Advertisement
Chuck out expired meds
Expired medicines are dangerous - but how can you get rid of them safely?
On an empty stomach
Should you eat before or after your daily exercise? DietDoc settles this question.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 HG Pols Sept 2007
 
Skud jou moegheid af

DIT is die algemeenste klagte waarmee mense by dokters kom aanklop.
Of hulle nou jonk en modern is, met ’n kleuter op die heup, in die fl eur van hul lewe, of oud en grys, almal het dieselfde klagte: “Dokter, ek is moeg, pê, kapot, gedaan, óp!” Dit lyk werklik of moegheid die siekte van ons tyd is, die gevolg van ons gejaagde lewenswyse. Gemiddeld een uit elke tien mense wat hul huisdokter besoek, doen dit omdat hulle so moeg voel.

Die woorde “ek voel moeg” is so subjektief, vaag en omvattend en kan ’n simptoom van so baie siektes wees, dat die dokter ook soms net moedeloos kan sug. Maar moegheid moenie ligtelik opgeneem word nie.

Probeer die persoon wat kla van moegheid sê dat hy sommer net futloos voel? Is hy fi siek uitgeput? Moedeloos of dalk depressief? Sukkel hy om te konsentreer, of word hy gou kortasem? Voel hy lomerig of slaperig?

Dis hier waar jou dokter tegelyk sielkundige en speurder moet speel. Is daar ’n ooglopende rede vir die moegheid of lê die oorsake baie dieper?

WAT IS DIE ALGEMEENSTE OORSAKE VAN MOEGHEID?
Hoewel daar nog baie onbeantwoorde vrae oor moegheid is, is ’n aanhoudende gebrek aan energie beslis nie iets wat ’n mens as “jou verbeelding” kan afmaak en kan regdokter met ’n “ruk jou reg” nie. Dokters besef nou dat daar baie onderliggende oorsake van moegheid is:

2- 5 PERSENT
Slegs 2 – 5 persent van mense wat moeg is, het werklik chroniese moegheidsindroom. Hoewel daar ver skillende oorsake is, voel al die pasiënte langer as ses maande moeg.

20 – 30 PERSENT
In 20 – 30 persent van die gevalle is die oorsaak van moegheid fi siek, soos infeksies, hartsiektes, diabetes en tiroïed-probleme of die medisyne wat jy daarvoor drink. In die geval van depressie is moegheid een van die hoofsimptome.

75 PERSENT
In net onder 75 persent van die gevalle is die oorsaak ’n onge sonde eetpatroon, werkspanning, huwelikstres, te min slaap of dinge wat ’n mens onder druk plaas.

WAT JY KAN DOEN?

  1. Slaap genoeg Slaap minstens agt uur per nag; daarsonder rus die brein nie behoorlik uit nie.

  2. Eet reg Eet gebalanseerde etes met genoeg kilojoules vir jou aktiwiteitsvlak.

  3. Leef gesond Kry balans in jou lewe tussen werk, ontspanning en slaap.

HG-Pols gee raad:
Moegheid behoort nie ’n lewenslange vonnis te wees nie. Jy moet net die eerste tree in die regte rigting gee: Bepaal die rede vir jou moegheid en behandel die oorsaak. Goed begin is halfpad gewin!

MAAK JOU LEWE JOU MOEG?
In die meeste gevalle kan jou moegheid veroorsaak word deur die tempo waarteen jy leef. ’n Ongesonde eetpatroon, werkstres, huwelikspanning, te min slaap, te veel verantwoordelikhede of ander dinge wat jou onder druk plaas, speel ’n groot rol. Herken jy jou in een van hierdie mense?

TIENERS: POOTUIT GEJOL EN GE-MXIT
OORSAKE

  • ’n Gekattemaai tot ounag toe.

  • ’n Uithongeringsdieet, veral ’n laekilojouledieet.

  • Pogings om spiere te bou met behulp van proteïendrankies terwyl jy vleis en koolhidrate vermy.

  • Ystertekort, veral by tienermeisies.

  • Dronkpartye, baie koppies koffie, dansdwelms.

  • Die nadraai van klierkoors.

OPLOSSINGS

  • Jy’t nege uur slaap per nag nodig. Kry dit.

