Advertisement
Dirty money
Your cash has done the rounds - and so have the bacteria on them.
How UV hurts
Suntan, sunburn, ageing. The sun can affect your skin in many ways. How does it work?
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 Lente 2007
 
Woera-warra of Ritalin?

Het jou bitter woelige kind net rooimiere of het hy ’n probleem wat hom vir die res van sy lewe gaan kniehalter? En hoe weet jy jy doen die regte ding as jy hom met Ritalin tot bedaring bring?
Deur Yvonne Beyers en die HG-Pols-verslagspan

JOU kind, begin jy vermoed, is anders as sy maatjies. Hy bewe byna van die opgekropte energie, raak rumoerig as hy moet konsentreer, doen impulsief gevaarlike goed en het al soveel keer seergekry dat die bloukolle ’n patroon oor sy lyfie maak.

Die kommer knaag aan jou binneste: Hoe weet jy of daar ernstige fout is met hom? Hoe onderskei jy tussen natuurlike woeligheid en ’n toestand wat woer-woer speel met sy denke?

En as hy ’n aandaggebrek- of hiperaktiwiteitprobleem het, is Ritalin die antwoord? Hoe gemaak as medikasie nie die verligting bring waarna jou kind – en jy – so desperaat smag nie? HG-Pols het gaan praat met ouers en kinders wat op dié vrae antwoorde moes kry, en met dokters wat oor die jongste navorsing beskik.

IN ’N koffiewinkel in Kaapstad vertel Judith* hoe sy die eerste keer die moontlikheid moes aanvaar dat haar negejarige blondekopseun, Petrus*, dalk aandaggebreksteurnis het. Hy was sewe en in gr. 2 toe hy haar en haar man, Henk*, een nag huilend kom wakker skud het. Tussen die snikke deur het dit hortend uitgekom: “Ek jok vir julle, Mamma en Pappa. Ek kan dit nie meer wegsteek nie. Ek kan nie soos die ander kinders lees nie.”

Judith was stomgeslaan. Sy het nie eens vermoed die slim seuntjie wat sy huiswerk saans met soveel oorgawe voordra, vrees eintlik die lettertjies en syfertjies wat soos miere in onverstaanbare patrone op die papier krioel nie. “Ons het nie agtergekom hy sê sy lessies uit sy kop op nie. Hy was van kleins af ’n woelige, besige seuntjie wat gesukkel het om te konsentreer, maar ons het nie besef daar’s groter fout nie.

“Ons het gedink sy boetie, Daniel*, is die stil, skaam een, en Petrus die vrolike, energieke outjie wat oor-impulsief optree.”

Judith sluk swaar. Die skuldgevoelens vreet aan haar omdat haar jongste so lank in stilte moes swaarkry. Moes sy nie vroeër onraad vermoed het nie?

Van kleins af het Petrus kort-kort halsoorkop gevaarlike dinge aangevang wat hom meer as een keer in lewensgevaar laat beland het.

“Daar was die keer toe hy van ’n balkon afgeduik het. My man het hom net betyds aan die enkel gevang!

En die keer toe hy die motordeur oopgemaak en buite daaraan gehang het terwyl ons teen 100 km per uur op die snelweg gery het. “Hy het al hoeveel keer sy hand op ’n warm stoofplaat gesit, al waarsku ek hom kort-kort daarteen. So twee weke gelede was hy weer byna dood: Hy het wild bo-oor sy bed met sy kop in die muur vasgeduik.”

Sy laat val haar hande verslae in haar skoot. “Hy kan hom nie keer nie.”

Nadat Petrus sy hart daardie nag uitgehuil het, het Judith en Henk dadelik werk gemaak van die saak.

Hulle het hom na ’n kinderpsigiater geneem wat aandaggebreksteurnis met hiperaktiwiteit (AGHS) by hom gediagnoseer het. Boonop het Petrus ’n lees- en leerprobleem, een van die probleme wat dikwels saam met aandaggebreksteurnis voorkom. Die spesialis het Ritalin voorgeskryf.

Hy het dit omtrent ’n jaar en ’n half gebruik en hoewel dit hom gehelp he tom te fokus en sy skoolwerk te doen, het dit hom terneergedruk en aggresief gemaak.

“Hy sou nou en dan wanhopig vir my sê: ‘Mamma, ek voel asof ek iemand wil séérmaak.’ ” Judith kon dit later nie meer verduur om te sien hoe Ritalin die lewensvreugde van haar kind laat wegkalwe nie.

Sy het van ’n nuwe middel, Strattera, te hore gekom en die psigiater gevra of hy dit nie wou voorskryf nie. Petrus het die middel aanvanklik soggens geneem, maar dit het hom naar gemaak en sy eetlus só gedemp dat die kilogramme van sy tenger lyfi e afgeval het.

“Hy drink sy pilletjie deesdae saans voor hy gaan slaap en dit werk nou veel beter. Dit maak hom maar steeds soms naar en hy sê nou en dan vir my: ‘Mamma, jy gee vir my gif om te drink! Sal jý dit drink?’

“Weet jy hoe dit voel as jou kind dit vir jou sê? Dit breek my hart. Wat moet ek doen?

Dit laat my met ’n onmoontlike keuse: Óf Petrus drink medikasie wat hom soms laat sleg voel, óf hy sukkel op skool en voel anders as sy maats.” Judith het dié onmoontlike keuse tog gedoen en besluit Petrus moet sy medikasie maar vir eers drink.

“Hy raak angstig as hy in die klas iets moet lees of skryf. Hy sal sommer iets stouts doen om die juff rou en ander kinders se aandag af te trek. Of die nar speel omdat hy nie aan hul verwagtings kan voldoen nie. Hy het al hoeveel keer vir my gesê: ‘Mamma, jy stuur my skool toe om my te verneder.’ ”

Sy kyk weg, praat saggies. “Hy’t al weggekruip in die hond se mandjie omdat hy so bang is vir skool gaan. Só skaam is hy. Hy voel dom . . .”

Sy het Petrus ook by ’n bekwame leerterapeut, Dokka Swart, ingeskryf. Saam met Strattera help haar leesterapie hom beslis om op sy skoolwerk te konsentreer – in so ’n mate dat sy punte vanjaar van ’n een na ’n drie verbeter het.

“Petrus was altyd so bang om sy rapport oop te maak. Ek kan nie vir jou beskryf hoe dit gevoel het toe hy dit die dag huis toe bring en sy punte het verbeter nie.”

Die seuntjie sukkel steeds om eenvoudige sinne te lees en ná hoeveel keer se probeer, verdwyn selfs die eenvoudige woordjie “die” nog telkens soos mis uit sy leesgeheue. “Ek help hom om te leer deur te luister en te praat,” sê Dokka.

Hy doen sy wiskundesomme byvoorbeeld eerder mondelings as om dit neer te skryf. Dokka twyfel nie daaraan dat Petrus sy skoolopvoeding sal kan voltooi nie. “Met oefening leer hy leer deur goed te luister.”

Judith het onlangs van werk verander om meer tyd met Petrus deur te bring en glo dié aandag maak die wêreld se verskil. Petrus se sindroom beïnvloed haar hele gesin en ook Pa en broer moet opoff erings maak om die blondekop te help aanpas.

“Weet jy, hy skryf ’n rukkie gelede – die ene spelfoute – in ’n boekie: ‘Eendag was daar ’n seuntjie en sy naam was Petrus. Toe het hy gedink wat kan sy ding in die lewe wees en toe het hy gedink dit sal visvang wees.’

“Die één ding wat hy kan doen sonder om konsentrasie te verloor, is langs die water sit en visvang. Hy sal ure sit en wag op ’n vissie. Hy weet waarop hy wag.” Dit spreek boekdele oor Judith as ma.

Want sy glo steeds: Al duur dit lank, al moet elke woord, elke reël, elke sosiale kode tydsaam in sy verbeeldingryke kinderkoppie ingeprent word, sal die wag die moeite werd wees.

MY STORIE:
ANNEKE RAUTENBACH(18)

Anders as Petrus, was Anneke Rautenbach (18) ’n klein dromer wat in haar eie wêreld geleef het. Sy was in gr. 1 toe spesialiste aandaggebreksteurnis (AGS) sonder hiperaktiwiteit by haar gediagnoseer het.

Anneke skryf:
Aandaggebreksteurnis. ’n Term wat deesdae nogal mildelik rondgegooi word as daar na kinders verwys word wat óf van die mure afbons óf in hul eie droomwêreld lewe. Maar destyds is daar nie so baie daaroor gepraat nie.

Ek was die enigste meisie in my gr. 1-klas wat die klein wit pilletjie met die klofie reg in die middel sodat dit maklik in twee gedeel kan word, gedrink het.

Ek kan nou nog die bitterheid wat hardnekkig aan my verhemelte vassit, proe. (Ek sukkel nou nog om pille te sluk.)

Elke oggend het ek en ’n ander, ouer meisie wat gelyk het of sy bewe van energie, aangemeld vir ons midoggend-dosering. Ons het ’n glimlag gedeel, maar ek kon regtig nie verstaan wat ek met haar gemeen het nie.

Sy het by stopstrate uit karre se vensters geklim; ek was stil en tevrede om doodstil te sit solank daar ’n venster was om by uit te tuur.

Ek het soms my pille verloor. Maar dit was nie al wat ek verloor en vergeet het nie. Daar was ook tallose truie, potloodsakkies, huiswerk-items en belangrike notas. Baie terapie is in dié tyd ondergaan; ’n ding wat breingim genoem is.

In gr. 3 het ek eerste in my klas gestaan, en van toe af was ek fi ne. Ek kan nie onthou dat ek ná gr. 5 of in skoolvakansies Ritalin gedrink het nie.

Ek vaar van toe af goed op skool, maar skiet te kort as ek baie dinge op een slag moet doen en soms as ek my tyd goed moet beplan.

Ek sal nooit regtig weet of die klein wit pilletjie of breingim my redding was nie. Ek sal nooit weet of ek werklikwaar aandaggebreksteurnis gehad het en of ek net ’n dromerige klein sieletjie was wat as Afrikaanse kind in ’n Engelse skool met taal gesukkel het nie.

My organisatoriese vaardighede het verbeter. Ek is ook ’n prefek en dra my blou kenteken met trots . . . wat my herinner, waar het ek nou weer daai blou dingetjie neergesit?

Anneke se ma, die joernalis Elmari Rautenbach, skryf:
Die middag toe ek en my dogter, toe ses, by die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad uitstap, het dit gevoel of ek aan bomskok ly.

’n Paar weke tevore het my graadeentjie se juff rou my eenkant toe geroep en gesê die kind is besig om vinnig agter te raak by die res van die klas. Sy het voorgestel dat ons haar na ’n pediater neem en laat toets vir AGS.

Anneke se diagnose was aandaggebreksteurnis, gekenmerk deur ’n gebrek aan aktiwiteit. Sy was die soort kind, het hy verduidelik, wat nie kan onderskei tussen al die prikkels rondom haar nie en in reaksie na ’n droomwêreld van haar eie ontsnap het.

Ek was nog nie oortuig dat medikasie die oplossing is nie. Anneke het met arbeidsterapie en ekstra lesse begin. Daar was vordering, maar dit was skraal. Uiteindelik het Alan Wyborn, vandag hoof van die Somerset College-laerskool in Somerset-Wes, raad gegee wat ek tot vandag toe onthou. Sy antwoord oor Ritalin was eenvoudig. “Vir die regte kind, op die regte tyd, is dit soos ’n lig wat aangeskakel word.”

Wat ook gehelp het, is dat ons haar in ’n klein laerskool geplaas het, haar met breingim-terapie laat begin het, en haar verantwoordelikhede in die huis gegee het en nie oorgeneem het as dit lank duur nie. Geleidelik kon ons sien hoe Anneke leer om haar lewe te organiseer. Sy maak vandag nog lysies en sy studeer deur opsommings te maak.

