|
Leef deur die Menopouse
Menopouse is die één ding wat tussen ’n vrou en haar nuwe,
tweede lewe staan. Is daar raad vir die warm gloede, die nagsweet,
die wisselende emosies en vergeetagtigheid? Is hormoonterapie
nou veilig of gevaarlik? Wat van ‘manlike menopouse’? Drie
kenners deel die jongste nuus Deur Mariëtte Crafford
EK KÓÓK,” kla my middeljarige buurvrou by ons vriendin se vyftigste verjaardagteeparty
en waai haar met ’n tydskrif koel. “Ek kan skielik nie slaap nie en rol
heelnag rond,” kla nog een.
“Ek skrik weer papnat gesweet wakker. En almal in my huis moet deesdae koes.
Ek weet nie wat met my aangaan nie – ek staan vrolik op, maar teen middagete
voel ek mistroostig en huil sommer uit die bloute.”
Dit gons om die teetafel. Die meeste van my vriendinne is in hul menopouse, maar die verjaardagvrou
is komkommerkoel. “Ek kan nog nie kla oor mý middeljare nie, maar my man! Dis
asof ek saam met ’n vreemdeling leef. Nuwe motor, nuwe haarstyl, nuwe klere, maar in die bed is daar niks van hom oor nie.”
Almal se klagtes oor die menopouse verskil.
Dié stortvloed van klagtes laat my besef wat dalk my voorland is. Ek gaan steek by ’n paar dokters kers op
– nie net om voorbereid te wees op wat vir my voorlê nie, maar ook om te verstaan wat
met my vriendinne (en vriend!) aan die gang is. Daarby is daar soveel verwarring oor die
behandeling van menopouse dat ek hulle behoorlik met vrae bestook.
“Menopouse” en “hormoonterapie” (HT) is twee woorde wat middeljarige vroue
bykomende golwe warm gloede besorg omdat daar soveel wanopvattings en verwarring
oor albei begrippe bestaan, stem die dokters saam. Voeg daarby manlike andropouse en
dit raak ’n prutpot.
My eerste reeks vrae is aan dr. Tobie de Villiers, ginekoloog en bestuurslid van sowel die Suid-Afrikaanse
Menopousale Vereniging as die Internasionale Menopousale Vereniging.
HG-Pols: Wat is die beste behandeling
vir al die simptome?
TdV: Die enigste behandeling wat alle simptome
dramaties laat verbeter, is hormoonterapie
(HT), wat estrogeenhormoonterapie
(EHT) alleen, of ‘n kombinasie van estrogeenen
progesteroonterapie (EPT) insluit.
Alle vroue is nie eenders nie, maar geen
vrou hoef weens haar simptome te ly nie,
want estrogeenbehandeling – hetsy alleen
of saam met progesteroon – werk werklik.
Jou warm gloede en nagsweet (dis eintlik
nagtelike warm gloede) behoort binne
veertien dae te verdwyn. Daarby sal jy weer
beter slaap, minder buierig voel en jou
lewensgehalte sal sommer verbeter.
Hormoonbehandeling sal ook die gevaar
van osteoporose en hartsiektes verlaag as jy
dit so gou moontlik ná menopouse begin
gebruik.
Omdat warm gloede en ander onaangename
simptome van menopouse gewoonlik
nie langer as vyf jaar duur nie, sal jou dokter
die behandeling ná vyf jaar onderbreek om
te sien of jy dit nog nodig het.
As HT gebruik word om osteoporose te
behandel of te voorkom, kan die behandeling
langer as vyf jaar duur met die goedkeuring
van ’n kundige, maar verkieslik word
hormone vir vroue ouer as sestig jaar deur
middel van ’n velplakker, wat ’n laer dosis
vrylaat, toegedien. As jy ’n geskikte kandidaat
vir EHT is, is die uitwerking beter hoe
gouer jy dit begin gebruik. Dit is beskikbaar
in pilvorm, as plakkers en allerlei jels.
HG-Pols: Moet alle menopousale
vroue dan voor die voet hormoonvervangingsterapie
kry?
