Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
Stem cell miracles
A transplant of a windpipe using stem cells has given a woman a new lease on life.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Huisgenoot Pols Junie 08
 
Nuwe lewe met stamselle

Moet ek my baba se stamselle laat berg? Sal dit hom eendag kan red van hartsiektes, diabetes, artritis, Alzheimersiekte, kanker of verlamming? Of is dit net ’n droom wat deur uitbuiters misbruik word?
HG-Pols se Elise-Marie Tancred stel ondersoek in.

Die beloftes van hoop wat stamselbehandeling inhou, klink soos tower kuns en op sy beste na wetenskapsfiksie. Verlamdes sal weer kan loop, kanker word genees, hartsiektes, diabetes, Alzheimer-siekte en ander aftakelende siektes is iets van die verlede en almal teug aan die beker van ewige jeug.

Met stamselbehandeling kan siek, verouderde selle en organe herstel of vervang word. Dis genesing sonder groot operasies, oorplantings, antibiotika, chemoterapie of ander ingrypende mediese behandeling wat jou andersins maande lank op die krukkelys sou sit. Die risiko’s is minimaal . . . die liggaam herstel hom as ’t ware self. Dit klink wonderlik, ja, en teoreties deesdae moontlik.

Al meer verwagtende ouers vra: Moet ek my pasgebore baba se naelstringbloed laat bewaar ingeval dit later kan help teen ’n lewensbedreigende siekte waarvoor daar geen ander genesing is nie? Tientalle Suid- Afrikaners doen dit reeds. Hulle betaal sowat R12 000 om hul baba se stamselle (onttrek aan naelstringbloed) te laat vries en twintig jaar te berg sou dit benodig word. Dit kan beteken dat die stamselle dié kind (of sy broer, suster, ma, pa, ouma of oupa) kan red as een van hulle kanker, hartprobleme of ’n ander aftakelende siekte kry.

Revolusionêr, is die woord wat dikwels vir hierdie behandeling gebruik word. Maar is stamselbehandeling al so ver gevorder soos wetenskaplikes ’n dekade gelede voorspel het? Nog nie – maar in verskeie hospitale wêreldwyd is daar al sukses behaal teen siektes wat strek van tipe-1-diabetes tot veelvuldige sklerose (sien kassie op bl. 39). Vir sommige siektes soos beenmurgkanker word dit reeds as standaardbehandeling beskou. Daar moet nog navorsing gedoen word, maar daar is reeds tekens dat stamselbehandeling die geneeskunde ingrypend gaan verander.

Stamselbehandeling in Suid-Afrika

Die eerste plaaslike naelstringbloedbank het sy deure drie jaar gelede geopen. Sedertdien bied nog ’n laboratorium dieselfde diens aan.

Stamselle uit naelstringbloed onttrek, word hoofsaaklik gebruik om meer as honderd soorte siektes, waaronder veral sekere soorte kanker, te behandel, sê prof. Michael Pepper. Hy is die besturende direkteur van die Netcare- Instituut van Sellulêre en Molekulêre Geneeskunde en die naelstringbloedbank Netcell Therapeutics, wat internasionaal erken word.

Volgens Harry Minnie, uitvoerende hoof van Lazaron Technologies, Suid- Afrika se eerste naelstringbloedbank, is die gewildheid daarvan besig om toe te neem namate mense meer daaroor ingelig word.

‘‘Sowat 2 000 ouers laat reeds hul kinders se naelstringbloed by ons berg,’ sê Harry.

Een van Lazaron se grootste uitdagings was egter nie om ouers nie, maar medici, van die waarde van so ’n bank te oortuig. Die wonder van die naelstringbloedbank is dat die selle wat bewaar word, nie net vir die baba gebruik kan word nie, maar ook vir ander gesins- of familielede. Volgens Harry is daar ’n kans van een uit vier dat die selle vir susters of broers en vir die ouers gebruik kan word, terwyl ’n een uit agt kans bestaan dat oumas en oupas ook daarby baat kan vind.

Ongeveer 60 persent van naelstringstamseloorplantings word nie op die baba gedoen nie, maar op ander familielede. Vandag is beenmurgstamseloor plantings reeds standaardbehandeling vir mense wat bloedkanker het omdat dit maklik en goedkoop is en ’n goeie suksessyfer het, sê dr. Yvonne Holt, mediese direkteur van Netcell Th erapeutics.

Durf jy so ’n geleentheid deur jou vingers laat glip? Is dit sinvolle risikobestuur? Of ’n vinnige geldmaaksaak? En het die wetenskap nie reeds alternatiewe vir naelstringstamselle gevind nie?

Charles Marais van Johannesburg en sy vrou, Sonica, glo die berging van hul dogtertjie, Chanique (2), se naelstringbloed twee jaar gelede was “die beste ding wat ons nog gedoen het”.

Die Marais’s verwag in Augustus ’n tweeling en “gaan beslis” ook húl naelstringbloed laat berg.

“Hopelik hoef ons dit nooit te gebruik nie, maar ons beskou dit as ’n soort mediese versekering wat enorme gemoedsrus bring.

‘‘Die veld hou soveel belofte in . . . Wie weet? Miskien kan my kinders se naelstringbloed eendag gebruik word om enige siektes gesond te maak. Dit is beslis die beste ding waaraan ek ooit geld bestee het,” sê Charles.

Ook die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Nianell het onlangs haar drieling se naelstringbloedstamselle by Netcell Th erapeutics laat berg as mediese ver sekering vir die toekoms. Maar ’n psigiater, wat om etiese redes anoniem wil bly en wat onlangs pa geword het, het ná vele oorwegings teen die berging van hul baba se naelstringbloed besluit.

“Sekere goed in ons lewe is nie in ons hande nie en as daar ooit iets soos stamselle benodig sou word vir siektes in ons familie of om ons kind gesond te maak, sal ons ’n plan maak as ons daar kom. Ek kan dieselfde bedrag geld beter belê, wat die koop van stamselle sal kan dek as dit eendag dalk nodig is.

‘‘ ’n Mens moet ook seker wees dat die tegnici by die stamselbanke weet wat hulle doen. Ek het gehoor van ’n kollega wie se kind se stamselle daarheen gekoerier is en nou feitlik onbruikbaar is omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.”

Hoe word naelstringbloedstamselle verkry en geberg?

Die meeste stamselbanke verkies dat voornemende ouers sowat drie maande voor die baba se geboorte met hulle in aanraking kom. Maar al die reëlings kan binne ’n paar uur getref word as die vrou in kraam skielik besluit sy wil haar baba se naelstringbloedstamselle laat berg.

Sodra die baba gebore is, onttrek die ginekoloog die bloed uit die naelstring. Dit duur sowat vyf tot tien minute. Die bloed word dan in ’n temperatuurbeheerde houer verpak en met ’n mediese koerier na die bank se laboratorium gestuur. Hier word dit so gou moontlik geberg omdat die stamselle agteruitgaan in die tyd terwyl dit vervoer word en voor dit teen die regte lae temperatuur in die laboratorium geberg word.

Betroubare stamselbanke moet aan vasgestelde vereistes voldoen en daar is riglyne wat jy kan volg om seker te maak jy word nie ingeloop nie.

Omstredenheid en uitbuiters

Soos met enige groot nuwe tegnologiese uitvinding is daar baanbrekers, eksperimenteerders en skarminkels wat teer op ongeneeslik siek pasiënte se desperate pogings om aan die lewe te bly.

Dit is dus geen verrassing dat die veld van stamselbehandeling dikwels in ’n wolk van omstredenheid gehul is nie. Daar was tot onlangs nie eens sprake van wette in Suid-Afrika om stamselnavorsing te reguleer nie. Elke Jan Rap en sy maat kon stamsellaboratoriums hier bedryf en na hartelus eksperimente uitvoer.

Toe word ons wakker geskud. Advanced Cell Therapeutics (ACT), ’n Kaapstadse maatskappy van Stephen van Rooyen en sy vrou, Laura Brown, word in Amerika daarvan beskuldig dat hulle stamselbehandeling wat nooit in laboratoriums getoets is nie, aan pasiënte verkoop.

Op die FBI-webwerf, gedateer 2006, verskyn daar 51 aanklagte wat teen dié twee aanhangig gemaak is wat met bedrieglike aansprake oor stamselbehandeling verband hou.

Eers tóé het Suid-Afrika se Departement van Gesondheid ingrypende maat reëls getref om mediese cowboys aan bande te lê. Nuwe wette wat opgestel is om die bedryf te reguleer, moet nog in werking tree. In wese sê die wet alle intellektuele eiendomsreg rakende stamselnavorsing behoort aan die staat. Dít steek ’n stokkie voor gierigaards en private maatskappye se planne om groot bedrae geld uit stamselle te maak en beteken ook navorsers kan nie hul bevindings patenteer en verkoop nie.

“So ’n wet strem navorsing. Niemand gaan geld steek in iets wat nie weer vir hulle geld gaan oplewer nie. Die gevolg is daar vind feitlik geen stamselnavorsing in Suid-Afrika plaas nie,” sê Michael Pepper. “In Suid-Afrika gaan dit om primêre gesondheidsorg en die bekamping van aansteeklike siektes. Nie om deurbrake met stamselnavorsing nie.” Selfs in Amerika vorder stamselnavorsing baie stadiger as wat dit kon, hoofsaaklik omdat die konserwatiewe Bush-bewind nie ’n enkele sent van die VSA se National Insti - tutes of Health se jaarlikse begroting van $220 biljoen vir gesondheidsnavorsing aan stamselnavorsing gee nie.

Groot farmaseutiese maatskappye wil ook nie groot bedrae geld in stamselnavorsing steek nie, want hulle is bang stamselbehandeling gaan gewone medisyne vervang.

Hernieude uitbuiting?

Dr. Jeff Peimer, ’n Suid-Afrikaanse dokter wat voorheen vir die omstrede stamselmaatskappy ACT gewerk het, het nou saam met sy broer, Sid Peimer, ’n stamselkliniek, Regenecell, in die Seychelle geopen. Hulle beweer dat tipe 2-diabetes, outisme, veelvuldige sklerose, Parkinson-siekte, rumatoïede artritis en beroerteskade behandel kan word met stamselle wat verkry is van naelstringbloed.

Maar volgens mediese kundiges met wie HG-Pols gepraat het, is die behandeling van baie van dié siektes bloot eksperimenteel en is daar geen bewyse dat hierdie stamselbehandelings al enigsins suksesvol op mense is nie.

Lei hulle ook maar weer mense om die bos?

Etiek-kenners raak bekommerd wanneer desperate pasiënte derduisende rande moet opdok vir eksperimentele behandeling wat tien teen een nie gaan help nie. Volgens prof. Lyn Horn, etiekhoof van die fakulteit gesondheidswetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch, mag ’n dokter pasiënte wat terminaal siek is met eksperimentele tegnieke behandel as hy dit as ’n weldaad doen. “Die dokter se motivering moet egter wees om die pasiënt se lewe te red, nie om geld te maak nie. Indien pasiënte groot bedrae geld moet betaal vir eksperimentele tegnieke, veroorsaak dit ’n belangebotsing by die dokter wat dikwels ook aandele in sulke hospitale het.” Regenecell eis ’n vooruitbetaling van R134 000.

Dit is ook bekend dat enkele verlamde Suid-Afrikaners al derduisende rande vir eksperimentele stamselbehandeling in die buiteland betaal het.

Die toekoms

Wetenskaplikes verwag dat die groot deurbraak binnekort sal kom. “Stamselbehandeling gaan binne die volgende vyf tot tien jaar tot sy reg kom,” meen Michael. “Daar is groot, emosionele verwagtinge rondom die veld. Siek mense wat nou sterf, sal moontlik oor ’n dekade of wat gered kan word.”

As navorsers die geheime kan ontrafel van hoe stamselle spesialiteitselle word, kan ernstige siektes met ’n genetiese basis, soos kanker en geboorte-afwykings, gekeer word voor hulle begin. Die wonder van stamselle is dat hulle beskadigde selle uitsoek en dan verander in nuwe, gesonde selle van dieselfde soort as wat beskadig is.

Orgaanskenking sal onnodig wees, omdat siek en swak organe met stamselterapie vernuwe sal word. Stamselle kan ook gebruik word om nuwe medisyne te toets.

Die beloftes wat stamselbehandeling inhou, is opwindend, maar beduidende tegniese en etiese slaggate moet eers uit die weg geruim word voor ons die vrugte van dié wonderbehandeling gaan pluk, voeg Lyn Horn by.

“Baie van die positiewe resultate is eksperimenteel op ’n klein groepie pasiënte gedoen met beperkte opvolgbehandeling. ‘‘Net wanneer grootskeepse kliniese toetse positiewe resultate begin lewer en moontlike newe-eff ekte soos immuunstelselverwerping uitgeskakel is, durf ons opgewonde raak.”

Harry som dit op: “Elke groot deurbraak is in werklikheid maar ’n klein treetjie in die regte rigting wanneer ’n mens na die hele prentjie kyk. ’n Mens kan dit vergelyk met ’n legkaart, waar elke regte blokkie belangrik is, maar die legkaart uit duisende stukkies bestaan.”

Help dit mense regtig?