AANDAGGEBREK – DIE ANTWOORDE OP AL JOU VRAE
Oor aandaggebreksteurnis – sonder hiperaktiwiteit (AGS) of daarmee (AGHS) – is daar baie verwarring. Hier is alles wat jy nog altyd oor dié probleem wou weet.

Hoe weet jy jou kind ly aan AGS of AGHS?
Is Ritalin en sy nefies modemedisynes, ’n euwel waarna ouers en onderwysers gryp om woelige kinders te probeer beheer – of is dit wondermiddels?
En kan omega-3- en omega-6-aanvullings en dieetaanpassings hiperaktiwiteit laat verdwyn?
As jy een van daardie ouers is aan wie kommer oor ’n woelige kind al lank knaag, kan dié gids jou help om helderheid te kry. Dit bevat die jongste inligting oor aandaggebrek, gegrond op die nuutste internasionale navorsing en studies.

DIAGNOSE
Ly jou kind aan AGS of AGHS?

STAP 1 Verstaan die belangrike Agtergrondinligting
’n Stil dromer en ’n ooraktiewe kind kan aan dieselfde probleem ly. Volgens die jongste internasionale bevindings kan aandaggebrek drie hoofsimptome hê. Dit is:

  1. ’n Gesukkel om te konsentreer of om konsentrasie te behou en organisasieprobleme

  2. Hiperaktiwiteit

  3. Impulsiwiteit

Die hoofsimptome kan alleen of in kombinasies voorkom, wat beteken daar is basies drie groepe:

  1. Aandaggebrek sonder hiperaktiwiteit, oftewel AGS. Dis die stil dromers soos Anneke. Meer meisies as seuns is stil dromers.

  2. Aandaggebrek met hoofsaaklik impulsiwiteit en hiperaktiwiteit (AGHS). Dis gewoonlik aktiewe en woelige seuns soos Petrus.

  3. ’n Kombinasie-tipe waar die kind besliste konsentrasieprobleme het, maar ook tekens het van impulsiwiteit en hiperaktiwiteit.

Maar dis nie waar die probleme eindig nie. Gemiddeld 40 persent van die kinders met AGS of AGHS het ook leesen leerprobleme, depressie of ander probleme. (Kyk na stap 4.)

STAP 2 Ken die simptome
Beantwoord dié vrae oor . . .
KONSENTRASIE-SIMPTOME JOU KIND…

  • Sukkel om deeglike aandag aan fyn besonderhede te gee en maak dikwels onnodige foute in skool- en huistake.

  • Sukkel om op een taak te konsentreer.

  • Gee dikwels nie aandag of luister as jy direk met hom praat nie. sukkel om skooltake, huistake of ’n stel opdragte end-uit te voltooi, al verstaan hy wat hy moet doen en is hy nie rebels nie. is ongeorganiseerd en deurmekaar.

  • Vermy of haat take waar hy te veel moet dink. verloor dinge wat noodsaaklik is om ’n taak te voltooi, soos potlode, boeke en gereedskap.

  • Se aandag word maklik afgelei deur dinge wat niks met die taak te doen het nie, soos ’n hond wat blaf, ’n selfoon wat lui, musiek wat speel.

  • Is vergeetagtig as dit by alledaagse take kom.

As jy op ses van dié vrae “ja” antwoord, kan jou kind een van die “stil dromers” wees. Stil dromers is ongeorganiseerd en lewe dikwels in hul eie wêreld. Hulle sukkel om te beplan en take te voltooi.

Beantwoord nou dié vrae oor . . .
HIPERAKTIWITEIT EN IMPULSIWITEIT JOU KIND…

  • Vroetel voortdurend met sy hande of voete, of bly aan die wriemel.

  • Sukkel om in die klaskamer op sy stoel te bly sit. hardloop buitengewoon baie rond, of klim en klouter meer as ander kinders.

  • Sukkel om aan enige aktiwiteit deel te neem sonder om luidkeels te gil of hard te praat. Kan hy stilbly of saggies praat terwyl hy speel of iets doen?

  • Tree op asof hy deur ’n battery aangedryf word. praat buitengewoon baie.

  • Lap spontaan antwoorde uit voordat die vrae klaar gevra is. sukkel om sy beurt af te wag, of beurte te maak.

  • Onderbreek maklik gesprekke of speletjies deur te begin praat of hom in te wurm.

STAP 3 Help die spesialis
Daar bestaan nie iets soos ’n enkele of eenvoudige toets vir AGS of AGHS nie.

Die spesialiste – en hulle moet werklik kinder-psigiaters of pediaters wees, in samewerking met ’n kliniese sielkundige – moet jou kind in die teenwoordigheid van julle as ouers ondersoek en evalueer.

Aandaggebreksteurnis is kompleks, en die diagnose is gegrond op ’n baie spesifi eke en deeglike mediese ondersoek en evaluering.

AGS en AGHS het te make met chemiese wanbalanse in die brein wat reggestel moet word. ’n Kliniese sielkundige of onderwyser kan nie dié komplekse diagnose alleen maak nie.

Nie alle huisdokters het ’n groot genoeg belangstelling om dit te doen nie. Wees bedag op die onderstaande:

JA OF NEE??

  • Was die eerste tekens al teen jou kind se sewende verjaardag teenwoordig?

  • Is minstens ses van die simptome al minstens ses maande daar?

  • Is die simptome sigbaar op minstens twee plekke, byvoorbeeld by die huis en by die skool?

  • Belemmer die simptome jou kind se skoolprestasies of sy interaksie met maats of ander mense?

40% - Gemiddeld 40 per - sent van kinders met AGS of AGHS ly ook aan ander probleme.

STAP 4 Let nog fyner op
As jou kind een van die volgende probleme toon, kan behandeling en onderrigmetodes ingespan word om hom te help.

Leerprobleme. Lees- en leerprobleme en disleksie kom ses keer meer by kinders met AGS of AGHS voor as by ander kinders.

Teenkantingsteurnis en/of gedragsteurnis. Tekens hiervan is dat ’n kind vernietigend optree, sy ouers of onderwysers gedurig opponeer, maklik sy humeur verloor, ander treiter of weier om reëls na te kom.

Depressie. Dié kinders het dikwels woedeuitbarstings. Hulle is ook dikwels hartseer en huilerig, meng nie maklik met ander kinders nie, wil nie eet nie, kraak hulself af en het dikwels ook slaapprobleme.

Angstigheid. Sowat ’n derde van die kinders met AGHS ly ook aan angstigheid.

Tourette-sindroom. Sowat 75 persent van kinders met Tourette-sindroom het ook AGS of AGHS. Tourette-sindoom word gekenmerk deur herhalende, onwillekeurige bewegings soos om oë te knip of te trek, of om woorde of klanke te herhaal.

BEHANDELING
My kind het AGS/ AGHS, wat nou?

Watter behandeling werk?
Voordat ’n mens op hol raak oor Ritalin, is dit belangrik om te weet watter soort behandeling werklik ’n verskil kan maak.
Omega-3- en omega-6-aanvullings kan by tot 40 persent van die kinders ’n verskil maak. Dieetaanpassings help deels vir sowat 20 persent. Medisyne help vir 70 tot 80 persent jong AGS/AGHS-lyers.

Kinders het ook emosionele ondersteuning deur die ouers en ’n kliniese sielkundige nodig, want die steurnis het ’n uitwerking op skool-, gesins- en sosiale vlak.

Die kinders het ook ’n vaste roetine nodig om hulle te leer hoe om hul brein en dinge om hulle te organiseer. Ouers en die gesin moet dikwels baie opoff eringe maak om daarmee te help.

Alles oor die medisyne
Daar is drie hoofsoorte medisyne wat in Suid-Afrika ingespan word. Die medisyne vir kinders met AGS en AGHS werk op die brein in.

Daar is duidelike wetenskaplike bewyse dat AGS en AGHS die gevolg is van ’n foutiewe werking in sekere dele van die brein. In kinders met aandaggebreksteurnisse breek twee neuro-oordragstowwe, dopamien en noradrenalien, te vinnig af.

Dit veroorsaak te lae vlakke van dié stowwe in die dele van die brein wat impulsiwiteit en konsentrasie beheer. Weens die tekort sukkel die kinders om te konsentreer of om impulsiewe gedrag te beheer.

Die middels wat gebruik word, help om die vlakke van daardie oordragstowwe weer normaal te maak. Die middels word dus nie gebruik om dinge in die brein deurmekaar te krap nie, maar om die vlakke te probeer normaliseer, soos wat diabete insulieninspuitings gebruik om hul eie insulientekort aan te vul.

Een van die middels is Ritalin, wat spesifi ek help om die dopamienvlak in die brein te herstel. Ritalin werk vier uur lank, Ritalin LA ses tot agt uur lank en Concerta twaalf uur lank. Al drie bevat metielfenidaat, wat ’n opkikker-eff ek het.

Strattera is eers onlangs in Suid-Afrika goedgekeur. Dit is nie ’n opkikker nie en verbeter die aandagspan. Die eff ek duur 24 uur.

Sommige kinders met ’n kombinasie van simptome het meer as een middel nodig, terwyl nog ’n nie-opkikker, Tofranol, ook sommige kinders kan help. Van die middels het moontlike newe-eff ekte soos maag- of hoofpyn, ’n swak eetlus en emosionele uitbarstings wanneer die middel uitgewerk is.

“Onthou dat geen medisyne ’n kuur of wondermiddel is nie, maar ’n hulpmiddel. Al die kinders kan baie baat by die aanleer en toepas van tegnieke wat hulle kan help om hul gedagtes en lewe te orden. Bemagtig hulle maksimaal vir die lang termyn,” sê dr. Adri van der Walt, ’n Kaapse kinderarts.

Hoekom is ons so bang vir Ritalin?

Prof. André Venter, nasionale voorsitter van PANDA (Vereniging vir Pediatriese en Neurologiese Ontwikkeling) en hoof van pediatrie aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf:
Baie ouers voel ongemaklik met die idee dat hul kinders psigiatriese medisyne moet kry om hulle deur die skooldag te help. Hulle vra: “Onderdruk ’n mens nie dalk jou kind se natuurlike uitbundige persoonlikheid deur hom ’n middel soos Ritalin te gee om hom minder woelig te maak nie?”

En dan is daar ook die slegte publisiteit wat Ritalin deur die jare gekry het – aan die een kant omdat dit dikwels te vinnig en sonder genoeg rede deur dokters voorgeskryf word, aan die ander kant omdat dit inderdaad ’n omstrede middel is.

Dis ’n stimulant en geklassifi seer as ’n skedule 6-middel, omdat dit wel deur sommige mense misbruik kan word. Dit het ’n paar moontlike newe-eff ekte soos verlies aan eetlus en slaaploosheid.

Daarby word Ritalin soms onwettig deur kinders op skoolterreine gesmous omdat dit ’n opkikkerende uitwerking het. Dit word soms as dans-opkikker misbruik.

Natuurlik is Ritalin (en sy nefi es, soos Concerta) ’n middel wat nie ligtelik voorgeskryf mag word nie. Navorsing het egter bewys dat kinders wat Ritalin gebruik, nie méér geneig is om dwelmslawe te word nie.

Die teenoorgestelde is wel waar: Kinders met ernstige AGS of AGHS wat nie behandel word nie, kan later kwesbaarder wees vir die dwelmkultuur omdat hulle sukkel om sosiaal aan te pas.

’n Belangrike nuwe voorbehoud oor Ritalin is dat dit gevaarlik kan wees vir enkele kinders met onderliggende hartsiektes. Dis waarom ’n spesialis jou kind klinies moet evalueer en die hulp van ’n kardioloog kan inroep.

Dis te verstane dat ons versigtig is vir ’n middel wat voel of dit met ons kinders se kop smokkel. Maar wat is erger: die medisyne, of die angstigheid, vrees, selftwyfel en isolasie van ’n AGS/AGHS-lyer? Of dat hy dalk eendag ’n wanaangepaste grootmens gaan wees as sy leerprobleme nie nou aandag kry nie?

Ritalin, soos enige ander medisyne, moet versigtig voorgeskryf word. As dit nie werk nie, of as die neweeff ekte erger is as die probleem, bespreek dit met die kind se dokter. Maar dis nie ’n sonde om jou kind se lewe beter en makliker te probeer maak nie.

Sowat 40 – 60 persent van kinders met AGS of AGHS toon nog simptome in hul volwasse lewe en kan nie hul medisyne los nie

VIND MEER UIT

Die jongste nuus oor dieet en aanvullings

Baie ouers hoop dat as hul kind die regte kosse eet, hy sy medisyne kan los. Sommige groepe glo dat aandaggebreksteurnisse niks met die brein te doen het nie, maar alles met ensieme en die metabolisme van omega-3- en -6-vetsure.

Prof. C.F. van der Merwe van die departement gastroenterologie van Medunsa (Mediese Universiteit van Suid-Afrika) glo dat dié aanvullings die oplossing vir alle kinders met AGS of AGHS is aangesien dit vir sy eie kind gehelp het.

Nuwe studies toon dat omega-3- en -6-aanvullings vir tot 40 persent van kinders kan help. Probeer die regte aanvullers en gee jou kind vis wat ryk is aan omega-3-vetsure, soos ansjovis, sardyne, makriel, tuna, forel en salm, solank dit nie uit ’n blik met baie preserveermiddels kom nie. Dit kan vier tot ses maande duur voordat dit help.

Studies het ook getoon dat die uitskakeling van kosse wat preserveermiddels bevat 20 – 30 persent van kinders kan help. Dit is nie duidelik of dit ’n troosmedisyne (plasebo) is en hoe lank die uitwerking hou nie.

Verminder die preserveermiddels deur die volgende kosse te vermy of te beperk: aanmaak- en gaskoeldranke, nagereg (veral jellie), gerookte vis en geblikte groente, winkelkoekies en -gebak, visvingers, gekoopte hamburgerkoekies, margarien, tee en koffi e, alle kos wat in olie gebak is, sjokolade, lekkers, tjips, southappies, witbrood en geprosesseerde vleis.

Beperk ook die hoeveelheid suiker en soetgoed wat jou kind eet. Laat hom eerder vars vleis, vis en hoender en vars vrugte (veral pere en papaja) en groente eet, en onverfynde koolhidrate soos growwebrood, en melk en ander suiwelprodukte.

Moenie teleurgesteld wees as dit net vir ’n rukkie help nie. “As dit vir alle kinders met AGHS gehelp het, sou geen kind medisyne nodig gehad het nie,” sê Adri van der Walt.

JONGSTE DENKE
Die Amerikaanse sielkundige dr. Thomas Brown skryf in ’n splinternuwe boek Attention Defi cit Disorder: The Unfocused Mind in Children and Adults, dat baie mense wat net soms baie goed kan konsentreer en ’n klomp dinge gelyk kan doen – soos om met groot vaardigheid sokker te speel of ure aaneen televisiespeletjies te speel – maar meestal sukkel om take betyds af te handel as die onderwerp hulle nie boei nie, aan ’n afgewaterde vorm van AGS ly. Hy noem dit AGS-sindroom, en skryf dat medisyne en behandeling dié mense baie kan help om te presteer.

Vraag: Wat veroorsaak AGS/AGHS?
Antwoord:
Oorerfl ikheid, ’n breinbesering of fetale alkoholsindroom (FAS) kan tot die breinafwykings lei.

Aandaggebreksteurnisse kom ses keer meer by seuns voor as by meisies. Dit lyk of dit veral van pa na seun oorgedra word. Tog lyk dit al hoe meer of baie gevalle van aandaggebreksteurnis in meisies ongediagnoseerd verbyglip, omdat die meeste meisies van die stil dromer-tipe is.

Kinders met fetale alkoholsindroom doen breinskade op weens die ma se alkoholmisbruik tydens swangerskap. Hierdie breinskade kan tot verskeie probleme lei, insluitend AGS en AGHS.

Vraag: Hoeveel kinders het werklik Ritalin nodig?
Antwoord:
As meer as twee kinders uit ’n klas van veertig Ritalin gebruik, moet die ouers begin vrae stel.

HG-Pols het vasgestel dat Ritalin in sommige skole aan tot ’n derde van ’n klas voorgeskryf word terwyl net een uit twintig kinders dit werklik nodig het. Dis nie in ’n kind sonder AGS of AGHS se belang om medisyne te drink wat breinoordragstowwe kan verander nie.

Vraag: As dit nie AGS/AGHS is nie, wat kan dit dan wees?
Antwoord:
Dit kan emosionele of ernstige leerprobleme wees. Sommige kinders is oorgevoelig vir aanraking wat beteken dat alles wat teen hul lyfi es druk, hulle kriewelrig maak.

Ander moontlikhede is ’n lae spiertonus, vertraagde ontwikkeling, bipolêre steurnis, ’n tipe epilepsie of loodvergiftiging, om enkeles te noem. Dit kan ook wees dat die kind in ’n chaotiese huis grootword.

Vraag: Sal my kind met AGS/AGHS ooit iets bereik?
Antwoord:
Die meeste kinders met AGS of AGHS kan met medisyne en ander behandeling ’n vol lewe lei. Mense met AGS of AGHS het baie positiewe eienskappe. Hulle kan . . .

  • baie kreatief wees met goeie laterale denke. Baie word goeie navorsers;

  • nuuskierig en ware ontdekkers wees;

  • aktief en energiek wees; en

  • geesdriftig, spontaan en gretig wees om nuwe dinge te probeer.

Praktiese wenke vir ouers
Wat jy kan doen om jou kind met AGS/ADHS te help

Probeer dieetaanpassings en -aanvullings. As dit nie werk nie, en jou spesialis skryf medikasie voor, maak seker dat jou kind dit drink soos die spesialis dit voorgeskryf het sodat jy akkuraat verslag kan doen oor verbetering en newe-effekte.

Reël met jou kind se onderwysers dat hy voor in die klas sit. Leer hom om lysies te maak van dinge wat hy moet doen, inpak of moet saamneem.

Skep ’n vaste roetine by die huis. Eet op spesifi eke tye en leer jou kind dat hy op sekere tye sy huiswerk moet doen. Gee hom ’n wekker en plak ’n jaarbeplanner en kalender teen sy muur sodat hy kan leer om sy dag te beplan, en hy sportdae en musieklestye met een oogopslag kan sien.

Kyk of en hoe hy sy huiswerk gedoen het en maak seker dat hy sy take afgehandel het. Moenie ingryp nie. Laat hy dit self doen, al duur dit lank.

Die artikel is saamgestel met die hulp van prof. André Venter, dr. Adri van der Walt en ’n groot aantal mediese artikels.

Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.

Click here for more on ADHD


 
Previous article: Next article:
  Red 'n lewe met Heimlich
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese deurbrake
Kwale op die kassie
My lewe met borskanker
Oogappel of gifappeltjie?
Is jy op pad na jou eerste hartaanval?
Stents: Die tydbom in jou are
Die einde van doofheid
Ja, skrik maar vir margarien
Ag nee, sies man!
Fikse blitse op wiele
Dapper en stapper
G'n stywe spiere meer nie
Een, twee, drie, strek
Soet, soeter, soetste
Die wêreldbeker sonder boep
'n Tuisblypa duisend
Woera-warra of Ritalin?
Red 'n lewe met Heimlich
Aaaaaaatiesjoe op die lente
'n Kyk deur ander oe
In die kol
Skud jou moegheid af
Ons kundiges beantwoord lesersvrae
Ons kundiges beantwoord lesersvrae oor dieregesondheid
Kruiemiddels: Natuurlik skadeloos?
Slegs noodgevalle na ure
As depressie jou hart breek
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiks vir die Vis
Word fiks vir die Olifants
Ruim op
Redakteursbrief
 

 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement