|
KAMPIOENE

Hulle het die hoogtes, laagtes en dieptes van die lewe tegelykertyd ervaar. Maar vir die Neethling gesin was die terugslae altyd eerder ‘n aanspooring om harder te werk.
Op agttien het Ryk Neethling
sy ouerhuis in Bloemfontein
vir die onbekende verruil
met net ’n Olimpiese droom as
rigtingwyser. In dieselfde tyd het
sy jonger sus, Elsje, haar eie stryd
geveg – teen breinkanker. Ryk
het vandag sy goue medalje,
Elsje se bloedtoetse is weer
skoon nadat die kanker
onlangs teruggekeer het,
en kleinsus Jean-Marié is ’n
swemkampioen uit eie reg…Deur Betina Louw
Eens was daar Griekse
gode. Nou is daar Ryk
Neethling. ’n Gewone
mens, maar ook een wat
aanmekaargesit is van
ysere wil en dissipline.
Iemand wat al groot hoogtes bereik het.
Sy teenwoordigheid is voelbaar – hy loop
in en jy wéét hy is daar. En wanneer hy met
sy rustige, diep stem praat, wil jy luister.
Hier op die grasperk in Pretoria, tussen
sy susters, Elsje (27) en Jean-Marié (18), is
hy net broer. Die band tussen die klomp
is duidelik: “Kyk hoe pose Jean-Marié,” terg
Elsje en Ryk. Hulle skerts en lag en spot
spontaan terwyl die kamera kliek. “Julle sluit
my al weer uit,” kla Elsje speel-speel toe Ryk
met sy rug teen hare vir ’n foto draai.
Dis moeilik om te glo die lewenslustige
Elsje is ’n paar maande gelede net twee
maande gegee om te lewe. En dat die
fynbesnaarde, meer teruggetrokke
Jean-Marié in 2006 op ’n skrale vyftien die
jongste SA spanlid vir die Statebondspele
in Melbourne was – en toe boonop daar ’n
Suid-Afrikaanse rekord disnis geswem het.
San-Marié hou ’n wakende oog oor
haar kinders van die stoep af terwyl Ryk
sr. die fort by die huis in Bloemfontein
hou. Hulle is ’n hegte klomp ver verwyder
van die internasionale roem waaraan
Ryk gewoond moes raak nadat hy en sy
spanmaats – Roland Schoeman, Lyndon
Ferns en Darian Townsend – in die 4 x
100 m- aflos by die Olimpiese Spele in
Athene ’n nuwe wêreldrekord en goue
medalje losgeswem het. Hier op die gras
is hy vandag net Rykie, soos sy gesin
hom noem.
Net ná skool is Ryk met ’n beurs sak en
pak na die Universiteit van Arizona in die
VSA om hom op swem toe te spits. Vir ’n
jong Afrikaanse seun wat hom skielik in
’n onbekende land bevind het waar hy
niemand geken het nie, was dit nie aldag
maklik nie.
Tou opgooi was egter nooit ’n opsie nie.
Sy suster se wedloop teen haar siekte het ’n
weerklank gevind in sy wedloop teen die
horlosie. “Wanneer dinge daar donker gelyk
het, het ek gedink aan Elsje by die huis,
hoe dapper sy was en die pyn wat sy moes
deurmaak.” Elsje was dertien jaar oud toe sy
met breinkanker gediagnoseer is – ’n jaar voor
Ryk Amerika toe is.
Hy het sy graad in sielkunde klaargemaak,
is nege keer aangewys as die universiteit se
swemmer van die jaar en het ook hul prys
ontvang as atleet van die eeu. Stadig maar
seker het hy vir hom ’n naam in Amerikaanse
swemkringe uitgekerf.
Daar was egter nooit kortpaaie nie. Dit
was harde werk – ure der ure se oefen in die
swembad, nooit minder as vyf uur per dag
nie, ses dae per week. Selfs na-ure toe hy
heeltyds vir ’n eiendomsmaatskappy gewerk
het. Dis hoe hy nou nog oefen, met ’n verstommende
gedrewenheid en selfdissipline
wat deurskemer in sy hele benadering.
As klein seuntjie, vertel sy ma, was Ryk al
baie mededingend. “By sy eerste prysuitdeling
in die laerskool het hy pryse vir swem en
akademie gekry. Toe ons die aand terugry
huis toe, was hy baie ongelukkig omdat
niemand hom vertel het daar is ’n prys vir
netheid nie, want dan sou hy baie netjieser
gewees het!”
Sy onthou hoe dit hom
ontstel het as sy maats nie
ook honderd persent by
oefeninge gegee het nie.
“Kinders kon ook maar
afknouerig wees,” flits haar
gedagtes terug na daardie tyd. “Toe die ander
seuns op dertien vinniger as hy gegroei het,
was dit soms moeilik om hom te motiveer
om aan te hou swem.”
Maar Ryk het aangehou, een swembadlengte
ná die ander – tot en met 2000
se Olimpiese Spele in Sydney. Hy het vyfde
geëindig nadat hy as die gunsteling beskou
is om die 1 500 m te wen. Baie mense
het hom afgeskryf. “Ek was
depressief en het heeltemal
ophou swem. As ek nou
terugkyk, het ek die teleurstelling
nie reg hanteer nie.”
Toe hy daarna weer in die aande vir ont spanning
begin swem het, het hy geweet hy sal ’n
verandering moet maak. “Ek het besef as om te
wen en eerste te kom al is wat ’n mens gelukkig
maak, jy op die ou end baie ongelukkig sal wees.
Vir my het dit skielik daaroor begin gaan om
eerder my beste te lewer in my omstandighede.
Nou is die byeenkomste wat vir my uitstaan
nie noodwendig dié waarin ek gewen het nie,”
vertel hy terwyl ’n Amerikaanse aksent plek-plek
deurslaan, die enigste teken van sy nege jaar lange
verblyf in dié land.
“Ek hoef net aan Elsje se stryd te dink, dan laat
dit my harder probeer en gee dit my perspektief.”
Elsje onthou nog goed die
dag toe Ryk gehoor het sy is
siek. Sy vertel hoe hy, bewus
van haar seerkry, in sy Volla
geklim en swembad toe gery
het om lengte ná lengte te
swem. Want nes water ’n
simbool van vernuwing is, is dit ook die plek
waar Ryk sy rus vind. Waar hy perspektief kry
en kop skoonmaak. “Die dag toe hy daardie
swembadrand in Athene raak, was dit asof al sy
jare se harde werk meteens bymekaar gekom het,”
sê Elsje met bewondering.
Toe sy verlede jaar, dertien jaar later, weer
met ’n kankergewas gediagnoseer is, dié keer in
haar rug, het hy vir haar ’n SMS gestuur wat
sy steeds op haar selfoon hou. “Daarin sê hy
ek moenie moed opgee nie. Dat dit oor my is
dat hy vandag is waar hy is. En dat daar soveel
mense is wat nou vir my bid.” Die lewenslustige
ekstrovert raak eff ens bewoë.
Kleinsus Jean-Marié was maar vyf toe
Ryk oorsee is. Sy was baie sku om op
Sondagaande, wanneer die Neethlings hom
gebel het, met die vreemdeling aan die ander
kant van die telefoonlyn te gesels.
Ek het nooit geweet wat om vir hom te sê
nie, maar ek het baie na hom opgesien en
alles gedoen wat hy vir my gesê het,” sê sy.
Dis Ryk wat haar aangemoedig het om
te begin swem en ’n hegte band het sedertdien tussen
die twee ontwikkel. Sy het haarself tuis geskool en haar
eerste drie hoërskooljare binne twee jaar voltooi. Sy het
verlede jaar matriek geslaag. Met daardie kenmerkende
Neethling-vegtersinstink is sy nou op die vooraand van
’n blink swemtoekoms.
Dis dieselfde deursettingsvermoë wat San-Marié en
Ryk sr. elk op hul eie manier toon.
Die kere wat Elsje in die teater was vir operasies wat
soms dertien uur geduur het, kon haar ma nie stilsit
en wag nie. Ryk sr. sou sit en ’n koerant fl enters lees,
vertel San-Marié. Baie soos Rykie. Hulle kan hulle
afsluit, fokus op ’n ding, Ryk as pa die stabiele rots op
die agtergrond en Ma die een wat die gesin se emosies
verwerk en almal aan die gang hou.
Dan vertel sy verder: “Die dae toe ons as gesin agter
Ryk se swembyeenkomste aan getrek het, was skielik
verby toe Elsje siek word. Dit het toe net oor haar
oorlewing gegaan. Rykie moes op sy eie aangaan. Klein
Jean-Marié ook.” Trane dam in haar oë op. “Skielik
is jy magteloos. Daar was ’n tyd dat ek nie eens meer
wou bid nie. Prestasies is vir ons bonusse. Ons is almal
baie trots op Rykie se sukses. Ek draai nog steeds weg
van die TV as hy ’n swak resies gehad het om nie die
teleurstelling op sy gesig te sien nie. Maar prestasies is
lankal nie meer vir ons belangrik nie. Al wat ’n ma wil
hê, is dat haar kinders gelukkig en gesond moet wees.
Geen geld kan dit koop nie.”
Ná die fotosessie gaan die gesels voort. Soos oor die
keer toe Ryk die eerste keer van Amerika af teruggekom
het vir ’n vakansie en tranerig geword het toe hy sien
dat Jean-Marié hom nie op ’n gesinsprent ingeteken het
nie. “Ek moes omtrent mooipraat en verduidelik dat
hy eintlik in die vliegtuig was en die res van ons op die
prent vir hom staan en waai het,” lag Jean-Marié.
Wanneer Ryk eendag sy swempet vir goed ophang,
wil hy sy gewig ingooi by die swemakademie wat hy
en ’n paar vriende in Pretoria op die been bring. Terug
by sy mense. Lojale patriot. “Ek is bang dat ek die
gevoel wat swem my gegee het te veel sal mis, maar daar
is ander geleenthede in Suid-Afrika wat ek nou kan
ontgin,” sê hy.
Kort voor die einde van ons gesprek dop dit uit dat
die bordspeletjie Th irty Seconds lankal taboe is in die
Neethling-huis. “Dit lei tot te veel gevegte en op die ou
end is almal net kwaad vir mekaar,” verduidelik San-
Marié. In ’n gesin met soveel siel en veggees, wonder ek,
hoe dan anders?
Ryk Feite
Longkapasiteit 116 persent van wat
dit veronderstel is om te wees.
Dieet “Ek volg nie ’n spesiale dieet
nie. Ek probeer net om gesond en
gebalanseerd te eet.”
Aanvullings Ryk gebruik proteïene,
kreatien, multivitamiene en ’n sinken-
magnesium-samestelling om sy lyf
sterker te maak.
Selfdissipline Hy oefen vyf uur
elke dag, ses dae van die week en
doen 300 tot 500 opsitte elke dag.
Hoe bly hy gefokus? “Motivering
was nog nooit vir my ’n probleem
nie. Ek kry ná elke groot gala vir
my ’n nuwe doelwit waarop ek al
my energie fokus. Dan werk ek vir
my klein, daaglikse stappe uit om
die nuwe doel te bereik. Ek het dit
veral gedoen toe ek jonger was.” Om
hom verder te motiveer, gebruik
Ryk gedagtes aan sy tuisland en sy
suster Elsje se kankerstryd om ekstra
veggees in hom wakker te maak.
‘‘Voor ’n groot gala sal ek ook luister
na musiek wat my na aan die hart lê
en flieks kyk wat my inspireer, soos
Rocky en Cinderella Man.”
Dis hoe dit voel “Die dag voor ’n
groot swemgala voel dit asof elke
bloedvat in jou lyf groter word, jou hart
pomp vinniger en jy kan voel hoe die
adrenalien in jou lyf stadig meer word.
Dis ’n gevoel wat ek baie gaan mis
ná swem.”
Het jy geweet? Ryk is 3 kg oorgewig!
Dis darem nie ekstra vet nie, net te veel
spiere.
WAT RYK GELEER HET
- Lewe elke dag voluit. Dis iets wat ek by my
suster Elsje leer; om jou beste teekoppies elke
dag te gebruik.
- Gebruik jou gawes en sit alles in om die beste
daarvan te maak. Ek vind nie sin daarin om my
tyd eerder in ’n kroeg te verwyl deur te rook en
drink nie.
- Leef hartstogtelik en gee honderd persent in
alles wat jy aanpak.
- Wees nederig. Daar is nooit genoeg rede om ’n
groot kop te kry nie.
- Respekteer ander. Dit maak nie saak of dit die
persoon is wat die swembad skoonmaak en of
dit ’n baie bekende mens is nie: Ek probeer almal
dieselfde behandel.
- Prestasies maak nie saak nie. Op die ou end is dit
nie jou prestasies wat die mense om jou sal onthou
nie, maar die mens wat jy was.
Gesinsbande
Die hele Suid-Afrika sal saam
met Ryk duim vashou wanneer
die Olimpiese Spele op 8 Augustus
in Beijing begin. Dit sal
die vierde keer wees dat hy aan
die Spele deelneem. Ryk mik
vir goud in die 100 m-vryslag
en 4 x 100 m-afl os vir mans ná
maande se voorbereiding by
die Universiteit van Arizona in
Tucson, Amerika.
