|
Het jy 'n vet persoonlikheid?
Het jy ’n vet persoonlikheid?

Is jy een van daardie
mense wat amper nie
anders kan as om vet
te wees nie? Dis deel
van party mense
se ware aard om
te veel te eet,
sê kenners nou.
Is daar iets wat
jy hieraan kan
doen? Deur dr. Ingrid
van Heerden en die
Health24-span
DIS in die aard van die skerpioen om te steek, van die leeu om te jag. Nou sê sekere
wetenskaplikes dis dalk in die aard van sommige mense se persoonlikheid om vet
te wees.
Ja, wat in ons koppe aangaan, speel ’n baie groot rol in hoe vet of maer ons is. En
dit wil nou lyk of vet mense een of meer persoonlikheidstrekke het wat maak dat
hulle meer eet as wat hulle moet.
Daar is vier eienskappe wat kenmerkend is van die “oorgewig persoonlikheidstipe”: ’n swak selfbeeld, swak selfbeheer (of selfs kompulsiewe etery), emosies wat wipplank ry en die geneigdheid tot depressie en angstigheid.
Dié persoonlikheidstrekke kan alleen voorkom, of saam. As enige of almal kop uitsteek, het jy ’n groter kans om oorgewig of vet te wees. Onthou, nie alle mense wat oorgewig is, het een van dié eienskappe nie – maar as jy het, kan die inligting in hierdie artikel dalk help.
Dus: Is dit in jóú aard om vet te wees? Kyk watter persoonlikheidstipe hieronder die naaste aan joune is en lees dan op die volgende bladsy wat jy kan doen om nie meer die prooi van jou eie gedrag te wees nie.
Watter gedagtes maal deur jou kop as jy aan gewigsverlies dink?
Is dit jy dié?
A “Wat maak dit saak as ek vet is? Ek is buitendien lelik en ongelukkig.”
“Aag, ek gaan nie eens probeer om gewig te verloor nie, want ek gaan dit buitendien nie regkry nie.”
“Mense steur hulle in elk geval nie aan my nie – hoekom die moeite doen om gewig af te skud?”
“Ek het twee weke lank reg geëet, maar alles is nou tevergeefs en totaal daarmee heen omdat ek vandag ‘n stuk koek geëet het.”
B “Ek voel net in beheer as ek kan eet en eet en niemand my keer nie.”
“Ek het net nie krag om minder te eet nie.”
“Ek moet eet tot die hele pak koekies op is, en gelukkig is daar dan nog ‘n blok kaas in die yskas om te eet.”
“Ek sal dit net nie maak as ek minder snye brood moet eet nie.”
C “Ek voel so af, maar sal beter voel as ek net ietsie eet.”
“Ek voel een oomblik gelukkig, net om daarna in die diepste, donkerste gat te val.”
“Party keer word alles net te veel – dan is sjokolade al wat sal troos.”
“Alles in my lewe loop skeef, maar gelukkig kan ek nog my kos geniet.”
D “Sodra ek bekommerd of angstig raak, of as dit voel of dinge te veel word, eet ek.”
“Ek kom nie eers agter dat ek so gestres is en al hoe meer eet nie, maar ek voel net hoe my klere al hoe stywer sit.”
“Ek moet soveel werkstres hanteer en as ek weer sien, eet ek nog iets.”
“Ek sien nie kans om die dag te aanskou nie. Ek wil net slaap, en dan druk ek ook sommer alles wat ek sien in my mond. Ek het regtig nie die krag vir oefening nie.”
Sleutel
Die kassie met die
stellings wat die meeste
met jou eie denke
oor een stem dui op jou
persoonlikheidstipe.
Lees nou verder wat jou
te doen staan om gewig
te verloor.
Wat verklap jou antwoorde en hoe
kan jy jou lewe verander?
Persoonlikheid A
Jy het waarskynlik ’n swak selfbeeld en glo
nie dit sit in jou broek om suksesvol te
wees nie. Jy gee die stryd teen die vet -
rolletjies gewonne nog voor dit begin het,
en die geringste terugslag bevestig net jou
gevoel van mislukking.
DIE NUWE JY
Skakel daardie negatiewe gesprekke in
jou kop af en besef jy het baie goeie
eienskappe. Maak ’n lys van positiewe
dinge wat jy al in jou lewe bereik het en
sê hardop dat jy dié keer in jou doel gaan
slaag. Hou ’n “positiewe dagboek” van jou
klein weeklikse suksesse met inskrywings
soos “verloor dié week 1 kg” of “vandag
30 minute ge-gim”. Jy mag niks negatiefs
in die dagboek skryf nie. En siedaar, jou
suksesvolle self kom na vore!
Persoonlikheid B
Jy sukkel moontlik met een van twee
probleme: Óf jy het geen selfdissipline
nie óf jou knaende etery is kompulsiewe
gedrag, soos iemand wat aanhoudend
moet hande was of gaan seker maak die
deure is gesluit.
DIE NUWE JY
As dit swak selfdissipline is, kan dit baie
help om ’n dagboek te hou – omdat ook
dít dissipline verg. Dit kan ook baie help
om by gewigsverliesklubs soos Weight
Watchers en Weigh-Less aan te sluit. Dis
beslis makliker om binne die struktuur
van organisasies waar talle ander jou
vordering met arendsoë volg, te leer om
selfbeheer toe te pas.
