|
Dis hoe Tim wil hè jy moet oefen

SPORTGHOEROE TIM SE DEURBRAAK STUDIE OOR SPORTPRESTASIE
Jou brein bepaal jou wen of verloor
Prof. Tim Noakes se nuwe navorsing gaan opslae
maak. Dit gaan die manier verander waarop
sportsterre en -spanne hulle voorberei – en dit kan
jóú op en van die sportveld help…
Deur Marí Hudson
MOEGHEID sit
nie in jou spiere
nie, al is dit wat
wetenskaplikes jare
lank glo. Dit sit in
jou brein, sê prof.
Tim Noakes.
Jou brein het ’n baie groter beheer oor jou
sportprestasies as wat wetenskaplikes en leke
ooit besef het – en jy kán dus jou brein instel
vir sukses.
Tim, hoof van die Instituut vir Sportwetenskap
van SA in Nuweland, Kaapstad, en wêreldbekende
ghoeroe op die gebied van sportwetenskap, het
sy opspraakwekkende nuwe navorsingsdata
nou die eerste keer in Suid-Afrika aan HG-Pols
bekend gemaak. Op dieselfde tyd as wat dié
uitgawe die rakke tref, sal die nuwe inligting
in die sportwetenskap-wêreld bekendgemaak
word wanneer dit in die volgende uitgawe van ’n
belangrike mediese joernaal in Amerika verskyn.
Tim se stellings oor spieruitputting druis lynreg
in teen bestaande wetenskaplike sienings dat
’n atleet se spiere moeg word omdat melksuur
(laktaat) daarin opbou.
Hy het al minstens drie keer tevore sienings
in die sportwetenskap op hul kop gekeer. Eers
het hy bewys dat fi ksheid jou nie immuun maak
teen hartaanvalle nie, toe dat nekbeserings ’n
groot probleem op alle vlakke van rugby in die
land is en voorkom kan word. En derdens dat
die Amerikaanse aanbevelings dat ’n marathonatleet
1,2 tot 1,8 liter water per uur moet drink,
hopeloos te veel is en tot waterintoksikasie lei. Elke
keer was hy reg. Elke keer is sy bevindings eers
bevraagteken en die boodskapper verguis, en elke
keer is dit twintig jaar later wêreldwyd aanvaar.
Jare lank al glo wetenskaplikes dat ’n atleet of
sportman se bene moeg word wanneer hy oefen
of aan ’n wedloop deelneem omdat melksuur in
sy spiere opbou. Hoe meer melksuur daar in die
spiere is, hoe moeër raak die spiere, meen hulle.
Maar hoe kan jou spiere moeg voel as jy net
40 persent van jou spiermassa aktiveer? Dit was
een van die sleutelvrae, en daar was nóg: Hoe
kry moeë atlete dit reg om aan die einde van ’n
wedloop vinniger te hardloop as hul spiere op
hul moegste is? Hoekom is atlete ná 42 km in
die Comrades nie naastenby so moeg soos ná ’n
marathon vyf weke vroeër nie?
Dit het gelei tot toetsing van marathonatlete.
Die navorsing het bewys dat melksuur in jou
spiere niks met die persepsie van moegheid te
doen het nie.
“Moegheid is bloot ’n sensasie wat die brein
bewimpel sodat jy jou nie ooreis nie. Die menslike
brein is ’n briljante maar selfsugtige rekenaar wat
by voorbaat optree om sy eie oorlewing op die
maklikste manier moontlik te verseker,” sê Tim.
Jou brein is in beheer van jou lyf. Hy neem al
die seine waar – hoe warm of koud dit is, hoe uitgerus jy
is, hoe fiks jy is, of jy fisiek korrek voorberei is, hoe ver jy al
voorheen gedraf het, hoe ver jy beplan om nou te hardloop,
of daar ’n smeulende kiem in jou lyf is, watter pyne jy
het, jou gemoedstoestand, jou eie twyfel of geloof in jou
vermoëns – en programmeer jou spiere daar en dan dat jy
niks sal doen wat jou lyf in gevaar sal stel nie.
As jy dus onfiks is, sleg geslaap het of in kwaai hitte
90 km wil aflê, gaan jou brein jou bene lam en moeg laat
voel, want anders gaan jou hart dalk ingee. Die brein weet
hy kan nie in ’n dooie liggaam leef nie.