Elsje se verhaal
DIE DERDE KAMPIOEN
Niks aan Elsje Neethling sê
kanker nie. Haar spontane
harde lag, skerpsinnigheid
en bos los koperbruin hare
straal lewenslus uit. ’n Mens
voel vinnig gemaklik in haar geselskap. Sy
praat sonder om doekies om te draai en is
selfversekerd en pretensieloos – ’n wat-jy-sienis-
wat-jy-kry soort mens.
Met dié dat ’n oormaat van swemtalent
deur die Neethlings se are vloei, was Elsje
ook ’n kranige swemmer wat moeiteloos
elke jaar die Vrystaatse skole-swemspan
gehaal het, vertel ma San-Marié. Sy het ook
waterpolo gespeel en later duik as sport
begin beoefen. Dit was met die duikery dat
’n sluimerende breingewas, waarmee dokters
meen Elsje gebore is, begin bloei het. Dit
was breinkanker. Sy was dertien jaar oud.
“Ek onthou die hoofpyn,” sê Elsje. Dit was
dalk van altyd af daar. “Sy was ’n moeilike
baba wat baie gehuil het,” vertel San-Marié.
Dokters het gesê dis omdat sy letterlik met ’n
hoofpyn gebore is.
“Ek was so jonk toe die dokter vir my sê
ek het breinkanker. Ek onthou hoe my ouers
gehuil het en hoe ek hulle net wou gerusstel.
Jy’s nog so ’n kind. Toe my pelle bekommerd
was oor puisies en watter rok hulle na die
volgende skoolbal sou dra, moes ek besluit of
die dokters maar weer aan my kop mag sny.
“Ek dink nie ek het regtig besef wat aan die
gebeur was nie. Ná die aanvanklike diagnose
het die een noodoperasie ná die ander gevolg.
Daar was nie regtig tyd om te dink nie.”
Sy onthou hoe die dokters elke keer voor
die teaterdeure vir haar ouers gevra het om
haar te groet. “Die dokter het gesê ek sal
moontlik blind wees ná een van die operasies.”
Die bestralingterapie wat sy moes kry, het al
haar hare laat uitval en haar gesig het opgeswel
vanweë die kortisoonbehandeling wat daarop
gevolg het.
Sy onthou die psigiese seerkry
goed. “Vet seerower!” sou een skoolkind haar
toesnou, terwyl ander weer sku was om langs
haar in die klas te sit. Selfs ouer mense was
onsensitief, sê sy, maar sonder ’n sweempie
selfbejammering.
Toe die kanker in Julie verlede jaar terugkeer,
dié keer in haar rug, was dit vir Elsje
onwerklik. Die gewas het met sy tentakels
styf om haar rugmurg vasgeklou en het reeds
na haar niere en blaas versprei. Hulle sou die
gewas probeer verwyder, maar sy sou verlam
raak en dokters het haar twee maande gegee
om te leef.
Dit was ook net twee maande voor haar
troudatum. “Al wat die dokters gesê het hulle
kon doen, was om my gemaklik te maak.”
Maar sy wou dit nie glo nie. “Ek het
gesien hoe ek op my troue by die kerk
instap,” sê sy. En sy het aangehou met haar
werk as joernalis by die Bloemfonteinse
koerant Volksblad.
“Tydens die operasie het die gewas so
maklik losgekom dat die dokter gesê het dit
was asof dit losgebid is.” Omdat hulle deur
senuwees moes knip, is die onderste deel van
haar regterbobeen nou sonder gevoel.
Maar op 1 September verlede jaar hét Elsje
die kerk binnegestap vir haar mooiste dag. “Toe
ek van my wittebrood in Th ailand terugkeer,
het die werklikheid my skielik weer getref. Die
angs was terug. Ek moes vir my bloedtoetste
gaan.” Dit was skoon. En die dokter glo nie die
gewas sal terugkeer nie.
Tog is Elsje steeds bang vir kanker. “Dis
soos ’n skaduwee wat jou volg, dis nie
skielik net weg wanneer jou bloedtoetse
skoon is nie. Ná die breinkanker het ek so
hard gebou daaraan om ’n normale lewe te
lei. En skielik is alles weer omvergegooi. Dis
dertien jaar later – wat was die kanse?” sêvra
sy tranerig.
“Soms voel ek lus om alles net te los. Die
gejaag van die daaglikse lewe, huiswerk,
verkeersboetes. Dis so sinloos. Die lewe is
so kort. Dis asof ek meer sinvolle dinge wil
doen. Ek het nie woorde om te beskryf hoe
ek regtig voel nie. Maar dit voel tog of ek
ongeloofl ik emosioneel en geestelik gegroei
en ryker geword het.”
Dié ewige hippie, soos sy haarself noem, het
’n ou siel.
10 good reasons to start swimming
Swimming
|