TdV:Nee! Eerstens is net een tot twee uit vyf
menopousale vroue se simptome so erg dat
behandeling nodig is, en tweedens is alle
vroue nie geskik vir HT nie.
Dit is belangrik om te onthou dat die
menopouse dalk ongerieflik is, maar nie ’n
siekte is nie. Dis net ’n fisiologiese werklikheid
wat alle vroue ondervind. Baie vroue sê
hulle voel rustiger, wyser en meer tevrede
met hulself as die ongerieflike deel net eers
agter die rug is.
Omdat hormoonterapie
gevaarlik vir sommige
vroue kan wees, moet
’n vrou eers deeglik
deur ’n ginekoloog
ondersoek word voordat
sy as ’n kandidaat daarvoor
beskou word.
Menopouse is ’n uitstekende geleentheid vir
vroue om aandag aan hul algehele gesondheidstoestand
te skenk. Kyk ’n bietjie na jou
eetgewoontes en liggaamsmassa. Raak
fi kser en stres minder. Laat doen die toetse
wat die dokter voorskryf. Dit sluit gewoonlik
’n cholesterol- en bloedsuikertoets in (nadat
jy volgens voorskrif gevas het). ’n Mammogram,
tiroïedfunksie- en beendigtheidsbepaling
is ook op die lysie van moet-toetse.
HG-Pols: Waarom verander dokters
elke paar jaar hul deuntjie oor hormoonterapie?
Is dit veilig of nie?
TdV: Vergeet van navorsers se vertolking
van die bevindings van die Women’s Health
Initiative (WHI). Die WHI-skrywers skuld die
wêreld se vroue en dokters ’n verskoning
vir die verwarrende boodskap wat hulle die
wêreld ingestuur het. Hulle het die gevare
van HT oordryf.
Hormoonbehandeling is baie veilig, mits
dit reg gebruik word.
Só verander jou risiko’s:
- ‘n Geringe verhoogde risiko (47 uit
10 000 vroue pleks van 45 uit 10 000) van
borskanker met verloop van tyd, maar net
in gevalle waar estrogeen en progesteroon
saam gebruik word (dis noodsaaklik as jy
nog jou baarmoeder het). Dit kom nie voor
by vroue wat net estrogeen gebruik nie.
- Die risiko van bloedklontvorming by
pasiënte ouer as sestig jaar raak hoër
– van 16 uit 10 000 vroue tot 34 uit 10 000
vroue. Die risiko is klein en verhoog met
ouderdom, maar is op sy hoogste in die
eerste jaar van behandeling.
- Daar is ook ’n klein verhoogde risiko
van beroerte as jy ná sestig met HT
begin; 29 uit 10 000 pleks van 21 uit
10 000. Anders as met bloedklontvorming
verander die risiko nie ná die eerste jaar
van behandeling nie.
- Die verhoogde risiko’s stop sodra die behandeling
ophou, maar die beskermende
uitwerking teen osteoporose en dikdermkanker
stop ook dan.
HG-Pols: Wat van natuurlike
middels en kruiemiddels?
TdV: Anders as HT, hoef alternatiewe middels
nie aan die streng vereistes van die SA
Medisynebeheerraad te voldoen voordat
hulle op die rak beskikbaar is nie. Dat HT
werk, en góéd werk, is bo alle twyfel met
deeglike, beheerde navorsing bewys. Dit
kan ongelukkig nie van kruiemiddels gesê
word nie.
Sommige navorsers reken dat plantestrogene
in die kruid swart kohosh en in
soja (maar nie sojapille nie) wel kan help om
warm gloede te verlig. Hoewel sommige
vroue sweer dit werk, het ’n nuwe Amerikaanse
studie deur die National Institutes of
Health pas opnuut bewys dat plant-estrogene
niks meer as troosmedisyne is nie.
Mense neem dikwels aan dat medisyne
wat van plante kom, noodwendig veilig
is, maar daar is nie bewyse dat dit wel die
geval is nie. Sommige kruiemedisyne kan
ernstige newe-eff ekte hê en selfs jou lewer
beskadig, of inmeng met die werking van
jou ander medikasie. Gesels met jou dokter
voordat jy kruiemiddels begin gebruik.
