|
Woera-warra of Ritalin?
Het jou bitter woelige kind net rooimiere of het hy ’n
probleem wat hom vir die res van sy lewe gaan kniehalter?
En hoe weet jy jy doen die regte ding as jy hom met Ritalin
tot bedaring bring?
Deur Yvonne Beyers en die HG-Pols-verslagspan
JOU kind, begin jy vermoed, is
anders as sy maatjies. Hy bewe
byna van die opgekropte energie,
raak rumoerig as hy moet
konsentreer, doen impulsief
gevaarlike goed en het al soveel
keer seergekry dat die bloukolle ’n patroon
oor sy lyfie maak.
Die kommer knaag aan jou binneste: Hoe
weet jy of daar ernstige fout is met hom?
Hoe onderskei jy tussen natuurlike woeligheid
en ’n toestand wat woer-woer speel met
sy denke?
En as hy ’n aandaggebrek- of hiperaktiwiteitprobleem
het, is Ritalin die antwoord?
Hoe gemaak as medikasie nie die verligting
bring waarna jou kind – en jy – so desperaat
smag nie? HG-Pols het gaan praat met
ouers en kinders wat op dié vrae antwoorde
moes kry, en met dokters wat oor die jongste
navorsing beskik.
IN ’N koffiewinkel in Kaapstad vertel Judith*
hoe sy die eerste keer die moontlikheid moes
aanvaar dat haar negejarige blondekopseun,
Petrus*, dalk aandaggebreksteurnis het. Hy
was sewe en in gr. 2 toe hy haar en haar man,
Henk*, een nag huilend kom wakker skud het.
Tussen die snikke deur het dit hortend uitgekom:
“Ek jok vir julle, Mamma en Pappa.
Ek kan dit nie meer wegsteek nie. Ek kan nie
soos die ander kinders lees nie.”
Judith was stomgeslaan. Sy het nie eens
vermoed die slim seuntjie wat sy huiswerk
saans met soveel oorgawe voordra, vrees eintlik
die lettertjies en syfertjies wat soos miere
in onverstaanbare patrone op die papier krioel
nie. “Ons het nie agtergekom hy sê sy lessies
uit sy kop op nie. Hy was van kleins af ’n
woelige, besige seuntjie wat gesukkel het om
te konsentreer, maar ons het nie besef daar’s
groter fout nie.
“Ons het gedink sy boetie, Daniel*, is die
stil, skaam een, en Petrus die vrolike, energieke
outjie wat oor-impulsief optree.”
Judith sluk swaar. Die skuldgevoelens vreet
aan haar omdat haar jongste so lank in stilte
moes swaarkry. Moes sy nie vroeër onraad
vermoed het nie? Van kleins af het Petrus
kort-kort halsoorkop gevaarlike dinge aangevang
wat hom meer as een keer in lewensgevaar
laat beland het.
“Daar was die keer toe hy van ’n balkon
afgeduik het. My man het hom net betyds aan
die enkel gevang! En die keer toe hy die motordeur
oopgemaak en buite daaraan gehang
het terwyl ons teen 100 km per uur op die
snelweg gery het.
“Hy het al hoeveel keer sy hand op ’n warm
stoofplaat gesit, al waarsku ek hom kort-kort
daarteen. So twee weke gelede was hy weer
byna dood: Hy het wild bo-oor sy bed met sy
kop in die muur vasgeduik.” Sy laat val haar
hande verslae in haar skoot. “Hy kan hom nie
keer nie.”
Nadat Petrus sy hart daardie nag uitgehuil
het, het Judith en Henk dadelik werk gemaak
van die saak. Hulle het hom na ’n kinderpsigiater
geneem wat aandaggebreksteurnis met
hiperaktiwiteit (AGHS) by hom gediagnoseer
het. Boonop het Petrus ’n lees- en leerprobleem,
een van die probleme wat dikwels
saam met aandaggebreksteurnis voorkom. Die
spesialis het Ritalin voorgeskryf.
Hy het dit omtrent ’n jaar en ’n half gebruik en hoewel dit hom gehelp he tom te fokus en sy skoolwerk te doen, het dit hom terneergedruk en aggresief gemaak.
“Hy sou nou en dan wanhopig vir my
sê: ‘Mamma, ek voel asof ek iemand wil
séérmaak.’ ”
Judith kon dit later nie meer verduur om
te sien hoe Ritalin die lewensvreugde van
haar kind laat wegkalwe nie. Sy het van ’n
nuwe middel, Strattera, te hore gekom en die
psigiater gevra of hy dit nie wou voorskryf
nie. Petrus het die middel aanvanklik soggens
geneem, maar dit het hom naar gemaak en sy
eetlus só gedemp dat die kilogramme van sy
tenger lyfi e afgeval het.
“Hy drink sy pilletjie deesdae saans voor
hy gaan slaap en dit werk nou veel beter.
Dit maak hom maar steeds soms naar en hy
sê nou en dan vir my:
‘Mamma, jy gee vir my
gif om te drink! Sal jý
dit drink?’
“Weet jy hoe dit voel
as jou kind dit vir jou
sê? Dit breek my hart.
Wat moet ek doen?
Dit laat my met ’n
onmoontlike keuse: Óf
Petrus drink medikasie
wat hom soms laat sleg voel, óf hy sukkel op
skool en voel anders as sy maats.”
Judith het dié onmoontlike keuse tog
gedoen en besluit Petrus moet sy medikasie
maar vir eers drink.
“Hy raak angstig as hy in die klas iets moet
lees of skryf. Hy sal sommer iets stouts doen
om die juff rou en ander kinders se aandag
af te trek. Of die nar speel omdat hy nie aan
hul verwagtings kan voldoen nie. Hy het al
hoeveel keer vir my gesê: ‘Mamma, jy stuur
my skool toe om my te verneder.’ ”
Sy kyk weg, praat saggies. “Hy’t al weggekruip
in die hond se mandjie omdat hy so
bang is vir skool gaan. Só skaam is hy. Hy
voel dom . . .”
Sy het Petrus ook by ’n bekwame leerterapeut,
Dokka Swart, ingeskryf. Saam met
Strattera help haar leesterapie hom beslis om op sy skoolwerk te konsentreer – in so ’n
mate dat sy punte vanjaar van ’n een na ’n
drie verbeter het.
“Petrus was altyd so bang om sy rapport
oop te maak. Ek kan nie vir jou beskryf hoe
dit gevoel het toe hy dit die dag huis toe
bring en sy punte het verbeter nie.”
Die seuntjie sukkel steeds om eenvoudige
sinne te lees en ná hoeveel keer se probeer,
verdwyn selfs die eenvoudige woordjie “die”
nog telkens soos mis uit sy leesgeheue.
“Ek help hom om te leer deur te luister en
te praat,” sê Dokka. Hy doen sy wiskundesomme
byvoorbeeld eerder mondelings as om
dit neer te skryf. Dokka twyfel nie daaraan
dat Petrus sy skoolopvoeding
sal kan voltooi
nie. “Met oefening
leer hy leer deur goed
te luister.”
Judith het onlangs
van werk verander om
meer tyd met Petrus
deur te bring en glo
dié aandag maak die
wêreld se verskil. Petrus
se sindroom beïnvloed haar hele gesin en
ook Pa en broer moet opoff erings maak om
die blondekop te help aanpas.
“Weet jy, hy skryf ’n rukkie gelede –
die ene spelfoute – in ’n boekie: ‘Eendag
was daar ’n seuntjie en sy naam was Petrus.
Toe het hy gedink wat kan sy ding in die
lewe wees en toe het hy gedink dit sal
visvang wees.’
“Die één ding wat hy kan doen sonder
om konsentrasie te verloor, is langs die water
sit en visvang. Hy sal ure sit en wag op ’n
vissie. Hy weet waarop hy wag.”
Dit spreek boekdele oor Judith as ma.
Want sy glo steeds: Al duur dit lank, al
moet elke woord, elke reël, elke sosiale
kode tydsaam in sy verbeeldingryke kinderkoppie
ingeprent word, sal die wag die
moeite werd wees.
MY STORIE:
ANNEKE RAUTENBACH(18)
Anders as Petrus, was Anneke
Rautenbach (18) ’n
klein dromer wat in haar
eie wêreld geleef het. Sy was
in gr. 1 toe spesialiste aandaggebreksteurnis
(AGS) sonder
hiperaktiwiteit by haar gediagnoseer
het.
Anneke skryf:
Aandaggebreksteurnis. ’n Term wat
deesdae nogal mildelik rondgegooi
word as daar na kinders verwys
word wat óf van die mure afbons
óf in hul eie droomwêreld lewe.
Maar destyds is daar nie so baie
daaroor gepraat nie. Ek was die
enigste meisie in my gr. 1-klas wat
die klein wit pilletjie met die klofie
reg in die middel sodat dit maklik
in twee gedeel kan word, gedrink
het. Ek kan nou nog die bitterheid
wat hardnekkig aan my verhemelte
vassit, proe. (Ek sukkel nou nog
om pille te sluk.)
Elke oggend het ek en ’n ander,
ouer meisie wat gelyk het of sy
bewe van energie, aangemeld vir
ons midoggend-dosering. Ons het
’n glimlag gedeel, maar ek kon
regtig nie verstaan wat ek met haar
gemeen het nie. Sy het by stopstrate
uit karre se vensters geklim;
ek was stil en tevrede om doodstil
te sit solank daar ’n venster was om
by uit te tuur.
Ek het soms my pille verloor.
Maar dit was nie al wat ek verloor
en vergeet het nie. Daar was ook
tallose truie, potloodsakkies,
huiswerk-items en belangrike
notas. Baie terapie is in dié tyd
ondergaan; ’n ding wat breingim
genoem is.
In gr. 3 het ek eerste in my klas
gestaan, en van toe af was ek fi ne.
Ek kan nie onthou dat ek ná
gr. 5 of in skoolvakansies Ritalin
gedrink het nie. Ek vaar van toe
af goed op skool, maar skiet te
kort as ek baie dinge op een slag
moet doen en soms as ek my tyd
goed moet beplan.
Ek sal nooit regtig weet of die klein wit pilletjie of breingim my redding was nie. Ek sal nooit
weet of ek werklikwaar aandaggebreksteurnis gehad het en of ek
net ’n dromerige klein sieletjie was wat as Afrikaanse kind in ’n
Engelse skool met taal gesukkel het nie.
My organisatoriese vaardighede het verbeter. Ek is ook ’n
prefek en dra my blou kenteken met trots . . . wat my herinner,
waar het ek nou weer daai blou dingetjie neergesit?
Anneke se ma, die joernalis Elmari
Rautenbach, skryf:
Die middag toe ek en my dogter, toe ses, by die Rooi Kruis-kinderhospitaal
in Kaapstad uitstap, het dit gevoel of ek aan bomskok ly.
’n Paar weke tevore het my graadeentjie se juff rou my eenkant toe
geroep en gesê die kind is besig om vinnig agter te raak by die res van
die klas. Sy het voorgestel dat ons haar na ’n pediater neem en laat
toets vir AGS.
Anneke se diagnose was aandaggebreksteurnis, gekenmerk deur ’n
gebrek aan aktiwiteit. Sy was die soort kind, het hy verduidelik, wat nie
kan onderskei tussen al die prikkels rondom haar nie en in reaksie na ’n
droomwêreld van haar eie ontsnap het.
Ek was nog nie oortuig dat medikasie die oplossing is nie. Anneke
het met arbeidsterapie en ekstra lesse begin. Daar was vordering,
maar dit was skraal. Uiteindelik het Alan Wyborn, vandag hoof van die
Somerset College-laerskool in Somerset-Wes, raad gegee wat ek tot
vandag toe onthou. Sy antwoord oor Ritalin was eenvoudig. “Vir die
regte kind, op die regte tyd, is dit soos ’n lig wat aangeskakel word.”
