|
Nuwe lewe met stamselle

Moet ek my baba se stamselle laat berg? Sal dit hom
eendag kan red van hartsiektes, diabetes, artritis,
Alzheimersiekte, kanker of verlamming? Of is dit net
’n droom wat deur uitbuiters misbruik word? HG-Pols
se Elise-Marie Tancred stel ondersoek in.
Die beloftes van hoop wat
stamselbehandeling inhou,
klink soos tower kuns en
op sy beste na wetenskapsfiksie. Verlamdes sal weer
kan loop, kanker word genees, hartsiektes,
diabetes, Alzheimer-siekte en ander aftakelende
siektes is iets van die verlede en almal
teug aan die beker van ewige jeug.
Met stamselbehandeling kan siek, verouderde
selle en organe herstel of vervang
word. Dis genesing sonder groot operasies,
oorplantings, antibiotika, chemoterapie of
ander ingrypende mediese behandeling wat
jou andersins maande lank op die krukkelys
sou sit. Die risiko’s is minimaal . . . die
liggaam herstel hom as ’t ware self. Dit klink
wonderlik, ja, en teoreties deesdae moontlik.
Al meer verwagtende ouers vra: Moet
ek my pasgebore baba se naelstringbloed
laat bewaar ingeval dit later kan help teen
’n lewensbedreigende siekte waarvoor daar
geen ander genesing is nie? Tientalle Suid-
Afrikaners doen dit reeds. Hulle betaal
sowat R12 000 om hul baba se stamselle
(onttrek aan naelstringbloed) te laat vries
en twintig jaar te berg sou dit benodig
word. Dit kan beteken dat die stamselle
dié kind (of sy broer, suster, ma, pa, ouma
of oupa) kan red as een van hulle kanker,
hartprobleme of ’n ander aftakelende
siekte kry.
Revolusionêr, is die woord wat dikwels vir
hierdie behandeling gebruik word.
Maar is stamselbehandeling al so ver
gevorder soos wetenskaplikes ’n dekade
gelede voorspel het? Nog nie – maar in
verskeie hospitale wêreldwyd is daar al
sukses behaal teen siektes wat strek van
tipe-1-diabetes tot veelvuldige sklerose (sien
kassie op bl. 39). Vir sommige siektes soos
beenmurgkanker word dit reeds as standaardbehandeling
beskou. Daar moet nog
navorsing gedoen word, maar daar is reeds
tekens dat stamselbehandeling die geneeskunde
ingrypend gaan verander.
Stamselbehandeling in Suid-Afrika
Die eerste plaaslike naelstringbloedbank
het sy deure drie jaar gelede geopen.
Sedertdien bied nog ’n laboratorium
dieselfde diens aan.
Stamselle uit naelstringbloed onttrek,
word hoofsaaklik gebruik om meer as
honderd soorte siektes, waaronder veral
sekere soorte kanker, te behandel, sê prof.
Michael Pepper. Hy is die besturende
direkteur van die Netcare- Instituut van
Sellulêre en Molekulêre Geneeskunde
en die naelstringbloedbank Netcell Therapeutics,
wat internasionaal erken word.
Volgens Harry Minnie, uitvoerende
hoof van Lazaron Technologies, Suid-
Afrika se eerste naelstringbloedbank,
is die gewildheid daarvan besig om toe
te neem namate mense meer daaroor
ingelig word.
‘‘Sowat 2 000 ouers laat reeds hul
kinders se naelstringbloed by ons berg,’
sê Harry.
Een van Lazaron se grootste uitdagings
was egter nie om ouers nie, maar medici,
van die waarde van so ’n bank te oortuig.
Die wonder van die naelstringbloedbank
is dat die selle wat bewaar word, nie
net vir die baba gebruik kan word nie,
maar ook vir ander gesins- of familielede.
Volgens Harry is daar ’n kans van een uit
vier dat die selle vir susters of broers en
vir die ouers gebruik kan word, terwyl
’n een uit agt kans bestaan dat oumas en
oupas ook daarby baat kan vind.
Ongeveer 60 persent van naelstringstamseloorplantings
word nie op die
baba gedoen nie, maar op ander familielede.
Vandag is beenmurgstamseloor plantings
reeds standaardbehandeling vir
mense wat bloedkanker het omdat dit
maklik en goedkoop is en ’n goeie suksessyfer
het, sê dr. Yvonne Holt, mediese
direkteur van Netcell Th erapeutics.
Durf jy so ’n geleentheid deur jou
vingers laat glip? Is dit sinvolle risikobestuur?
