Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
Stem cell miracles
A transplant of a windpipe using stem cells has given a woman a new lease on life.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Huisgenoot Pols Junie 08
 
KAMPIOENE

Hulle het die hoogtes, laagtes en dieptes van die lewe tegelykertyd ervaar. Maar vir die Neethling gesin was die terugslae altyd eerder ‘n aanspooring om harder te werk.

Op agttien het Ryk Neethling sy ouerhuis in Bloemfontein vir die onbekende verruil met net ’n Olimpiese droom as rigtingwyser. In dieselfde tyd het sy jonger sus, Elsje, haar eie stryd geveg – teen breinkanker.

Ryk het vandag sy goue medalje, Elsje se bloedtoetse is weer skoon nadat die kanker onlangs teruggekeer het, en kleinsus Jean-Marié is ’n swemkampioen uit eie reg…Deur Betina Louw

Eens was daar Griekse gode. Nou is daar Ryk Neethling. ’n Gewone mens, maar ook een wat aanmekaargesit is van ysere wil en dissipline. Iemand wat al groot hoogtes bereik het. Sy teenwoordigheid is voelbaar – hy loop in en jy wéét hy is daar. En wanneer hy met sy rustige, diep stem praat, wil jy luister.

Hier op die grasperk in Pretoria, tussen sy susters, Elsje (27) en Jean-Marié (18), is hy net broer. Die band tussen die klomp is duidelik: “Kyk hoe pose Jean-Marié,” terg Elsje en Ryk. Hulle skerts en lag en spot spontaan terwyl die kamera kliek. “Julle sluit my al weer uit,” kla Elsje speel-speel toe Ryk met sy rug teen hare vir ’n foto draai.

Dis moeilik om te glo die lewenslustige Elsje is ’n paar maande gelede net twee maande gegee om te lewe. En dat die fynbesnaarde, meer teruggetrokke Jean-Marié in 2006 op ’n skrale vyftien die jongste SA spanlid vir die Statebondspele in Melbourne was – en toe boonop daar ’n Suid-Afrikaanse rekord disnis geswem het.

San-Marié hou ’n wakende oog oor haar kinders van die stoep af terwyl Ryk sr. die fort by die huis in Bloemfontein hou. Hulle is ’n hegte klomp ver verwyder van die internasionale roem waaraan Ryk gewoond moes raak nadat hy en sy spanmaats – Roland Schoeman, Lyndon Ferns en Darian Townsend – in die 4 x 100 m- aflos by die Olimpiese Spele in Athene ’n nuwe wêreldrekord en goue medalje losgeswem het. Hier op die gras is hy vandag net Rykie, soos sy gesin hom noem.

Net ná skool is Ryk met ’n beurs sak en pak na die Universiteit van Arizona in die VSA om hom op swem toe te spits. Vir ’n jong Afrikaanse seun wat hom skielik in ’n onbekende land bevind het waar hy niemand geken het nie, was dit nie aldag maklik nie.

Tou opgooi was egter nooit ’n opsie nie. Sy suster se wedloop teen haar siekte het ’n weerklank gevind in sy wedloop teen die horlosie. “Wanneer dinge daar donker gelyk het, het ek gedink aan Elsje by die huis, hoe dapper sy was en die pyn wat sy moes deurmaak.” Elsje was dertien jaar oud toe sy met breinkanker gediagnoseer is – ’n jaar voor Ryk Amerika toe is.

Hy het sy graad in sielkunde klaargemaak, is nege keer aangewys as die universiteit se swemmer van die jaar en het ook hul prys ontvang as atleet van die eeu. Stadig maar seker het hy vir hom ’n naam in Amerikaanse swemkringe uitgekerf.

Daar was egter nooit kortpaaie nie. Dit was harde werk – ure der ure se oefen in die swembad, nooit minder as vyf uur per dag nie, ses dae per week. Selfs na-ure toe hy heeltyds vir ’n eiendomsmaatskappy gewerk het. Dis hoe hy nou nog oefen, met ’n verstommende gedrewenheid en selfdissipline wat deurskemer in sy hele benadering.

As klein seuntjie, vertel sy ma, was Ryk al baie mededingend. “By sy eerste prysuitdeling in die laerskool het hy pryse vir swem en akademie gekry. Toe ons die aand terugry huis toe, was hy baie ongelukkig omdat niemand hom vertel het daar is ’n prys vir netheid nie, want dan sou hy baie netjieser gewees het!”

Sy onthou hoe dit hom ontstel het as sy maats nie ook honderd persent by oefeninge gegee het nie. “Kinders kon ook maar afknouerig wees,” flits haar gedagtes terug na daardie tyd. “Toe die ander seuns op dertien vinniger as hy gegroei het, was dit soms moeilik om hom te motiveer om aan te hou swem.”

Maar Ryk het aangehou, een swembadlengte ná die ander – tot en met 2000 se Olimpiese Spele in Sydney. Hy het vyfde geëindig nadat hy as die gunsteling beskou is om die 1 500 m te wen. Baie mense het hom afgeskryf. “Ek was depressief en het heeltemal ophou swem. As ek nou terugkyk, het ek die teleurstelling nie reg hanteer nie.”

Toe hy daarna weer in die aande vir ont spanning begin swem het, het hy geweet hy sal ’n verandering moet maak. “Ek het besef as om te wen en eerste te kom al is wat ’n mens gelukkig maak, jy op die ou end baie ongelukkig sal wees. Vir my het dit skielik daaroor begin gaan om eerder my beste te lewer in my omstandighede. Nou is die byeenkomste wat vir my uitstaan nie noodwendig dié waarin ek gewen het nie,” vertel hy terwyl ’n Amerikaanse aksent plek-plek deurslaan, die enigste teken van sy nege jaar lange verblyf in dié land.

“Ek hoef net aan Elsje se stryd te dink, dan laat dit my harder probeer en gee dit my perspektief.”

Elsje onthou nog goed die dag toe Ryk gehoor het sy is siek. Sy vertel hoe hy, bewus van haar seerkry, in sy Volla geklim en swembad toe gery het om lengte ná lengte te swem. Want nes water ’n simbool van vernuwing is, is dit ook die plek waar Ryk sy rus vind. Waar hy perspektief kry en kop skoonmaak. “Die dag toe hy daardie swembadrand in Athene raak, was dit asof al sy jare se harde werk meteens bymekaar gekom het,” sê Elsje met bewondering.

Toe sy verlede jaar, dertien jaar later, weer met ’n kankergewas gediagnoseer is, dié keer in haar rug, het hy vir haar ’n SMS gestuur wat sy steeds op haar selfoon hou. “Daarin sê hy ek moenie moed opgee nie. Dat dit oor my is dat hy vandag is waar hy is. En dat daar soveel mense is wat nou vir my bid.” Die lewenslustige ekstrovert raak eff ens bewoë.

Kleinsus Jean-Marié was maar vyf toe Ryk oorsee is. Sy was baie sku om op Sondagaande, wanneer die Neethlings hom gebel het, met die vreemdeling aan die ander kant van die telefoonlyn te gesels.

Ek het nooit geweet wat om vir hom te sê nie, maar ek het baie na hom opgesien en alles gedoen wat hy vir my gesê het,” sê sy.

Dis Ryk wat haar aangemoedig het om te begin swem en ’n hegte band het sedertdien tussen die twee ontwikkel. Sy het haarself tuis geskool en haar eerste drie hoërskooljare binne twee jaar voltooi. Sy het verlede jaar matriek geslaag. Met daardie kenmerkende Neethling-vegtersinstink is sy nou op die vooraand van ’n blink swemtoekoms.

Dis dieselfde deursettingsvermoë wat San-Marié en Ryk sr. elk op hul eie manier toon.

Die kere wat Elsje in die teater was vir operasies wat soms dertien uur geduur het, kon haar ma nie stilsit en wag nie. Ryk sr. sou sit en ’n koerant fl enters lees, vertel San-Marié. Baie soos Rykie. Hulle kan hulle afsluit, fokus op ’n ding, Ryk as pa die stabiele rots op die agtergrond en Ma die een wat die gesin se emosies verwerk en almal aan die gang hou.

Dan vertel sy verder: “Die dae toe ons as gesin agter Ryk se swembyeenkomste aan getrek het, was skielik verby toe Elsje siek word. Dit het toe net oor haar oorlewing gegaan. Rykie moes op sy eie aangaan. Klein Jean-Marié ook.” Trane dam in haar oë op. “Skielik is jy magteloos.

Daar was ’n tyd dat ek nie eens meer wou bid nie. Prestasies is vir ons bonusse. Ons is almal baie trots op Rykie se sukses. Ek draai nog steeds weg van die TV as hy ’n swak resies gehad het om nie die teleurstelling op sy gesig te sien nie. Maar prestasies is lankal nie meer vir ons belangrik nie. Al wat ’n ma wil hê, is dat haar kinders gelukkig en gesond moet wees. Geen geld kan dit koop nie.”

Ná die fotosessie gaan die gesels voort. Soos oor die keer toe Ryk die eerste keer van Amerika af teruggekom het vir ’n vakansie en tranerig geword het toe hy sien dat Jean-Marié hom nie op ’n gesinsprent ingeteken het nie. “Ek moes omtrent mooipraat en verduidelik dat hy eintlik in die vliegtuig was en die res van ons op die prent vir hom staan en waai het,” lag Jean-Marié.

Wanneer Ryk eendag sy swempet vir goed ophang, wil hy sy gewig ingooi by die swemakademie wat hy en ’n paar vriende in Pretoria op die been bring. Terug by sy mense. Lojale patriot. “Ek is bang dat ek die gevoel wat swem my gegee het te veel sal mis, maar daar is ander geleenthede in Suid-Afrika wat ek nou kan ontgin,” sê hy.

Kort voor die einde van ons gesprek dop dit uit dat die bordspeletjie Th irty Seconds lankal taboe is in die Neethling-huis. “Dit lei tot te veel gevegte en op die ou end is almal net kwaad vir mekaar,” verduidelik San- Marié. In ’n gesin met soveel siel en veggees, wonder ek, hoe dan anders?

Ryk Feite

Longkapasiteit 116 persent van wat dit veronderstel is om te wees.

Dieet “Ek volg nie ’n spesiale dieet nie. Ek probeer net om gesond en gebalanseerd te eet.”

Aanvullings Ryk gebruik proteïene, kreatien, multivitamiene en ’n sinken- magnesium-samestelling om sy lyf sterker te maak.

Selfdissipline Hy oefen vyf uur elke dag, ses dae van die week en doen 300 tot 500 opsitte elke dag.

Hoe bly hy gefokus? “Motivering was nog nooit vir my ’n probleem nie. Ek kry ná elke groot gala vir my ’n nuwe doelwit waarop ek al my energie fokus. Dan werk ek vir my klein, daaglikse stappe uit om die nuwe doel te bereik. Ek het dit veral gedoen toe ek jonger was.” Om hom verder te motiveer, gebruik Ryk gedagtes aan sy tuisland en sy suster Elsje se kankerstryd om ekstra veggees in hom wakker te maak.

‘‘Voor ’n groot gala sal ek ook luister na musiek wat my na aan die hart lê en flieks kyk wat my inspireer, soos Rocky en Cinderella Man.”

Dis hoe dit voel “Die dag voor ’n groot swemgala voel dit asof elke bloedvat in jou lyf groter word, jou hart pomp vinniger en jy kan voel hoe die adrenalien in jou lyf stadig meer word. Dis ’n gevoel wat ek baie gaan mis ná swem.”

Het jy geweet? Ryk is 3 kg oorgewig! Dis darem nie ekstra vet nie, net te veel spiere.

WAT RYK GELEER HET

  1. Lewe elke dag voluit. Dis iets wat ek by my suster Elsje leer; om jou beste teekoppies elke dag te gebruik.

  2. Gebruik jou gawes en sit alles in om die beste daarvan te maak. Ek vind nie sin daarin om my tyd eerder in ’n kroeg te verwyl deur te rook en drink nie.

  3. Leef hartstogtelik en gee honderd persent in alles wat jy aanpak.

  4. Wees nederig. Daar is nooit genoeg rede om ’n groot kop te kry nie.

  5. Respekteer ander. Dit maak nie saak of dit die persoon is wat die swembad skoonmaak en of dit ’n baie bekende mens is nie: Ek probeer almal dieselfde behandel.

  6. Prestasies maak nie saak nie. Op die ou end is dit nie jou prestasies wat die mense om jou sal onthou nie, maar die mens wat jy was.

Gesinsbande

Die hele Suid-Afrika sal saam met Ryk duim vashou wanneer die Olimpiese Spele op 8 Augustus in Beijing begin. Dit sal die vierde keer wees dat hy aan die Spele deelneem. Ryk mik vir goud in die 100 m-vryslag en 4 x 100 m-afl os vir mans ná maande se voorbereiding by die Universiteit van Arizona in Tucson, Amerika.

Elsje se verhaal

DIE DERDE KAMPIOEN
Niks aan Elsje Neethling sê kanker nie. Haar spontane harde lag, skerpsinnigheid en bos los koperbruin hare straal lewenslus uit. ’n Mens voel vinnig gemaklik in haar geselskap. Sy praat sonder om doekies om te draai en is selfversekerd en pretensieloos – ’n wat-jy-sienis- wat-jy-kry soort mens.

Met dié dat ’n oormaat van swemtalent deur die Neethlings se are vloei, was Elsje ook ’n kranige swemmer wat moeiteloos elke jaar die Vrystaatse skole-swemspan gehaal het, vertel ma San-Marié.

Sy het ook waterpolo gespeel en later duik as sport begin beoefen. Dit was met die duikery dat ’n sluimerende breingewas, waarmee dokters meen Elsje gebore is, begin bloei het. Dit was breinkanker. Sy was dertien jaar oud.

“Ek onthou die hoofpyn,” sê Elsje. Dit was dalk van altyd af daar. “Sy was ’n moeilike baba wat baie gehuil het,” vertel San-Marié. Dokters het gesê dis omdat sy letterlik met ’n hoofpyn gebore is.

“Ek was so jonk toe die dokter vir my sê ek het breinkanker. Ek onthou hoe my ouers gehuil het en hoe ek hulle net wou gerusstel. Jy’s nog so ’n kind. Toe my pelle bekommerd was oor puisies en watter rok hulle na die volgende skoolbal sou dra, moes ek besluit of die dokters maar weer aan my kop mag sny.

“Ek dink nie ek het regtig besef wat aan die gebeur was nie. Ná die aanvanklike diagnose het die een noodoperasie ná die ander gevolg. Daar was nie regtig tyd om te dink nie.”

Sy onthou hoe die dokters elke keer voor die teaterdeure vir haar ouers gevra het om haar te groet. “Die dokter het gesê ek sal moontlik blind wees ná een van die operasies.” Die bestralingterapie wat sy moes kry, het al haar hare laat uitval en haar gesig het opgeswel vanweë die kortisoonbehandeling wat daarop gevolg het.

Sy onthou die psigiese seerkry goed. “Vet seerower!” sou een skoolkind haar toesnou, terwyl ander weer sku was om langs haar in die klas te sit. Selfs ouer mense was onsensitief, sê sy, maar sonder ’n sweempie selfbejammering.

Toe die kanker in Julie verlede jaar terugkeer, dié keer in haar rug, was dit vir Elsje onwerklik. Die gewas het met sy tentakels styf om haar rugmurg vasgeklou en het reeds na haar niere en blaas versprei. Hulle sou die gewas probeer verwyder, maar sy sou verlam raak en dokters het haar twee maande gegee om te leef.

Dit was ook net twee maande voor haar troudatum. “Al wat die dokters gesê het hulle kon doen, was om my gemaklik te maak.”

Maar sy wou dit nie glo nie. “Ek het gesien hoe ek op my troue by die kerk instap,” sê sy. En sy het aangehou met haar werk as joernalis by die Bloemfonteinse koerant Volksblad.

“Tydens die operasie het die gewas so maklik losgekom dat die dokter gesê het dit was asof dit losgebid is.” Omdat hulle deur senuwees moes knip, is die onderste deel van haar regterbobeen nou sonder gevoel.

Maar op 1 September verlede jaar hét Elsje die kerk binnegestap vir haar mooiste dag. “Toe ek van my wittebrood in Th ailand terugkeer, het die werklikheid my skielik weer getref. Die angs was terug. Ek moes vir my bloedtoetste gaan.” Dit was skoon. En die dokter glo nie die gewas sal terugkeer nie.

Tog is Elsje steeds bang vir kanker. “Dis soos ’n skaduwee wat jou volg, dis nie skielik net weg wanneer jou bloedtoetse skoon is nie. Ná die breinkanker het ek so hard gebou daaraan om ’n normale lewe te lei. En skielik is alles weer omvergegooi. Dis dertien jaar later – wat was die kanse?” sêvra sy tranerig.

“Soms voel ek lus om alles net te los. Die gejaag van die daaglikse lewe, huiswerk, verkeersboetes. Dis so sinloos. Die lewe is so kort. Dis asof ek meer sinvolle dinge wil doen. Ek het nie woorde om te beskryf hoe ek regtig voel nie. Maar dit voel tog of ek ongeloofl ik emosioneel en geestelik gegroei en ryker geword het.”

Dié ewige hippie, soos sy haarself noem, het ’n ou siel.

10 good reasons to start swimming

Swimming


 
Previous article: Next article:
Jou brein se draadwerk Niersiektes
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Esmaré skryf
Vinger op die pols
Nuus Flitse
Binne-in jou brein
KAMPIOENE
Bloedbande
Die Chemie van liefde
Nuwe lewe met stemselle
Dis hoe Tim wil hè jy moet oefen
Het jy 'n vet persoonlikheid?
Verloor baie kilo's diè winter
Baldadig
Voetwerk
Wraak van die griepvirus
Leef deur die Menopouse
Die lyf se wonders en flaters
Die A tot Z van slaap
Kuberpsigiater Junie 2008
Kuberapteker
Sit hand by
Die spoed van Lewe
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Huisgenoot Pols Blokraai Nommer 4
Volg jou kop!
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement