|
Bloedbande

Nierprobleme kan jou stilletjies
bekruip en enigeen tref. Dit
kan in jou gene wees, of dit kan
op ’n ander siekte volg. Jy kan
dalk eendag ’n broer, suster
of ouer se nier nodig hê vir
’n kans op ’n tweede lewe…Deur Ilse Salzwedel
Die tweelingbroers Hugo en Kobus Pienaar was
van kleins af geheg aan mekaar.
Hier is hulle as kleuters, min
wetend dat hul bloedband later
Hugo se lewe sou red.
NIERSIEKTES kan enigeen tref. Sommer
net so. Stilweg, maar dodelik. Jy kan
vandag springlewendig en gesond
wees en oor ’n paar jaar kan jou lewe
van ’n nieroorplanting afhang. Een
enkele kwaai keelseer, een sarsie malaria
is genoeg om jou niere só te beskadig
dat hulle kan versaak. Dit kan geleidelik
oor ’n tydperk van maande, dalk jare gebeur – of skielik. Die ontstellendste is dat die eerste simptome van nierversaking dikwels eers verskyn wanneer jy al 60 tot 70 persent van jou nierfunksie verloor het; wanneer jou niere al kwaai beskadig is en daar nie meer geneeskans is nie.
En as jy al een keer in jou lewe nierontsteking
gehad het, het die proses van nierskade
dalk al begin. As jy meer as een keer nierontsteking
gehad het, moet jy bewus wees dat
dit jou niere kan beskadig.
“Dit is ’n internasionaal aanvaarde riglyn
dat jy dan ’n uroloog of nierspesialis behoort
te raadpleeg vir verdere toetse,” waarsku dr.
Hendrik Viljoen, ’n Johannesburgse nefroloog
(nierspesialis).
Hugo Pienaar (50) van Johannesburg was
’n sterk en gesonde skoolseun toe hy in matriek
’n keelinfeksie gekry het. Hy het gedink
dis net ’n kwaai keelseer soos wat almal maar
gereeld en veral in die winter kry. “Maar die
kiem wat my keelseer gegee het, het my
niere aangetas en later laat ingee.”
’n Keelinfeksie wat deur ’n streptokokkusbakterie
veroorsaak word, is maar een van
die kieme wat ’n mens se immuniteitstelsel
kan belemmer en jou organe kan aanval.
Malaria, diabetes, baie anti-infl ammatoriese
pille en ander siektes kan dit ook doen. Dié
vreemde immuunreaksie kan eers tot een
keer se nierontsteking lei, wat dan herhaalde
ontstekings word, en dan word dit chronies.
Dan rig die aanhoudende ontsteking uiteindelik
sulke groot skade aan die niere aan
dat hulle glad nie meer werk nie, verduidelik
Hendrik.
Dis presies wat met Hugo gebeur het. Die
eens gesonde jong man het begin siek word.
“Ek het dwarsdeur my twintigs gesukkel met
chroniese nierontsteking, wat gepaardgegaan
het met hoë bloeddruk, hoofpyn en waterterughouding
wat my bene en lyf laat swel het.’’
Hy was baie bewus van sy swak gesondheid
en het nog harder gewerk om uit te
blink bo ander mense van sy ouderdom om
dit te vergoed. Hy het ondanks alle terugslae
aan sport deelgeneem en S.A. kleure in
judo en tennis verwerf, en sy regstudie met
mening voortgesit.
Maar teen die ouderdom van 29 was die
skrif aan die muur: Sy niere het versaak. ’n
Mens kan oorleef met een gesonde nier,
of al funksioneer jou twee niere saam nie
heel temal nie. Maar as jou niere minder as
30 persent werk, word dit lewensbedreigend.
Hugo se nierfunksie was soos dié van ander
mense wie se niere versaak: nul.
Hy moes met dialise begin net om
te oorleef.
Selfs wanneer ’n nierpasiënt drie of vier keer per week ure lank aan
’n dialisemasjien gekoppel is, kan die masjien net ’n skrale 5 persent
van die funksie van die niere verrig. Dis net voldoende om genoeg
gifstowwe uit die liggaam te fi ltreer om ’n mens aan die gang te hou
tot die volgende dialise.
Soos ander dialise-pasiënte het Hugo die elf maande dat hy van
dialise afhanklik was maar voortdurend moeg en sleg gevoel. Sy
toestand het verswak. Hy kon nie eet nie en was gelerig van al die
ureum-afvalstof wat in sy lyf opgehoop het. Mense op dialise se
lewensgehalte is baie laag en hul lewensverwagting baie laer as dié
van mense met gesonde niere.
’n Nieroorplanting is al langtermynuitweg vir mense met nierversaking.
Die keuse is eenvoudig: óf ’n oorplanting wat jou ’n kans van 70 tot
85 persent gee om langer as vyf jaar te leef, óf om binne ’n paar jaar
een van die land se nierstatistieke te word. Want jaarliks sterf meer as
10 000 Suid-Afrikaners aan niersiektes of nierversaking.
Hugo se nie-identiese tweelingbroer, Kobus, het sy nier aangebied,
want ’n gesonde mens kan met een nier lewe – mits die skenker en ontvanger
se weefsel ooreenstem. Ál meer nieroorplantings word uitgevoer
waar die skenker ’n lewende familielid is omdat die 160 nier oorplantings
wat jaarliks in die land gedoen word met niere van brein dood skenkers
hopeloos te min is om die duisende nierpasiënte te help.
Soos Kobus gaan daar elke jaar sewentig tot tagtig mense oor tot
dié onbaatsugtige stap om ’n nier vir ’n familielid te skenk. Die oorplanting
kan tussen broers plaasvind soos Kobus vir Hugo sy nier geskenk
het, en Kevin Snyman vir sy broer, die radioman Evert Snyman. Of ’n
ma kan haar een nier vir haar dogter skenk soos Alfreda Arendse van
Kaapstad vir haar enigste kind, Keren-Leigh. Of die skenking kan van
suster tot broer plaasvind, soos toe Ellen Husselman van Durbanville
vir haar broer Bertie ’n nier geskenk het..
Wat vir die skenkers narkose en ’n operasie van sowat ’n uur beteken– en die lyfseer en ongerief wat so ’n week ná die operasie grootliks iets van die verlede
is – beteken vir die ontvanger letterlik ’n
nuwe lewe. Skenkers se risiko’s is minimaal:
Hulle behou altyd die beste nier, want die
fi losofi e is dat die skenker nooit ná die operasie
slegter daaraan toe moet wees as vooraf
nie. As die skenker ooit self nierontsteking kry,
tas dit buitendien albei niere aan.
Soos die meeste lewende skenkers het
Kobus nie veel oor sy besluit getob nie, maar dit
beskou as iets wat hy vir sy ouer broer – hulle is
vyf minute uitmekaar gebore – móés doen.
Nie Hugo of Kobus sal 25 April 1988 sommer
vergeet nie. Dit was net twee dae voor
hul dertigste verjaardag, maar vir Hugo was
dit die begin van ’n nuwe lewe. Kobus se
skenkernier het onmiddellik ná die oorplanting
begin werk, en Hugo het dadelik beter
begin voel. Daardie selfde aand kon hy aan
’n skaaptjop smul nadat hy byna ’n jaar lank
gesukkel het om kos in sy lyf te kry.
Vandag is Hugo Pienaar, die man wat
sonder die geskenk van sy broer nie sy
dertigerjare sou oorleef nie, vyftig jaar oud,
’n hoogleraar en konsultant in handels- en
arbeidsreg aan die Noordwes-universiteit, en die pa van drie pragtige kinders.
Hy sal Kobus se onbaatsugtige skenking
nooit vergeet nie. “Dit het vir my ’n nuwe lewe
gegee, en ook die kans om nog twee keer
daarna pa te word. Hy het beslis vir my die
grootste geskenk gegee wat ’n mens vir iemand
anders kan gee. Ek sou dood gewees het.”
Hy lewe sy “tweede lewe” voluit en
“absoluut normaal”, al moet hy vir die res
van sy lewe medikasie gebruik om te keer
dat sy liggaam die skenkernier verwerp.
Hy hou steeds nie van groente nie, maar
ná die operasie het sy hare begin krul en sy
broer s’n het reguit geword – so asof dit ’n
uiterlike teken moet wees dat een iets van
die ander gekry het.
Ook Kobus lei ’n normale lewe. Hy is ’n
suksesvolle sakeman van die Vaaldriehoek,
sy enigste dogter is ná die skenking gebore,
en in die afgelope twee dekades het hy nog
geen gesondheidsprobleme ontwikkel nie, al
het hy net een nier.
“Dis eintlik nie eens iets waaraan ek dink
nie. Ek lewe voluit, en is byvoorbeeld ’n 4x4-
geesdriftige wat gereeld op ekspedisies in die
Kalahari en Namibië gaan. Ek kan jou verseker
ek sou dit nie kon doen as ek nierprobleme
gehad het nie.
“Ek ry nie eens met ’n nierbelt motorfi ets
nie,” vertel Kobus. “Dis hoe normaal my lewe is, al het ek aan my broer ’n nier geskenk.”
Hoe voel hy oor die ongewone geskenk
wat hy vir sy broer gegee het? “Dit was ’n
lewensverrykende ervaring om dit vir
Hugo te kon doen, veral omdat hy so ’n
wonderlike mens is.”
Hugo lewe al twintig jaar lank met
sy nuwe nier, en meer lewende familieoorplantings
word nou gedoen as twintig<
jaar gelede – met nóg groter welslae.
JULIE 2007
Broer-tot-broer-oorplanting
Die bekende radiopersoonlikheid Evert Snyman (53) was jare
lank onbewus daarvan dat hy aan ’n nierafwyking ly.
’n Uiters seldsame siekte, fi brillêre glomeropatie (daar is net
vyf geïdentifi seerde gevalle in Suid-Afrika), is gediagnoseer
kort nadat hy in die winter van 2006 ’n dokter besoek het
omdat hy moeg was en sy bene geswel het.
Vroeg in 2007 het Evert se niere versaak. Hy moes ’n nuwe
nier kry. Evert en sy broer Kevin (50) se weefsel het ooreengestem
en hy was ’n geskikte skenker.
Vir Kevin was dit nie ’n moeilike besluit nie. “As ek dit nie
gedoen het nie, sou hy nie kon bly lewe nie. En die skenking
het glad nie my lewe beïnvloed nie. Ek leef presies soos
voorheen.”
Op 20 Julie 2007 is die twee broers geopereer – die een om
lewe te ontvang, die ander om dit te gee.
Al moet Evert voortaan lewenslank daagliks immuunonderdrukkers,
antibiotika, steroïede en cholesterolpille drink om sy
nuwe nier ten beste te laat funksioneer en te beskerm, vind hy
dit ’n klein prys om te betaal vir ’n tweede lewe.
NOVEMBER 2007
Ma-tot-dogter-oorplanting
Alfreda Arendse (47) van Kaapstad het
in November verlede jaar ’n nier vir
haar dogter, Keren-Leigh Arendse (21),
geskenk. Keren-Leigh was dertien jaar
oud toe sy begin kla het van keelseer en
rugpyn, maar nierprobleme is ongelukkig
eers jare later gediagnoseer. ’n Uiteindelike
biopsie het gewys haar niere is beskadig. Ná verskeie behandelings
wat nie wou help nie, het haar nefroloog
vroeg verlede jaar ’n nieroorplanting
voorgestel. Alfreda het nie ’n oomblik
geweifel om haar nier te skenk nie. “Dis
amper asof ek van voor af begin lewe,”
sê Keren-Leigh.
APRIL 2008
Suster-tot-broer-oorplanting
Ellen Husselmann (46) van Durbanville,
Kaapstad, het haar regternier aan haar
broer Bertie de Beer (48) van Hopefi eld
geskenk. Hy het polisistiese niersiekte van
hul ma geërf – soos al sy ander broers en
susters behalwe Ellen, wat ál gesinslid is wie
se niere nie aangetas is nie. Gelukkig stem
haar weefsel met syne ooreen en kon die
oorplanting gedoen word. Die oorplanting
(sien foto’s op bl. 28) is op 1 April uitgevoer
in die Christiaan Barnard-hospitaal in
Kaapstad, waar minstens een nieroorplanting
per week gedoen word. Bertie se nuwe
nier het begin werk nog voor die operasie
afgehandel is. “Ek kan nie glo dat ek soveel
beter voel nie. Ek sien weer kans vir dinge,”
sê hy.
HET JY ’N GROTER
KANS OP
NIERVERSAKING?
As jy “ja” antwoord op enige van dié
vrae, moet jy ekstra bedag op nier -
versaking wees. Raadpleeg liefs ’n
uroloog of nefroloog vir nog toetse.
Nierprobleme kan vroeg opgespoor
word met ’n GFR-toets wat bepaal
hoeveel afval die niere uit die bloed
kan verwyder (die sg. glomerular
filtration rate).
LY JY AAN DIABETES? Sowat 35 tot
50 persent van alle gevalle van nierversaking
kom onder diabete voor.
LY JY AAN HOË BLOEDDRUK Wat nie
goed beheer word nie? Sowat 20 tot
25 persent van nierversaking volg
weens swak beheerde hoë bloeddruk.
HET JY MEER AS EEN KEER NIERONTSTEKING
GEHAD? As glomerulonefritis
nie noukeurig behandel
en deeglik gemonitor word nie (soos
in baie ontwikkelende lande) kan
dit tot ’n vyfde van alle gevalle van
nierversaking veroorsaak.
LY JY AAN ’N OORERFLIKE NIERSIEKTE
Soos IgA-nefropatie, polisistiese
niere (soos Bertie de Beer),
of nierkanker? Gee ekstra aandag
aan jou gesondheid.
GEBRUIK JY HEELTYDS ’N KATETER?
Wees versigtig vir nierinfeksies en
laat dit gou en deeglik behandel.
GEBRUIK JY ELKE DAG VIR BAIE
JARE ANTI-INFLAMMATORIESE middels
vir pyn, inflammasie of koors?
IS JY SO OORGEWIG dat jou
bloeddruk hoog is?
IS JOU CHOLESTEROLVLAK baie
hoog?
ASEM JY GEREELD BAIE LOOD- of
kwikdampe in?
Só werk jou niere
Niere is boontjievormig en die fi lters
van die liggaam. Hulle ruim die liggaam
se afvalstowwe op, vervaardig
onder meer die ensieme en hormone
wat noodsaaklik is vir normale
bloeddruk en vir die vervaardiging
van rooibloedselle, en beheer jou
bloedvolume en -samestelling en die
pH-balans van die liggaam. Hulle beheer
die liggaam se kalsium- en ander
mineraalvlakke wat noodsaaklik is vir
’n gesonde skelet en gewrigte en vir
die gesonde funksionering van die
brein, hart en ander organe. Gevaarlike
chemiese stowwe (soos medisyne,
dwelms en selfs gif) en stowwe wat
die liggaam nie meer nodig het nie,
soos die afvalprodukte van proteïene,
word ook in die niere afgebreek en
saam met die urine uitgeskei.
Gesonde niere vervaardig elke
dag 150 liter urine, waarvan sowat
148 tot 149 liter bruikbare stowwe,
soos proteïene, weer deur die liggaam
geabsorbeer word. Ongeveer
twee liter urine word uiteindelik
daagliks uitgeskei.
As jou niere nie behoorlik werk nie,
bou gifstowwe op in jou liggaam en
kan jou hele liggaam aangetas word.
Jy kan nierprobleme van jou ouers erf
of jy kan dit opdoen as komplikasie of
gevolg van verskeie siektes.
Die uiteinde van chroniese nierprobleme
is gewoonlik nierversaking.
Nierversaking kan óf stadig en stilweg oor maande en jare plaasvind, óf
baie skielik.
Die ontstellendste van nierversaking
is dat ’n mens in die geval
van chroniese nierversaking eers
bewus word van die eerste simptome
as jy al 60 tot 70 persent van
jou nierfunksie verloor het.
’n Nieroorplanting is al blywende
oplossing. Dialise help net
om ’n mens tydelik aan die lewe
te hou. Voorts haal sowat vier uit
vyf mense met nierversaking wat
van staatsgesondheidsdienste
afhanklik is, nie eens ’n dialiselys
nie en sterf bloot omdat daar
nie genoeg geriewe in die land
is nie.
