|
In die kol
Jou kind is skielik
oortrek van rooi
kolle. Pols ondersoek die twaalf
kinderuitslagsiektes wat met koors
gepaard gaan.
Babamasels (roseola)
Babamasels (roseola infantum) is ’n
algemene nie-ernstige virusinfeksie wat
tussen die ouderdom van ses en 24 maande
voorkom. Die tipiese verloop is skielike koors
(39 – 40 grade C), prikkelbaarheid en miskien
selfs koorsstuipe. Die koors bly drie dae lank
hoog. ’n Ligte, gespikkelde pienk uitslag verskyn
dan op die lyf en nek; die koors verdwyn en dit
gaan beter met jou kind. Die uitslag verdwyn ná
een tot vier dae.
Daar kan swelling om die oë
wees en ’n mens kan klein limfkliere
aan die agterkant van die kop voel.
Die virus wat roseola veroorsaak,
is baie wydversprei. Teen die tyd
dat ons volwassenheid bereik, is
die meeste van ons reeds besmet en selfs draers
van die virus. Die suigeling word gewoonlik
deur ’n ouer besmet wanneer immuniteit wat
van die ma verkry is op ses maande verdwyn.
Party suigelinge kry glad nie die uitslag nie
– slegs koors of verkoue-simptome.
Moenie antibiotika gee nie. Dit sal nie help
nie. Parasetamol (½ –1 teelepel) sal jou kind
beter laat voel en miskien koorsstuipe voorkom.
Jou kind se eetlus word nie
juis aangetas nie en jy kan steeds
borsvoed. Roseola is byna altyd
’n skadelose siekte. Dit kan
strawwer wees onder kinders
met chroniese siektes of ’n lae
siekte-weerstand.
Masels (rubeola)
Masels, ’n virussiekte, kom selde voor
onder kinders jonger as nege maande.
Jonger kinders word deur die ma se teenliggaampies
beskerm, mits sy self as kind
masels gehad het of daarteen ingeënt is.
Die simptome is skielike koors, prikkelbaarheid, ’n
loopneus, rooi oë wat traan en ’n hoes wat oor
’n tydperk van drie dae al hoe erger raak. Jong
kinders kan ernstige diarree ontwikkel. Later
verskyn daar ’n groot aantal klein wit kolletjies
op ’n rooi basis aan die binnekant van die
wange. Ná ’n koors van drie of vier dae ontstaan
daar ’n kollerige rooi uitslag. Die
uitslag verskyn eers op die nek en
gesig, versprei dan en word oor
’n tydperk van twee tot drie dae
geleidelik erger tot dit die grootste
deel van die liggaam bedek.
Dan eers bedaar die koors en klaar die uitslag op. Soos dit opklaar, kan die vel
donkerder raak en eff ens afdop.
Gee parasetamol om die koors te laat daal,
asook baie vloeistof. Antibiotika is nie nodig
nie, behalwe in die geval van komplikasies soos
oorinfeksie of longontsteking. Ongeveer vyf dae
ná die uitslag verskyn het, is die kind nie meer
aansteeklik nie. Die meeste kinders herstel volkome
binne ongeveer tien dae. Babas, kinders
wat aan wanvoeding ly en dié met chroniese
siektes of onderdrukte immuniteit kan ver skeie
komplikasies kry – ernstige maag-en-derm-ontsteking,
kroep, longontsteking of
selfs tuberkulose.
’n Seldsame komplikasie is
breinontsteking (enkefalitis).
Masels kan heeltemal deur
inentings op nege en agttien
maande oud verhoed word.
Duitse masels (rubella)
Duitse masels kom meestal onder skoolgaande
kinders voor. By jonger kinders
kan die siekte ongemerk verbygaan.
Koors is nie ’n prominente simptoom nie; die uitslag kan
net skielik daar wees, of ná twee dae van sleg
voel en ’n seer keel sy verskyning maak. Klein,
plat pienk kolletjies verskyn eers op die gesig en
versprei dan vinnig na die lyf en ledemate. Die
kolle smelt saam en vorm teen
die volgende dag ’n rooi area, wat
gewoonlik teen die derde dag
reeds iets van die verlede is. Die
limfkliere agter die kop en aan die
bokant van die nek is vergroot en
gevoelig. Andersins is daar nie fout nie. Party kinders, veral tieners, het las van pyn in
hul gewrigte.
Die siekte is meestal nie ernstig nie en geen
spesifi eke behandeling is nodig nie.
Die ergste gevaar is gedurende vroeë swangerskap
wanneer die fetus ernstig deur die rubella-
virus aangetas kan word. Dit is die hoofrede vir
roetine-immunisering met ’n driedubbele MMRvaksien
teen masels, pampoentjies
en Duitse masels. Seldsame
komplikasies is infl ammasie van
die brein asook bloeding. Besoek
’n dokter as jou kind maklik kneusplekke
kry of as daar rooi kolle op
sy vel verskyn.
Erythema infectiosum (‘klap-op-die-wang-siekte’)
Hierdie virusinfeksie is meestal glad
nie ernstig nie. Daar is ’n ligte koors,
gevolg deur ’n uitslag.
Dit kom meestal onder
skoolgaande kinders voor, maar dikwels is daar
geen simptome nie. Die eerste teken is byna
altyd baie rooi wange met ’n effense bleekheid
om die mond. Dan verskyn daar ’n kollerige,
rooi, eff ens jeukerige uitslag op die liggaam en
ledemate. Dit verdwyn oor ’n tydperk van een
tot drie weke, maar bly nog ’n ruk
op die ledemate. Dit lyk soos ’n
kantpatroon wat kan kom en gaan,
afhangend van temperatuurveranderinge
soos skielike koue weer
of ná ’n warm bad. Partykeer is die
aanvanklike koors ernstiger, met hoofpyn of gewrigpyn wat voor die uitslag sy
verskyning maak. Die virus versprei deur speekseldruppeltjies
wat uitgeasem word.
Gewoonlik word geen behandeling vereis
nie. Isolasie is nie nodig nie, aangesien dit nie
meer aansteeklik is wanneer die uitslag sigbaar
word nie. Die virus val ook die selle aan wat
rooibloedselle vervaardig. Dit het geen nadelige
invloed op kinders wat andersins gesond is nie.
Kinders met chroniese bloedtoestande
of kanker kan ernstige
bloedarmoede ontwikkel.
Gewrigspyne kom soms by ouer
kinders en volwassenes voor.
Die siekte staan ook bekend
as “vyfde siekte”.
Skarlakenkoors
Skarlakenkoors word deur sekere
vorms van die streptokokkus-bakterie
veroorsaak. Dit kom gewoonlik onder
kinders jonger as vier jaar voor.
Die kind
kla gewoonlik skielik oor ’n seer keel,
hoofpyn en maagpyn en het ‘n hoë koors.
’n Uitslag verskyn ná twee tot drie dae, eers
in die armholtes en lieste en dan oor die liggaam
en ledemate. Die velvoue is ’n donkerder
rooi. Die wange is rooi en
daar is bleekheid om die mond.
Die tong is eers met ’n wit lagie
bedek en word later aarbeirooi.
Die kliere in die nek is gevoelig
en vergroot.
Sonder behandeling verminder
die koors ná ongeveer tien dae.
Die gesig, lyf en veral die hande en voete dop
liggies af. ’n Antibiotikum is noodsaaklik om
die besmetting uit te wis, en die eerste keuse
is steeds penisillien – per inspuiting, mondeliks,
en in ernstige gevalle binneaars. ’n Kind
wat allergies vir penisillien is, moet eritromisien
ontvang. Parasetamol verlig die keelseer
en verminder die koors.
Skarlakenkoors kan ’n gevaarlike siekte
wees, al word dit deesdae as minder ernstig
beskou. Moontlike komplikasies
sluit in mangel-abses,
sinusitis en oorinfeksie, nierontsteking
en rumatiekkoors.
Die kind moet van ander
kinders weggehou word tot
die uitslag verdwyn.
’n Seer keel gevolg deur ’n uitslag
en ’n tong wat eers wit en dan
aarbeirooi is, is kenmerkend van
skarlakenkoors.
Het jy geweet? ’n Kind met skarlakenkoors kan rumatiekkoors ontwikkel
Klierkoors (aansteeklike mononukleose)
Dit kom gewoonlik onder ouer kinders
voor – selde onder kinders jonger as
tien. ’n Ernstige keelinfeksie met koors is die
algemeenste simptoom.
In die meeste gevalle
behels dit die algemene vergroting van limfkliere
in die nek, armholtes en lieste. Ander moontlike
simptome is swelling om die oë, maagpyn (te
wyte aan vergroting van die milt en
lewer) en geelsug in enkele gevalle.