Of ’n vinnige geldmaaksaak? En
het die wetenskap nie reeds alternatiewe
vir naelstringstamselle gevind nie?
Charles Marais van Johannesburg en
sy vrou, Sonica, glo die berging van hul
dogtertjie, Chanique (2), se naelstringbloed
twee jaar gelede was “die beste ding
wat ons nog gedoen het”.
Die Marais’s verwag in Augustus ’n
tweeling en “gaan beslis” ook húl naelstringbloed
laat berg.
“Hopelik hoef ons dit nooit te gebruik
nie, maar ons beskou dit as ’n soort
mediese versekering wat enorme gemoedsrus
bring.
‘‘Die veld hou soveel belofte in . . .
Wie weet? Miskien kan my kinders se
naelstringbloed eendag gebruik word
om enige siektes gesond te maak. Dit
is beslis die beste ding waaraan ek ooit
geld bestee het,” sê Charles.
Ook die bekende Suid-Afrikaanse
sangeres Nianell het onlangs haar
drieling se naelstringbloedstamselle
by Netcell Th erapeutics laat berg as
mediese ver sekering vir die toekoms.
Maar ’n psigiater, wat om etiese redes
anoniem wil bly en wat onlangs pa
geword het, het ná vele oorwegings teen
die berging van hul baba se naelstringbloed
besluit.
“Sekere goed in ons lewe is nie in ons
hande nie en as daar ooit iets soos stamselle
benodig sou word vir siektes in ons
familie of om ons kind gesond te maak,
sal ons ’n plan maak as ons daar kom. Ek
kan dieselfde bedrag geld beter belê, wat
die koop van stamselle sal kan dek as dit
eendag dalk nodig is.
‘‘ ’n Mens moet ook seker wees dat die
tegnici by die stamselbanke weet wat hulle
doen. Ek het gehoor van ’n kollega wie se
kind se stamselle daarheen gekoerier is en
nou feitlik onbruikbaar is omdat die regte
prosedure nie gevolg is nie.”
Hoe word naelstringbloedstamselle
verkry en geberg?
Die meeste stamselbanke verkies dat
voornemende ouers sowat drie maande
voor die baba se geboorte met hulle in
aanraking kom. Maar al die reëlings
kan binne ’n paar uur getref word as
die vrou in kraam skielik besluit sy wil
haar baba se naelstringbloedstamselle
laat berg.
Sodra die baba gebore is, onttrek die
ginekoloog die bloed uit die naelstring.
Dit duur sowat vyf tot tien minute.
Die bloed word dan in ’n temperatuurbeheerde
houer verpak en met ’n mediese
koerier na die bank se laboratorium
gestuur. Hier word dit so gou moontlik
geberg omdat die stamselle agteruitgaan
in die tyd terwyl dit vervoer word en
voor dit teen die regte lae temperatuur
in die laboratorium geberg word.
Betroubare stamselbanke moet aan
vasgestelde vereistes voldoen en daar is
riglyne wat jy kan volg om seker te maak
jy word nie ingeloop nie.
Omstredenheid en uitbuiters
Soos met enige groot nuwe tegnologiese
uitvinding is daar baanbrekers, eksperimenteerders
en skarminkels wat teer op
ongeneeslik siek pasiënte se desperate
pogings om aan die lewe te bly.
Dit is dus geen verrassing dat die veld
van stamselbehandeling dikwels in ’n
wolk van omstredenheid gehul is nie.
Daar was tot onlangs nie eens sprake
van wette in Suid-Afrika om stamselnavorsing
te reguleer nie. Elke Jan Rap
en sy maat kon stamsellaboratoriums
hier bedryf en na hartelus eksperimente
uitvoer.
Toe word ons wakker geskud.
Advanced Cell Therapeutics (ACT),
’n Kaapstadse maatskappy van Stephen
van Rooyen en sy vrou, Laura Brown,
word in Amerika daarvan beskuldig
dat hulle stamselbehandeling wat nooit
in laboratoriums getoets is nie, aan
pasiënte verkoop.
Op die FBI-webwerf, gedateer 2006,
verskyn daar 51 aanklagte wat teen dié
twee aanhangig gemaak is wat met bedrieglike
aansprake oor stamselbehandeling
verband hou.
Eers tóé het Suid-Afrika se Departement
van Gesondheid ingrypende
maat reëls getref om mediese cowboys
aan bande te lê. Nuwe wette wat opgestel
is om die bedryf te reguleer, moet nog in
werking tree. In wese sê die wet alle intellektuele
eiendomsreg rakende stamselnavorsing
behoort aan die staat. Dít steek
’n stokkie voor gierigaards en private
maatskappye se planne om groot bedrae
geld uit stamselle te maak en beteken
ook navorsers kan nie hul bevindings
patenteer en verkoop nie.
“So ’n wet strem navorsing. Niemand
gaan geld steek in iets wat nie weer vir
hulle geld gaan oplewer nie. Die gevolg is
daar vind feitlik geen stamselnavorsing in
Suid-Afrika plaas nie,” sê Michael
Pepper. “In Suid-Afrika gaan dit om
primêre gesondheidsorg en die bekamping
van aansteeklike siektes. Nie om
deurbrake met stamselnavorsing nie.”
Selfs in Amerika vorder stamselnavorsing
baie stadiger as wat dit
kon, hoofsaaklik omdat die konserwatiewe
Bush-bewind nie ’n enkele
sent van die VSA se National Insti -
tutes of Health se jaarlikse begroting
van $220 biljoen vir gesondheidsnavorsing
aan stamselnavorsing
gee nie.
Groot farmaseutiese maatskappye wil
ook nie groot bedrae geld in stamselnavorsing
steek nie, want hulle is bang
stamselbehandeling gaan gewone medisyne
vervang.
Hernieude uitbuiting?
Dr. Jeff Peimer, ’n Suid-Afrikaanse
dokter wat voorheen vir die omstrede
stamselmaatskappy ACT gewerk het,
het nou saam met sy broer, Sid Peimer,
’n stamselkliniek, Regenecell, in die
Seychelle geopen. Hulle beweer dat
tipe 2-diabetes, outisme, veelvuldige
sklerose, Parkinson-siekte, rumatoïede
artritis en beroerteskade behandel kan
word met stamselle wat verkry is van
naelstringbloed.
Maar volgens
mediese
kundiges met
wie HG-Pols
gepraat het,
is die behandeling
van
baie van dié
siektes bloot
eksperimenteel
en is daar geen bewyse dat hierdie
stamselbehandelings al enigsins suksesvol
op mense is nie.
Lei hulle ook maar weer mense om
die bos?
Etiek-kenners raak bekommerd wanneer
desperate pasiënte derduisende
rande moet opdok vir eksperimentele
behandeling wat tien teen een nie gaan
help nie. Volgens prof. Lyn Horn,
etiekhoof van die fakulteit gesondheidswetenskappe
van die Universiteit van
Stellenbosch, mag ’n dokter pasiënte
wat terminaal siek is met eksperimentele
tegnieke behandel as hy dit as ’n weldaad
doen. “Die dokter se motivering
moet egter wees om die pasiënt se lewe
te red, nie om geld te maak nie. Indien
pasiënte groot bedrae geld moet betaal
vir eksperimentele tegnieke, veroorsaak
dit ’n belangebotsing by die dokter wat
dikwels ook aandele in sulke hospitale
het.” Regenecell eis ’n vooruitbetaling
van R134 000.
Dit is ook bekend dat enkele verlamde
Suid-Afrikaners al derduisende rande
vir eksperimentele stamselbehandeling
in die buiteland betaal het.
Die toekoms
Wetenskaplikes verwag dat die groot
deurbraak binnekort sal kom. “Stamselbehandeling
gaan binne die volgende
vyf tot tien jaar tot sy reg kom,” meen
Michael. “Daar is groot, emosionele
verwagtinge rondom die veld. Siek
mense wat nou sterf, sal moontlik oor
’n dekade of wat gered kan word.”
As navorsers die geheime kan ontrafel
van hoe stamselle spesialiteitselle word,
kan ernstige siektes
met ’n genetiese
basis, soos kanker
en geboorte-afwykings,
gekeer word
voor hulle begin.
Die wonder van
stamselle is dat
hulle beskadigde
selle uitsoek en dan
verander in nuwe,
gesonde selle van
dieselfde soort as wat beskadig is.
Orgaanskenking sal onnodig wees,
omdat siek en swak organe met stamselterapie
vernuwe sal word. Stamselle kan
ook gebruik word om nuwe medisyne
te toets.
Die beloftes wat stamselbehandeling
inhou, is opwindend, maar beduidende
tegniese en etiese slaggate moet eers
uit die weg geruim word voor ons die
vrugte van dié wonderbehandeling gaan
pluk, voeg Lyn Horn by.
“Baie van die positiewe resultate
is eksperimenteel op ’n klein groepie
pasiënte gedoen met beperkte opvolgbehandeling.
‘‘Net wanneer grootskeepse kliniese
toetse positiewe resultate begin lewer en
moontlike newe-eff ekte soos immuunstelselverwerping
uitgeskakel is, durf ons
opgewonde raak.”
