|
Esmaré skryf
RYK NEETHLING het my nog altyd geïmponeer – en
nou praat ons nie eens van daardie goddelike lyf
nie. Selfs nadat hy nou al ’n hele paar jaar op Suid-
Afrika se sosiale A-lys is en ’n gunsteling bly onder
fotojagters by glansgeleenthede, is hy steeds
regtig net Ryk: onopgesmuk, plat op die aarde en
half skaam-ordentlik.

En as jy uitvra na sy twee sussies – self besonderse
mense – kry hy so ’n ouboet-trots in sy oë.
G’n wonder hulle is so mal oor hul Rykie nie!
Dis die eerste keer in dertien jaar dat ’n tydskrif of koerant dié drie saam
afneem. En daar is goeie redes hoekom ons hulle so graag in Huisgenoot-
Pols wou hê: Elke Neethling-kind is ’n kampioen uit eie reg, ’n rolmodel vir
ons almal. Ryk het natuurlik kaste vol medaljes en menige swemrekords,
Jean-Marié is ook ’n uitstekende swemmer en Elsje, die minder bekende
middelkind, is dalk die grootste vegter van die drie. Haar stryd teen kanker
het Ryk nog altyd geïnspireer.
Dis nie net by die Neethlings waar familiebande die eintlike storie is nie.
Elke jaar word meer as tweehonderd nierpasiënte se lewe gered danksy ’n
nieroorplanting. In tot tagtig van dié gevalle is dit omdat iemand – meestal
’n familielid – bereid was om ’n nier te skenk. Op bl. 22 gesels ons met vier
mense wat sonder huiwering ingestem het om ’n kind, ’n broer of ’n suster se
lewe te red.
Die drama van ’n nieroorplanting het selfs nog groter dimensies aangeneem
die dag toe ons ons gaan foto’s neem het. Soos die duiwel dit wou hê, is die
oorplanting byna ge-Eskom. Die noodkrag was te onstabiel om voort te gaan
en die arme matrone het rondgehardloop om verdere noodmaatreëls te tref,
maar uiteindelik kon die operasie tog uitgevoer word.
Hoop julle geniet hierdie uitgawe, maar net gou nog ’n staaltjie van agter die
Pols-skerms: Om skape te tel om aan die slaap te raak, is een ding – maar om
skape om ’n bed te laat saamdrom vir ’n spesiale foto soos wat Petro du Toit vir
ons slaapstorie op bl. 82 wou hê, is ’n dier van ’n ander kleur! Joernalis Betina
Louw, fotograaf Johan Wilke, twee assistente en twee skaapwagters kon net nie
hond (of is dit nou skaap?) haaraf maak nie. Die diere het elke keer vervaard
by die bed verbygestorm! Tot alles klaar was en niemand hulle meer aan
die skape gesteur het nie – toe het hulle doodrustig om die bed begin
wei . . . Lekker warm slaap dié winter!
Esmarè
|