Dit is ironies dat almal wat natuurlike middels
wil gebruik, wegskram van EHT, terwyl
alle estrogeen wat dokters voorskryf, van
natuurlike oorsprong (plant of dier) is. Dit word
eff e aangepas sodat dit presies ooreenstem
met die estrogeen wat natuurlik deur die liggaam
vervaardig word. Dis so natuurlik dat die
vrou se liggaam nie kan onderskei tussen haar
eie estrogeen en estrogeenbehandeling nie.
Tydens menopouse word
estrogeenproduksie vanaf die
eierstokke totaal gestaak, maar
voorloper hormone vanaf die
bynier bly in die bloedstroom
sirkuleer. Dié hormone word in
vetselle om geskakel tot estrogeen,
wat verduidelik hoekom
oorgewig vroue met baie vetselle
langer meer estrogeen het as
maer vroue.
HG-Pols: Wie mag dan nie HT
gebruik nie ?
TdV: Hormoonbehandeling sal gewoonlik
nie oorweeg word vir pasiënte met ’n eie of
familiegeskiedenis van bloedklonte, beroerte
of borskanker nie. Hormoonbehandeling
behoort ook nie vir die eerste keer gebruik te
word ná sestig nie.
Daarby word vroue met ’n baarmoeder
behandel met ’n kombinasie van estrogeen
en progesteroon. Hoewel estrogeenbehandeling
alleen eff e veiliger is as die kombinasie-
behandeling, is kombinasie-behandeling
ook baie veilig en doeltreffend as dit nie
langer as vier jaar volgehou word nie, en nie
vir vroue ouer as sestig gegee word nie.
Dit is beslis nie die moeite werd vir ’n vrou
om ’n histerektomie te ondergaan net sodat sy
die minimale voordeel van estrogeenbehandeling
(sonder progesteroon) kan smaak nie.
HG-Pols: Wat kan ’n vrou doen
as sy nie HT of kruiemiddels wil
gebruik nie?
TdV: Probeer eers jou simptome met eenvoudige
gesonde verstand verlig (sien kassie
langsaan). Dis net wanneer dié soort praktiese
benadering nie help nie dat mediese
behandeling oorweeg word. Dié raad sal
ook help vir die vroue wat nie HT wil gebruik
nie, omdat hulle lastige newe-eff ekte ervaar,
want sommige vroue swel op van HT, hul
borste voel teer en hul emosies ry wipplank.
Hier is ’n bietjie raad
WARM GLOEDE
Dis die algemeenste
simptoom: tussen 75 en
80 persent van menopousale vroue
ervaar dit. Dit duur meestal minder
as vyf minute, maar sommige vroue
word elke vyftien minute deur ’n
gloed getref. Dis erger laat in die
middag, as dit warm is, en nadat jy
warm koffie of tee gedrink het of
warm of sterkgegeurde kos geëet het
of gestres is. Dit word ná so twee jaar
algaande minder.
Dis wys om verskeie lae klere aan
te trek wat jy na gelang van jou hittevlaag
kan uit- en aantrek.
Sit voor ’n waaier by jou huis of kantoor.
Vermy warm drankies, kerrie- en
ander speserykosse en drink lekker
koue water. Hoewel jy ’n warm gloed
kan kry terwyl jy oefening doen,
kan gereelde oefening help teen die
gloede en om slaaploosheid te verlig.
Dis ook interessant dat lae dosisse
van spesifi eke antidepressante ook
warm gloede kan verlig.
NAGSWEET Slaap in ligte slaapklere.
As jy jou sopnat sweet in die nag,
spring maar op en gaan stort vinnig.
SLAAPPROBLEME ’n Halfuur se
oefening per dag kan baie help vir
slaaploosheid, solank dit nie laatmiddag
of in die aand is nie. Vermy rook,
groot maaltye, koffi e en alkohol ná
vieruur die middag, en moenie laat
in die aand werk nie. Maak seker dat
jou kamer donker en koel is.