Harry som dit op: “Elke groot deurbraak
is in werklikheid maar ’n klein
treetjie in die regte rigting wanneer ’n
mens na die hele prentjie kyk. ’n Mens
kan dit vergelyk met ’n legkaart, waar
elke regte blokkie belangrik is, maar die
legkaart uit duisende stukkies bestaan.”
Help dit mense regtig?
Gehelp: JOSÉ CARRERAS
(61), die wêreldberoemde
tenoor, is in
1987 op veertigjarige
ouderdom met akute
limfoblastiese leukemie
gediagnoseer.
Sy kans op oorlewing
was skraal, maar
hy het ná strawwe
kanker- en beenmurgstamselbehandeling
herstel. Hy
sing vandag nog.
Gehelp: MATTHEW ROSS
(10), ’n jong bloedkankerlyertjie
van
Durban, is onlangs
met sy babasussie se
naelstringbloedstamselle
behandel. Die
gesin het sy sussie se
stamselle by Netcell
Therapeutics laat berg
sodat dit vir Matthew
beskikbaar kon wees.
Hy vorder goed.
CHRISTOPHER
Tevergeefs: CHRISTOPHER REEVE
van Supermanfaam,
verlam ná ’n
perdryongeluk in
1995, het geen baat
gevind by stamselbehandeling
nie en is
in 2004 oorlede.
Nog nie: MICHAEL J.
FOX (47), akteur,
ly aan Parkinsonsiekte
en steun
stamselnavorsing
deur middel van
sy stigting, maar
kon nog nie baat
vind daarby nie.
Gehelp: GERT SMIT (81) van Kuilsrivier het
verlede jaar sy tagtigste verjaardag
gevier nadat dr. André Saaiman, kardioloog
van Kuilsrivier-hospitaal, stamselle
regstreeks in sy verswakte hart ingespuit
het. Sy hartfunksie, wat tóé net 20 persent
was, het dramaties verbeter. Maar
oom Smittie, soos hy bekendstaan, is al
oorlewende van die vier hartlyers wat in
2005 eksperimenteel met stamselle behandel
is. Dié projek is sedertdien weens
’n gebrek aan geld gestaak.
Te laat: CHRIS BARNARD het ’n deurbraak
gemaak toe hy die wêreld se eerste
hart op ’n mens oorgeplant het.
’n Deurbraak in stamselterapie vir
artritis of asma, siektes waaraan hy
gely het, lê egter nog in die toekoms.
Hy is in 2001 op 78-jarige ouderdom
weens asma oorlede.
Nog nie: STEPHEN HAWKING (66), die
wêreldberoemde fisikus, ly aan
motor neuronsiekte. Stamselle bied
nog nie genesing daarvoor nie.
HOE WERK
STAMSELLE?
Stamselle het unieke vermoëns en
die merkwaardige potensiaal om in
ander selle te verander. Dit werk dus
as ’n soort selfhelp-herstelstelsel vir
die liggaam.
Stamselle is die meesterboublokke van
die menslike liggaam. Dis te danke aan
dié drie vermoëns van die selle:
- Plastisiteit – hulle kan in enige ander sel
verander.
- Aanpeiling – soos ’n snuff eltorpedo reis
hulle na die plek waar siek selle is.
- Enting – hulle word deel van
ander selle.
In die geval van iemand met ’n senuselsiekte,
byvoorbeeld, reis die stamselle na
die beskadigde selle (aanpeiling), word
deel van die senuselle (enting) en verander
self in senuselle (plastisiteit). Die res van
die stamselle wat nie geënt of gemigreer
het nie, reis na die beenmurg terug waar
hulle geberg word totdat hulle ’n sein ontvang
dat weefsel êrens in die liggaam siek
is. Dit verduidelik waarom die uitwerking
van stamselbehandeling dikwels ná ‘n paar
maande eers sigbaar is.
Verskillende soorte stamselle word
gebruik: embrioniese stamselle, beenmurgstamselle,
naelstringbloedstamselle
en stamselle van enige ander orgaan
of weefsel.
Embrioniese stamselle is die kragtigste
soort stamsel, maar ook die mees
omstrede. Wanneer dié selle geoes word,
word die embrio (die toekomstige baba)
in die proses vernietig – vandaar die
omstredenheid, want sommige sien dit as
’n soort aborsie.
Die verskil tussen embrioniese en volwasse
stamselle is dat embrioniese stamselle
oor die vermoë beskik om in enige
seltipe te verander. Volwasse stamselle is
reeds gedifferensieerd en geprogrammeer
vir ’n spesifieke funksie. Hulle groei ook net
vir ’n beperkte tyd.
’n Voordeel van die gebruik van volwasse
stamselle is dat die pasiënt se eie
selle in ’n laboratorium gekweek en dan
weer ingespuit word, wat die selle se
verwerping deur die immuunstelsel feitlik
uitskakel – ’n wesenlike gevaar met embrioniese
stamseloorplantings.
In ’n groot deurbraak in Amerika verlede
jaar het wetenskaplikes daarin geslaag om
menslike velselle só te herprogrammeer
dat hulle soos embrioniese stamselle lyk
en optree. Dié sukses beteken dat die gebruik
van embrioniese stamselle, waarop
etiese en politieke besware ’n skadu werp,
waarskynlik nou moontlik oorbodig is.
Hoekom is naelstringbloedstamselle
beter as stamselle uit jou bloed?
Naelstringbloedstamselle is splinternuut
en daarom is hulle naïef en
meer veranderbaar as ander soorte
stamselle, verduidelik Michael
Pepper. Dié stamselle is jonk en
nog heeltemal onbeskadig deur
veroudering – anders as stamselle
van iemand wat al in die veertig
is. “Wêreldwyd is daar ’n toename
in die gebruik van naelstringbloedstamselle
vir beenmurgoorplantings,
terwyl die gebruik van
stamselle uit beenmurg en uit bloed
besig is om af te neem. Daar is vooren
nadele aan die gebruik van stamselle
verbonde. Die voordele is dat
die ontvangers nie die naelstringbloedstamselle
maklik verwerp nie.
Die nadeel is dat die hoeveelhede
stamselle in naelstringbloed so min
is dat dit hoofsaaklik vir kinders
gebruik word.”
HOEVEEL KOS DIT?
By Netcell Therapeutics word ’n eenmalige prys van R12 000 betaal vir twintig
jaar se berging. Lazaron Biotechnologies vra ’n aanvanklike fooi van R7 923 en
daarna ’n jaarlikse bergingsfooi van R142,50 wat oor twintig jaar ’n somtotaal van
R10 773 beteken. Stamselle kan vir ’n onbepaalde tydperk geberg word.
Hoe kies jy ’n betroubare stamselbank?
Dis belangrik dat jy ’n bank kies met ’n goeie kans om oor twintig jaar
nog te bestaan en wat jou stamselle reg bevries en bewaar. Hier is die
riglyne van die American Association of Blood Banks wat internasionaal
as norm dien:
- Maak seker die bank is geregistreer by FACT (Foundation for the
Accreditation of Cellular Therapy) – dit beteken dat die oes en berging
van stamselle aan die regte laboratoriumstandaarde voldoen.
- Die bank moet die stamselle tel voor hulle geberg word om seker te
maak dat die selle lewendig is – dit word “flow cytometry testing”
genoem. Dit is ’n duur proses en ouers kry ’n sertifi kaat wat aandui
hoeveel stamselle geberg is.
- Die bank moet bloedsakkies met twee kompartemente gebruik vir
berging, wat toekomstige toetse sal vergemaklik.
Stamselbehandeling
werk teen dié siektes
In die volgende gevalle is dit die enigste behandeling
teen die siekte, of word dit ingespan as ander behandeling
nie werk nie. Die kans op sukses is goed:
- Verrskillende soorte akute en chroniese vorms van
leukemie oftewel bloedkanker
- Pre-leukemie
- Hodgkin- en Nie-Hodgkin-limfoom
- Aangebore rooisel-abnormaliteite waaronder
sekelsel-bloedarmoede, Fanconi-bloedarmoede
en tientalle ander
- ’n Aantal skaars, oorgeërfde immuunstelselsiektes
- Sekere soorte beenmurgkanker
- Kankers soos neuroblastoom (een van die algemeenste
kankersoorte onder kinders) en retinoblastoom
In die onderstaande gevalle is toetsing op mense ver
gevorder. Stamselle kan die siekte vertraag of in sommige
gevalle selfs genees. Dit sluit siektes in soos:
- Tipe 1-diabetes en lupus (’n dodelike soort artritis wat
jou niere aantas en baie onder bruin vroue in die Wes-
Kaap voorkom)
- Serebrale gestremdheid en veelvuldige sklerose
- Oorgeërfde siektes wat die immuunstelsel of die metabolisme
aantas (soos Tay-Sachs-siekte)
- Verswakte hartspiere
- Borskanker, Ewing-sarkoom en nierkanker
For a list of diseases treated by stem cells visit Parent's Guide to Cord Blood Banks
Stem Cell Therapy cures child
|