Advertisement
Flu-O-Meter
Runny nose, sniffing and coughing? Find out what the flu status in your area is.
A trip down sensory lane
A quiet space with an incredible energy: ONEwellness is breaking new ground.
     TERMS     GET A DAILY HEALTH TIP  
  
MAKE HEALTH24 YOUR HOMEPAGE   
H24 NEWS MEDICAL SCHEMES DIET FITNESS NATURAL MAN WOMAN SEX PREGNANCY CHILD TEEN SUN
FOCUS CENTRES MEDS ORAL PET MIND GRAPHICS VIDEOS ANTI-AGEING WIN TOOLS EXPERTS TALK
 
 HG Pols Sept 2007
 
Soet, soeter, soetste

Heuning, suiker of kunsmatige versoeter: Watter een is die beste? ’n Kenner pluis al die navorsing uit
Deur die HG-Pols-verslagspan

HEUNING móét mos gesonder wees as suiker. Dis dan soetheid van die natuur.
Buitendien, almal weet tog suiker is ongesond. En kunsmatige versoeters soos aspartaam gee kanker, gaan kyk maar op die internet.

Watter een van hierdie stellings is waar? Of is hulle dalk almal vals? Daar is soveel stories oor die drie soorte soetmakers dat ons die dieetkundiges Karen Protheroe en Carol Browne gevra het om vir ons al die navorsing wat oor die onderwerp gedoen is, uit te pluis.

Om mee te begin, kan jy maar die heuning los as jy gedink het dit gaan jou gesondheid verbeter, sê Karen. Daarby kom sy vorendag met nog ’n hele klomp ander interessanthede wat jy vir jou vriende kan vertel wanneer julle weer oor soetgoed gesels.

1 Suiker
Suiker is ’n belangrike deel van ons eetplan vanweë die soet smaak en die energiegewende eienskap daarvan

TAFELSUIKER VEROORSAAK NIE DIABETES NIE

Tipe 1-diabete sal weens genetiese faktore ’n insuliengebrek ontwikkel, al sit hulle nie hul mond aan suiker nie.

Tipe 2-diabetes kom meestal onder mense voor wat oorgewig is ongeag of hulle baie of min suiker eet. Navorsing het ou mites weerlê en bewys dat klein hoeveelhede suiker (vier tot ses teelepels tafelsuiker) wat saam met ander kosse met ’n lae glisemiese indeks (GI) geëet word, soos ’n teelepel suiker saam met hawermoutpap, nie die insulienvlak die hoogte laat inskiet nie.

Die algemene benadering wat amptelik deur die American Dietetic Association, Suid-Afrikaanse dieetkundiges en die GIStigting onderskryf word, is deesdae dat diabete inderdaad daagliks ’n bietjie suiker kan geniet, mits hulle dit as deel van ’n lae- GI-maaltyd eet. ’n Teelepel suiker in tee of koffie sal jou insulienvlak net so veel laat styg soos ’n Marie-beskuitjie.

Waarskuwing
Babas en peuters moenie met ’n bottel melk, formulemelk, koeldrank, vrugtesap of soet tee in die mond gaan slaap nie. Dit is so ’n groot oorsaak van tandbederf by kinders dat dit al die naam “bababottel-sindroom” verwerf het.

Suiker is nie al wat jou vet maak nie. ’n Mens word vet omdat jy oor dae, weke en maande meer kilojoules inneem as wat jy verbrand.

Die liggaam berg alle oortollige kilojoules as vet, ongeag of dit van proteïene, suikers, stysels, alkohol of vette afkomstig is. Om gewig te verloor of jou gewig in toom te hou, moet jy maar net minder kilojoules inneem.

  • Suiker veroorsaak nie hiperaktiwiteit nie. Ondanks bewerings in die jare sewentig kon navorsers geen bewyse kry dat suiker die oorsaak van hiperaktiwiteit is nie.
    Tog is dit die beste om seker te maak dat kinders nie baie soetgoed op een slag eet nie, nie eens op ’n partytjie nie.
    Suiker en soetgoed moet bloot ’n deel uitmaak van ‘n ete of versnapering. Suiker en soetgoed is nie ’n maaltyd nie.

  • Suiker kan tandbederf veroorsaak as jy suiker- en styselkos eet wat maklik aan jou tande vassit en dan nie twee keer per dag jou tande met fluoriedtandepasta borsel en vlos nie.
    As jy egter minder as vyf keer ’n dag soetgoed, kraakbeskuitjies en droëvrugte eet, behoort jy die bakterieë wat tandbederf veroorsaak, op hul plek te kan sit.

HG-Pols se raad: Matige hoeveelhede suiker (vier tot ses teelepels per dag) is beslis nie ongesond nie, en volgens dieetkundiges en wetenskaplikes kan selfs mense wat gewig wil verloor soveel suiker per dag gebruik.

Selfs diabete kan ’n bietjie suiker gebruik, mits dit deel van ’n lae-GI-maaltyd uitmaak en hulle dit met hul dieetkundige of dokter uitklaar.

Let daarop dat jou insulienvlak skielik sal styg as jy hope suiker of soetgoed tussen maaltye eet. Indien dit wel saam met lae-GI-maaltye gebruik word, sal dit nie tot skielike insulienpieke lei nie, bevestig die dieetkundige Liesbeth Delport van die GI-Stigting.

Die sienings is in stryd met die uitsprake van die sogenaamde voedingsghoeroe Patrick Holford. Volgens dieetkundiges en voedingsnavorsers is Holford se uitsprake teen suiker fanaties en wetenskaplik ongegrond.

2 Heuning
Heuning lyk mooi en smaak lekker, maar is nie gesonder as suiker nie

  • Heuning is nie beter as suiker om mee te verslank nie. Dit is wel teelepel vir teelepel geskikter vir verslankers as suiker, maar daar is ’n vangplek.
    ’n Teelepel van 5 ml (4 g) suiker bevat 68 kJ, en ’n teelepel heuning 64 kJ, maar die meeste mense se heuningporsie is so groot soos ’n eetlepel van 15 ml. As jy ’n eetlepel heuning in jou tee drink pleks van twee teelepels suiker, kry jy ’n raps meer kilojoules in.

  • Heuning het dieselfde uitwerking op bloedsuikervlakke as suiker. Die samestelling van heuning is baie soos dié van tafelsuiker wat uit sukrosesuiker bestaan. Sukrose bestaan op sy beurt uit glukose en fruktose.
    Heuning bestaan byna 70 persent uit fruktose en glukose, en 30 persent uit ander suikers. Juis omdat die samestellings so eenders is, het dit byna dieselfde glisemiese indeks (GI) as suiker en sal dit jou bloed suikervlak net soveel soos suiker verhoog.

  • Heuning (en suiker) het geneeskrag. As jy dit op seerplekke smeer, sal die wonde gouer genees.
    Heuning en suiker kan bakteriële groei stuit en so infeksie keer. Heuning het nie as voedingsmiddel geneeskrag nie. Dit bevat te min minerale en vitamiene.

Waarskuwing
Heuning moet ook glad nie aan kinders jonger as ’n jaar gegee word nie omdat dit spore van die botulinumbakterie kan bevat en dus voedselvergiftiging kan veroorsaak. Gesteriliseerde heuning is verkrygbaar en is wel veilig vir kleintjies.

HG-Pols se raad: Gebruik heuning as jy van die smaak hou, maar weet dat dit nie gesonder as suiker is nie.

Suiker-alkohol: ’n ander soort versoeter

Sorbitol, mannitol, xylitol, maltitol-stroop, laktitol, isomalt en gehidrogeneerde styselhidrolisate is algemene suikeralkohole. Sommige word lankal in kougom gebruik.

’n Suiker-alkohol of poliool is nie ’n suiker nie, en ook nie alkohol nie, maar ’n koolhidraat met ’n chemiese samestelling wat deels met die struktuur van ’n koolhidraat en deels met dié van ’n alkohol ooreenstem.

Suiker-alkohol kan baie nuttig wees vir diabete en verslankers omdat hulle net gedeeltelik deur die liggaam opgeneem en verwerk word en dus minder kilojoules as suiker bevat.

Voorts is sommige poliole soeter as suiker en kan jy dus minder vir dieselfde soet smaak gebruik.

100 PERSENT
Koop heuning wat as 100 persent suiwer gemerk is. Dikwels word heuning met glukosestroop gemeng sonder dat die verbruiker dit weet en jy gebruik dus heuning-englukose- stroop as “heuning”.

Wat dan van FRUKTOSE?
Baie mense wat gesonder wil lewe, gebruik eerder fruktose as suiker omdat fruktose ’n laer GI het en dus nie die bloedsuikervlak heeltemal so vinnig soos suiker verhoog nie.

Dit is twee keer soeter as tafelsuiker, en ’n mens gebruik dus die helfte minder.

Fruktose is die suiker wat saam met glukose en sukrose in vrugte en groente voorkom.

Die meeste vorms van suiwer fruktose word uit mieliesuiker vervaardig.

Waarskuwing
Moenie meer as vier teelepels fruktose per dag gebruik nie; dit kan jou maag omkrap.

3 Kunsmatige versoeters
Hierdie laekilojoule-versoeters smaak baie na suiker, maar is baie soeter. Na gelang van die soort versoeter kan dit ’n paar honderd tot ’n paar duisend keer soeter as suiker wees

Versoeters is baie nuttig vir suikersiektelyers en verslankers. Juis omdat hulle so soet is, dra hulle min by tot die kilojoule-inhoud van die vrugtejogurt, koeldrank of ander produk waarby hulle gevoeg is.

Laekilojoule-versoeters met een oogopslag
Versoeter, Kilojoules, Hoe lank beskikbaar, Soeter as suiker, Handelsnaam

Asesulfaam-K, 0, 20 jaar, 200x, Canderel
Aspartaam, 4, 15+ jaar, 180x; Equal, Canderel, Huletts en Weigh-Less
Neotaam, 0, 2 jaar, 7 000x –
Saggarien, 0, 60+ jaar, 300x, Suganon, Sweet n Slim en Natreen
Sukralose, 0, 20 jaar, 600x, Splenda

HG-Pols se raad: Gebruik kunsmatige versoeters in matige hoeveelhede as jy aan suikersiekte ly, jou gewig in toom moet hou of bloot omdat jy dit verkies. Al het versoeters ’n laekilojoule-inhoud behoort jy nie agt pilletjies per dag te oorskry nie.

Laekilojoule-versoeters is honderde kere soeter as suiker

Versoeters veroorsaak nie kanker nie. Internetgebruikers word toegegooi onder waarskuwings oor die gevare van aspartaam en ander versoeters.

Volgens baie webtuistes toon navorsing, veral dié wat deur die Ramazzini-Stigting in Italië gedoen is, dat aspartaam in die mens omvorm word tot gifstowwe wat met brein- en klierkanker verband hou. Voorts word die gronde waarop aspartaam deur die Amerikaanse federale owerhede (FDA) goedgekeur is, bevraagteken.

Die Europese Kommissie se onafhanklike wetenskapkomitee het onlangs van meet af aan meer as 500 navorsingstukke wat tussen 1988 en 2001 gepubliseer is, bestudeer.

Dié komitee kon egter geen bewyse kry dat aspartaam verband hou met epileptiese aanvalle, veelvuldige sklerose, aandaggebreksindroom, depressie, hoofpyn, allergieë of breingewasse nie.

Die slotsom oor heuning, suiker en kunsmatige versoeters

  • Gebruik suiker in matige hoeveel hede (vier tot ses teelepels per dag) selfs al moet jy gewig verloor, maar as deel van ’n gebalanseerde dieet. Selfs diabete kan ’n bietjie suiker gebruik as dit deel is van ’n lae-GI-maaltyd en as hul dieetkundige saamstem.

  • Gebruik kunsmatige versoeters as jy meer as vier tot agt teelepels suiker per dag inneem, maar moenie meer as agt versoeterpilletjies of -poeiers (gelyk aan agt teelepels suiker) per dag gebruik nie.

  • Eet heuning by die klein maat as jy van die smaak hou.

  • Jy sal nie lank kan oorleef sonder om die een of ander vorm van koolhidrate in te neem nie. Alle suikers en stysels word in jou liggaam tot glukose afgebreek. Dus maak dit nie saak in watter vorm jy dit inkry nie. Glukose verskaf die energie vir alles wat jy doen: om asem te haal, te dink, te beweeg en om kos te verteer. Sonder glukose kan jou liggaamselle, en veral jou breinselle, nie oorleef nie.

Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.


 
Previous article: Next article:
Een, twee, drie, strek Die wêreldbeker sonder boep
Sign up
 *Daily tip
 Newsletter
 Special offers
*Stand a chance to win R1000 every month!
 OTHER ARTICLES
Mediese deurbrake
Kwale op die kassie
My lewe met borskanker
Oogappel of gifappeltjie?
Is jy op pad na jou eerste hartaanval?
Stents: Die tydbom in jou are
Die einde van doofheid
Ja, skrik maar vir margarien
Ag nee, sies man!
Fikse blitse op wiele
Dapper en stapper
G'n stywe spiere meer nie
Een, twee, drie, strek
Soet, soeter, soetste
Die wêreldbeker sonder boep
'n Tuisblypa duisend
Woera-warra of Ritalin?
Red 'n lewe met Heimlich
Aaaaaaatiesjoe op die lente
'n Kyk deur ander oe
In die kol
Skud jou moegheid af
Ons kundiges beantwoord lesersvrae
Ons kundiges beantwoord lesersvrae oor dieregesondheid
Kruiemiddels: Natuurlik skadeloos?
Slegs noodgevalle na ure
As depressie jou hart breek
Hg-Pols Blokraai Nommer 2
Spesiale Aanbod: NISSAN MICRA
Word fiks vir die Vis
Word fiks vir die Olifants
Ruim op
Redakteursbrief
 



 Sponsored links
 Health24 links

Advertisement
 Top Condition
 Centres