  • Eet genoeg koolhidrate. ’n Meisie van 60 kg wat glad nie oefening doen nie, het die ekwivalent van minstens 21 snye volgraanbrood per dag nodig. ’n Seun van 70 kg wat geen oefening doen nie, het die ekwivalent van 27 snye volgraanbrood per dag nodig. Kry koolhidrate van brood en pasta.

  • Stadig oor die klippe met proteïenaanvullings. ’n Seun van 70 kg benodig maar 100 g proteïen per dag. Sommige seuns drink meer as 800 g kreatien en ander proteïenaanvullings per dag en eet dan nog eiers en vleis ook.

  • Moenie jou ooit stomdronk drink nie en los dansdwelms uit.

  • As jy swaar menstrueer, drink ’n ysteraanvulling (praat eers met jou dokter hieroor).

  • Gaan dokter toe as die moegheid nie weggaan nie.

MA’S: DIE MOEDER VAN ALLE MOEGHEID
OORSAKE

  • Al daardie ekstra progesteroon aan die begin van jou swangerskap, en die ongemak later.

  • ’n Baba wat jou snags laat opstaan, kleuters wat jou nooit bedags rus gun nie.

  • Oormoegheid wat jou sleg laat slaap en bekommernis oor die baba en jul begroting.

  • Te veel daaglikse eise. As jy kinders moet versorg en vermaak, en ’n beroep het, is dit g’n wonder jy’s heeltyd pê nie.

OPLOSSINGS

  • Moenie jou eie behoeftes altyd laaste stel nie.

  • Kry van daardie spesiale aanmaakdrankies vir borsvoedende ma’s.

  • Slaap wanneer jou baba slaap. Haal die foon van die mikkie af! As jy op kantoor is, gaan soek ’n plek waar jy oor middagete ’n uiltjie kan knip. Maak slaapbeurte met jou man.

  • Oefening gee krag. Probeer tien minute van gewigte optel of vinnige strekke met behulp van ’n oefenvideo. Gaan stap ’n entjie met jou baba. Sonlig, veral in die oggend, sorg dat jy beter slaap en verfris wakker word. Spring tou, klim trappe, dans met jou baba in jou arms.

  • Vra jou man om jou lyf te masseer – lekker, én dit laat jou ontspan.

  • Laat ’n baba wat nog aan jou drink by julle in die bed slaap.

14 :00Die tyd wanneer die meeste mense stadiger begin dink en swakker konsentreer.

WERKERS: TE VEEL HOOI OP DIE VURK

OORSAKE

  • Lang werkure en werkdruk.

  • Te min of onderbroke slaap. Skofwerkers wat bedags moet probeer slaap terwyl dit raserig is.

  • Langdurige spanning as gevolg van verhoudingsprobleme, kommer oor geld en werkdruk.

  • Koffie. Ja, dit kan jou slaap versteur.

  • Verkeerde eetgewoontes en oorgewig.

OPLOSSINGS

  • Slaap agt uur per nag en kry ’n goeie, ononderbroke nagrus.

  • Leer goeie tydsbestuur aan en maak plek vir oefening en ontspanning.

  • Gebruik elektroniese hulpmiddels soos die internet vir banksake en rekeninge.

  • Doen iets om uit die spanningspiraal te kom: Verander van werk, gaan vir huweliksberading, leer ontspanningstegnieke.

  • Probeer ophou rook. Sigaretrook verminder die beskikbare suurstof in die longe.

  • Moenie te veel koffi e of alkohol drink nie.

  • As jy oorgewig is, maak ‘n plan om gewig te verloor.

  • As jy langer as drie weke baie moeg is, kan dit ’n teken wees van depressie, hartsiektes of verskeie ander mediese probleme

BEJAARDES: DER DAGEN SAT

OORSAKE

  • Slapeloosheid as gevolg van bekommernisse, geldelik of andersins.

  • Slaapapnee wat jou dikwels laat wakker skrik, pyn, depressie, hartprobleme en ander mediese redes.

  • Kruiemiddels kan jou snags sleg laat slaap. Kava-kava, ginseng, passieblom, ysterkruid en ginkgo biloba word vir energie en teen spanning gebruik. Sê vir jou dokter as jy enige natuurlike middel gebruik, want baie het newe-eff ekte. (Lees die artikel op bl. 131.)

OPLOSSINGS

  • Slaap agt uur per nag en kry ’n goeie, ononderbroke nagrus.

  • Leer goeie tydsbestuur aan en maak plek vir oefening en ontspanning.

  • Gebruik elektroniese hulpmiddels soos die internet vir banksake en rekeninge. .

  • Doen iets om uit die spanningspiraal te kom: Verander van werk, gaan vir huweliksberading, leer ontspanningstegnieke. .

  • Probeer ophou rook. Sigaretrook verminder die beskikbare suurstof in die longe. .

  • Moenie te veel koffi e of alkohol drink nie. .

  • As jy oorgewig is, maak ‘n plan om gewig te verloor. .

  • As jy langer as drie weke baie moeg is, kan dit ’n teken wees van depressie, hartsiektes of verskeie ander mediese probleme. .

  • Kweek ’n goeie slaaproetine aan. .

  • Moenie die kruiemiddels wat jou opkikker, ná 16:00 drink nie. .

  • Bespreek jou bekommernisse met geliefdes en kundiges en kry oplossings. .

  • Besoek jou dokter as jy te lank te moeg voel. .

  • Probeer om elke dag ’n entjie te stap. .

MAAK JOU SIEKTE JOU MOEG?
Tussen 20 – 30 persent van alle mense wat moeg voel, is moeg omdat hulle ’n siekte onder lede het. Mense wat weens siekte moeg voel, kan skielik of mettertyd al moeër voel. As jy te pap voel om te stap, te werk, selfs te bad of aan te trek, kan daar groot fout wees.

1. Depressie en melankolie.
Een uit tien mense ly die een of ander tyd aan depressie. Baie mense wat depressief is, kla van moegheid. ’n Wanbalans in breinoordragstowwe soos serotonien kan moegheid, lusteloosheid, ’n “wollerige’” gevoel in die kop en hoofpyn veroorsaak.

2. Bloedarmoede. Lae ystervlakke of te min rooibloedselle beteken dat die bloed baie minder suurstof kan dra, en as die brein, spiere en ander weefsel te min suurstof kry, sal jy moeg voel, veral as jy stap of enigiets doen wat fi sieke inspanning vereis.

3. Rumatoïede artritis en ander bindweefsel- siektes. Dis siektes waar teenliggaampies teen normale weefsel vorm en die weefsel aanval. Lupus eritematose en velverharding is voorbeelde. Die aanval op die immuunstelsel tap die liggaam se energie.

4. Tiroïedprobleme. Die tiroïed skei hormone af wat letterlik die tempo van jou metabolisme bepaal. As ’n mens se tiroïedhormoonvlak te laag is, is jou metabolisme stadig. Jy voel moeg, jou vel en hare is droog en vaal, jy kan gewig aansit omdat jou liggaam stadiger kilojoules verbrand, jou voete kan swel en jou hart kan stadiger klop. Jy kan ook emosioneel so tam wees dat dit tot depressie kan lei. Tot 10 persent van alle vroue en ’n raps minder mans ondervind tiroïedprobleme.

5. Diabetes en insulienweerstandigheid.
Dit maak nie saak of ’n mens aan tipe 1-diabetes (waar die liggaam geen insulien vervaardig nie en insulieninspuitings noodsaaklik is) of tipe 2-diabetes (waar die insulien ál ondoeltreff ender word, soos dikwels met oorgewig mense gebeur) ly nie. Die selle kry nie genoeg energie om te funksioneer nie. Diabete kan selfs met geringe inspanning uitgeput voel.

6. Bloeddrukprobleme. Sowel hoë as lae bloeddruk kan moegheid veroorsaak. Sommige van die bloeddrukpille het moegheid as newe-eff ek. Moegheid is ook ’n belangrike simptoom van sekere nierprobleme soos nierversaking. Dit lei tot hoë bloeddruk en bloedarmoede, wat elk op hul eie ’n mens moeg kan laat voel. Lae bloeddruk veroorsaak baiekeer lighoofdigheid en lusteloosheid.

7. Koors en infeksiesiektes. Die meeste infeksies laat ’n mens pap en moeg voel, veral as hulle met koors gepaardgaan. As die siekte dan ook belangrike organe soos die longe, beenmurg of hartspier aantas, kan die moegheid erger wees. Voorbeelde van sulke siektes is endokarditis (hartvliesontsteking), kardiomiositis (hartspierontsteking), asimptomatiese longontsteking, veral by ouer mense, MIV (as gevolg van gewigsverlies, diarree, longinfeksies en bloedarmoede), tuberkulose en hepatitis.

8. Slaapapnee en ander oor-, neus- en keelprobleme. ’n Chroniese toe neus (as gevolg van allergieë), sinusitis, vergrote mangels en slaapapnee kan slaap erg onderbreek en ook die suurstoftoevoer na die liggaam verminder. Op die lange duur voel jy gedurig vaak, tam en geïrriteerd. Slaapapnee word veroorsaak deur ’n slap sagte verhemelte wat ontspan gedurende slaap en die lugweg toedruk. Jy word wakker en verander van posisie sodra die liggaam se koolsuurgasvlak te hoog raak, maar is meestal onbewus daarvan. Dikwels is die enigste simptoom erge snork tydens diep slaap. Sommige mense kan tot dertig keer per nag wakker word.

9. Hartsiektes. Moegheid kan die eerste teken wees van hartversaking, abnormale hartritmes, hartvatsiektes en ’n hartaanval. Volgens Harvard-navorsers kla 71 persent van die vroue ’n maand voor ’n hartaanval van moegheid en kla 43 persent tydens ’n hartaanval daarvan. Die belangrikste simptoom van ’n hartaanval by diabete is erge kortasemigheid en moegheid, maar nie pyn nie.

10. Seliaksiekte. ’n Chroniese wanabsorbsiesiekte veroorsaak deur intoleransie vir gluten (in koring, rog, asook in ’n mindere mate in gort en hawermoutprodukte). Wanabsorpsie van B-vitamiene lei tot bloedarmoede en gepaardgaande moegheid.

SIMPTOME WAT JY NIE MAG IGNOREER NIE
Sommige simptome saam met die skielike aanvang van moegheid kan op ernstige siektes dui. Die rooi ligte is:

  • Borskaspyn, kortasemrigheid, duiseligheid, spierswakheid of selfmoordgedagtes. Dit kan aanduidings wees van onderskeidelik ’n hartaanval, beroerte of dreigende selfmoord. Kom dadelik by ’n dokter uit. Kortasemrigheid, veral wanneer jy plat lê of tydens oefening, kan dui op hartsiektes soos hartversaking, asook longsiektes soos emfi seem of asma.

  • Skielike gewigsverlies sonder ’n dieet. Dit kan dui op kanker, tiroïedprobleme, diabetes of chroniese infeksie.

  • Koors en nagsweet. Dit kan ’n aanduiding wees van ernstige infeksies soos tuberkulose, MIV, maltakoors of endokarditis.

  • ’n Bleek of geel vel of geel oë. Moontlike simptome van bloedarmoede of hepatitis.

  • Oormatige urinering. Dit kan dui op diabetes, chroniese nierversaking en ander probleme.

  • Ander simptome. Dubbel- of dowwe visie, geswelde kliere in die nek, in die oksel en in die lies, erge maagpyn wat lank aanhou, ’n uitslag op die wange, bloeding onder die vel, ’n dooie gevoel van jou vel, spierswakheid en ’n balansprobleem verg ook doktersaandag.

Dis nie normaal om weke lank moeg te voel as jy genoeg slaap nie

MAAK JOU MEDISYNE JOU MOEG?
Die medisyne wat jy drink, kan jou moeg maak. Die volgende middels wat deur baie mense gebruik word, kan moegheid as newe-eff ek hê:

  • Antihistamien (bv. Allergex) wat jy drink vir ’n allergie. As ’n antihistamien nie die opkikker pseudo-efedrien bevat nie, sal dit jou lomerig maak en moeg laat voel. Antihistamien het egter ’n opkikkerende eff ek op kinders.

  • Bloeddruk-medikasie (bv. betablokkeerders)

  • Slaappille (bv. Normison)

  • Kortisoon (bv. Meticorten)

  • Hormoonpille (bv. progesteroon)

  • Ontwateringspille (bv. Moduretic)

  • Kalmeerpille (bv. Valium)

  • Spierverslappers (bv. Robaxin)

  • Pynpille (bv. Adcodol)

  • Sekere antidepressante (bv. Tryptanol)

Die volgende medikasie en aanvullers kan jou so opkikker dat jy kan sukkel om te slaap en die volgende oggend uitgeput opstaan:

  • Kruiemiddels wat guarana, kava-kava, pseudo-efedrien of ginseng bevat.

  • Asma-medikasie soos Ventolin vergemaklik asemhaling, maar werk soos ’n opkikker.

  • Verkouemiddels wat jou neusslymvlies droog maak (bv. Colcaps) bevat dikwels opkikkers. Van hierdie opkikkers soos pseudo-efedrien is verbode in Olimpiese sport.

WAT JY KAN DOEN?

  1. Bespreek die newe-eff ekte van enige medisyne wat jy redelik lank moet drink, met jou dokter of apteker. Dalk maak ’n ander bloeddrukmiddel, pynstiller of slaappil jou nie so moeg nie.

  2. Moenie saans medisyne drink wat jou opkikker nie; môreoggend is jy moeg.

  3. Lees die inligtingsblaadjie in die verpakking noukeurig deur sodat jy weet of die medisyne jou moeg kan maak of jou kan opkikker en vermy dan toonbankmiddels wat jou kan moeg maak.

24 minute is hoe lank ’n 65-jarige per nag diep slaap. Mense in hul twintigs slaap 90 minute lank diep.

Nooit weer moeg nie

1. VOLG ’N GOEIE SLAAPROETINE

  • Probeer om op dieselfde tyd te gaan slaap en op te staan.

  • Ontspan minstens ’n uur voor jy gaan slaap. Gaan bad, lees ’n lekker boek.

  • Skryf jou bekommernisse en pro - bleme neer voor jy gaan slaap en vergeet dan daarvan. Lê en tel jou seëninge nadat jy die lig afgeskakel het.

  • Doen ontspanningsoefeninge voor jy gaan slaap. Sit regop, haal diep asem, dink aan niks nie.

  • Sekere geure laat jou ontspan. Kneus ’n kruisement- of roosmarynblaar, sit laventelblomme onder jou kussing, drink ’n koppie pepermenttee.

  • Moenie as jy in die nag wakker word kort-kort op die wekker kyk nie.

2. EET REG

  • Te veel wisseling in insulienvlak maak ’n mens moeg en knorrig. Eet eerder 5 – 6 kleiner etes per dag en kies koolhidrate met ’n lae glisemiese indeks soos saadbrood eerder as witbrood en basmatirys eerder as wit rys. Te veel verfynde koolhidrate en baie suiker lei ook tot stygings en dalings in die insulienvlak en laat jou ’n uur later weer honger en moeg voel.

  • Drink genoeg water.

  • Melk bevat triptofaan, wat ’n mens help om dieper te slaap.

  • Hoë vetinname veroorsaak oorgewig – 60 tot 80 g vet per dag is oorgenoeg. Sorg dat dit goeie vette is, soos dié in sardyne, tuna, makriel, forel, ens.

  • Vermy meer as vyf koppies koffi e of ander kafeïen per dag. Eet vroeg aandete en drink jou laaste koppie voor vieruur smiddae.

3. VERANDER JOU LEEFSTYL

  • Gereelde oefening is baie belangrik. Wetenskaplikes vermoed ‘n sterk verband tussen depressie, te min oefening en moegheid. As jy nie lief is vir draf of die gimnasium nie, is joga, Pilates en tai tji gesonde en lekker alternatiewe

Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.


 
Previous article: Next article:
In die kol Kuberkinderarts
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese deurbrake
Kwale op die kassie
My lewe met borskanker
Oogappel of gifappeltjie?
Is jy op pad na jou eerste hartaanval?
Stents: Die tydbom in jou are
Die einde van doofheid
Ja, skrik maar vir margarien
Ag nee, sies man!
Fikse blitse op wiele
Dapper en stapper
G'n stywe spiere meer nie
Een, twee, drie, strek
Soet, soeter, soetste
Die wêreldbeker sonder boep
'n Tuisblypa duisend
Woera-warra of Ritalin?
Red 'n lewe met Heimlich
Aaaaaaatiesjoe op die lente
'n Kyk deur ander oe
In die kol
Skud jou moegheid af
Ons kundiges beantwoord lesersvrae
Ons kundiges beantwoord lesersvrae oor dieregesondheid
Kruiemiddels: Natuurlik skadeloos?
Slegs noodgevalle na ure
As depressie jou hart breek
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiks vir die Vis
Word fiks vir die Olifants
Ruim op
Redakteursbrief
 



 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement
 Top Condition
 Centres