|
Die einde van doofheid
Met die jongste tegnologie hoef geen dowe kind meer
in ’n stil wêreld vasgevang te bly nie. Kyk ’n bietjie wat
is alles deesdae beskikbaar om jou kind te help
Deur die HG-Pols-verslagspan
Stel jou ’n wêreld voor waar dowe kinders
met die hulp van tegnologie saam
met hul horende maats in die klaskamer
kan sit of op die speelgrond al jillend kan
rondhardloop.
So ’n wêreld is nie wetenskapsfiksie nie,
sê kundiges. Dis iets wat ons vandag al kan regkry – as ons
dit net kon bekostig en planne wat internasionaal beproef
is, kan implementeer.
Vroeë opsporing van doofheid en gesofi stikeerde nuwe
tegnologie stel oudioloë en dokters in staat om dowe
kinders te leer hoor en praat, selfs al het hulle minder as
1 persent gehoor.
As gehoorverlies gediagnoseer kan word voor ’n baba ses
maande oud is, kan ouers geleer word hoe om hul baba se
brein te ontwikkel en hom te leer praat
voor die brein sy vermoë verloor om ’n
nuwe taal aan te leer, sê die oor-, neusen
keelspesialis dr. Derrick Wagenfeld
van Somerset-Wes. Hy is betrokke by
pogings om dowe kinders weer te laat
hoor, asook by die Tygerbergse Carel
du Toit-sentrum vir spraakontwikkeling
in Kaapstad. En volgens Lida Müller,
oudioloog by die Tygerberg-hospitaal,
is dié vroeë opsporing van kardinale
belang, want daar is net ’n kort venstertydperk waarbinne
’n baba optimaal gehelp kan word.
Studies het bewys dat kinders wat voor ses maande
gehoorapparate kry en in habilitasieprogramme ingesluit
word, binne vyf jaar net so goed soos hul horende maats
kan gesels. Hoe gouer die breinbane vir gehoor en taalontwikkeling
dus gestimuleer word, hoe beter kan ’n kind leer
om normaal te hoor en te praat.
Die toetse om vas te stel of ’n baba gehoorgestrem is, is
vinnig en eenvoudig – geen wonder dus dat Amerikaanse
ouers verplig word om ’n gehoorsiftingstoets op alle pasgebore
babas te doen nie.
As gehoorgestremdheid vroeg gediagnoseer word, kan
die kind al as baba ’n kogleêre inplanting of ander gehoorhulp
kry – en dié toestelle is deesdae so gesofi stikeerd dat
dit kinders omtrent heeltemal normaal kan laat hoor.
Maar in Suid-Afrika word die meeste kinders se gehoor
te laat getoets. Nou beywer ’n groep oor-neus-en-keelartse
en oudioloë hulle om gehoorsifting
vir pasgebore babas verpligtend te
maak, maar hulle was tot dusver nog
nie suksesvol in alle staatshospitale nie.
Die meeste private hospitale voer
’n eenvoudige gehoorsiftingstoets
uit op babas van twee dae oud as
die ouers toestemming gee. Mediese
fondse betaal vir die toets. By sommige
akademiese hospitale word dié
toets gratis op babas met ’n hoë risiko
vir gehoorprobleme gedoen. So ’n verpligte gehoortoets
kan die eerste stap wees om permanente gestremdheid
weens doofheid iets van die verlede te maak, sê Laurette
du Preez, hoof van die Tygerbergse Carel du Toit-sentrum.
Die Carel du Toit-sentra (hulle is oor die land versprei)
het ’n omvattende habilitasieprogram, so genoem omdat
dit nie die gehoor herstel nie, maar
dowe of hardhorende kinders so goed
moontlik laat hoor. Die span wat help,
sluit oor-neus-en-keelspesialiste, oudioloë,
spraakterapeute, onderwysers,
maatskaplike werkers, sielkundiges en
die ouers in.
Die gehoorsiftingstoets kos R72.
Volgens Laurette speel die koste ’n rol,
maar is die grootste struikelblok die
gebrek aan goeie primêresorgdienste,
veral op die platteland. “Die regering sal die toets nie sommer
verpligtend maak nie, omdat primêresorgdienste nog
nie gevestig is nie,” sê Laurette.
Die tweede groot faktor wat in baie dowe kinders se
gehoor-pad staan, is die hoë koste van kogleêre inplantings.
Teen R185 000 is dit werklik peperduur, maar dit kan
beteken dat die kind uiteindelik normaal sal kan praat en
in ’n hoofstroomskool sal kan skoolgaan.
Verskeie jong Suid-Afrikaanse kinders wat reeds as babas
of kleuters kogleêre inplantings ontvang het, kan nou hoor.
Van dié kinders is in hoofstroomskole, gesels met normale
stembuigings, bel hul maats op selfone en kan gesprekke
hoor in raserige klubs waar hulle dans op die maat van
musiek. Was dit nie vir die relatief onopmerklike gehoorapparate
agter hul ore nie, sou ’n mens moeilik kon glo dat
enigeen van hulle ’n gehoorprobleem het. Dis amper ongeloofl
ik dat party van hulle minder as
een persent gehoor gehad het. Byna al
die kinders met wie HG-Pols gepraat
het, het ’n groter gehoorverlies as duisende
ander Suid-Afrikaners wat met
gebaretaal en liplees kommunikeer.
Maar hoe is dit moontlik dat ’n dowe
baba kan leer hoor? Wyle professor
Carel du Toit, toenmalige hoof van die
departement oor-neus-en-keelkunde
aan die Universiteit van Stellenbosch
en die Tygerberg-Hospitaal, het met baanbrekerswerk bewys
dat daar by byna elke dowe kind nog ’n klein bietjie gehoor
behoue gebly het.
Hy het ook geglo as jy dié bietjie oorblywende gehoor
met ’n gehoorapparaat versterk, kan jy ’n dowe kind leer
hoor en normaal praat. Hy het dit selfs bewys in die era
voor kogleêre inplantings en digitale gehoorapparate. Nou
maak kogleêre inplantings die proses makliker, maar is dit
steeds noodsaaklik om dit binne die kritieke venstertydperk
te doen.
Dit is ’n tragiese feit dat net een uit elke vyf Suid-Afrikaners
wat ’n gehoorapparaat benodig, dit kan bekostig, en
dat die ander vier om hierdie rede nooit sal hoor nie.
Wat is ’n kogleêre inplanting?
Met dié operasie word ’n ontvanger in die skedelbeen
agter die oor ingeplant. Dit kry impulse
van buite via ’n lugdraad wat ook onder die vel
ingeplant word. Altesaam 24 elektrodes loop van
dié toestel deur die skedelbeen tot naby die gehoorsenuwee.
Die buitenste deel van die toestel
bestaan uit ’n mikrofoon, ’n spraakverwerker wat
klanke ontleed en dan kodeer en ’n toestel wat
die inligting na die ontvanger oordra. Kogleêre
inplantings word gedeeltelik of volledig deur
mediese fondse gedek.
R72 Dit is
die koste
van ’n gehoortoets
op pasgeborenes
wat doofheid iets
van die verlede
kan maak.
Die algemeenste oorsake van
gehoorverlies by kinders
Die jongste ontwikkelings in
Gehoortegnologie
- Kragtige gehoorapparate. Gehoorapparate kan klank só
versterk dat jy doeltreff end kan kommunikeer al het jy minder
as 1 persent gehoor.
Digitale tegnologie is baie beter as die ou
analoë klanke. Dit het tot ’n geweldige verbetering in klankgehalte
gelei. Die pryse wissel van R2 500 tot R40 000.
Kogleêre inplantings. Die tegnologie is so goed dat
mense wat teoreties totale gehoorverlies het, weer kan hoor.
Die inplanting kos omtrent R185 000.
Koordlose FM-stelsels. Die stelsel skakel agtergrondgeraas
uit en is ontwerp om kinders met gehoorapparate of ’n
kogleêre inplanting in ’n klaskamersituasie te help. ’n Mikrofoontjie
wat aan die kraag van die spreker vasgeknip word,
vang die onderwyser se stem op en stuur die klankgolwe
op koordlose wyse direk na die kind se gehoorapparaat of
spraakprosesseerder. Die kind hoor die onderwyser se stem
direk deur die FM-ontvanger in sy oor. Die pryse wissel van
R7 000 tot R25 000.
Spraakherkenning. Sommige digitale gehoorapparate het
hierdie funksie en kan onderskei tussen spraak en geraas.
Spraak word herken en die steuring van agtergrondklanke
word verminder.
Rigtingfokus. Sekere gehoorapparate en spraakprosesseerders
kan gestel word om klank op te vang in die rigting
waarin die persoon kyk. Dié program in die spraakprosesseerder
van die kogleêre inplanting is in staat om te onderskei
tussen voorgrond- en agtergrondklanke.
Keer só
Middeloorontsteking
Middeloorontsteking is een van die
algemeenste voorkombare oorsake
van gehoorverlies.
Kinders kry maklik middeloorinfeksies omdat hul oorkeelbuisies,
verantwoordelik vir die inlaat van lug en die
wegvloei van vog wat tydens griep of verkoue in die middeloor
opbou, nou is en maklik verstop. Bakterieë en virusse
beweeg sonder moeite van die neus en keel na die middeloor.
Vog wat in die middeloor ophoop, is ’n ideale broeiplek
vir bakterieë. Oorpyn ontstaan weens die ontsteking en
groot drukking teen die trommelvlies.
Voorkom middeloorontsteking deur nie jou baba of
kleuter met ’n bottel bed toe te laat gaan nie, want melk
wat in die oor inloop, kan tot infeksie lei.
Moet ook nie kinders met oorpypies (grommets – sien
illustrasie) sonder goeie plastiek- of silikoonoorpluisies laat
swem of bad nie. As water met bakterieë in sy middeloor
beland, is verdere oorinfeksies en doofheid dalk sy voorland.
Maak seker
dat jou kind
kan hoor
As jou kind nie die volgende
dinge kan doen nie, moet jy
sy gehoor laat toets:
Geboorte tot 6 maande
JOU BABA MOET . . .
- skrik wanneer hy harde geluide hoor;
- wakker word wanneer hy ’n harde
geluid hoor.
6 tot 12 maande
JOU BABA MOET . . .
- reageer wanneer jy sy naam roep;
- sy kop na die bron van klank draai;
- reageer op speelgoed wat musiek
of ’n matige geraas maak.
12 tot 18 maande
JOU BABA MOET . . .
- bewus wees van en reageer op musiek;
- minstens tien woorde kan gebruik.
1½ tot 2 jaar
JOU BABA MOET . . .
- woorde kan saamvoeg in kort frases;
- name van gesinslede herken.
3 tot 5 jaar
JOU BABA MOET . . .
- daarvan hou om na liedjies en
stories te luister;
- enige oor kan gebruik as hy oor die
telefoon praat.
Het jy geweet?
Tot twee derdes van oorpypies, wat self
die oordrom kan beskadig en tot doofheid
kan lei, word onnodig ingesit.
Dokters van Pittsburg in Amerika het in
’n groot studie op meer as 6 000 kinders
wat tussen ses maande en twee jaar oud
is, bewys dat twee derdes van oorbuisies
onnodig ingeplaas word. Middeloorontsteking
het binne ses maande by tweederdes
van die kinders opgeklaar met
antibiotika-behandeling.
As jy langer as 15 minute
aan geraas van 100 desibel
blootgestel word, kan dit
jou gehoor beskadig.
Carel du
Toit-sentra
in Suid-
Afrika
Dié sentra bied
’n spesiale habilitasieprogram
aan wat dowe
en hardhorende
kinders help
om te hoor. Die
program sluit
individuele
aandag aan elke
kind in, en word
deur elke kind
se behoeftes
bepaal. Dit
behels altyd ’n
gehoorapparaat
en dikwels
ook ’n kogleêre
inplanting. Die
rolle van die
spraakterapeut
en die ouers
is deurslaggewend.
TYGERBERG:
021-983-5303
PRETORIA:
012-361-4710
BLOEMFONTEIN:
051-405-2712
OOS-LONDEN:
043-709-1227
DIE CAREL DU TOITWEBWERF:
www.careldutoit.co.za
Luister na gehoorgestremde Gerhard van der Merwe se verhaal
Hearing management centre
|