Sowat 10 persent kry ’n kollerige
rooi uitslag. Kinders wat met die
antibiotikum ampisillien of een
van sy variante behandel is, kry ’n
uitgebreide algemene uitslag.
Die oorsaak is die Epstein-Barr-virus. Hierdie
virus veroorsaak slegs nie-ernstige, ongespesifi
seerde siektes onder jonger kinders – of glad
geen simptome nie.
Daar is geen spesifieke behandeling nie en
veral antibiotika moet nie gegee word nie. Ampisillien
moet dus nooit aan ’n kind met ’n seer keel
gegee word nie, ingeval die kind
dalk klierkoors het.
Hoewel meestal nie-ernstig en
selfbeperkend, is dit ’n onvoorspelbare
siekte met ’n aantal moontlike
komplikasies. Raadpleeg ’n dokter
indien dié toestand vermoed word.
Geswelde kliere
in die nek,
oksels en lieste,
seer keel en
koors is die
belangrikste
eerste tekens
van klierkoors.
Kawasaki-siekte
Dit is ’n seldsame, maar gevaarlike siekte
wat meestal onder kinders tussen een
en agt jaar oud voorkom. Die koors styg skielik
en die kind voel siek. Ná twee dae se koors is
die oë rooi en die mond, lippe, tong en keel seer.
Die nekkliere is dikwels vergroot. ’n Algemene
uitslag verskyn (dikwels in die luier-area) en
dit kan verskeie vorms aanneem. Opgeswelde
rooi hande en voete is kenmerkend. Die kind is
ernstig siek en kan verskeie ander
simptome hê: diarree en vomering,
maagpyn, hoofpyn of ’n stywe nek.
Die koors bly sonder behandeling
vir vyf tot tien dae hoog en daal
dan weer.
Die oorsaak is nog steeds onbekend,
maar daar word aanvaar dat dit ontsteking
van die haarbloedvate veroorsaak wat na groter
bloedvate, veral binne die hart, kan lei.
Gelukkig is daar spesifi eke behandeling
wat komplikasies kan voorkom en herstel
kan bespoedig. Hospitaalopname is noodsaaklik.
Om dié rede behoort ouers bewus
te wees van hierdie siekte en ’n dokter te
ontbied in die geval van enige koorssiekte
met dié simptome.
Die hoofkomplikasie is infl ammasie
van die klein bloedvate
wat na die kroonslagare kan versprei.
Simptome van hartsiekte
kan eers maande of jare later hul
verskyning maak.
As jou kind siek is en sy voete
en hande swel en rooi word,
gaan dadelik dokter toe.
Meningokokkus-infeksie
Dié gevaarlike siekte kan op enige
ouderdom toeslaan. Die infeksie kan
net in die bloedsomloop teenwoordig wees,
of dit kan vinnig tot breinvliesontsteking
(meningitis) lei. As laasgenoemde gebeur, is die
simptome koors, hoofpyn, vomering, ‘n stywe
nek, dikwels stuiptrekkings en verwardheid.
In die geval van eersgenoemde is die prentjie
minder duidelik – koors, braking,
vinnige asemhaling en polsslag
en spierpyne. ’n Uitslag begin met
’n paar verspreide rooi kolle enige
plek op die liggaam wat vinnig
groot en donkerpers word en
soos kneusplekke lyk. Dis net met
dié uitslag dat die rooi kolle op die vel nie wit
word as jy daarop druk nie. In die ergste gevalle
tree skok vinnig in – met koue arms en bene,
’n swak polsslag en verspreide kneusplekke.
Bloeding van die inwendige organe kan voorkom.
Die kind kan binne drie tot vier uur sterf.
Die oorsaak is ’n bakterie wat meningokokkus
of neisseria genoem word, wat in die keel
teenwoordig is en net in sekere
gevalle infeksie veroorsaak. Party
families het vanweë sekere immuniteitsgebreke
’n verlaagde
weerstand teen hierdie bakterie.
Hospitaalopname is noodsaaklik
in alle gevalle.
As jou kind koorsig is, hoofpyn en ’n
stywe nek het en dan ‘n uitslag kry wat
eers soos rooi speldprikke en later soos
kneusings lyk, moet jy dokter toe jaag.
Waterpokkies (varicella)
Waterpokkies is ’n algemene siekte.