As jy net in beheer van jou lewe voel
deur aanhoudend te eet, is dit moontlik
kompulsiewe gedrag en het jy die hulp
van ’n kliniese sielkundige nodig, wat
jou kan leer hoe om jouself te beloon
elke keer wanneer jy selfbeheer toepas.
As dié obsessiewe kompulsie begin om
jou besluite oor ander dinge in jou lewe
te beïnvloed – soos dat jy jou kuiers by
vriende só beplan dat die kafee nog oop
sal wees sodat jy later nog eetgoed kan
koop – het jy die hulp van ’n sielkundige
en dieetkundige nodig. Die behandeling
kan gouer vrugte afwerp as wat jy dink.
Persoonlikheid C
Jy raak waarskynlik maklik emosioneel.
Mense wie se emosies aanhoudend wipplank
ry, soek dikwels ontvlugting in kos. Hulle beskou dit as die enigste vastigheid
in hul wêreld van skommelende emosies.
Jy voel emosioneel weerloos en soek
emosionele stabiliteit in kos. Jy maak op
buitefaktore soos kos staat om jou beter
te laat voel.
DIE NUWE JY
Jy sal jou moet speen van jou emosionele
afhanklikheid van kos deur by ’n
verslankingsgroep aan te sluit wat jou
die stabiliteit gee wat jy in kos soek. ’n
Kliniese sielkundige sal jou ook kan help
om jou kos-kruk weg te gooi. Jy sal sommer
gou-gou reg wees om jou krag van
binne te haal.
Persoonlikheid D
Jy is vermoedelik onder baie druk en raak
maklik angstig of depressief. Hoe meer
gestres party mense is, hoe meer eet hulle.
Dit is moontlik dat jy nie besef dat jy
gespanne of terneergedruk is nie.
DIE NUWE JY
As jy angstig, gestres of bekommerd is,
moet jy probeer uitvind wat jou so gespanne
maak en of daar praktiese maniere
is om jou spanning te verlig. Beter
beplanning en tydsbestuur kan jou rustiger
maak. Maak tyd vir ontspanningstegnieke
wat vir jou werk: ’n massering, ’n luilekker
skuimbad, joga of Pilates-oefeninge. Enige
oefening – soos stap, draf, dans of swem
– is ’n uitstekende ontlaaier van stres, angs
en depressie en sal ook help om jou te laat
gewig verloor.
As jy agterkom dat jy nie meer kans sien
vir dinge wat voorheen vir jou lekker was
nie, gereeld ’n swaar gemoed het, te veel
slaap of snags wakker lê, ly jy dalk aan
depressie. Depressie is ’n baie groter onderliggende
oorsaak van kwaai gewigstoename
as wat mense dink. Gaan gesels met jou
dokter. Hy sal kan vasstel of jy depressief
is en watter behandeling die beste vir jou
kan wees. Laat ’n dieetkundige vir jou ’n
eetplan uitwerk en skud jou donker stemmings
saam met jou gewig af!
VIER GOUE
REËLS WAT JOU
KAN HELP OM
GEWIG TE
VERLOOR
- Kies ’n gebalanseerde eetplan
waar jy tussen ’n halwe tot 1 kg
per week kan verloor. Die eetplan
moet genoeg koolhidrate bevat sodat
jy jou nie uithonger nie. Dit moet ook
genoeg vesel, maar minder vet, en nie
te veel proteïene nie insluit. Vergeet van
pille en skommels en kitsoplossings.
- Volg ook ’n oefenplan – enigiets
van stap, swem of dans
tot joga, dit maak nie saak nie,
kom net aan die beweeg en doen
dit vyf keer per week vir 30 minute.
Konsentreer op jou oefenplan en
vergeet van jou gewig. Hou dagboek
van hoe ver of hoe lank jy elke dag stap,
en weeg jou nie meer as een keer per
week nie. As jy dit net eers vir twee tot
drie weke gedoen het sonder om tou
op te gooi, sal jou kop en jou lyf beter
begin voel oor jou nuwe poging. En as
jy eers begin om ’n bietjie fikser te voel
én jy sien hoe jy van die vetjies begin
afskud, sal dit jou inspireer.
- Moenie in sak en as gaan sit
as jy ’n sny koek of te veel van
iets geëet het nie. Dit hoef nie jou
hele program te kelder nie. Onthou,
dis die dinge wat jy gereeld doen wat
saak maak, nie die enkel dinge nie.
Net soos jy nie gewig gaan verloor of
fiks gaan word as jy een dag reg eet
of oefen nie, gaan jy ook nie gewig
aansit of onfiks word as jy een keer
iets ongesonds eet of nie oefen nie.
Maar as een maal vermeerder tot
twee, drie of vier, is jy op pad na ’n
patroon en ’n gewoonte.
- Onthou dat klein en eenvoudige
veranderings ’n groot
verskil kan maak. Lees meer hier -
oor in ons artikel oor winterkosse.
What’s your workout personality?
|