Tim se studies het ook gewys dat amfetamien, ’n verbode
opkikker wat prestasie verbeter, die brein se besluite heeltemal
kan omverwerp sodat jy kan aanhou en aanhou oefen, hoe
sleg dit ook al vir jou liggaam is. As jy jou brein – jou liggaam
se beskermer – afskakel, kan jou liggaam dalk totaal ineenstort
en kan jy sterf.
Die einste model verskaf ook die sleutel om die enorme
krag van die brein in sportprestasies te ontsluit.
In baie gevalle is dit nie ’n fisieke faktor soos hitte,
onfiksheid of ’n besering wat die brein laat reageer nie,
maar jou eie twyfel of weifeling, sê Tim.
Die brein is nie net ’n fyn ingestelde rekenaar
nie, maar ook ’n bloedhond wat selfvertwyfeling
en aarseling op ’n myl kan ruik en onmiddellik
daarop reageer. Die brein beskou twyfel as ’n sein dat
die liggaam nie opgewasse is vir die taak nie. As jy voor die
wedloop of wedstryd wonder of jy dit gaan maak, het jy
klaar verloor. Jou bene gaan sommer van die wegspring af
moeg begin voel, al is jy fiks.
As jy in jou diepste wese glo jy kan wen – nie vaagweg
dink nie, maar werklik in jouself glo omdat jy fiks is, fisiek
optimaal voorberei is en wéét jy kan dit doen – word
daardie geloof in jou brein se rekenaar ingebou, wat dan
jou lyf programmeer vir prestasie. As jy jou oorwinning
kan visualiseer en dit kan proe nog voor die wedloop of
wedstryd begin, en jy berei jou voor met daardie wengedagtes
ononderhandelbaar in jou kop, is die kanse baie
goed dat jy op jou beste gaan presteer.
Dit is presies hoe die Bokke verlede jaar die Wêreldbeker
gewen het, sê Tim. “Daardie beker is gewen nog voor die
span na Frankryk vertrek het. Ons het saam met Jake White
gewerk en ek het gesien hoe hy elke speler laat glo het dat die
span die eindstryd gaan wen, en dat elke wedstryd ’n hekkie
in die opmars na die beker is. Hy het hulle laat glo die enigste
manier om oor elke hekkie te kom, is om elke keer tagtig
minute lank honderd persent te fokus en honderd persent te
gee, asof daar nooit weer ’n tweede kans is nie.”
Daar is ook ander voorbeelde. Een daarvan is die Ikeyrugbyspan
se goeie prestasies vroeër dié seisoen. Dié span was
nie fi siek so sterk en vaardig soos die ander universiteitspanne
nie en was heel laaste geloot vir die universiteite se klubrugbytoernooi
in Maart. Maar met nuwe wendenke in hul kop het
die Ikeys die eindronde gehaal.
“As twee fikse atlete deelneem, moet jy nie verbaas wees
as die een wie se kop die beste op wen ingestel is, die een is
wat wen nie, al is hy dalk nie eens fi siek honderd persent so
sterk soos sy mededinger nie. Goeie fisieke voorbereiding is
belangrik. Maar wat in jou kop aangaan, sal bepaal of jy wen
of verloor, of jy deur ’n sielkundige grens kan bars of nie, of jy
’n medalje in jou hand gaan hou of nie, en of jy tevrede gaan
glimlag,” sê Tim.
Drie keer het Tim bestaande wetenskaplike opvattings
verkeerd bewys.
Die eerste vraagstuk het gegaan oor hartaanvalle by
marathon-atlete. In 1974 het wetenskaplikes geglo marathonatlete
is so fiks en gesond dat hulle heeltemal immuun is teen
hartaanvalle terwyl hulle draf. In 1976 staan ’n dapper
26-jarige Tim voor ’n groot mediese gehoor in New York en
haal sy navorsing aan wat een van Amerika se mees gesiene
sportwetenskaplikes verkeerd bewys. Teen 1979 aanvaar die
wêreld al die bewyse wat die jong Noakes voorgelê het.
Om fiks te wees kan jou hartgesondheid baie verbeter, maar
dit kan nie ’n onderliggende hartsiekte soos ’n wondermiddel
regdokter nie.
Die tweede vraagstuk was oor nekbeserings in rugby.
