|
Die A tot Z van slaap

Slaap jy snags diep en behaaglik,
of ontwyk soete drome jou? Slaaploosheid,
drome, slaappille . . . Hier is jou slaapfeite Deur Elise Marietancred
WAT is die een ding wat vir elke moderne mens ‘n nagmerrie is, of jy nou in New York of Nieu-Bethesda bly? Slaap! Of eerder die gebrek aan slaap. ’n Chroniese tekort aan slaap word selfs al die “siekte van ons tyd” genoem. Ons slaap minder as ooit tevore. Honderd jaar gelede het mense nog ongeveer nege uur per nag geslaap, maar deesdae is dit sowat sewe uur. Vandat elektrisiteit in ons lewe gekom het, kry die mensdom net nie meer genoeg slaap nie. Nou praat ons nie van enkelinge soos Margaret Thatcher en ons eie Helen Zille wat blykbaar op so min as vier uur slaap per nag fl oreer
nie. Hoekom móét ons slaap?
Vir oorlewing, sou die eenvoudige antwoord wees – maar
wetenskaplikes weet vandag dat slaap ’n noodsaaklike
rustyd vir die liggaam is. Dan word glukosereserwes opgebou
en breinnetwerke geoefen wat andersins sou kwyn.
Sekere noodsaaklike liggaamsiklusse, soos die afskeiding
van groeihormone, kom ook net voor terwyl ons slaap.
Slaap help om die geheue te rangskik, te verfris en om
leervermoë te verbeter, sê Peet Vermaak, neurofisioloog
van The Pretoria Sleep Lab.
Om te verstaan hoe belangrik slaap vir ons oorlewing is,
kyk ’n bietjie wat gebeur as jy nie genoeg slaap nie. ’n Tekort
aan slaap het ’n skrikwekkend negatiewe eff ek op die brein,
waarvan knorrigheid, prikkelbaarheid, onstuimige emosies,
vergeetagtigheid, die onvermoë om te konsentreer, ’n aangetaste
geheue en swak taalbeheer maar enkele voorbeelde is.
Ná sewentien uur sonder slaap is ’n mens se vaardighede
gelyk aan dié van iemand met ’n bloedalkoholvlak van
0,05% – die gevolg van twee glase wyn. Dis genoeg om jou
agter tralies te laat beland . . .
Randy Gardner van die VSA hou die wêreldrekord vir die
langste tyd sonder slaap sedert hy in 1965 ’n volle elf dae lank
wakker gebly het. Ná vier dae het hy begin hallusineer, en toe
het hy hom verbeel hy is ’n beroemde voetbalspeler.
In studies deur die National Institute of Neurological
Disorders and Strokes in die VSA het rotte wat heeltyd wakker
gehou is net drie weke lank geleef, teenoor hul normale
gemiddelde lewensduur van drie jaar!
Slaap is geensins ’n bewustelose rustoestand nie, maar ’n
aktiewe en dinamiese proses waarin die brein nooit afskakel
nie, verduidelik prof. Gerhard Jordaan, hoof van volwassenepsigiatrie
aan die Universiteit van Stellenbosch. “Die liggaam
gebruik feitlik net soveel energie om te slaap as wanneer
’n mens wakker is. Jou staat van slaap of wakkerheid word
deur die brein se oordragstowwe beheer. Dié stowwe skakel
die neurone wat ons laat wakker bly af en maak ons vaak.
Deur die dag bou daar ook ’n chemiese stof, adenosien,
in ons bloedstroom op wat ons lomerig maak. Adenosien
word weer afgebreek snags wanneer ons slaap.”
Maar dié chemiese stof wat ons moeg en vaak laat voel,
breek net behoorlik af terwyl ons diep slaap. As jy nie genoeg
ure diep slaap nie, word al die opgehoopte adenosien nie
behoorlik afgebreek nie en staan jy moeg en vaak op.
HOEVEEL SLAAP IS GENOEG?
Daar is geen ideale aantal slaapure om optimaal gesond te bly nie. Elke mens se slaapbehoefte
is anders, sê die wetenskaplikes van die National Sleep Foundation in die VSA. Sommige mense
benodig net vyf uur per nag, terwyl ander weer ’n volle tien uur moet slaap.