Wat ook gehelp het, is dat ons haar in ’n klein laerskool geplaas het,
haar met breingim-terapie laat begin het, en haar verantwoordelikhede
in die huis gegee het en nie oorgeneem het as dit lank duur nie.
Geleidelik kon ons sien hoe Anneke leer om haar lewe te organiseer.
Sy maak vandag nog lysies en sy studeer deur opsommings te maak.
AANDAGGEBREK – DIE ANTWOORDE OP AL JOU VRAE
Oor aandaggebreksteurnis – sonder hiperaktiwiteit
(AGS) of daarmee (AGHS) – is daar baie
verwarring. Hier is alles wat jy nog altyd oor
dié probleem wou weet.
Hoe weet jy jou kind ly aan AGS of AGHS?
Is Ritalin en sy nefies modemedisynes, ’n euwel
waarna ouers en onderwysers gryp om woelige
kinders te probeer beheer – of is dit wondermiddels?
En kan omega-3- en omega-6-aanvullings en
dieetaanpassings hiperaktiwiteit laat verdwyn? As jy
een van daardie ouers is aan wie kommer oor
’n woelige kind al lank knaag, kan dié gids jou help
om helderheid te kry. Dit bevat die jongste inligting
oor aandaggebrek, gegrond op die nuutste internasionale
navorsing en studies.
DIAGNOSE
Ly jou kind aan AGS of AGHS?
STAP 1 Verstaan die belangrike
Agtergrondinligting
’n Stil dromer en ’n ooraktiewe kind kan aan dieselfde probleem
ly. Volgens die jongste internasionale bevindings kan
aandaggebrek drie hoofsimptome hê. Dit is:
- ’n Gesukkel om te konsentreer of om konsentrasie
te behou en organisasieprobleme
- Hiperaktiwiteit
- Impulsiwiteit
Die hoofsimptome kan alleen of in kombinasies voorkom,
wat beteken daar is basies drie groepe:
- Aandaggebrek sonder hiperaktiwiteit, oftewel AGS. Dis
die stil dromers soos Anneke. Meer meisies as seuns is
stil dromers.
- Aandaggebrek met hoofsaaklik impulsiwiteit en hiperaktiwiteit
(AGHS). Dis gewoonlik aktiewe en woelige
seuns soos Petrus.
- ’n Kombinasie-tipe waar die kind besliste konsentrasieprobleme
het, maar ook tekens het van impulsiwiteit
en hiperaktiwiteit.
Maar dis nie waar die probleme eindig nie. Gemiddeld
40 persent van die kinders met AGS of AGHS het ook leesen
leerprobleme, depressie of ander probleme.
(Kyk na stap 4.)
STAP 2 Ken die simptome
Beantwoord dié vrae oor . . .
KONSENTRASIE-SIMPTOME
JOU KIND…
- Sukkel om deeglike aandag aan fyn
besonderhede te gee en maak dikwels
onnodige foute in skool- en huistake.
- Sukkel om op een taak te konsentreer.
- Gee dikwels nie aandag of luister as jy direk met hom praat nie.
sukkel om skooltake, huistake of ’n stel opdragte end-uit te
voltooi, al verstaan hy wat hy moet doen en is hy nie rebels nie.
is ongeorganiseerd en deurmekaar.
- Vermy of haat take waar hy te veel moet dink.
verloor dinge wat noodsaaklik is om ’n taak te voltooi, soos
potlode, boeke en gereedskap.
- Se aandag word maklik afgelei deur dinge wat niks met die
taak te doen het nie, soos ’n hond wat blaf, ’n selfoon wat lui,
musiek wat speel.
- Is vergeetagtig as dit by alledaagse take kom.
As jy op ses van dié vrae “ja” antwoord, kan jou kind een van
die “stil dromers” wees. Stil dromers is ongeorganiseerd en
lewe dikwels in hul eie wêreld. Hulle sukkel om te beplan en
take te voltooi.
Beantwoord nou dié vrae oor . . .
HIPERAKTIWITEIT EN IMPULSIWITEIT
JOU KIND…
- Vroetel voortdurend met sy hande of voete, of bly
aan die wriemel.
- Sukkel om in die klaskamer op sy stoel te bly sit.
hardloop buitengewoon baie rond, of klim en klouter meer
as ander kinders.
- Sukkel om aan enige aktiwiteit deel te neem sonder om
luidkeels te gil of hard te praat. Kan hy stilbly of saggies praat
terwyl hy speel of iets doen?
- Tree op asof hy deur ’n battery aangedryf word.
praat buitengewoon baie.
- Lap spontaan antwoorde uit voordat die vrae klaar gevra is.
sukkel om sy beurt af te wag, of beurte te maak.
- Onderbreek maklik gesprekke of speletjies deur te begin
praat of hom in te wurm.
STAP 3 Help die spesialis
Daar bestaan nie iets soos ’n enkele of eenvoudige toets
vir AGS of AGHS nie. Die spesialiste – en hulle moet werklik
kinder-psigiaters of pediaters wees, in samewerking met ’n
kliniese sielkundige – moet jou kind in die teenwoordigheid
van julle as ouers ondersoek en evalueer. Aandaggebreksteurnis
is kompleks, en die diagnose is gegrond op ’n baie
spesifi eke en deeglike mediese ondersoek en evaluering.
AGS en AGHS het te make met chemiese wanbalanse in die
brein wat reggestel moet word. ’n Kliniese sielkundige of
onderwyser kan nie dié komplekse diagnose alleen maak
nie. Nie alle huisdokters het ’n groot genoeg belangstelling
om dit te doen nie. Wees bedag op die onderstaande:
JA OF NEE??
- Was die eerste tekens al teen jou kind se sewende
verjaardag teenwoordig?
- Is minstens ses van die simptome al minstens
ses maande daar?
- Is die simptome sigbaar op minstens twee
plekke, byvoorbeeld by die huis en by die skool?
- Belemmer die simptome jou kind se
skoolprestasies of sy interaksie met maats of ander mense?
40% - Gemiddeld 40 per -
sent van kinders met
AGS of AGHS ly ook
aan ander probleme.
STAP 4 Let nog fyner op
As jou kind een van die volgende probleme toon,
kan behandeling en onderrigmetodes ingespan
word om hom te help.
Leerprobleme. Lees- en leerprobleme en disleksie
kom ses keer meer by kinders met AGS of AGHS voor
as by ander kinders.
Teenkantingsteurnis en/of gedragsteurnis. Tekens
hiervan is dat ’n kind vernietigend optree, sy ouers
of onderwysers gedurig opponeer, maklik sy humeur
verloor, ander treiter of weier om reëls na te kom.
Depressie. Dié kinders het dikwels woedeuitbarstings.
Hulle is ook dikwels hartseer en
huilerig, meng nie maklik met ander kinders nie,
wil nie eet nie, kraak hulself af en het dikwels
ook slaapprobleme.
Angstigheid. Sowat ’n derde van die kinders met
AGHS ly ook aan angstigheid.
Tourette-sindroom. Sowat 75 persent van kinders
met Tourette-sindroom het ook AGS of AGHS.
Tourette-sindoom word gekenmerk deur herhalende,
onwillekeurige bewegings soos om oë te knip of
te trek, of om woorde of klanke te herhaal.
BEHANDELING
My kind het AGS/ AGHS, wat nou?
Watter behandeling werk?
Voordat ’n mens op hol raak oor Ritalin, is dit belangrik om te weet
watter soort behandeling werklik ’n verskil kan maak.
Omega-3- en omega-6-aanvullings kan by tot 40 persent van die kinders ’n verskil
maak. Dieetaanpassings help deels vir sowat 20 persent. Medisyne help vir 70
tot 80 persent jong AGS/AGHS-lyers. Kinders het ook emosionele ondersteuning
deur die ouers en ’n kliniese sielkundige nodig, want die steurnis het ’n uitwerking
op skool-, gesins- en sosiale vlak. Die kinders het ook ’n vaste roetine nodig
om hulle te leer hoe om hul brein en dinge om hulle te organiseer. Ouers en die
gesin moet dikwels baie opoff eringe maak om daarmee te help.
Alles oor die medisyne
Daar is drie hoofsoorte medisyne wat in Suid-Afrika ingespan word.
Die medisyne vir kinders met AGS en AGHS werk op die brein in.
Daar is duidelike wetenskaplike bewyse dat AGS en AGHS die gevolg is van ’n
foutiewe werking in sekere dele van die brein. In kinders met aandaggebreksteurnisse
breek twee neuro-oordragstowwe, dopamien en noradrenalien, te
vinnig af. Dit veroorsaak te lae vlakke van dié stowwe in die dele van die brein
wat impulsiwiteit en konsentrasie beheer. Weens die tekort sukkel die kinders
om te konsentreer of om impulsiewe gedrag te beheer. Die middels wat gebruik
word, help om die vlakke van daardie oordragstowwe weer normaal te maak.
Die middels word dus nie gebruik om dinge in die brein deurmekaar te krap nie,
maar om die vlakke te probeer normaliseer, soos wat diabete insulieninspuitings
gebruik om hul eie insulientekort aan te vul.
Een van die middels is Ritalin, wat spesifi ek help om die dopamienvlak in die
brein te herstel. Ritalin werk vier uur lank, Ritalin LA ses tot agt uur lank en
Concerta twaalf uur lank. Al drie bevat metielfenidaat, wat ’n opkikker-eff ek het.
Strattera is eers onlangs in Suid-Afrika goedgekeur. Dit is nie ’n opkikker nie
en verbeter die aandagspan. Die eff ek duur 24 uur.
Sommige kinders met ’n kombinasie van simptome het meer as een middel
nodig, terwyl nog ’n nie-opkikker, Tofranol, ook sommige kinders kan help.
Van die middels het moontlike newe-eff ekte soos maag- of hoofpyn, ’n swak
eetlus en emosionele uitbarstings wanneer die middel uitgewerk is.
“Onthou dat geen medisyne ’n kuur of wondermiddel is nie, maar ’n hulpmiddel.
Al die kinders kan baie baat by die aanleer en toepas van tegnieke
wat hulle kan help om hul gedagtes en lewe te orden. Bemagtig hulle
maksimaal vir die lang termyn,” sê dr. Adri van der Walt, ’n Kaapse kinderarts.
Hoekom is ons so bang vir Ritalin?
Prof. André Venter, nasionale voorsitter van
PANDA (Vereniging vir Pediatriese en Neurologiese
Ontwikkeling) en hoof van pediatrie
aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf:
Baie ouers voel ongemaklik met die idee dat hul kinders
psigiatriese medisyne moet kry om hulle deur die skooldag
te help. Hulle vra: “Onderdruk ’n mens nie dalk jou
kind se natuurlike uitbundige persoonlikheid deur hom
’n middel soos Ritalin te gee om hom minder woelig te
maak nie?”
En dan is daar ook die slegte publisiteit wat Ritalin
deur die jare gekry het – aan die een kant omdat dit
dikwels te vinnig en sonder genoeg rede deur dokters
voorgeskryf word, aan die ander kant omdat dit
inderdaad ’n omstrede middel is. Dis ’n stimulant en
geklassifi seer as ’n skedule 6-middel, omdat dit wel
deur sommige mense misbruik kan word. Dit het ’n
paar moontlike newe-eff ekte soos verlies aan eetlus en
slaaploosheid.
Daarby word Ritalin soms onwettig deur kinders op
skoolterreine gesmous omdat dit ’n opkikkerende uitwerking
het. Dit word soms as dans-opkikker misbruik.
Natuurlik is Ritalin (en sy nefi es, soos Concerta) ’n middel
wat nie ligtelik voorgeskryf mag word nie.
Navorsing het egter bewys dat kinders wat Ritalin
gebruik, nie méér geneig is om dwelmslawe te word nie.
Die teenoorgestelde is wel waar: Kinders met ernstige
AGS of AGHS wat nie behandel word nie, kan later kwesbaarder
wees vir die dwelmkultuur omdat hulle sukkel
om sosiaal aan te pas.
’n Belangrike nuwe voorbehoud oor Ritalin is dat dit
gevaarlik kan wees vir enkele kinders met onderliggende
hartsiektes. Dis waarom ’n spesialis jou kind klinies
moet evalueer en die hulp van ’n kardioloog kan inroep.
Dis te verstane dat ons versigtig is vir ’n middel wat
voel of dit met ons kinders se kop smokkel. Maar wat is
erger: die medisyne, of die angstigheid, vrees, selftwyfel
en isolasie van ’n AGS/AGHS-lyer? Of dat hy dalk eendag
’n wanaangepaste grootmens gaan wees as sy leerprobleme
nie nou aandag kry nie?
Ritalin, soos enige ander medisyne, moet versigtig
voorgeskryf word. As dit nie werk nie, of as die neweeff
ekte erger is as die probleem, bespreek dit met die
kind se dokter. Maar dis nie ’n sonde om jou kind se
lewe beter en makliker te probeer maak nie.
Sowat 40 – 60 persent van
kinders met AGS of AGHS
toon nog simptome in hul
volwasse lewe en kan nie
hul medisyne los nie
VIND MEER UIT
Die jongste nuus oor dieet en aanvullings
Baie ouers hoop dat as hul kind die regte kosse
eet, hy sy medisyne kan los. Sommige groepe
glo dat aandaggebreksteurnisse niks met die
brein te doen het nie, maar alles met ensieme en
die metabolisme van omega-3- en -6-vetsure. Prof.
C.F. van der Merwe van die departement gastroenterologie
van Medunsa (Mediese Universiteit
van Suid-Afrika) glo dat dié aanvullings die oplossing
vir alle kinders met AGS of AGHS is aangesien
dit vir sy eie kind gehelp het.
Nuwe studies toon dat omega-3- en -6-aanvullings
vir tot 40 persent van kinders kan help.
Probeer die regte aanvullers en gee jou kind vis wat
ryk is aan omega-3-vetsure, soos ansjovis, sardyne,
makriel, tuna, forel en salm, solank dit nie uit ’n blik
met baie preserveermiddels kom nie. Dit kan vier
tot ses maande duur voordat dit help.
Studies het ook getoon dat die uitskakeling
van kosse wat preserveermiddels bevat 20 – 30
persent van kinders kan help. Dit is nie duidelik
of dit ’n troosmedisyne (plasebo) is en hoe lank
die uitwerking hou nie. Verminder die preserveermiddels
deur die volgende kosse te vermy of
te beperk: aanmaak- en gaskoeldranke, nagereg
(veral jellie), gerookte vis en geblikte groente,
winkelkoekies en -gebak, visvingers, gekoopte
hamburgerkoekies, margarien, tee en koffi e, alle
kos wat in olie gebak is, sjokolade, lekkers, tjips,
southappies, witbrood en geprosesseerde vleis.
Beperk ook die hoeveelheid suiker en soetgoed
wat jou kind eet. Laat hom eerder vars vleis, vis
en hoender en vars vrugte (veral pere en papaja)
en groente eet, en onverfynde koolhidrate soos
growwebrood, en melk en ander suiwelprodukte.
Moenie teleurgesteld wees as dit net vir ’n
rukkie help nie. “As dit vir alle kinders met AGHS
gehelp het, sou geen kind medisyne nodig gehad
het nie,” sê Adri van der Walt.
JONGSTE DENKE
Die Amerikaanse sielkundige
dr. Thomas Brown skryf in ’n splinternuwe
boek Attention Defi cit Disorder: The
Unfocused Mind in Children and Adults, dat
baie mense wat net soms baie goed kan konsentreer
en ’n klomp dinge gelyk kan doen
– soos om met groot vaardigheid sokker
te speel of ure aaneen televisiespeletjies te
speel – maar meestal sukkel om take betyds
af te handel as die onderwerp hulle nie boei
nie, aan ’n afgewaterde vorm van AGS ly. Hy
noem dit AGS-sindroom, en skryf dat medisyne
en behandeling dié mense baie kan
help om te presteer.
Vraag: Wat veroorsaak
AGS/AGHS?
Antwoord: Oorerfl ikheid, ’n breinbesering
of fetale alkoholsindroom (FAS) kan
tot die breinafwykings lei.
Aandaggebreksteurnisse kom ses
keer meer by seuns voor as by meisies.
Dit lyk of dit veral van pa na seun oorgedra
word. Tog lyk dit al hoe meer of
baie gevalle van aandaggebreksteurnis
in meisies ongediagnoseerd verbyglip,
omdat die meeste meisies van die stil
dromer-tipe is.
Kinders met fetale alkoholsindroom
doen breinskade op weens die ma se
alkoholmisbruik tydens swangerskap.
Hierdie breinskade kan tot verskeie probleme
lei, insluitend AGS en AGHS.
Vraag: Hoeveel
kinders het werklik
Ritalin nodig?
Antwoord: As meer as twee kinders uit
’n klas van veertig Ritalin gebruik, moet
die ouers begin vrae stel. HG-Pols het
vasgestel dat Ritalin in sommige skole
aan tot ’n derde van ’n klas voorgeskryf
word terwyl net een uit twintig kinders
dit werklik nodig het. Dis nie in ’n kind
sonder AGS of AGHS se belang om
medisyne te drink wat breinoordragstowwe kan verander nie.
Vraag: As dit nie
AGS/AGHS is nie,
wat kan dit dan
wees?
Antwoord: Dit kan emosionele of
ernstige leerprobleme wees. Sommige
kinders is oorgevoelig vir aanraking wat
beteken dat alles wat teen hul lyfi es
druk, hulle kriewelrig maak.
Ander moontlikhede is ’n lae spiertonus,
vertraagde ontwikkeling, bipolêre
steurnis, ’n tipe epilepsie of loodvergiftiging,
om enkeles te noem.
Dit kan ook wees dat die kind in ’n
chaotiese huis grootword.
Vraag: Sal my kind
met AGS/AGHS
ooit iets bereik?
Antwoord: Die meeste kinders met
AGS of AGHS kan met medisyne en ander
behandeling ’n vol lewe lei. Mense
met AGS of AGHS het baie positiewe
eienskappe. Hulle kan . . .
- baie kreatief wees met goeie laterale
denke. Baie word goeie navorsers;
- nuuskierig en ware ontdekkers wees;
- aktief en energiek wees; en
- geesdriftig, spontaan en gretig wees
om nuwe dinge te probeer.
Praktiese wenke vir ouers
Wat jy kan doen om jou kind met AGS/ADHS te help
Probeer dieetaanpassings en -aanvullings. As dit nie werk nie, en jou
spesialis skryf medikasie voor, maak seker dat jou kind dit drink soos
die spesialis dit voorgeskryf het sodat jy akkuraat verslag kan doen oor
verbetering en newe-effekte.
Reël met jou kind se onderwysers dat hy voor in die klas sit. Leer hom om
lysies te maak van dinge wat hy moet doen, inpak of moet saamneem.
Skep ’n vaste roetine by die huis. Eet op spesifi eke tye en leer jou kind
dat hy op sekere tye sy huiswerk moet doen.
Gee hom ’n wekker en plak ’n jaarbeplanner en kalender teen sy muur
sodat hy kan leer om sy dag te beplan, en hy sportdae en musieklestye
met een oogopslag kan sien.
Kyk of en hoe hy sy huiswerk gedoen het en maak seker dat hy sy take
afgehandel het. Moenie ingryp nie. Laat hy dit self doen, al duur dit lank.
Die artikel is saamgestel met die hulp van prof. André Venter,
dr. Adri van der Walt en ’n groot aantal mediese artikels.
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
Click here for more on ADHD
|