WORD ’N ORGAANSKENKER Dis maklik. Skakel net 0800-22-66-11, of kliek op www.odf.org.za. Jou organe kan ná jou dood vir iemand anders nog ’n kans op lewe of sig gee!
NIERONTSTEKING:
DIE SIEKTE WAT ENIGEEN KAN TREF
Nierontsteking, bekend as glomerulonefritis,
ontstaan nie in die nier nie,
maar volg ná ’n ander siekte
wat die immuunstelsel aantas.
’n Streptokokkus-keelseer,
diabetes, hoë bloeddruk tydens
swangerskap, malaria, Hepatitis
B, MIV, sifi lis, lupus, longof
limfklierkanker, en klierkanker
en langdurige gebruik van
anti-infl ammatoriese middels
of dwelms soos heroïen kan
nierontsteking en uiteindelik
nierversaking veroorsaak.
Glomerulonefritis is die sambreelterm
vir nierontstekings
waarvan nefrotiese sindroom
en immunoglobulien A (IgA)-
nefropatie van die algemeenste
is. IgA-nefropatie is dikwels
geneties en gaan dikwels
gepaard met ’n seer keel en pyn
in die bekken. Dit is ’n baie
algemene vorm van glomerulonefritis,
en sowat ’n twaalfde
van alle nierversakings kan
hieraan toegeskryf word.
Nefrotiese sindroom
word gekenmerk deur ’n hoë
proteïenvlak in die urine, en ’n
lae proteïenvlak in die bloed.
Swelling, veral om die oë, voete
en hande, en hoë cholesterol is
nog simptome. Die toestand
kan behandel word deur proteïen
in die urine te verlaag deur ’n
korrekte dieet en medikasie, asook
deur gepaardgaande simptome
by volwassenes soos hoë
cholesterol en hoë bloeddruk te
verlaag. As volwassenes dit kry,
is dit dikwels ’n aanduiding
van ernstiger nierprobleme en
is ’n nieroorplanting dalk later
nodig, soos in 2004 vir die All
Black-vleuel Jonah Lomu.
Maar nie alle niersiektes
eindig in nierversaking
nie. Meer as 80 persent
van kinders met nefrotiese sindroom kan gesond word.
Die onderliggende siekte kan baie
suksesvol met kortisoon behandel
word. Danksy vroeë diagnose en noukeurige
behandeling is Skye Phillips
(8) van Kirkwood in die Oos-Kaap
’n lewenslustige gr. 2’tjie. Die proteïenvlak
in dié rooikoppie se urine
word gereeld getoets en sy ontvang
onmiddellik behandeling as daar net
die geringste aanduiding is dat haar
niere swaartrek. Onder die wakende
oog van ’n Kaapse kinder-nefroloog
en ’n kinderarts van Uitenhage is sy
gesond. Daar is baie kinders soos sy
wat gesond gedokter kan word.
MOET NOOIT DIÉ SIMPTOME IGNOREER NIE ’n Groot verskeidenheid simptome
kan aanduiders van nierprobleme
wees. Dit is belangrik om so gou
moontlik aandag aan enige van dié
simptome te skenk omdat simptome
van nierversaking eers na vore
kom wanneer net sowat 30 of 40
persent van die nierfunksie oor is.
- Slaaploosheid (’n vroeë simptoom)
-
- Swelling, veral van die voete,
bene, hande en om die oë weens
waterterughouding
- Bloed in die urine of urine wat rokerig
of Coke-kleurig is
- Meer urine-uitskeiding in die nag
as vroeë simptoom, maar later ál minder
vervaardiging van urine
- Lusteloosheid en moegheid
- Swak eetlus
- Hoofpyne
- Lyfpyne en spierpyne (weens die
chemiese wanbalanse)
- Hoë bloeddruk (wat veroorsaak of
vererger word as water ophoop)
- Bloedarmoede (omdat die niere nie
meer ’n hormoon produseer vir die maak
van rooibloedliggaampies nie)
In gevorderde gevalle is kortasemrigheid,
onreëlmatige hartklop, geen
seksdrang en ’n bleek en gelerige
velkleur weens die opgehoopte ureum
waarneembaar. ’n Verstand wat nie meer
so helder is nie en ’n gehik is simptome
wat in ’n gevorderde stadium voorkom.
Kidney and Bladder Problems
|