GEMOEDSKOMMELINGS Veral
vroue wat premenstruele buie en nageboorte-
depressie ervaar het, kan
sukkel met buierigheid. HT sal help
vir dié gemoedswisselings. Onthou,
dis nie dieselfde as depressie nie.
DROOGHEID ’n Nievoorskrifinwendige
smeerroom (soos KY®
Jelly) of estrogeenroom kan
baie help.
VERGEETAGTIGHEID Moenie
alleen voel as jy voel jou denke is
“wollerig” nie. Dit sal weer weggaan.
Sorg dat jy genoeg slaap kry en elke
dag oefening doen.
As gids is dit goed om te
onthou dat hormoonbehandeling
nie vir almal
geskik is nie. Maar vir
dié wat dit wel mag gebruik,
is dit nie nodig
om met die menopouse
lewensgehalte in te boet
nie, aangesien HT ’n veilige
opsie is wat werk.
Daarby het elke pasiënt
die reg om ’n ingeligte
besluit daaroor te neem.
Maar dis gewis nie iets
wat as “fontein van
voortgesette of ewigdurende
jeug” beskou moet
word nie.
Menopouse in ’n neutedop
Menopouse, uit Grieks vertaal, beteken letterlik ‘‘die laaste
stonde’’, maar in die volksmond verwys die term meer algemeen
na die oorgangs fase nadat ’n vrou die heel laaste keer
gemenstrueer het.
Die gemiddelde ouderdom waarop die menopouse begin,
is wêreldwyd 51 jaar, maar dit kan enige tyd tussen 45 en
55 jaar intree. ’n Klein groepie vroue sal premature of vroeë
menopouse voor dié ouderdom beleef. Dit is nie normaal nie
en word anders hanteer.
Die aanloop tot die menopouse (die perimenopousale fase)
kan ná 45-jarige ouderdom begin. Maandstondes wat onvoorspelbaar
wegbly en kom, is ’n kenmerk van dié fase. Behandeling
in hierdie fase is meestal nie nodig nie.
IN DIE OU DAE
Teen die einde van die negentiende eeu was die aanvangsouderdom
vir die menopouse, ook soos vandag, 51 jaar, maar
die gemiddelde lewensverwagting van vroue was haas veertig
jaar. Vroue het dus gesterf voordat hulle hul menopouse bereik
het, maar vandag is die lewensverwagting van ’n vrou in die
Eerste Wêreld diep in die tagtig.
WAT GEBEUR IN JOU LYF?
Maandstondes hou gewoonlik op omdat die eierstokke
(ovaria) nie meer maandeliks eiertjies vir bevrugting
vrystel nie. Dit veroorsaak dat die produksie van die
vroulike hormoon estrogeen vir alle praktiese doeleindes
ophou. In normale omstandighede vind dié sogenaamde
ovariële versaking plaas wanneer die kwota
eiertjies waarmee ’n vrou gebore word, opgebruik is
of die gehalte daarvan onvoldoende is.
WAT IS DIE SIMPTOME?
Die skielike afwesigheid van estrogeen het ’n reuse
uitwerking op die liggaams- en gemoedstoestand.
Een van die eerste dinge wat erg deurmekaar gekrap
word, is die temperatuur-beheersentrum in jou brein, wat
jou skielik warm kan laat kry. Aan die begin is warm gloede,
nagsweet (nagtelike warm gloede), slaaploosheid, emosionele
wisselvalligheid en gewrigspyne die algemeenste
simptome. Later volg sowel verdunning
van die vaginale wand wat tot seksuele
ongemak lei, as ’n groter risiko vir
hartvatsiektes, osteoporose en
vergeetagtigheid. Jou vel raak
ook geleidelik dunner en
plooierig en jou hare dunner,
en die kans dat jy ’n vet magie
ontwikkel, raak al groter.
Om beleë
te raak,
HOU
BELOFTE IN
Deur Miranda Pretorius
Ek het pas vyftig geword. Ek is ’n kliniese
sielkundige en ’n ma van twee studente. My
menopouse lê voor my. Of soos die dokters
sê: ek is perimenopousaal.
Kortom, ek is ’n doodgewone vrou wat in ’n
stadium van my lewe is waar ek terugkyk oor die
jare wat verby is en vorentoe na die jare wat nog
kom. Net voor my vyftigste verjaardag het ek
oor die afgelope jaar teruggekyk. Wat het aan my
verander? Want iets was sielkundig en liggaamlik
aan’t gebeure.
Ek onthou die eerste nagsweet wat ek byna ’n
jaar gelede gehad het. Ek het my nie juis daaraan
gesteur nie, maar talle ander veranderinge het
daarna gekom. Soos die jaar sy gang gegaan het,
het ek duidelike veranderinge aan my liggaam
gesien. My hare het yler geword, in bosse uitgeval.
Ek het een oggend gesien dat ek fyn plooitjies
onder my halslyn begin kry het. My vel het al hoe
droër geword. Dit was naderhand so erg dat ek
begin het om ’n nagroom in die dag te gebruik. Ek
is van nature maer, maar ek het ’n rif om my middel
sien ontwikkel. En ek was gedurig moeg. Te
moeg om my arms bo my kop te hou wanneer ek
my hare wou droogblaas. Ek, wat nog altyd mooi
hande gehad het, moes maar aanskou hoe hulle by
die dag ouer lyk. Daarby was my menstruasiesiklus
in sy kanon. Ek slaan sommer ’n maand of twee
oor, en dan is dit asof ’n sluis oopgetrek word.
Wat die ergste vir my was, is dat my gesigsvorm
verander het – so asof ek “te veel
water het”, soos die ou mense gesê het. My
liggaamsvorm was ook nie meer dieselfde
nie. Dit het uit proporsie begin
voel. My borste was te groot
vir my lyf, my bene te maer
vir my middellyf. Ek het
hoofpyne gekry en dit het
soms vir my gevoel asof
my hele geraamte pyn met
krampe in my bene in die
nag daarby.
Die heel ergste vir my,
wat ongetwyfeld perimenopousaal
is, is die sielkundige
faktore. Ek het altyd geduldig
na pasiënte geluister wat
die middeljarekrisis met my
bespreek, en nou het dit met my begin gebeur.
Ek het mettertyd besef dat ek depressief voel. Ek
ken tog al die simptome uit my kop: lusteloosheid,
niks wat my meer opgewonde kon maak
nie, slapeloos die een week, en die volgende week
kan ek skaars uit die bed opstaan. Ek het ál stiller
begin word en my aan mense onttrek. Later het
angs deel van die prentjie uitgemaak. My asemhaling
was vlak en my hande koud en klam. Ek het
heeltyd gevoel asof ek ’n eksamen moes gaan skryf
waarvoor ek nie voorberei het nie.
Ek het erg vergeetagtig begin word. En prikkelbaar.
My humeur was kort en ek sou sommer uit
die bloute tranerig raak.
Totdat ek eendag besluit het dat ek iets aan my
toestand moes doen. Ek het afsprake met my ginekoloog
en psigiater gemaak. Al my hormoonvlakke
is getoets, tiroïedfunksie is bepaal, en ’n mammogram
en beendigtheidstoets het die prentjie voltooi.
My psigiater het antidepressante voorgeskryf en
medikasie om my angsvlak te verlaag.
Vandag voel dit asof ek in beheer is. Ek kon
my vyftigste verjaardag vier met die wete dat dié
skommelinge van verbygaande aard is. Ek het nog
’n leeftyd voor van lééf. Ek het vrede gemaak met
my liggaamsveranderinge en ek sien uit na die dag
waarop ek eerlik kan sê: Ek is verby die perimenopousale
fase, ek het die menopouse kafgedraf en
heelhuids anderkant as ’n wyser en gelukkiger
mens uitgekom. As ’n mens wat met die seisoene
van my liggaam en gees vrede gemaak het.
