|
As depressie jou hart breek
Depressie is baie sleg vir iemand
wat ’n hartaanval gehad het, en
onbehandelde depressie kan ’n groot
gevaar vir ’n volgende hartaanval inhou,
skryf prof. Piet Oosthuizen in sy jongste
boek, Ontsnap van Depressie*, waaruit
HG-Pols hier ’n uittreksel plaas
WAAROM het ons voorouers besluit
om na iemand wat ongelukkig is,
as “hartseer” te verwys? As iemand
’n groot verlies gely het, sê ons die
persoon “se hart is gebreek”.
Die brein is in antieke tye reeds as die setel van die intellek
beskou, maar die hart as die setel van emosies. Dit is blykbaar
afgelei daaruit dat ons hart vinniger klop as ons opgewonde
of ontsteld raak.
Ek weet nie hoe juis my inligting hieroor
is nie, maar dit lyk vir my of die mense van destyds al iets
geweet het wat ons vandag herontdek: dat daar ’n duidelike
verband is tussen die hart en die gemoed, en meer spesifi ek
tussen gemoedsprobleme en hartsiekte.
Die meeste mense weet dit nie, maar tot ’n kwart van
pasiënte met isgemiese hartsiekte (dis mense wat vernoude
kroonare het) ly aan depressie. Dit beteken mense in hierdie
groep het dubbel die kans van die res van die bevolking om
depressie te ontwikkel.
Die omgekeerde is ook waar: Mense
wat aan depressie ly, het ’n groter kans om ’n hartaanval te
kry. Depressie kan dus letterlik jou hart “breek”. Die probleem
is dat depressie selde by mense met hartsiekte gediagnoseer
word, aangesien die verband tussen die twee nie algemeen
bekend is nie.
Al word hartpasiënte gewoonlik oor hul
lewenstyl, oefening, eet- en rookgewoontes uitgevra, is ’n
evaluering van die persoon se gemoedstoestand nie deel
van die roetine nie.
In my gedagtes bewonder ek altyd die ongeloofl ike
ondersteuning wat vroue met borskanker aan mekaar bied.
As borskanker by ’n vrou gediagnoseer word, is daar gou
iemand van ’n ondersteuningsgroep by om haar te bemoedig.
Dit word volgehou dwarsdeur die rehabilitasieproses,
en ná haar herstel word sy op haar beurt by die ondersteuning
van ander vroue in dieselfde bootjie betrek. Watter wonderlike voorbeeld van medemenslikheid!
Met hartsiekte werk dit ongelukkig nog nie so nie. Dikwels
word pasiënte maar eff ens hardhandig behandel en aan hul
lot oorgelaat.
Frik van Zyl is ’n man wat dit tot sy spyt moes
agterkom. Omdat hy ’n middeljarige man is wat heeldag agter
’n lessenaar sit, het hy oor die afgelope jare toenemend gewig
opgetel.
Sy vrou het naderhand bekommerd geraak en daarop
aangedring dat hy begin oefen. Frik het teësinnig ingestem
om gimnasium toe te gaan en ’n persoonlike instrukteur aangestel
om hom te help en te motiveer. Kort voor lank het Frik
agtergekom dat hy eintlik die oefenry geniet en hy het homself
harder begin druk. Sy instrukteur het hom geleidelik meer laat
doen.
Op ’n dag, terwyl hy op die trapfi ets sit, het hy skielik
baie moeg gevoel. Dit het gevoel of iemand op sy borskas sit
en hy was kortasem.
Sy instrukteur het die sessie net daar gestop en Frik beveel
om sy dokter te gaan spreek. Sy huisdokter kon niks fout
vind nie, maar het hom tog na ’n kardioloog gestuur, net om
seker te maak. Daar is hy aan ’n EKG-masjien gekoppel en
gevra om ’n stel trappies op en af te klim.
Nie te lank nie, of die
bekommerde kardioloog het
die arme man meegedeel
dat dit lyk of van sy hartare
verstop is en dat hy dadelik
in die hospitaal opgeneem
moes word vir ’n angiogram.
Minder as 48 uur later het
Frik ’n drievat-hartomleiding
ondergaan, waartydens sy
borskas oopgemaak is en are
uit sy bene gehaal en in sy
hart oorgeplant is.
Omdat
hy relatief jonk is en geen ander fi sieke probleme het nie,
het hy wonderbaarlik herstel. Binne enkele dae is hy ont -
slaan met die opdrag om die dokter weer oor ’n paar weke
te kom sien. Voorwaar een van die wonderwerke van die
moderne geneeskunde.
Die probleem was dat Frik ná die operasie erger gevoel het
as voor die tyd. Hy kon nie slaap nie, het herhaalde aanvalle
van kortasemigheid gekry en ’n drukking op sy borskas gevoel.
Hy was oortuig dat hy ’n hartaanval kry en besig was om te
sterf. Verskeie besoeke aan die noodeenheid van die hospitaal
en ’n vervroegde afspraak by die kardioloog het niks opgelewer
nie en hy is gerusgestel: Sy hart werk goed en daar is geen
teken van isgemie (te min suurstof vir die hart) nie.
Die gerusstelling het egter nie gehelp nie. Frik het al slegter
geslaap, humeurig geraak en kon nie behoorlik eet nie. Hy
wou nêrens heen gaan nie, want hy was bang dat hy iewers
in die openbaar, ver van mediese sorg, ’n aanval sou kry en
doodgaan. Die kardioloog het hom verseker hy is gesond, dat dit alles sy “verbeelding” is. Maar sy gemoed het verder verswak.
Uiteindelik kon sy vrou dit nie meer hou nie. Sy het my kom sien
om háár te help met die persoonlikheidsverandering wat haar man
ná sy hartoperasie ondergaan het. Ek het haar gevra om haar man
na die volgende onderhoud saam te bring, en hoewel hy aanvanklik
teëgestribbel het, het sy hom tog oortuig.
Frik het tydens die onderhoud ’n paniekaanval gehad. Dit was
nie moeilik om te sien dat hy erg bedruk en moedeloos was nie.
Gelukkig kon ek hom gerusstel dat sy probleem behandelbaar
is. ’n Kombinasie van antidepressiewe medikasie en psigoterapie
het hom geleidelik uit die depressie gehelp.
Die paniekaanvalle
het minder gereeld en minder intens voorgekom en uiteindelik
heeltemal opgehou. Frik kon terugkeer na sy normale lewe, maar
nie voordat hy deur kwaai fi sieke en emosionele trauma is nie. Met
sy laaste besoek aan my was hy heeltemal gesond en het normaal
gefunksioneer.
Hy het onderneem om vir die volle twaalf maande
voort te gaan met sy medikasie en my dan weer te kom sien wanneer
hy dit wou staak.
Daar is nou onomstootlike bewyse dat depressie baie sleg
is vir iemand wat ’n hartaanval gehad het. Verskeie redes is hiervoor
aan te voer: Mense wat bedruk is, sien minder goed na hulself
om; hulle is geneig om minder oefening te doen, hulle rook dalk
meer, ensovoorts.
Maar hierdie verklarings is onvoldoende om die verband tussen
die toestande ten volle te verduidelik. Die sterkste vermoede is
dat daar ’n gedeelde, biologiese faktor is wat sowel depressie as
hartsiekte veroorsaak. Wanneer ’n persoon reeds ’n hartaanval gehad
het, behoort die span wat hom behandel, toe te sien dat hy behoorlike
rehabilitasie ondergaan.
Een van die belangrikste stappe wat
’n tweede hartaanval verhinder, is om op te hou rook. Alle dokters
weet dit vandag en sal baie druk op hul pasiënte uitoefen om die
rookgewoonte te laat vaar.
Ongelukkig besef minder dokters dat onbehandelde depressie
nét so ’n groot gevaar vir ’n volgende hartaanval inhou. Pasiënte behoort
ná ’n hartaanval voorligting te kry oor die uitwerking wat dit
op hul gemoedstoestand kan hê sodat behandeling, indien nodig,
betyds toegepas kan word.
Onlangs gepubliseerde studieverslae
toon dat depressielyers beter herstel en ná ’n hartaanval langer leef
as hulle sertralien (’n bekende antidepressant) gebruik.
Die doel van hierdie verhaal is deels om ons weer daaraan te
herinner dat depressie ’n siekte van die brein is, dat die brein
’n deel van die liggaam is, en dat
daar tussen die brein en die res
van die liggaam ’n noue wisselwerking
bestaan.
Mediese
en psigiatriese siektes is
dikwels so verweef dat
dit dom sal wees om die
twee heeltemal van mekaar
te probeer skei.
a href="http://www.health24.com/medical/Condition_centres/777-792-807.asp"> Depression centre
|