Slaapbehoefte hang van ouderdom af. Babas behoort tot sestien uur, tieners tot nege en ’n half
uur en die meeste volwassenes tussen sewe en agt uur per nag te slaap. Tieners se slaappatrone
is ook anders: Dis normaal vir hulle om saans laat te wil gaan slaap en soggens laat te wil opstaan.
Hoewel ouma ligter en vir korter tye slaap, het sy nog net soveel diep slaap as voorheen nodig. Haar
middagslapie is nie net belangrik nie; sy het snags langer slaaptyd nodig vir genoeg diep slaap.
Dr. Frans Hugo van die Panorama- psigiatrie- en geheuekliniek in Kaapstad verduidelik verder
dat elke mense ’n “basale slaapbehoefte” het en as dit nie bevredig word nie, word daar ’n slaapskuld
opgebou. Jou basale slaapbehoefte is die hoeveelheid slaap wat jy nodig het om soggens
verfris en uitgerus wakker te word. Slaapskuld is die hoeveelheid slaap wat verlore gegaan het.
Mense met slaapskuld toon bedags die kenmerke van slaapgebrek. Die meeste mense raak
normaalweg saans ná ongeveer vyftien tot twintig minute aan die slaap – as jy minder as sewe
minute neem om aan die slaap te raak, het jy ’n slaaptekort, meen Frans. Oorwerkte mense met
slaapskuld sal dikwels die bed soos ’n sak patats tref en sê hulle is binne oomblikke in droomland.
Volwassenes se basale slaapbehoefte is tussen ses en agt uur per nag, maar dinge raak deurmekaar
wanneer slaapskuld met jou basale slaapbehoefte begin inmeng. ’n Ma met ’n jong baba
kan ’n paar aande deurslaap, maar al die vorige weke se min slaap veroorsaak steeds dat sy moeg
is omdat haar slaapskuld so groot is. “Dit is hoekom ons in ’n 24-uur-siklus aan die basale slaapbehoefte
moet voldoen,” verduidelik Frans. Die goeie nuus is dat navorsers glo slaapskuld kan gedelg
word as slaap vir jou net so ’n prioriteit word soos eet. Die gedagte dat die ma moet slaap wanneer
die baba slaap, dra dus gewig.
Te min slaap kan beslis jou oordeel en reflekse aantas. Studies toon dat mediese studente
met ’n slaaptekort meer foute maak. Te min slaap kan ’n mens se gesondheid ernstig knou,
maan Amerikaanse wetenskaplikes. Vetsug, diabetes, hartsiektes, psigiatriese siektes, depressie,
dwelmmisbruik, leerversteurings en motorongelukke word almal met ’n slaaptekort verbind. Aan
die ander kant kan te veel slaap (tien uur en langer per nag) weer ’n sterk aanduider wees van
depressie of ander siektes.
WAAROM IS DROME SO BELANGRIK?
Drome kom feitlik net voor as jy baie diep slaap, in die vyfde fase wat REM-slaap genoem word.
Wetenskaplikes kan nog altyd net raai hoekom ons droom. Wat wel duidelik is, is dat ons almal
elke nag gemiddeld twee uur in droomland is, al kan jy 95 persent daarvan glad nie onthou nie.
Drome se pad deur die brein begin in die midbrein en eindig in die groot harsings, dié deel van die
brein waar leerprosesse, organisering, geheue en denke plaasvind.
Dié roete laat wetenskaplikes vermoed dat drome belangrik is vir hierdie moeilike breintake.
Dit verklaar ook waarom REM-slaap noodsaaklik is vir normale breinontwikkeling by kinders en
hoekom babas so baie daarvan nodig het.
Drome se noue verbintenis met die geheue, veral die vraag oor hoekom dit so moeilik is om
ons drome te onthou, lok verskillende verklarings uit. Volgens sommige bioloë word drome
bloot gebruik om onbelangrike gebeure en inligting uit te vee sodat die brein nie oorlaai word
en ophou werk nie.
Frans beklemtoon dat navorsing oor die doel van REM-slaap en drome nog nie harde wetenskaplike
feite opgelewer het nie. “Ons weet wel dat dit noodsaaklik is vir die geheue omdat die
elektriese stroombane in die brein wat ons geheue vorm, letterlik ineenstort as daar nie REM-slaap is
nie. Tydens drome in REM-slaap word die geheue-stroombane heraktiveer en sterker vasgelê.”
Terwyl ons droom maak die geheuenetwerke kontak met ander netwerke, wat ’n soort kettingreaksie
aan die gang sit. Dit verklaar dalk ook hoekom verskillende temas wat nie noodwendig
met mekaar verband hou nie, in een droom kan voorkom.
Hoekom onthou ons dan nie ons drome nie? Frans sê dit hang af tydens watter slaapfase ons
wakker word. As jy tydens REM-slaap wakker word, sal jy wel jou drome onthou. Drome duur net
so lank as wat gebeure in die werklikheid sou en speel in kleur af.
Fase een is ligte slaap, wanneer
’n mens half wakker is. Jou spiere
ontspan, jou polsslag verlaag en
jou oë begin van kant tot kant rol.
Ligte slaap duur net ’n paar minute.
Die geringste versteuring maak jou
wakker en dan kan jy soms voel
asof jy val. Dit is omdat jou spiere
begin ontspan.
Fase twee ’n Mens verkeer
amper die helfte van jou
totale slaaptyd in fase twee –
ware slaap. Dit duur ongeveer
twintig minute en jou hartklop
verstadig terwyl die asemhalingstempo
ook afneem. Jou breingolwe
word ook al stadiger.
Fase een Die brein toon uitsluitlik
stadige delta-golwe en dis die
moeilikste fase om van wakker te
word. As iemand wel sou wakker
word, is hy gedisoriënteer en knorrig.
Dit is ook tydens diep slaap
dat kinders gewoonlik hul bed
natmaak, of wanneer slaapangsaanvalle
(nagvrese) en slaapwandelings
voorkom.
Fase vyf Die laaste fase van die slaapsiklus staan bekend as REM-slaap. Ongeveer
20 persent van ’n volwassene en 50 persent van ’n baba se totale slaaptyd is REMslaap
en dit begin sowat 70 tot 90 minute nadat jy aan die slaap geraak het.
REM-slaap duur saans die langste. As jy deur die dag ’n vinnige uiltjie knip, duur
REM-slaap langer tydens ’n slapie wat in die oggend eerder as die laatmiddag
geneem word.
REM-slaap kan ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van die brein. Hoe meer
REM-slaap jou kind kry, des te beter. Namate jou baba groei en haar brein ontwikkel,
bring sy al minder tyd in REM-slaap deur.
Tydens REM-slaap lyk ’n mens se breinritme asof jy wakker is. Jou oë rol vinnig rond,
jou asemhaling versnel en jou bloeddruk styg, maar boodskappe van die breinstam
na die res van die liggaam word afgeskakel sodat ’n tydelike verlamming intree. Dit is
’n noodsaaklike veiligheidsmeganisme wat keer dat ons ons drome uitleef.
Dit is ook baie moeilik om iemand tydens REM-slaap wakker te maak, maar as
dit wel gebeur, is jy gedisoriënteer en nog op die plek waar jy saam met ’n skamel
geklede Brad Pitt (of Angelina Jolie) op Mars deur massiewe harige wurms gejaag
word voor julle oor ’n vulkaan wegsweef.
REM-slaap is baie sensitief en word maklik deur sekere kosse en drankies (kafeïen),
medisyne (bv. vir asma), alkohol, dieetpille (wat opkikkers bevat), ontwateringsmiddels,
sigarette en uiterste koue of warm omgewingstemperature beïnvloed.
Indien REM-slaap een nag onderbreek word, volg die liggaam die volgende keer
wanneer jy slaap nie die normale slaapsiklus nie; dit gaan direk in REM-slaap om dié
soort verlore slaap in te haal. Ma’s van jong kinders bring waarskynlik meer tyd deur
in REM-slaap as in enige ander fase.
WAT
GEBEUR
ELKE KEER
WANNEER
’N MENS
JOU OË
TOEMAAK
OM TE
SLAAP?
Met die hulp van ’n
elektroënsefalograaf
(EEG) kan wetenskaplikes
vyf slaapfases
in elke siklus
onderskei. Die vyf
fases verloop in
’n siklus van fase
een tot REM-slaap
(Rapid Eye Movement),
waarna die
siklus van voor
af begin.
HOE
GEVAARLIK
IS SLAAPPILLE?
Die neiging is om slaaploosheid so ver
moontlik sonder die hulp van slaappille en
spesifi ek sonder bensodiasepien-slaappille
te behandel. Baie Suid-Afrikaners steun
op slaappille, al behoort ’n ieder en elk dit
nie ligtelik te sluk nie. Alle slaappille is nie
dieselfde nie en sommige is beslis meer
verslawend en gevaarlik as ander.
Slaappille kan dodelik wees in groot
doserings – veral as dit saam met ander
middels wat jou lomerig maak of alkohol
gedrink word. Bensodiasepien-pille is verslawend
en potensieel gevaarlik: Hulle kan
geboorte-afwykings veroorsaak en pasgebore
babas met groot asemhalings- en
ander probleme laat as die ma dit tydens
swangerskap gedrink het. Kinders moenie
slaappille gebruik nie, want dit kan breinontwikkeling
en fisieke groei vertraag.
Omdat bensodiasepiene ’n onderdrukkende
uitwerking het, kan dit gevaarlik
wees vir mense met asemhalingsprobleme,
depressie, ’n psigiatriese siekte, ’n
spiersiekte, porfirie, slaapapnee, epilepsie,
gloukoom, nier- of lewerprobleme of ’n
alkohol- of dwelmprobleem.
Moet in geen omstandighede slaappille
drink as dit nie deur jou eie dokter aan jou
voorgeskryf is nie – en as dit is, dan presies
volgens die dosis wat voorgeskryf is.
Soorte slaappille
Daar is hoofsaaklik twee groepe slaappille,
die bekende bensodiasepiene (soos
Halcion, Normison, Loramet, Dormicum,
Dormonoct en Hypnor) en die nuwergenerasie
nie-bensodiasepiene (soos
Stilnox en Imovane).
Bensodiasepiene help teen angstigheid
en slaaploosheid, maar dit word ook
gebruik as slaappil voor narkose, vir ligte
narkose, in die behandeling van alkoholmisbruik
en as spierverslapper.
Sommige bensodiasepiene laat jou
byna onmiddellik slaap, maar hul uitwerking
duur net ’n paar uur. Ander se
uitwerking duur langer as twaalf uur. Hoe
vinniger en korter dit werk, hoe makliker
raak ’n mens afhanklik. Dormicum, Dormonoct
en Halcion kan so vinnig werk dat
jy aan die slaap raak voor jy die bed haal.
Jy kan binne ’n paar weke dat jy dié pille
of enige kortwerkende slaappil gebruik,
afhanklik word en kwaai onttrekkingsimptome
kry. Van die slaappille, soos
Rohypnol en Dormicum, se geheueverlieseienskappe
is so erg dat dit vir afspraakverkragting
misbruik word.
As jy weke lank slaappille gebruik het,
moet jy dit nie skielik staak nie, maar geleidelik
en met die hulp van jou dokter.
Stilnox en soortgelyke middels is nie
bensodiasepiene nie en jy het ’n kleiner
kans om van dié pille afhanklik te raak as
van ander slaappille. Dit word meestal
gebruik om makliker in te sluimer.
WERK ENIGE ANDER PRODUKTE? Navorsing wys die kruiemiddel Valerian het ’n kalmerende uitwerking,
maar die newe-eff ekte is onseker. Swanger vroue, kinders en lewerpasiënte moet dit liefs nie neem nie, en dit moet ook nie
geneem word saam met ander middels wat jou lomerig maak nie. Middels wat volgens oorlewering kan help, sluit in avena
sativa (wildehawer), laventel en kamille. Nytol bevat ’n antihistamien wat jou lomerig maak. Dit moenie vir babas, kinders en
swanger vroue gegee word nie, en nie geneem word saam met enige ander medisyne wat jou lomerig maak nie.
SLAAP EN
JOU LYF
SE INTERNE
HORLOSIE
Die geheim van elke mens se unieke
slaapbehoeftes kan dalk gevind word deur na
jou liggaam se interne horlosie te kyk – die
sogenaamde sirkadiese horlosie.
Die woord sirkadies is afkomstig van die Latynse circa diem, wat “omtrent
’n dag lank” beteken. Dit verwys na die liggaam se reaksie op tekens van
buite die liggaam, soos sonlig, wat oor ’n siklus van ongeveer 24 uur afspeel.
Jou sirkadiese horlosie is eintlik ’n struktuur so groot soos ’n koppiespeld
in die hipotalamus van die brein wat op ligprikkels van die retina af reageer
en die slaaphormoon melatonien aan- en afskakel. Die hoeveelheid melatonien
wat afgeskei word, neem by alle mense buiten tieners met sonsondergang
toe – dis dus die liggaam se Klaas Vakie!
Die sentrum in jou brein sinchroniseer ook ander liggaamsfunksies soos
liggaamstemperatuur, hormoonafskeiding, urinering en bloeddrukveranderinge
wat met slaap en wakker verbind word.
Wanneer jy dus vir jou niggie in Australië gaan kuier, beweeg jy van wes
na oos oor verskeie tydsones en word jou liggaam se sirkadiese ritme op die
ergste moontlike manier deurmekaargekrap – dit wat ons as vlugvoosheid
ken. Om van oos na wes oor tydsones te beweeg (van Australië na Suid-
Afrika), maak ’n mens ook vlugvoos, maar meestal nie heeltemal so erg nie.
Deesdae word kunsmatige melatonienaanvullings en ligterapie (waar dokters
helder ligte tydens slaap aanwend om die normale bioritme te herstel) gebruik
om die uitwerking van vlugvoosheid te verminder. Dokters waarsku mense egter
om melatonien net onder mediese toesig te gebruik. Dosisse bou mettertyd
in die liggaam op en die newe-eff ekte hiervan is nog nie goed nagevors nie.
Volgens Jan Top van die Panorama-hospitaal in Kaapstad se slaapkliniek
ly skofwerkers aan ’n soortgelyke uitputting omdat hul liggaam se normale
blootstelling aan lig deurmekaargeskommel word. Moegheid by skofwerkers
het al tot ernstige nywerheidskatastrofes gelei. Die kernkrag-ongelukke
by Tsjernobil en Three Mile Island, die Exxon olieramp en die meeste
motorongelukke op die pad tussen Laingsburg en Beaufort-Wes is glo deur
’n tekort aan slaap veroorsaak. Skofte behoort tot agt uur beperk te word en
die liggaam moet ’n rustyd kry voor skofte weer verander, meen Jan.
SLAAPSORGE
Na raming ly sowat een uit elke vier
mense aan die een of ander vorm van
slaapversteuring, wat ’n invloed het op
hul lewensgehalte en produktiwiteit.
Slaaploosheid
Slaaploosheid (insomnie) is die algemeenste slaapversteuring
en die meeste mense ly die een of ander
tyd in hul lewe daaraan, sê dr. Frans Hugo. Stres,
’n swak dieet, hormoonveranderinge, onderliggende
siektes of vlugvoosheid is die grootste sondaars.
Ouderdom speel blykbaar ook ’n rol en meer vroue
as mans sukkel ná hul middel jare hiermee.
Volgens Frans kan 90 persent van slaaploosheid
sonder medikasie behandel word.
“Ek sê altyd vir my pasiënte Randy Gardner se rekord
is elf dae – jy weet jy gaan ná twee weke slaap,
want in die een of ander stadium is jou slaapskuld
so groot dat jy eenvoudig gaan wegraak.” Goeie
slaapgewoontes is volgens hom net so doeltreff end
om slaaploosheid hok te slaan as enige pil. (Sien die
kassie op bl. 93.)
Slaappille is net ’n tydelike oplossing omdat die
brein binne ’n paar dae verleer om self aan die slaap
te raak. “Met medikasie lyk jou slaapargitektuur
ook anders. ’n Mens het minder REM-slaap en die
geheuefunksie word ook minder doeltreff end vasgelê,”
verduidelik Frans. Voor jy ’n slaappil in jou
mond druk, moet jy jou afvra hoe lank jy dit gaan
drink aangesien baie medikasie – veral die bensodiasepien-
slaappille soos Valium – verslawend is.
Slaapapnee
As jy dink snork is glad nie gevaarlik nie, moet
jy weer dink. Dis dalk ’n waarskuwingsteken dat jy
slaapapnee kry, wat lewensgevaarlik kan wees.
Slaapapnee – waar jy vir kort tye ophou asemhaal
wanneer jy slaap – is een van die mees ondergediagnoseerde
toestande, meen Jan Top. “As jy
sleg slaap, baie snork en oorgewig is, behoort jy
dadelik jou huisdokter in kennis te stel.”
Slaapapnee kom voor wanneer vet rondom
die nek versamel – soos ’n dubbelken of spierweefsel
wat verslap – en dan die slukderm
tydens slaap platdruk en lugvloei vir tussen
tien en sestig sekondes versper. Die brein
registreer ’n tekort aan suurstof en jy snak na
asem voordat jy weer normaal lug kry. Sulke
voorvalle kan tot honderd keer per nag voorkom.
Jy voel die volgende dag moeg, prikkelbaar en
terneergedruk, en het dikwels hoofpyn weens die
suurstoftekort.
“ ’n Mens kan nou wel grappies maak oor hoe jy jou
buurman wakker snork, maar slaapapnee is dodelik,”
sê Jan. “Dit kan ernstige siektes soos diabetes, hartaanvalle,
nierskade, beroerte en depressie veroorsaak. Wanneer
’n mens lees van iemand wat saggies in sy slaap
heengegaan het, is dit dikwels weens slaapapnee.”
Nuwe navorsing toon dat ’n tweede soort slaapapnee
(wat niks te doen het met oorgewig en obstruksie nie,
maar met ’n fout in die asemhalingbeheersentrum in
die brein) baie bedrieglik en gevaarlik is, maar ook nou
doeltreff end behandel kan word. Sommige mense hou
snags op met asemhaal omdat seine van dié sentrum
in die brein nie die asemhalingspiere bereik nie, sê
Bernard Tjallinks, neurofi sioloog van die slaapkliniek
by die Pretoria-Oos-hospitaal.
Albei soorte slaapapnee word in slaapklinieke
gediagnoseer en behandeling vind plaas met ’n toestel
wat lug by die mond inblaas en só aanhoudende suurstofi
nname verseker. Dokters waarsku dat slaapapneelyers
nooit slaappille of verdowingsmiddels moet
gebruik nie omdat dit hulle kan verhinder om weer te
begin asemhaal.
REM-gedragsversteuring
REM-gedragsversteuring klink soos iets uit ’n Halloweenfliek,
maar kan ontwikkel wanneer die breinstam nie
daarin slaag om die liggaam tydens REM-slaap (fase 5)
tydelik te verlam nie. Sulke mense leef dan letterlik hul
drome uit. Jan vertel van ’n pasiënt wat haar een aand
teen die muur van die slaapkliniek disnis gehardloop
het toe sy ’n bal probeer vang het.
“Dis ’n seldsame toestand, maar dis skrikwekkend
om so iets te aanskou en mense kan hulself of ander
ernstig beseer.” In Amerika was daar al opspraakwekkende
gevalle waar lyers moord gepleeg of ander mense
gewelddadig beseer het weens dié versteuring. Medici
verbind die mediese toestand vandag met ander siektetoestande
soos Parkinson se siekte of breinstamskade.
Narkolepsie
Narkolepsie is wanneer iemand ondanks die feit dat jy snags normaal
slaap, bedags slaapaanvalle kry. Dié slaapaanvalle kom skielik
en kan van ’n paar sekondes tot sowat dertig minute duur. Mense
met narkolepsie kan ook katapleksie (die verlies van spierbeheer
gedurende ’n emosionele situasie soos ’n heftige argument), hallusinasies
en tydelike verlamming kry wanneer hulle wakker word.
Die toestand is ernstig omdat iemand hom noodlottig kan beseer
of ’n ongeluk kan veroorsaak indien hy bestuur. Narkolepsie word
dikwels oorgeërf, maar word ook soms met breinbeserings verbind.
Dit word gewoonlik met stimulante of antidepressante behandel.
Rustelose-bene-sindroom
Rustelose-bene-sindroom kom in sekere families voor en is die
onaangename gekriewel, geprik of tinteling in jou bene of voete
wat jou dwing om hulle te beweeg om die gevoel te laat verdwyn.
Veral ouer mense sukkel hiermee. Snags veroorsaak dit slaaploosheid,
maar dit word ook verbind met bloedarmoede, swangerskap
en diabetes. Medikasie wat spesifi ek op die breinoordragstof dopamien
gerig is, is doeltreffend.
Periodieke ledemaat-beweging
(PLB)
Het jy al ooit in die middel van die nag wakker geskrik omdat jou
bedmaat een of albei sy bene skielik optrek, of sy voete beweeg, of
skielik skop en slaan? So erg dat dit jou wakker maak? Dan ly jou
bedmaat aan PLB, sê Peet Vermaak. PLB is die enigste toestand
waar iemand se ledemate onbeheers in sy slaap beweeg. Dit kan
wissel van beweging van die knieë, enkels en tone tot groot bewegings
van al vier ledemate. Baie mense met PLB weet nie eens dat
hul bene en voete in die nag skielik beweeg en hul slaap versteur
nie. Hulle voel net die volgende dag moeg en vaak. PLB neem toe
met ouderdom: Byna die helfte van mense ouer as 65 jaar ly hieraan.
Behandeling met dopamien of slaappille om ononderbroke
slaap te verseker, help.
Slaapwandelary
Slaapwandelary (somnambulisme) kom voor wanneer ’n slapende
mens sy bed verlaat en dinge doen wat gewoonlik met
wakkerheid verbind word. Die persoon kan gewoonlik slegs met
groot moeite wakker gemaak word, en as sy wakker word, kan
sy dikwels nie onthou wat gebeur het nie. Slaapwandelaars kan
hulself of ander beseer. Slaapwandelary kom voor in die diep fase
4-slaap. In Amerika het die polisie ’n vrou van die pad getrek wat
haar honde in die motor gelaai en sowat 40 km ver gery het voor
sy wakker geword het.
Nagvrese
Slaapangsversteuring, oftewel nagvrese, kom meestal by kinders
voor en laat ’n gewone nagmerrie na ’n vulletjie lyk. “Moenie
aan die kind raak of hom optel nie,” sê Peet. “Skakel ’n dowwe
lig aan en stel jou kind in ’n sagte stem gerus tot die episode
verby is.”
Goeie slaapgewoontes
- Kry ’n bekommernisboek
en skryf al jou
kwellings daarin neer.
Dit kan jou ook help
om deur ’n stresvolle
tyd te werk.
- Leer om outomaties
aan die slaap te raak.
Moenie wag dat die “skakelaar”
afgeskakel word nie.
Visualiseer iets lekkers of kyk
weer in jou kop na ’n fl iek
waarvan jy baie gehou het.
Dr. Frans Hugo van die Panorama-
geheuekliniek sê ’n
kollega is mal oor Audi’s en
hy “sien” elke aand hoe hy in
die vertoonlokaal instap, in
die mooiste een klim en uitry
– reguit droomland toe.
- Vermy stimulante soos
koffi e, sjokolade en
nikotien ná ses in die
aand. Alkohol moet liefs
vroegaand en matig gedrink
word. Hoewel dit jou lomerig
maak, kan dit die brein in die
middel van die nag weer aanskakel
nadat jou liggaam die
alkohol gemetaboliseer het.
- Prent dit by jou brein in
dat jou bed net vir slaap
is, en slaap net vir jou bed.
Moenie lê en rondrol nie. As jy
ná tien tot twintig minute nog
nie slaap nie, staan op en doen
iets verveligs op ’n ander plek
– soos om die telefoonboek
te lees! Moenie televisie kyk,
interessante boeke lees of werk
doen nie.
- Moenie angstig raak as jy ’n
paar aande nie kan slaap nie.
Jy sal die tekort gou weer
inhaal. “Indien jy nie vanaand
kan slaap nie, troos jouself
daaraan dat jy waarskynlik
môre of die aand daarna
beter gaan slaap. Die
ergste wat kan gebeur, is
dat jy die volgende dag
moeg en prikkelbaar is,’’
sê Frans.
- Volg elke aand dieselfde
roetine. Jou brein leer later
om die roetine met slaap te
vereenselwig. Oefening kan
help, maar moet vroegaand
gedoen word. ’n Warm bad
en rustige musiek kan ook
help. Probeer slaap tot die
son opkom.
Sleep Centre
|