|
Slegs noodgevalle na ure
'Slegs noodgevalle na ure'
Dié kennisgewing is eintlik oorbodig. Dis twee-uur die oggend in
’n besige ongevalle-afdeling van ’n staatshospitaal in Kaapstad. Al
mense wat dit dié tyd van die nag hier sal waag, verkeer in nood.
Op die draagbare lê die “gewone klandisie”, soos die hoofspesialis
hulle noem. Brandmaer mense uitgeteer deur die tweemanskap
MIV en TB. Diabete en rokers met hul gangreen-deurtrekte tone
en aangetaste bloedvate. Tienermeisies wat ’n oordosis van hul ma
se slaappille gedrink het. Die verwagte groepie asmalyers wat deur
die nat weer hiernatoe gedryf is en nou in ’n koor sit en hyg. In
die wagkamer hang die reuk van drank en bloed terwyl laaities,
hul wonde lomp verbind, skoorsoekerig rondstrompel tussen die
hospitaalbanke besaai met eensames en haweloses.
’n Jong man word deur sy vriende ingedra – ’n badhanddoek
deurweek met bloed, vasgeklem teen sy onderlyf. Hy is in die lies
geskiet. Hortend, sy lippe doodsbleek, sukkel hy sy storie uit terwyl
’n gespierde portier hom op ’n trollie
lig: ’n bendegeveg. Sy makkers verdwyn
soos blits in die nag, hul lojaliteit vergete
in hul haas om hulle uit die voete te
maak voor die polisie kom. Ek vryf sy
slap are en druk die drup in sy arm vir ’n
vloeistofoortapping. Langs my vryf die
chirurgiese assistent slaperig sy oë.
Lees dr. Greg Calligaro se volledige storie in Pols
|