|
Stents: Die tydbom in jou are
Skoknuus oor die gevaar van ’n nuwe soort stent, wat
die afgelope twaalf tot agttien maande regoor die
wêreld en ook in Suid-Afrika gebruik is, kom nou broksgewys
in mediese joernale aan die lig
Die eerste tekens dat ’n
nuwe soort stent onvoorsiene
gevare kan inhou
en tot die dood van meer
mense kan lei as wat verwag is, begin
nou duidelik word. Dit blyk dat middel-
vrystellende stents enigiemand
wat dit ontvang het, ’n wandelende
tydbom kan maak. Dit kan skielik tot
’n groot hartaanval of onbedaarlike
bloeding lei.
Die jongste waarskuwings dat
die stents nie so veilig is as wat
aanvanklik gemeen is nie, kom uit Nederland.
Besorgde kardioloë van dié
land rapporteer in die Julie-uitgawe
van Journal of the American College
of Cardiology dat byna ’n derde van
hul pasiënte binne 32 maande nadat
hulle die nuwe stents ontvang het,
gesterf het. Nie een pasiënt wat ’n
kaal-metaalstent ontvang het, het in dié
tyd gesterf nie.
Die studie is op net 75 pasiënte
gedoen en word deur sommige spesialiste
as alarmisties bestempel. Die
bevindings volg egter kort op die
hakke van sewe artikels in die Maartuitgawe
van die gesaghebbende
Amerikaanse mediese joernaal The
New England Journal of Medicine oor
die eerste skok-sterftes weens neweeff
ekte van die nuwe stents.
Amerikaanse kardioloë is besorg
oor hierdie toedrag van sake. Ondersoeke,
verdere studies en deeglike ontleding van die data word nou in
Amerika en Nederland aangevra om
vas te stel of die fout by die stents of
by die dokters lê. Het die stents nuwe
komplikasies? Het die kardioloë die
stents in mense ingeplant wat dit nie
moes kry nie? Was die narkotiseurs
nie bedag op die komplikasies nie?
Dié vrae moet beantwoord word.
Volgens die oorsese verslae kan die
middel-vrystellende stent ’n invloed
hê op die lewe van alle Suid-Afrikaners
wat dit die afgelope 12 tot 18 maande
ontvang het.
Sommige Suid-Afrikaanse spesialiste
is baie besorg oor die gevare van
die nuwe stent en sê dat hulle nie sal
toelaat dat dit in hulle ingeplant word
voor langtermynstudies uitgevoer is
nie. Ander spesialiste meen dit is veilig.
Selfs laasgenoemde groep maan teen
die gebruik daarvan in enigiemand
wat binne ’n jaar ná die inplanting
’n operasie moet ondergaan.
’n Ondersoek deur HG-Pols het
aan die lig gebring dat minstens drie
mense wat die nuwe stents ontvang
het, die afgelope ses maande in
Kaapstad dood is. Een was ’n man wat
’n paar maande ná sy stent-inplasing
’n klein operasie moes ondergaan. Hy moes die sterk antistolmiddels
wat mense met middel-vrystellende
stents moet drink, staak om
te voorkom dat hy tydens die operasietjie
baie bloei.
Maar binne twaalf
uur sonder die bloedverdunningsmiddel
het ’n groot bloedstolsel in sy
hart gevorm en het hy ’n hartaanval
gekry. Toe die dokters antistolmiddels
inspuit om die bloedstolsel op te los
in ’n poging om sy lewe te red, het hy
onbedaarlik begin bloei.
Dit is tipies van die gevallestudies
wat nou een ná die ander deur Amerikaanse spesialiste beskryf word.
Die nuwe stent stel self ’n antiverwerpingsmiddel
vry, verduidelik
’n Suid-Afrikaanse kardioloog. Dié
middel verhoed dat weefsel op die
stent ingroei en weer ’n verstopping
veroorsaak. Dit lyk of die gelyktydige
gebruik van dié middel en die sterk
antistolmiddel iets radikaals met die
bloedstollingsmeganisme laat verkeerd
loop. Presies wat skeefloop
en hoe dit gebeur,
is nog nie duidelik
nie, verduidelik die kardioloog. Van die pasiënte het
byna onmiddellik ’n hartaanval gekry
toe hul antistolmedisyne ná ’n paar
maande volgens plan gestaak is. Die
aanvanklike idee met die stents was
dat pasiënte hul sterk antistolmedisyne
ná ’ n paar weke of maande sou
kon staak. Weens die onvoorsiene
komplikasies is die tydperk nou al
gerek tot omtrent twee jaar.
Die moontlikheid bestaan dat ’n
pasiënt nou vir die res van sy of haar
lewe op die sterk antistolmedikasie sal
moet bly. Dis ’n tydbom-situasie: Los
die persoon die sterk antistolmiddel,
is sy kans op ’n hartaanval groter. Hou
hy aan om dit te gebruik, kan hy hom
dalk doodbloei.
Stents, hartvatomleidingsoperasies en medikasie is die drie belangrikste behandelingsmetodes vir mense met vernoude hartvate. Elke behandelingsmetode het sy plek en sy voor- en nadele. Nuwe tegnieke soos stamselbehandelings lewer belowende resultate, maar daar lê nog baie werk voor.
Bypass often safer than stents
Some stents boost clot risk
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
|