|
Aaaaaaatiesjoe op die lente
Vir baie van ons
beteken lente net een
ding – neuse wat loop
en oë wat traan
Deur Lynne Gidish
DIE lente kan nogal lastig wees. Skaars het jy herstel van
die winter se verkoue en griep, of jy moet al weer die
snesies nadertrek vir ’n loopneus en oë wat traan en jeuk.
Tot 20 persent van alle Suid-Afrikaners sukkel dié tyd van
die jaar met ’n allergiese reaksies soos ’n genies, ’n gehyg en ’n gejeuk,
sê die Allergievereniging van Suid-Afrika (ALLSA).
Die skuldige? Stuifmeel.
Bome, gras en onkruid vervaardig stuifmeel in oorvloed om hul
oorlewing te verseker. Vir die mensdom beteken die ontploffi ng van
stuifmeel in die lug bloot hooikoors, asma en ekseem.
Nie alle stuifmeel veroorsaak allergiese reaksies nie. Taai, swaarder
stuifmeel, wat deur helderkleurige blomme vervaardig en deur insekte
of voëls versprei word, lei gewoonlik nie tot allergiese reaksies nie. Om
die waarheid te sê, hoe helderder en veelkleuriger die plant of blom,
des te kleiner is die kans dat dit allergieë sal veroorsaak.
Die allergie-knoop lê by die vaal bosse wat op die wind moet staatmaak
om hul stuifmeel te versprei. Daar’s nog ’n kinkel: Veral manlike
plante produseer stuifmeel om vroulike plante te bevrug. Munisipaliteite
en stadsrade plant egter meestal manlike bome om die morsery
van saad- en vrugtedraende bome te vermy.
Wat nou gedaan?
Die beste strategie teen stuifmeelallergie is om dit so ver moontlik te probeer vermy,
sê die allergiekenner dr. Harris Steinman. Hier is sy raad . . .
- Hou die vensters van jou huis en motor
toe. Laat ’n fi lter aan jou motor en huis se
luggate monteer.
- Loop ’n wye draai om blomme, grassnysels
en bome in blom, en bly binnenshuis
tydens die spitsseisoen (sien die lysie op
die bladsy langsaan).
- As jy gaan stap, vermy liefs bosse of tuine
waar bome in volle blom is.
- Dra ’n masker en neem ’n antihistamienpil
so ’n halfuur voor jy in die tuin gaan werk
as jy voorheen las van stuifmeel-allergieë
gehad het. Stort dadelik nadat jy in die tuin
gewerk het. Jou tuinklere moet ook reguit
wasgoedmandjie toe.
- Dra ’n beskermende bril of sonbril in die
lente en somer. Spoel jou oë met water uit
as die stuifmeel dit laat jeuk en traan.
- As jy sukkel om deur jou neus asem te
haal, het jy dalk neuspoliepe. ’n Antihistamienpil
gaan nie hond haar-af maak teen
poliepe nie; ’n dokter sal dalk ’n neussproei
wat steroïed bevat, voorskryf.
- Komposhope wemel van die swamme.
Hou maar die hope so ver moontlik van
die huis af.
- Plant eerder vroulike plante in jou tuin of
plante wat deur insekte bestuif word. Vra
raad by jou kwekery.
- Dis ook nie wys om jou neus in ’n angelier,
krisant of ander plant wat deur insekte
bestuif word te druk of jou tuinbankie
reg langs die beddings te plaas nie, want
insekuitskeidings kan dalk ook allergieë
veroorsaak.
- Leer jou vyand se streke. As jy weet
watter plante jou laat nies en hyg, kan
jy mos ’n plan maak om hulle te vermy.
WAT IS WAT?
Bome
Wees bedag op uitheemse bome. Dis gewoonlik die bome wat die grootste hoeveelheid
windverspreide stuifmeel vervaardig. Ons inheemse bome se stuifmeel is oor die algemeen te
swaar en taai om deur die wind rondgewaai te word. Insekte moet die verspreiwerk doen.
Sipresbome kom
oorspronklik uit
Suidoos-Europa.
Dié ornamentele
tuinboom het
manlike blomme
en vroulike kegels.
Hulle kom meestal
in die Wes- en Oos-
Kaapse kusgebiede
voor. Die sipres
vervaardig groot
hoeveelhede
stuifmeel van Julie
tot Oktober.
Eikebome is in
die sewentiende
eeu van Europa af
hiernatoe gebring.
Dié bome word
meestal in die Wes-
Kaap aangetref en
blom vroeglente
of vroegsomer.
Stuifmeel van dié
boom kan dinge
moeilik maak vir
allergielyers.
Londense plataanbome,
nog ’n
uitheemse boomsoort,
word in die
meeste woonbuurte
in Suid-Afrika
aangetref. Dis ’n
bladwisselende
boom wat groot
hoeveelhede ligte
stuifmeel vervaardig.