Gehelp: JOSÉ CARRERAS (61), die wêreldberoemde tenoor, is in 1987 op veertigjarige ouderdom met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Sy kans op oorlewing was skraal, maar hy het ná strawwe kanker- en beenmurgstamselbehandeling herstel. Hy sing vandag nog.

Gehelp: MATTHEW ROSS (10), ’n jong bloedkankerlyertjie van Durban, is onlangs met sy babasussie se naelstringbloedstamselle behandel. Die gesin het sy sussie se stamselle by Netcell Therapeutics laat berg sodat dit vir Matthew beskikbaar kon wees. Hy vorder goed.

CHRISTOPHER

Tevergeefs: CHRISTOPHER REEVE van Supermanfaam, verlam ná ’n perdryongeluk in 1995, het geen baat gevind by stamselbehandeling nie en is in 2004 oorlede.

Nog nie: MICHAEL J. FOX (47), akteur, ly aan Parkinsonsiekte en steun stamselnavorsing deur middel van sy stigting, maar kon nog nie baat vind daarby nie.

Gehelp: GERT SMIT (81) van Kuilsrivier het verlede jaar sy tagtigste verjaardag gevier nadat dr. André Saaiman, kardioloog van Kuilsrivier-hospitaal, stamselle regstreeks in sy verswakte hart ingespuit het. Sy hartfunksie, wat tóé net 20 persent was, het dramaties verbeter. Maar oom Smittie, soos hy bekendstaan, is al oorlewende van die vier hartlyers wat in 2005 eksperimenteel met stamselle behandel is. Dié projek is sedertdien weens ’n gebrek aan geld gestaak.

Te laat: CHRIS BARNARD het ’n deurbraak gemaak toe hy die wêreld se eerste hart op ’n mens oorgeplant het. ’n Deurbraak in stamselterapie vir artritis of asma, siektes waaraan hy gely het, lê egter nog in die toekoms. Hy is in 2001 op 78-jarige ouderdom weens asma oorlede.

Nog nie: STEPHEN HAWKING (66), die wêreldberoemde fisikus, ly aan motor neuronsiekte. Stamselle bied nog nie genesing daarvoor nie.

HOE WERK STAMSELLE?

Stamselle het unieke vermoëns en die merkwaardige potensiaal om in ander selle te verander. Dit werk dus as ’n soort selfhelp-herstelstelsel vir die liggaam.

Stamselle is die meesterboublokke van die menslike liggaam. Dis te danke aan dié drie vermoëns van die selle:

  • Plastisiteit – hulle kan in enige ander sel verander.

  • Aanpeiling – soos ’n snuff eltorpedo reis hulle na die plek waar siek selle is.

  • Enting – hulle word deel van ander selle.

In die geval van iemand met ’n senuselsiekte, byvoorbeeld, reis die stamselle na die beskadigde selle (aanpeiling), word deel van die senuselle (enting) en verander self in senuselle (plastisiteit). Die res van die stamselle wat nie geënt of gemigreer het nie, reis na die beenmurg terug waar hulle geberg word totdat hulle ’n sein ontvang dat weefsel êrens in die liggaam siek is. Dit verduidelik waarom die uitwerking van stamselbehandeling dikwels ná ‘n paar maande eers sigbaar is.

Verskillende soorte stamselle word gebruik: embrioniese stamselle, beenmurgstamselle, naelstringbloedstamselle en stamselle van enige ander orgaan of weefsel.

Embrioniese stamselle is die kragtigste soort stamsel, maar ook die mees omstrede. Wanneer dié selle geoes word, word die embrio (die toekomstige baba) in die proses vernietig – vandaar die omstredenheid, want sommige sien dit as ’n soort aborsie.

Die verskil tussen embrioniese en volwasse stamselle is dat embrioniese stamselle oor die vermoë beskik om in enige seltipe te verander. Volwasse stamselle is reeds gedifferensieerd en geprogrammeer vir ’n spesifieke funksie. Hulle groei ook net vir ’n beperkte tyd.

’n Voordeel van die gebruik van volwasse stamselle is dat die pasiënt se eie selle in ’n laboratorium gekweek en dan weer ingespuit word, wat die selle se verwerping deur die immuunstelsel feitlik uitskakel – ’n wesenlike gevaar met embrioniese stamseloorplantings.

In ’n groot deurbraak in Amerika verlede jaar het wetenskaplikes daarin geslaag om menslike velselle só te herprogrammeer dat hulle soos embrioniese stamselle lyk en optree. Dié sukses beteken dat die gebruik van embrioniese stamselle, waarop etiese en politieke besware ’n skadu werp, waarskynlik nou moontlik oorbodig is.

Hoekom is naelstringbloedstamselle beter as stamselle uit jou bloed?

Naelstringbloedstamselle is splinternuut en daarom is hulle naïef en meer veranderbaar as ander soorte stamselle, verduidelik Michael Pepper. Dié stamselle is jonk en nog heeltemal onbeskadig deur veroudering – anders as stamselle van iemand wat al in die veertig is. “Wêreldwyd is daar ’n toename in die gebruik van naelstringbloedstamselle vir beenmurgoorplantings, terwyl die gebruik van stamselle uit beenmurg en uit bloed besig is om af te neem. Daar is vooren nadele aan die gebruik van stamselle verbonde. Die voordele is dat die ontvangers nie die naelstringbloedstamselle maklik verwerp nie.

Die nadeel is dat die hoeveelhede stamselle in naelstringbloed so min is dat dit hoofsaaklik vir kinders gebruik word.”

HOEVEEL KOS DIT?

By Netcell Therapeutics word ’n eenmalige prys van R12 000 betaal vir twintig jaar se berging. Lazaron Biotechnologies vra ’n aanvanklike fooi van R7 923 en daarna ’n jaarlikse bergingsfooi van R142,50 wat oor twintig jaar ’n somtotaal van R10 773 beteken. Stamselle kan vir ’n onbepaalde tydperk geberg word.

Hoe kies jy ’n betroubare stamselbank?

Dis belangrik dat jy ’n bank kies met ’n goeie kans om oor twintig jaar nog te bestaan en wat jou stamselle reg bevries en bewaar. Hier is die riglyne van die American Association of Blood Banks wat internasionaal as norm dien:

  • Maak seker die bank is geregistreer by FACT (Foundation for the Accreditation of Cellular Therapy) – dit beteken dat die oes en berging van stamselle aan die regte laboratoriumstandaarde voldoen.

  • Die bank moet die stamselle tel voor hulle geberg word om seker te maak dat die selle lewendig is – dit word “flow cytometry testing” genoem. Dit is ’n duur proses en ouers kry ’n sertifi kaat wat aandui hoeveel stamselle geberg is.

  • Die bank moet bloedsakkies met twee kompartemente gebruik vir berging, wat toekomstige toetse sal vergemaklik.

Stamselbehandeling werk teen dié siektes

In die volgende gevalle is dit die enigste behandeling teen die siekte, of word dit ingespan as ander behandeling nie werk nie. Die kans op sukses is goed:

  • Verrskillende soorte akute en chroniese vorms van leukemie oftewel bloedkanker

  • Pre-leukemie

  • Hodgkin- en Nie-Hodgkin-limfoom

  • Aangebore rooisel-abnormaliteite waaronder sekelsel-bloedarmoede, Fanconi-bloedarmoede en tientalle ander

  • ’n Aantal skaars, oorgeërfde immuunstelselsiektes

  • Sekere soorte beenmurgkanker

  • Kankers soos neuroblastoom (een van die algemeenste kankersoorte onder kinders) en retinoblastoom

In die onderstaande gevalle is toetsing op mense ver gevorder. Stamselle kan die siekte vertraag of in sommige gevalle selfs genees. Dit sluit siektes in soos:

  • Tipe 1-diabetes en lupus (’n dodelike soort artritis wat jou niere aantas en baie onder bruin vroue in die Wes- Kaap voorkom)

  • Serebrale gestremdheid en veelvuldige sklerose

  • Oorgeërfde siektes wat die immuunstelsel of die metabolisme aantas (soos Tay-Sachs-siekte)

  • Verswakte hartspiere

  • Borskanker, Ewing-sarkoom en nierkanker

For a list of diseases treated by stem cells visit Parent's Guide to Cord Blood Banks

Stem Cell Therapy cures child


 
Previous article: Next article:
Liefde Tim Noakes
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Esmaré skryf
Vinger op die pols
Nuus Flitse
Binne-in jou brein
KAMPIOENE
Bloedbande
Die Chemie van liefde
Nuwe lewe met stamselle
Dis hoe Tim wil hè jy moet oefen
Het jy 'n vet persoonlikheid?
Verloor baie kilo's diè winter
Baldadig
Voetwerk
Wraak van die griepvirus
Leef deur die Menopouse
Die lyf se wonders en flaters
Die A tot Z van slaap
Kuberpsigiater Junie 2008
Kuberapteker
Sit hand by
Die spoed van Lewe
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Huisgenoot Pols Blokraai Nommer 4
Volg jou kop!
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement