|
Nuus Flitse
Ma se negatiewe gemoed sleg vir haar kind
Jou baba van so jonk as ses weke
kan aanvoel as sy ma angstig
en depressief is, en sy gemoedstoestand
outomaties by hare aanpas.
Psigiatriese navorsers van die
Oxford-universiteit het in ’n nuwe
studie bevind dat ’n ma se negatiewe
gemoedstoestand tot depressie by
haar baba kan lei. Die studie bewys dat ’n baba
op ses weke reeds bewus is van hoe sy ouers
met hom kommunikeer en op nege maande sy
ouers se gesigsuitdrukkings kan vertolk, en dat
’n baba dan sy eie gemoedstoestand by dié van
sy ma aanpas. Dit is belangrik dat ma’s wat aan
nageboortelike depressie en angs ly, sielkundige
hulp kry voordat dié probleem haar en die baba
benadeel.
Bevries ovums nou vir babas
Nuwe navorsing maak dit nou vir jong
Suid-Afrikaanse vroue moontlik om hul
eierselle (ovums) suksesvol te laat bevries
vir latere gebruik. Vroue wie se eierstokke
deur kankerbehandeling beskadig kan word,
of wie se eierstokke verwyder moet word, kan
voor die behandeling hul ovums laat vries sodat
hulle wel later ma kan word, sê prof. Thinus Kruger,
fertiliteitspesialis van die Universiteit van Stellenbosch.
Danksy dié nuwe tegnologie kan vroue wat op dertig nog nie hul
ridder op die wit perd ontmoet het nie, ovums laat vries terwyl dit
nog sterk is sodat hulle later in hul lewe kinders kan hê. Ovums
kan vir ’n onbeperkte tyd gevries en bewaar word. Sperm- en
embriobevriesing word al ’n hele ruk in Suid-Afrika gedoen. ’n
Vrou se ovums word bevries binne ’n uur nadat dit
geoes is.
Ovumbevriesing kos tussen R10 000
en R15 000. Skakel die US se fertiliteitseenheid
by 021-531-6999 vir nog inligting.
PLOOIE SKOONVELD MET STAMSELLE
Prof. Don du Toit, ’n Kaapse selbioloog, het ’n nuwe verjongingskuur
ontwikkel wat langer werk as Botox, nie so
drasties is soos laserbehandeling nie en in die spreekkamer
gedoen kan word. Dié nuwe verjongingsbehandeling staan
bekend as plaatjie-ryk-plasma- (PRP) mesoterapie en dit kan
enige plek op die gesig, nek of lyf ingespuit word. Die nuwe
tegniek, waar groeifaktore uit die pasiënt se eie bloed gehaal
word om in die plooie te spuit, word al in verskeie sentra in die
wêreld ingespan.
Die PRP is veral geskik vir mense tussen veertig en 55 en kos
ongeveer R5 000. Dit word in die spreekkamer gedoen en die
pasiënt verloor een werkdag, sê Don.
TWEE NUWE ENTSTOWWE TEEN GROOTSTE VROUEKANKER NOU IN SA
Twee entstowwe teen servikale kanker (die
kankersoort wat die meeste vrouelewens
in ons land eis) is nou deur die SA Medisynebeheerraad
goedgekeur. Gardasil, vervaardig
deur Sanofi Pasteur MSD, is doeltreff end teen
die vier belangrike stamme van die menslike
papilloomvirus wat veneriese vratte en
80 persent van servikale kankers veroorsaak,
en kan sonder voorskrif by apteke gekoop
word. Die tweede entstof, wat deur Glaxo-
SmithKline vervaardig word, is doeltreff end
teen twee van die vier belangrike virusstamme
en is op doktersvoorskrif beskikbaar.
FOPSPEEN HELP TEEN WIEGIEDOOD
Babas wat saans ’n fopspeen suig, het volgens ’n Britse
studie ’n 61 persent kleiner kans om ’n wiegiedood te sterf
as dié wat glad nie saans fopspeen suig nie. Babas wat duim
suig, het ook ’n kleiner kans op wiegiedood as niesuigende
babas. Wiegiedood is die grootste oorsaak van sterftes by babas
tussen een en twaalf maande. Die presiese oorsaak daarvan
is onbekend, maar dit lyk asof sekere stappe om verstikking,
versmoring en oorverhitting te voorkom, die kans daarop
kan verminder:
- Laat jou baba op sy rug slaap, nie op sy sy nie.
- Moenie tydens swangerskap rook nie, en ook nie in die
huis of motor of naby jou baba nie. Moet ook nie ander
mense toelaat om naby jou kind te rook nie.
- Sorg dat jou baba nie te warm of te koud kry nie.
- Moenie sagte speelgoed, kussings en kombersies in sy
wiegie los terwyl hy slaap nie.
Huisgenoot Pols, Junie 2008
|