verskriklik was. Sy reaksie sal waarskynlik vervaag.
Hy het nie woorde om uitdrukking te gee aan sy angs nie, maar
miskien kan hy hom uitdruk deur te teken of met speelgoedkarretjies
te speel, en hom daardeur verseker dat alles nog reg is. Dalk
maak die steke en blou kolle hom bang. Doen ’n klomp normale
roetine-dinge saam met hom en verseker hom só dat jy nog
dieselfde ou mamma is – onder al die nuwe kneusplekke.
Snags kan dit miskien nagvrees wees en nie ’n nagmerrie nie: Hy kan
vreesbevange wakker skrik en eers nie ten volle van sy omgewing
bewus wees nie, en dus minder ontvanklik wees vir vertroosting.
Hy sal reageer op ’n kalmerende teenwoordigheid en dan, soos
jy opgelet het, wakkerder word en vir ’n ruk aan jou wil vasklou.
Dit is asof hy gedeeltelik besef het dat slegte dinge kan gebeur
en dat hy jou dalk kon verloor het, en gevolglik tyd nodig het om
gerus te voel dat jy nog daar is en in alle waarskynlikheid nie sal
weggaan nie.
Stel gerus jou vrae oor geestesgesondheid aan ons kuberpsigiater. Gaan na www.health24.com en klik eers op “Experts” en dan op “CyberShrink”. Jou antwoord sal binne ’n dag of wat onder jou vraag op die webtuiste verskyn.
Cybershrink
|