As vrou, en as sielkundige, kan ek uit my ervaring
van die oorgangstyd die volgende wenke gee:
- Praat met jou lewensmaat oor die simptome wat jy
voel. Dit is baie belangrik dat hy ingelig bly oor hoe
jy jou liggaam ervaar en watter woelinge in jou binneste
plaasvind. Wees eerlik.
- Praat ook met jou kinders hieroor sodat hulle kan
verstaan hoekom jou gemoedstoestand wipplank ry.
- Gaan spreek ’n ginekoloog en bemagtig jou met
kennis oor jou toestand. Laat jou dokter alles oor die
menopouse aan jou verduidelik.
- Gaan spreek ’n sielkundige wat jou op jou pad van
verandering en aanpassing sal begelei.
- Indien simptome soos depressie en angs vererger,
gaan spreek ’n psigiater.
- Probeer om daagliks te oefen – al gaan stap jy net ’n
kilometer om jou kop skoon te kry.
- Maak vrede met die feit dat jy deur ’n verwarrende
tyd van jou lewe gaan, maar dat dit nie vir altyd sal
aanhou nie. Praat met ’n vriendin wat deur dieselfde
lewensfase gaan. Ondersteun mekaar.
- Konsentreer op die positiewe keersy: Jy betree
’n nuwe, uitdagende lewensfase waarin jy nuwe
vaardighede kan aanleer, nuwe stokperdjies kan
beoefen, dalk selfs ’n nuwe loopbaan kan betree en
dinge kan doen waarvoor jy dalk nooit voorheen
kans gehad het nie.
DIE SIELKUNDIGE
MANLIKE
MENOPOUSE
Mans kry
CORVETTE-SINDROOM
Die losbreek-verskynsel onder middeljarige mans is oorbekend: Jare
lank is hy ’n toegewyde eggenoot, gesinsman, broodwinner. Hy
doen alle voorspelbare en verantwoordelike dinge wat van ’n toerekeningsvatbare
man in sy posisie verwag word. Totdat hy een gewone dag
ongewoon begin optree.
Dié persoonlikheidsverandering vind gewoonlik tussen sy veertigste en
vyftigste verjaardag plaas. Dit begin dalk met ’n nuwe, moderne haarstyl. Ewe
moderne klere vervang sy “uitgediende” klerestyl. Hy ruil sy dienlike gesinsmotor
vir ‘n turbo-aangejaagde sportmotor in. Hy raak gedrewe wanneer hy
eintlik veronderstel is om tot bedaring te begin kom.
En in die momentum van ’n verbete
teruggryp na jeugdigheid vervang
hy sommer ook sy middeljarige
mevrou met ’n jong pop.
In ongeloof slaan sy vriende en naasbestaandes ’n man wat “uitgehaak” het
gade, iemand wat hulle gedag het hulle ken, maar wat skielik vreemd optree.
“Het hy gek geword?” wonder hulle. “Of is dit hoe manlike menopouse lyk?”
Dié oënskynlike losbreek-optrede van sommige mans in hul middeljare, sê
dr. Sias Voss, ’n uroloog van Pretoria, het niks te doen met hormoonveranderings
in die man of mediese redes nie. Nee, dis sielkundig.
Onder sielkundiges staan dié optrede as die Corvette-sindroom (genoem
na die Corvette-sportmotor) bekend. Sielkundiges beskou dit as die “sielkundige
manlike menopouse”.
Die faktore wat op sielkundige gebied ’n middeljarekrisis of “wat nou?”-
Gevoel by ’n man kan veroorsaak, sluit in:
- ’n Gevoel dat hy in sy loopbaan sy kruin bereik het en daar nie meer
beroepsuitdagings oor is nie of dat sy kinders nou volwassenes is en
sy doel as versorger uitgedien is.
- ’n Besef van sy sterflikheid omdat hy dalk sy eerste hartaanval oorleef het.
- Vroeë aftrede of afdanking.
- ’n Egskeiding.
- Die heengaan van ’n geliefde.
Sielkundige berading of psigiatriese behandeling is die beste behandeling
vir die sielkundige manlike menopouse (of menoPorsche!) wat deur
al dié faktore veroorsaak word.
Menopause - Signs and symptoms
Woman centre
|