Dit kan op enige ouderdom toeslaan,
maar is veral ernstig by pasgebore babas en
dikwels ook by volwassenes. Dié siekte begin
met koors en ongemak, en die erns en tydsduur
van simptome neem toe by ouer kinders
en volwassenes. In baie gevalle is die eerste
simptoom ’n jeukerige uitslag in die vorm van
’n reeks kolle wat begin uitstaan en binne ’n
paar uur klein, ronde blasies vorm. Kolle verskyn
dan op die gesig, kopvel, bolyf en ledemate.
Ná drie tot vier dae raak die blase vol etter en
vorm dan rowe wat uitdroog. Hierdie kolle kan
ook in die mond, om die oë of op
die geslagsorgane ontwikkel. Die
graad kan wissel van ’n paar kolle
tot ’n ernstige uitslag wat die hele
liggaam bedek. Kolle in verskillende
stadiums van ontwikkeling
is tipies teenwoordig (rooi kolle,
blase en blase vol etter) en daar is byna altyd ’n
paar kolle op die kopvel. Die rowe val ná sewe
tot veertien dae af. Die kolle raak maklik besmet
as daar aan hulle gekrap word. Die virus is baie
aansteeklik en word oorgedra deur speekseldruppeltjies,
die hande en voorwerpe waaraan
geraak is. Die eerste tekens van besmetting
verskyn eers meer as twee weke ná kontak, dus
is waterpokkies moeilik om uit te roei wanneer
dit in ’n skool of hospitaalsaal uitbreek. Geen
behandeling word in nie-ernstige gevalle vereis
nie en dit is nie nodig om in die bed te bly nie.
Kalamynmelk verlig die gejeuk en droog
die blase uit. Vermy aspirien.
Behandel besmette kolle met
’n ontsmetmiddeloplossing en,
indien ernstig, ’n antibiotikum.
Daar kan in uitsonderlike gevalle
komplikasies soos longontsteking
en breinvliesontsteking intree.
Waterpokkies begin met kolle
wat ontwikkel tot blasies, wat
later vol etter word.
Gordelroos (herpes zoster)
Gordelroos is meestal ’n probleem by ouer
mense, maar kom tog dikwels onder
kinders voor, veral wanneer hul weerstand
teen besmetting laag is. ’n Groep kolle verskyn
meteens aan die een kant van die kop of lyf en
word dan blase van verskillende groottes wat kan
bars en rou plekke laat wat besmet kan raak.
By volwassenes en soms by
kinders word die uitslag dikwels
deur pyn voorafgegaan. Die pyn
kan voortduur lank nadat die uitslag
reeds verdwyn het. Gordelroos
kom meestal op die lyf voor, maar is
ernstiger indien dit in die oog-area
of oor voorkom. Die oorsaak is dieselfde virus wat
waterpokkies veroorsaak, en wat in ’n senuwee
sluimer van iemand wat maande of jare tevore
waterpokkies gehad het. Die virus beweeg deur
’n senuwee en besmet daardie senuwee se velgebied.
Gordelroos kan ook kinders aansteek en
waterpokkies veroorsaak.
Die siekte is gewoonlik nie ernstig
by kinders nie en parasetamol verlig
die pyn. Die helingsproses is stadig
en daar kan ’n wit litteken agterbly.
Skade aan die kornea en gesigsverlamming
is moontlike komplikasies,
maar kom selde voor.
’n Groep kolle
verskyn skielik
aan die een
kant van die
liggaam of kop
en word dan
blase.
Koorsblare (herpes simpleks)
Kinders se eerste kennismaking met die
“koorsblaarvirus” kan ’n irriterende
akute infeksie van die mond veroorsaak.
Dit begin met koors en baie gou verskyn daar
pynlike sere oral in die mondholte – in die
keel, aan die binnekant van die wange of op
die tong. Die seertjies is eintlik klein blasies
wat vinnig bars en ’n rou plekkie agterlaat. Die
tandvliese word terselfdertyd rooi en opgeswel.
Die koors en infeksie kan ’n week of langer duur,
en gedurende daardie tyd voel die kind siek
en prikkelbaar. Omdat dit seer is om te eet kan
voeding daaronder ly. Dis veral kommerwekkend
in die geval van kinders wat reeds aan
wanvoeding of ander siektes ly. Blase en ander
sere kan ook aan die buitekant van
die lippe, aan die vingers (as dit
baie gesuig word) en selfs op ander
plekke verskyn.
Ná die besmetting bly die
virus vir die res van jou lewe in ’n
senuwee in die kop teenwoordig.
Dit kan deur enige infeksie soos ’n verkoue
geaktiveer word en veroorsaak blasies op die
lippe. Baie mense is draers van die herpes
simpleks-virus, wat uit twee tipes bestaan.
Tipe 1 is verantwoordelik vir die meeste mondinfeksies
by kinders. Tipe 2 veroorsaak blase op
die geslagsdele van tieners en volwassenes en
is partykeer seksueel oordraagbaar.
Parasetamol drie keer per dag beheer die
pyn en koors. Dit is belangrik dat voeding
volgehou word en dat klein, gereelde, neutrale,
melk-gebaseerde maaltye gegee word. Daar is
doeltreff ende teen-herpes-middels beskikbaar
wat veral aan kinders met chroniese siektes of
in moeilike gevalle gegee word.
Talle vorms kan baie ernstige
algemene infeksies by pasgebore
babas veroorsaak. Vroue met
genitale herpes het dus spesiale
sorg nodig. Herpes simpleks
kan ernstige breinontsteking
veroorsaak.
Kinders met chroniese
ekseem kan
’n baie ernstige
uitslag ontwikkel
indien hulle met
herpes simpleks
besmet word.
Het jy geweet? Die virus
bly vir die res van die
persoon se lewe in ’n
senuwee in die kop teenwoordig.
’n Verkoue kan
dit aktiveer.
Hand-voet-mond-siekte
Hierdie virussiekte kom meestal in die somermaande
voor, dikwels in die vorm van uitbrake. Daar is min
koors en die eerste teken kan ’n onwilligheid wees om te eet.
’n Paar klein seertjies verskyn op die tong of op ander plekke
in die mond. Kort daarna verskyn daar pêrelagtige blase op die
handpalms en voetsole, asook aan die buitekant van die hande
en voete. Alles genees binne ongeveer ’n week.
Dit is ’n ligte infeksie en vereis geen behandeling nie.
Hoewel baie
uitslagbesmettings
nie ernstig is nie, is
dit ’n goeie plan om ’n
dokter te ontbied
wanneer ’n
kind ’n uitslag
ontwikkel.
Behandeling vir koorsige kinders
Koors is die liggaam se manier om teen ’n bakterie of virus te
veg, maar in sekere gevalle is koors nie kinderspeletjies nie.
Om net ’n kind se koors te meet, sê jou nie altyd hoe siek hy is
nie. Griep en verkoue kan ’n kind se koors maklik tot 39 grade C
laat styg sonder dat hy besonder siek is, terwyl ’n uiters gevaarlike
infeksiesiekte ’n kind – veral ’n baba – se koors skaars merkbaar kan
laat styg of selfs laat daal. Kinders wat koorsig is, haal gewoonlik
vinniger asem en hul hartjies klop ook vinniger. As ’n kind koors
het, maar nog lus is vir speel, normaal eet en drink en vir jou glimlag,
moet jy hom dophou, maar hoef jy nie dokter toe te jaag nie.
J y moet wel by ’n dokter uitkom as . . .
- jou baba jonger as drie maande se koors meer as
38 grade C is;
- jou ouer kind se koors hoër as 40 grade C is;
- jou ouer kind se koors tussen 38 grade C en 40 grade C is,
maar hy wil nie eet of drink nie, het aanmekaar diarree of
is naar, toon tekens van ontwatering of het ’n paar nagte
agtereen rukkies lank koors.Ook as sy koors nie binne 72
uur daal as jy hom afspons en met kinder-parasetamol of
ibuprofeen behandel nie;
- jou kind jonger as twee jaar se koors nie met bogenoemde
behandeling binne 24 uur daal nie.
911 Jaag na jou dokter
as jou kind koorsig is en . . .
- ure aaneen troosteloos huil en baie prikkelbaar is
- baie lusteloos is en sukkel om wakker te word;
- ’n uitslag het wat soos kneusings lyk;
- sukkel om asem te haal;
- vooroor leun en kwyl;
- ’n tipe epileptiese of stuipe-aanval kry;
- sy lippe, tong en naels blou is;
- sy nek styf en sy kop baie seer is;
- sy lyf pap is en hy sukkel om te beweeg;
- die fontanel op sy kop na buite bult.
What causes skin disease?
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
|