Die meeste
plataanbome blom
in Oktober en
November.
Die uitheemse bloekomboom
is bladhoudend
en word oral in
Suid-Afrika, maar
veral in Gauteng,
aangetref. Die
bome is geneig om
dwarsdeur die jaar
te blom, veral in
warmer gebiede.
In die Wes-Kaap
blom hulle net
van Augustus tot
November.
Die meeste
akasiabome
is inheems.
Die bekendste
akasiabome is die
doringbome wat
op die grasvlaktes
groei. Baie van
dié bome blom in
die laatlente en
vroegsomer. Die
stuifmeel van sommige
bome kan ’n
allergeen wees.
Die portjackson of
goudwilgerboom,
wat uit
Australië ingevoer
is, se stuifmeel
lei dikwels tot
allergiese reaksies.
Die boom word in
die Wes-Kaap as ’n
indringer beskou.
Die bome se heldergeel
blomme
is baie opvallend
in die lente.
Die geelhoutboom
is een van ons
statigste en mooiste
inheemse bome.
Dit het digte, blink
blare en is ’n hoë
bladhoudende
woudboom met
’n reguit stam. Dit
word meestal in die
Wes-Kaap aangetref.
Die geelhoutboom
blom van Oktober
tot Desember
Ander bome wat allergiese reaksies kan veroorsaak, is die olyf, wilg, populier, katoenhoutboom, jakaranda en die
inheemse stinkhout. Berkeboom-stuifmeel is baie allergenies.
WAT IS WAT?
Gras
Grasstuifmeel is die volopste van alle stuifmeel en is ’n groot probleem vir allergielyers in Suid-Afrika.
Hier bereik grasstuifmeelvlakke hul toppunt in die somer, maar – anders as in ander dele van die
wêreld – is grasstuifmeel byna die hele jaar lank teenwoordig, veral in sekere dele van die land.
Grasstuifmeel word maklik ingeasem omdat dit so fyn is, iets wat ’n nagmerrie vir asmalyers kan wees.
Bermudagras, een
van die grassoorte
wat die ergste
allergiese reaksies
veroorsaak, is ’n
lae groengrys
rankgras wat vinnig
versprei. Dit word
oral in Suid-Afrika
aangetref en blom
van September
tot Mei.
Johnsongras,
wat oorspronklik
van die Mediterreense
gebiede
kom, word veral in
die droë dele van
Suid-Afrika gevind.
Dit veroorsaak
hewige allergiese
reaksies en blom
van Desember tot
Januarie.
Rooigras groei
in alle gebiede in
Suid-Afrika, behalwe
in die Wesen
Noord-Kaap, en
trek veral diere aan
wat daarvan hou
om in lang gras
te wei. Dit word
tot 1,5 m hoog en
blom van Junie tot
November.
Hartjiesgras, ook
bekend as oulandsgras,
bestaan uit
groen graspolle
wat tussen 30 en
60 cm hoog groei.
Dit kom in alle
gebiede in Suid-
Afrika voor en het ’n
lang blomseisoen,
van Augustus tot
Februarie.
Dekriet word
hoofsaaklik in die
noorde en ooste
van Suid-Afrika
aangetref. Dit groei
welig in gebiede
waar daar ’n jaarlikse
reënval van meer
as 600 mm is. Die
stuifmeelseisoen
strek van September
tot Februarie.
Kikoejoegras is ’n
rankgras met fyn
blaartjies wat ’n
digte grassooi vorm
en in baie woonbuurte
vir grasperke
gebruik word. Dit
het ’n besonder
lang blomseisoen
wat ses maande
duur – van September
tot Februarie.
Raaigras word
aangetref in die
suidelike, oostelike
en noordelike dele
van Suid-Afrika.
Dit word dikwels
in grasperksaadmengsels
aangetref
en vorm stuifmeel
van September tot
November.
Ander grasse wat hooikoors kan veroorsaak, is wildehawer, riet-, reddings-, fluweel-, kropaar-, Bahia- en weigras.
As jy deur graanstreke ry waar hawer, koring en mielies (alles vorms van gras) verbou word, kan jy allergiese reaksies kry. Canola lei ook tot allergiese simptome, maar wetenskaplikes weet nog nie of dit weens stuifmeelallergie of bloot weens ’n neusirritasie is nie.
Terwyl onkruidstuifmeel ’n belangrike oorsaak van asma in Europa en Amerika is, word dit nie as ’n belangrike oorsaak van asma-aanvalle in Suider-Afrika beskou nie. Onkruidstuifmeel wat tot allergiese reaksies kan lei, is ganspoot, soutkruid, Engelse tongblaar, steenboksuring, kakiebos en soutbos.
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
Pollen centre
|