|
Dapper en stapper
Met krag in jou bene kan jy nuwe wêrelde oopstap. Jou
voete kan jou dra tot enige plek onder die sterre. Ons wys
jou ses roetes – van kafdraf tot klippekou – wat jy saam
met jou gesin of vriende kan aanpak en hoe jy jou kan
voorberei vir dié avontuur
Deur Fiona McIntosh en Pea Blaauw
ALMAL weet dis
goed vir jou hart en
elke orgaan denkbaar
om fiks te wees.
Maar nie almal is
lus om daarvoor op ’n trapmeul in ’n
gim te klim of doelloos op ’n band te
draf nie. Wat dan van ’n heel nuwe
avontuur: eko-fiksheid! Jy hoef jou
nie oor ’n boeg te oefen en niks van
jou fiksheid te geniet nie. Laat jou
bene jou dra na die sterrehemel oor
die Visrivier-ravyn in Namibië, deur
die woude en langs die strande op
die Otter-wandelpad, deur Groot
Vyf-grasvlaktes op die Olifantsroete
in die Krugerwildtuin, deur fynbos
op die Kaappunt-staproete of selfs die
Camino-pelgrimstog in die noorde
van Spanje.
Dis buitendien veel makliker
om te oefen en fi ks te word as jy ’n
spesifieke doel voor oë het, sê sportwetenskaplikes.
En terwyl jy soos ’n
outomaat die trapmeul-ding doen,
kan jy al begin dink aan die girts
van die grond onder jou stewels, die
grasse teen jou enkels, en ’n koel bries
oor jou arms.
Hier is jou gids tot ses staptogte
wat van ’n halwe dag tot weke kan
duur. HG-Pols sê ook hoe fiks jy
vir elke staptog moet wees. Ons gee
die roete-inligting, asook raad oor
stapskoene en rugsakke. Volledige
oefenprogramme is spesiaal deur ’n
biokinetikus ontwerp en verskyn op
www.health24.com.
Ses staproetes
1. Kaappunt-staptog
Hoe moeilik? Kinderspeletjies. ’n Maklike,
uur lange staptog vir melkbaarde en
sagtebaarde en gryskoppe met kieries.
Hoe fiks moet jy wees? As jy drie
maal om die blok kan stap sonder om soos
’n renoster te blaas, sal jy genoeg asem hê
om die natuurskoon te bewonder.
Roete? Van die boonste Kaappunt-vuurtoring
tot die Kaap die Goeie Hoopuitkykpunt.
Wat om te verwag: ’n Asemrowende
staptog met volop historiese hoogtepunte,
plante en diere om te sien. Parkeer
by Kaappunt (hou maar ’n ogie op die
bobbejane terwyl jy uitpak – hulle het
lang vingers!) en maak jou gereed vir ’n
fris stappie na die boonste vuurtoring.
Op ’n mooi dag is die uitsig oor Valsbaai
en die Kaap die Goeie Hoop-reservaat
uitstekend! Stap dan na die onderste
vuurtoring – dis ’n stappie wat jou nie
langer as ’n uur heen en weer behoort te
neem nie. Sluit jou uitstappie af met ’n
wandeling langs die fynbos-begroeide
rotse bokant Dias-strand waar die dassies
in die son sit en bak, na die Kaap
die Goeie Hoop-uitkykpunt. As iemand
jou hier met die motor kan oplaai, knap
gedaan! Andersins kan jy gerus terugstap
– die pad terug bied ’n ander uitsig.
Koste? Toegang is R55 per persoon.
Besprekings? is nie nodig nie. Bel 021-
780-9204 of gaan na www.tmnp.co.za
vir nog inligting.
Watter sak en stewels? ’n Klein 20 L- of 22 L-dagsak en enige stapstewels
of sportskoene sal geskik wees, tensy dit nat is (wat dikwels die geval is). Skaf
in daardie geval ’n paar Hi-tec V-lite Quik Sierra-skoene (R750 vir mans/R699 vir
vroue) of die Salomon XA Pro 3D XCR-skoene (R999) aan.
Die Kaappunt-roete is nie al een vir ’n maklike en
kort staptog nie. Ander asemrowende roetes is by
Golden Gate en Rosendal in die Vrystaat
Click hier vir 'n oefenprogram vir beginners.
Stappers wat relatief fiks is kan hierdie oefenprogram volg.
Volg hierdie oefenprogram as jy reeds lekker fiks is.
2. Die Olifantsrivier staptog, Krugerwildtuin
Hoe moeilik?
Harde bene. Dis ’n vierdag-drienag-staproete en strek
oor 42 km. Maar as jy jou rugsak, slaapsak, tent, mat, kos, water en
kookgoed self oor ongerepte terrein moet dra, kan 42 km vér word.
Hoe fiks moet jy wees?
As jy binne twee uur sowat 10 km kan
stap met ’n rugsak wat 12 –15 kg weeg sonder dat jou skouers, rug
en bene oppak, behoort jy genoeg energie te hê om vinnig in ’n
boom te klim as ’n leeu agter jou brul. Onfikses moet minstens drie
maande voor die staptog begin oefen.
Roete? Al langs die Olifantsrivier in die ooste van die park naby die
Mosambiek-grens.
Wat om te verwag? Volgens SANParke is die roete ontwerp om
“ ’n fi siek uitdagende wilderniservaring” te bied – wees dus gewaarsku!
Daar is nie groot heuwels nie, maar die terrein is klipperig en jou
sak gaan swaar wees. Op ’n tipiese dag sal jy 15 km tussen 6:30 en
16:30 afl ê, wat ses uur se stap en vier uur rus behels. Die roete is oor
die algemeen droog en stowwerig met aansienlik wisselende dagtemperature
– dit kan 40 grade C in die hitte van die dag wees tot
byna vrieskoud saans, wees dus voorbereid. O, en het ons genoem
dat jy Groot Vyf-wêreld gaan betree? Maar moenie bekommerd
wees nie, twee gewapende wildbewaarders vergesel elke groep.
Koste? R9 600 vir ’n groep (maksimum van agt stappers).
Besprekings? SANParke, tel. 012-426-5117, of gaan na
www.sanparks.org.
Watter sak en stewels? Aangesien jy in grootwildwêreld
is, is ’n tent noodsaaklik! Kragmanne kan ’n
rugsak kies van 70 L met genoeg pakplek, kompartemente
en kantsakke. Skaf ’n 60 L-rugsak aan vir vroue
en dié wat ligter in die broek is. Kies veerligte stewels,
roete-drafskoene of ’n ligte stapskoen.
Click hier vir die volledige oefenprogram.
3. Die Otter-wandelpad, tuinroete
Hoe moeilik?
Harde bene. Die Otter-wandelpad in die Tsitsikamma
Nasionale Park strek oor vyf dae en vier nagte. Dit mag dalk
die beroemdste staproete in Suid-Afrika wees, maar dis beslis geen
piekniek nie.
Hoe fiks moet jy wees?
As jy 10 km binne twee uur kan
kafdraf met ’n rugsak wat 12 kg weeg, sal jou bene jou deur
die woude, rivierlope en op die
strande kan dra.
Roete? Dit begin by die Stormsrivier-
gedeelte van die Tsitsikamma
Nasionale Park en strek langs ’n
asemrowende kuslyn. Stap verby
kranse bedek met geurige fynbos,
deur ’n inheemse woud en verby
sanderige grotte met rotse wat uitgekerf
is deur die wind en branders.
Dié roete eindig sowat 42,5 km
verder op die pragtige strand van
Nature’s Valley.
Wat om te verwag: Daar is ’n
paar steil klimme, en ’n paar interessante
rivierkruisings waar – as jy
die laaggety misloop – jy sal moet
oorswem! ’n Roete vir fi ks, sterk stappers en natuurliefhebbers, dus.
Die voëllewe is fantasties, daar is pragtige rotspoele, en dolfyne
en walvisse baljaar gereeld in die waters. In vergelyking met die
Visrivier- of Olifantsroete is dit taamlik luuks met vier hutte wat
spog met pragtige uitsigte asook gemaklike beddens en matrasse,
’n braaiplek, vuurmaakhout en selfs ’n stort.
Koste? R525 per persoon.
Besprekings? SANParke, tel. 012-426-5111, of gaan na www.sanparks.org.
Watter sak en
stewels? ’n Rugsak
van 60 liter vir mans
of ’n 40/50 L-rugsak vir
vroue sal groot genoeg
wees sodat jy ’n paar
luukshede ook kan
inpak. Indien dit nie 100 persent
waterdig is nie, sit alles
binne-in ’n swart vullissak vir
ekstra beskerming teen die
elemente en rivierkruisings.
Dit kan enige tyd van die jaar
hier reën, dra dus liggewigen
waterdigte stewels.
Jy kan dieselfde oefenprogram volg as vir die Olifantsrivier staptog.
4. Die Visrivier-ravyn, Namibië
Hoe moeilik?
Harde bene en klippe kou. Los liewer vir skoonma
tuis – die kans is goed dat jy haar en haar rugsak sal moet help dra.
Hoe fiks moet jy wees?
Jy moet tien stelle trappe kan klim met
’n rugsak wat 15 kg weeg en nog 10 km binne twee uur met die rugsak
op jou rug kan stap. Dan mag jou asem nie jaag nie en moet jy ná
’n uur se blaaskans reg wees om nog 10 km binne twee uur af te lê.
Roete? Jy’s op jouself aangewese op hierdie vier tot vyf dae lange
roete van 90 km wat strek van Hobas tot Ai-Ais in die suide van Namibië.
Dit word dus slegs aanbeveel vir ervare, selfstandige stappers.
Daar is water in die rivier, of as dit droog is, soos vanjaar, is daar waterpoele.
Daar is egter geen beskutting nie. Dus moet alles wat jy nodig
het, op jou rug gedra word en kampeer jy onder die sterre.
Wat om te verwag? Die geologie van die ravyn is fassinerend. Jy
kan nie anders nie as om beïndruk te wees met die lae windverweerde
sandsteen wat die rotswande uitmaak. Maak jou gereed vir steil,
selfs glyerige afdraandes van 500 m die eerste dag. Dié stywe stappie
na die dieptes van die ravyn is die ergste (veral omdat jy nog nie jou
voorraad begin gebruik het nie en dus nog swaar dra). Party plekke
het darem kettings om jou te help. Daarna wag daar ’n rowwe terrein.
Maak jou maar reg daarvoor om taamlik gereeld van rots tot rots te
spring en deur sand te stap tot jy die oase by Palm Springs bereik. Die
laaste paar dae is darem taamlik rustig – met die wonderlike vooruitsig
dat jy jou moeë lyf sal kan lawe in die warmbron by Ai-Ais.
Koste? R100 per persoon vir die roete plus R60 per persoon vir elke
24 uur wat jy in die nasionale park deurbring.
Besprekings? Namibia Wildlife Resorts, tel. 021-422-3761, e-pos
ct.bookings@nwr.com.na, of gaan na www.nwr.com.na. Moenie vergeet
om hul uitstekende en noodsaaklike roetekaart in te pak nie!
Watter sak en stewels? ’n Rugsak van 70 L vir die
hardebaarde en ’n 50 of 60 L-sak vir vroue. Jy kan ’n liggewigstewel
kies, maar ’n stewel met ’n stewige sool sal
help met die rotsspronge.
Click hier vir die volledige oefenprogram
5. El Camino-staptog
SPANJE
Hoe moeilik?
Uithouer, aanhouer. ’n Afstand van 800 km deur
die Spaanse platteland in twee maande.
Hoe fiks moet jy wees?
As jy ’n week lank elke dag met gemak
10 km met 10 kg op jou rug kan stap, is jou kop deur.
Roete? Jy sal stap deur ’n bewaringsgebied wat die Knysna-woud
– tuiste van die byna mitiese Knysna-olifante – verbind met die
Addo Nasionale Park. Dié begeleide staptog deur onder meer die
Baviaanskloof geskied slegs een keer per jaar (in September).
Wat om te verwag? Dit kan nogal ’n groot fi sieke uitdaging bied,
maar daar is ’n logistieke span wat dinge aansienlik makliker maak
deur al jou maaltye te verskaf. Boonop sal tentkampe, kompleet
met storte, jou aan die einde van elke dag se roete begroet. Jy hoef
dus net met ’n dagsak op die rug te stap en kan dalk buff els en
reuseskilpaaie raakloop.
Koste? R13 800 per persoon vir die hele staptog. Dit sluit alle maaltye,
verblyf, parktariewe, gidse en vervoer in.
Besprekings? Bel 044-356-2825 of gaan na www.edentoaddo.co.za.
Click hier vir 'n oefenprogram vir beginners.
Volg die oefenprogram as jy reeds relatief fiks is.
Hierdie oefenprogram is vir die fiksse stappers.
SUID-AFRIKA SE EIE ‘CAMINO’
Die Eden tot Addo-staptog
Hoe moeilik?
Hou bene hou! Dié taai staptog is ál langs viertrekspore
en -roetes en deur bosse.
Hoe fiks moet jy wees?
As jy sewe dae agtereenvolgens 10 km
bult-op en bult-af kan stap, kan jy dié staptog oor 380 km aandurf.
Dis die langste staptog van sy soort in die land en duur agttien dae.
Roete: Die Camino de Santiago, die Weg van die Heilige Johannes,
is meer as bloot ’n staproete. Dis ’n geestesreis wat in die voetspore
volg van een van die belangrikste pelgrims van die Middeleeue. Die
gewildste roete (daar is ’n paar variasies) strek van die Franse grens
by St. Jean Pied de Port in Frankryk, oor die Pireneë tot by Santiago
de Compostela in die noordooste van Spanje – sowat 800 km wat
kronkel deur pragtige plattelandse dorpies.
Wat om te verwag? ‘n Rustige reis te voet is ’n wonderlike
manier om Spanje te verken. Die meeste stappers slaap in skuilings
wat deur die pelgrims gebruik is (bring jou eie slaapsak) en jy kan ook hier kos koop. Dit kos sowat €5 (R49) per nag. Jy kan egter ook in gastehuise bly of die roete doen per luukse begeleide toer.
Hoewel die roete nie te uitputtend is nie en jy in ’n mate kan besluit
hoe ver jy elke dag wil stap, vereis ’n lang staptog van dié aard wel ’n
groot mate van fiksheid – fisiek en geestelik. Boonop kan dit bedags
baie warm raak as jy die roete in die somer (die droë maande)
aanpak. As jy nie tyd het vir die hele pelgrimstog nie, kan jy net die
laaste 100 km in sowat ’n week aflê.
Koste? Begroot sowat €15 – €20 (R146 – R195) per dag vir verblyf,
kos en ander benodigdhede.
Besprekings? is nie nodig nie, maar verblyf in die skuilings is vir
dié wat eerste daar is. Gaan na www.santiago-compostela.net vir
meer inligting.
Watter sak en stewels? ’n Rugsak van 40 L is
ideaal. Die geheim om die Camino te geniet, is om lig
te reis. Waterdigte stewels is perfek. Die grootste deel
van die roete is op teerpad, dus is gerief belangrik.
Jy kan dieselfde oefenprogram volg as vir die Visrivier-ravyn.
KIES ’N RUGSAK
Kies ‘n ligte sak
met ’n verstelbare
band sodat jy dit hoër
op jou rug kan dra
wanneer jy oor rotse
moet klouter.
Pak die swaarste
goed heel onder, want
as jou swaartepunt te hoog is,
sal jou sak jou van balans af trek.
WENWENK: Die goue reël is om nooit meer as
25 persent van jou liggaamsgewig te dra nie.
OEFEN MET DAPPER EN
STAPPER
Deur Pea Blaauw,
biokinetikus
- Begin minstens twaalf tot veertien weke voor jou staptog
met ’n oefenprogram. Begin stadig en word algaande fi kser
en sterker. Stap vier keer per week, en stap die eerste week
’n kwart van die totale afstand van jou roete met ’n kwart
van jou rugsak se gewig (maar dit geld nou nie vir die
Camino-voorbereidings nie, want dan sal jy pê wees voor jy
behoorlik aan die gang is). Stap dan elke week meer sodat jy
aan die einde van die vyfde week omtrent die helfte van jou
roete met die helfte van jou rugsakgewig aflê.
- Maak elke vierde week ’n “rusweek”. Dis belangrik dat jy dié
week “rus” en dan die daaropvolgende week weer ’n taai
week maak. Vir die Olifantsroete sal jy byvoorbeeld begin met
altesaam 16 km in die eerste week en 53 km in week elf. Die
twaalfde week kan weer ’n rustige week wees.
- Om voor te berei vir die Vis moet jy beslis trappe op- en afklim
om jou bobeenspiere sterk te maak vir die rem-rem loop teen
die groot afdraande op die eerste dag van die staptog.
- Hoe fikser jy is, hoe meer gaan jy die stap geniet. Mense sal
dalk die program met baie minder oefening kan voltooi, maar
dis nie lekker om te stap as jy seer en styf en jou voete vol
blase is nie. Jy wil ook nie die een wees vir wie die ander stappers
die hele tyd moet wag nie.
- Gesels met mense by Cape Union Mart, Cape Storm en soortgelyke
plekke sodat jy eerstehandse raad kan kry.
- Indien jy spesiale skoene gaan aanskaf om die roete mee aan
te pak, moet jy minstens 5 6 keer met die skoene gaan stap
sodat dit nie blase op die stap veroorsaak nie. Probeer ook
om ’n paar keer te gaan stap op dié tye wat jou staptog gaan
plaasvind (9:00 tot 13:00) sodat jy aan die hitte gewoond kan
raak en kan sien hoe jou klere reageer as jy begin sweet.
- Probeer ook om minstens vier tot ses keer redelike lang staptogte
af te lê sodat jy kan agterkom hoe jou liggaam reageer
as dit warm word en jy begin moeg raak.
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid
|