Dis 1980 en die WP-heelagter Chris Burger breek sy nek
in die Bloemfontein-stadion. Volgens Tim skort daar iets,
want Burger was nie teen ’n sportbesering verseker nie en
hy is nie behoorlik op die veld behandel nie. Hy is ná ’n
lang gesukkel van die veld afgedra, want daar was geen
draagbaar in sig nie. Boonop kon die ongeluk voorkom
gewees het. Dr. Danie Craven hou vol dat Tim oordryf.
Maar nekbeserings in rugby neem toe. Die eerste studie in sy
soort oor skolerugby-beserings die volgende jaar bewys dat
die beserings baie ernstiger is as wat rugbybase wil erken. In
1991 erken Dok Craven dat Tim reg was oor die voorkoming
van nekbeserings. Reëls is nou verander, die spel is veiliger,
daar is groter bewustheid en erkenning van die gevaar, en
noodbehandeling by die veld is beter.
Die derde vraagstuk het te make gehad met die feit dat
Comrades-atlete hopeloos te veel water drink. Toe verskeie
Comrades-atlete in 1981 ineenstort van naarheid en braking,
het almal gedink dis weens ontwatering. Nee, sê Tim, die
drawwers het waterintoksikasie omdat hulle te veel water
gedrink het.
Sy nuwe aanbevelings is geleidelik in Suid-Afrika toegepas
en geen ernstige gevalle van waterintoksikasie is sedert 1991
by die Comrades en ander lang wedlope aangemeld nie. Maar
in Amerika wou hulle dit nie glo nie.
Eers toe ’n onverskoonbare 13 pesent van alle deelnemers
aan 2000 se Boston-marathon waterintoksikasie opgedoen
het, het die een Amerikaanse stadmarathon ná die ander
Noakes se waterdrink-aanbevelings aanvaar. Teen 2005
(byna 25 jaar later) is wêreldkonsensus bereik. Nou is sy
aanbevelings oor voginname – drink wanneer jy dors is – ’n
internasionale norm vir marathonne oor die wêreld heen.
HOE TIM
DIT DOEN
Hoe werk die kop van die
man wat sport weten skaplikes
telkens laat regop sit?
Tim Noakes, uitgesproke,
wêreldbekende en veelbekroonde
sportwetenskapsghoeroe,
het letterlik al honderde
navorsingsartikels wetenskapsonthalwe
geskryf. Maar Lore of Running, ’n onmisbare
gids vir drawwers, het hy vir sy pa geskryf.
Dit was sodat sy streng pa uiteindelik sou
kon verstaan hoekom hy dit geniet om te
draf. Hoe lekker dit sy lyf en veral sy kop laat
voel, hoe hy sy gedagtes kan orden, hoe hy
sy duiwels kan besweer en sy hart vredig
kan kry, of soms net bewus kan wees van die
ritme van sy eie voetval en asemhaling.
Dis hoekom die drafgogga hom as twintigjarige
mediese student gebyt het en hoekom
hy ná sewe Comrades-marathonne (90 km)
en sewentig marathonne (42 km of meer) op
58 steeds drie tot vier keer per week ’n uur
lank draf. Sy rustende polsspoed is steeds ’n
gesonde 58 slae per minuut.
“Ek wou die vreugde en vrede wat draf my
gegee het, met hom deel,” vertel Tim.
Sy pa, ’n man wat onmiddellik resultate wou
sien, kon nooit verstaan waarom die seun
op sy eie draf nie – en dit boonop vir ’n wedloop
wat weke en maande in die verskiet is.
En dié seun was net ’n teruggetrokke denker
wat begrip van ’n ouer gesoek het.
Tim is in 1949 in Harare, Zimbabwe, gebore,
en was vyf toe die gesin na Suid-Afrika
verhuis het. Op sewe is hy kosskool toe om
’n Bishops-boykie te word. Die klein, skaam
seuntjie het die weggaan van sy ouerhuis
ervaar as ’n wegskeur van sy ma.
“ ’n Mens maak nie ’n kind sterk deur
hom te verlaat nie. ’n Mens maak ’n kind
sterk deur hom te laat voel dat jy hom
liefhet en hom te vertroetel. Ek het net nog
skamer en stiller geword,” sê Tim.
Daardie gevoel van verlatenheid en
melancholie op ’n Sondag-laatmiddag
in die kosskoolkamer het hom nog baie
lank agtervolg.
“Gelukkig het ek my vrou, Marilyn, ontmoet
toe ek nog jonk genoeg was om te
kon leer om met my emosies om te gaan. Ek
was sewentien en sy vyftien, en ons het gekliek.
Ek het veilig en sterk gevoel by haar, en
ek kon myself wees. Dis vandag nog so.”
Marilyn is ’n botaniese kunstenaar en
geesdriftige tuinier.
“Tim se passie vir die lewe en energie is
aansteeklik. Maar dis omdat hy so skaam
maar vriendelik was, dat hy my oorrompel
het. Hy het dieselfde breë Afrika-glimlag as
die vriendelik Shona-man wat in sy kleuterjare
by die gesin in Harare gewerk het.
Ek dink die beeld van daardie glimlag het
hom bygebly,” vertel Marilyn in hul mooi
groot tuin.
Hulle stap elke naweek lekker lang ente
saam. Kirstenbosch is een van hul spesiale
stapplekke. “Dis waar ek haar gevra het om
met my te trou toe ek ’n student was,” sê hy
skamerig.
In sy ruim kantoor in Nuweland is baie
foto’s en aandenkings – soos die foto wat
die aand van die Laureus-toekennings in
2002 in Monaco geneem is. Dis een van die
menige toekennings wat hy ontvang het
ter erkenning van sy grensverskuiwende
navorsingswerk.
Hy is duidelik trots op sy kinders en het
’n spesiale band met albei. Hy draf soggens
saam met Candice (32) en hulle het in
2006 saam deelgeneem aan die Chicagomarathon,
die laaste marathon wat hy gehardloop
het. Travis (35) is weer ’n karatepresteerder.
Van hul pa, sê Travis en Candice, staan een
kenmerk uit: Hy het raad gegee, maar hulle
hul eie besluite laat neem. En hulle weet hy
is altyd daar vir hulle.
Tim Noakes lees en luister baie. Hy lees
oor sportwetenskap en -afrigting en vroeëre
mediese deurbrake, asof hy in die koppe
van die ontdekkers wil klim wat die verband
tussen oorsaak en gevolg gevind het. Hy en
sy vrou sit ure om en lees, vertel hy. En op
lang vlugte na kongresse luister hy na opnames
– op ’n vlug na Dublin was dit Winston
Churchill se toesprake wat hom geboei het.
“Moontlik omdat my ma baie oor die Britse
geskiedenis gesels het.”
En hy is gedurig aan die dink. In die
nag, in die dag, terwyl hy draf – dis hoe hy
dinge uitpluis.
Hy het al rustiger geword met die jare,
maar daar was ’n tyd toe dit hom mateloos
gefrustreer het dat sy pleidooie, wat op
wetenskaplike bevindings gegrond was, jare
lank op dowe ore geval het voordat daaraan
gehoor gegee is.
“Hoe baie nek- en ander ernstige rugbybeserings
kon nie al jare gelede voorkom
gewees het nie!” sê hy.
Ons hoop sportmanne en -vroue sal nie
so lank hoef te wag voor hulle voordeel
trek uit sy jongste bevindings nie.
Belangrikste lesse
in sy lewe
- Wees altyd
eerlik teenoor
jouself en in wat
jy doen, want
jy moet met
jou gewete kan
saamleef.
- Moet niks
halfhartig doen
nie – of dit in ’n
verhouding is,
in sport of in jou
werk. Pak elke ding
voluit aan asof daar
geen tweede kans is
om alles te gee nie.
Gee van die begin
af jou beste, en nie
asof jy eers later
of in die volgende
wedstryd jou gaan
laat geld nie.
- Dink al in
jou jeugjare
waar jy wil wees
wanneer jy vyftig
is. Sien dit voor
jou geestesoog
en werk dan die
stappe uit wat
jy moet doen
om jou droom te
verwesenlik. En
dan begin werk jy
stap vir stap om
daar uit te kom.
- Leer om die
regte vrae te
vra. Dit bring die
antwoorde wat
jy soek.
- Elke mens het
’n geesgenoot
nodig. Doen
moeite met dié
spesiale mens as
jy jou sielsmaat
vind.
- Vind in jou lewe
’n doel wat
groter as jy is. Dit
gee jou lewe sin.
Fitness Centre
|