|
Is jy op pad na jou eerste hartaanval?
Meer as 47 000 Suid-Afrikaners gaan binne die volgende 365
dae ’n hartaanval kry. Hul hartvate is op hierdie oomblik op
pad na verstopping. Die meeste besef dit nie. Net vandag sal
33 mans en vroue ’n hartaanval kry en onmiddellik sterf
Deur Marí Hudson
DAAR staan die manne, ingehaak by
hul pel op sy vyftigste verjaardag.
Hulle is Michael du Toit, Schalk
Burger sr., voormalige Springbokslot
en pa van die Bokfl ank Schalk
Burger, Nico Rossouw, Chris Faure,
self ’n rugbyspeler op sy dag, Jannie Olivier, Joe Terblanche,
wie se verjaardag dit was, en Lourens Steyn.
Die foto links is twee jaar gelede geneem. Dit was ’n
goeie dag vir Joe. Hy was omring deur sy beste vriende,
sy vrou en tienerseuns op die plaas Welgegund, net duskant
die Bainskloofpas anderkant Wellington. “Ek het
daai dag gedink: Ek is ’n gelukkige man, ek is gesond
en die lewe is goed vir my.”
MAAR Joe was op daardie dag in
Desember 2004 onbewus daarvan
dat vyf van sy hartvate al erg verstop
is. En dat hy 22 maande later ’n
nood-hartvatomleidingsoperasie
sou ondergaan.
Die operasie en die besef dat sy
hart hom in die steek kan laat, het
sy lewensuitkyk dramaties verander.
Vandag, elf maande ná sy hartoperasie,
is hy nog soms bang om saans
aan die slaap te raak. Netnou hou sy
hart in die nag op klop. Joe is die eerste van sy vriendekring,
wat ou universiteits-, rugby- en gholfpelle insluit,
wat ’n hartvatomleiding moes kry. Maar hy is gewis nie
al een op die verjaardagfoto in wie se borskas ’n onsigbare
proses al aan die gang was nie. Volgens die wet van
Suid-Afrikaanse gemiddeldes is die kans goed dat een uit
drie van die vriende op die foto reeds hartprobleme het,
al weet hulle dit dalk nie.
Die meeste mense wie se hartvate reeds aan die verstop
is, is sonder simptome. Hulle voel gesond, doen dinge
wat gesonde mense doen, en neem daarom aan dat hul
hart gesond is.
Dis presies wat met Joe gebeur het. Sy hartprobleme
het uit die bloute gekom, sê hy.
“Ek het gereeld gholf gespeel, en was dan verlede jaar
in Mei nog met die Dads versus Lads-wedstryd op die
hokkieveld. Van my pelle het nie eens daarvoor kans
gesien nie, maar ek het daar agter die bal aangehol.”
’n EKG kort voor die hokkiewedstryd deur sy huisdokter
het immers getoon dat daar niks skort met sy
hart nie. Twee maande later in
Johannesburg het hy die eerste
waarskuwingstekens gekry, maar
dit nie besef nie. Dit was ’n lam
gevoel in sy arm en sy gebruiklike
sooibrand. Toe die lamheid ná ’n
rukkie opklaar, het hy gemeen als is
in die haak.
Maar toe hy vroeg in Augustus
verlede jaar dieselfde simptome kry
terwyl hy langs sy huisdokter op die
oefenfi ets in die gim trap, het dié
gesê hy moet by ’n kardioloog uitkom.
Die angiogram het onteenseglik gewys dat vyf van
sy hartvate verstop is. Daar was te veel vernouings om
stents te oorweeg en die vernouings was nie sommer
eff entjies nie, maar groot menere. As ’n klein stolseltjie
Dop enige van vyf plekke in sy kroonare sou vassteek, sou
hy oombliklik ’n hartaanval kry.
Tyd was nou van kardinale belang, maar Joe wou eers
die naweek huis toe om te dink en die skok te verwerk.
“Dit was die langste naweek in my lewe,” sê hy, haal
sy bril af en vryf stadig met sy vingers oor sy oë. “Ek
was verskrik en bekommerd, en het aan honderde dinge
gedink.
Ek wou my kinders sien grootword en nog baie
dinge saam met my vrou doen.” Sy blik dwaal na buite,
en dit lyk of hy deur die wingerde en Bolandse berge
kyk. Die week of wat ná die hartvatomleidingsoperasie
in die Panorama Medi-Clinic het in ’n waas verbygegaan.
Terug by die huis, het nuwe aanpassings gewag. “Jy
herstel vinnig, maar tog kan jy skaars vyf treë loop. By
die huis wil jy gewone dinge doen, maar jy raak te moeg.
En jy is te bang om jou hart te vertrou. Die nagte was
die ergste.
“My gevoelens het wipplank gery. Depressie, angstigheid,
frustrasie, woede, vrees en magteloosheid is in een
bondel gerol.”
Dis algemeen dat die meeste hartpasiënte depressie ervaar
en dat baie mense se depressie en emosies na vore kom
as humeurigheid. Dit was ook die geval met Joe. (Lees ook
die boekuittreksel oor depressie en hartsiekte op bl. 137.)
“Ek het ná ’n paar maande besef ek sal moet skietgee
vir my vrou en kinders se onthalwe. My humeur was iets
ysliks,” sê die innemende man.
Sy gesprekke met ’n berader, vriende en ander wat in
dieselfde bootjie is, het gehelp om hom rustiger te maak.
“Mens moet besef dat al lyk jy ’n paar maande ná die
operasie gesond en gereed vir die lewe, het die ding ’n
uitwerking op jou emosies.
“Sekere dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Maar die ding wat die meeste verander het, is my manier
van dink. Ek is baie meer bewus van die lewe.”
Hoewel Joe se hartprobleme oënskynlik uit die bloute
gekom het, het hy – soos baie Suid-Afrikaners – ’n familiegeskiedenis
van en risikofaktore vir hartsiektes. Sy pa
het wel op 79 net ’n “bietjie suikerprobleme”, maar twee
van sy pa se broers is dood aan hartaanvalle.
Van die bemoedigendste nuwe navorsingsinligting wat
die afgelope tyd aan die lig gekom het, is dat hartsiektes
gekeer kan word selfs al word ’n mens met die slegste
hartgene denkbaar gebore. Sekere dinge wat jy doen, kan
keer dat foutiewe hartgene ooit aangeskakel word, sê dr.
Maritha Kotzé, ’n Kaapse genetikus.
Na raming het minstens 40 persent van die Suid-
Afrikaanse bevolking een of meer foutiewe hartgene wat deur rook of ander verkeerde gewoontes aangeskakel kan
word. Rook kan selfs mense
met gesonde hartgene se kans
op ’n hartaanval verhoog. Die
gevaar is nog groter wanneer
verskeie risikofaktore saamgevoeg
word, sê sy.
Dr. Krisela Steyn van die
Mediese Navorsingsraad
(MNR) maak in ’n nuwe verslag
oor hartsiektes bekend dat
’n mens se risiko vir hartsiektes
nie drievoudig toeneem as jy
drie risikofaktore het (soos byvoorbeeld
rook, hoë cholesterol
en hoë bloeddruk) nie, maar
negevoudig.
Joe rook sedert sy universiteitsdae
sigare. Hy het dit met
die angiogram-skoknuus net
so gelos.
Dan neem hy al ses jaar lank medikasie vir
hoë bloeddruk en ’n hoë bloedcholesterolvlak. “Ek het
nie toe groot genoeg geskrik nie. Ek het nie besef my
hartvate is al aan die toegaan nie.
“As ’n dokter vir jou sê jou bloedcholesterolvlak is
hoër as normaal, en hy gee vir jou ’n pilletjie vir jou
cholesterol en een vir hoë bloeddruk, sluk jy die pilletjies
en dink dis maar deel van die lewe.
Ek het nie
daaraan gedink om op te hou rook nie. Ook nie om
regtig my manier van lewe, eet en oefen te verander
nie. Dit het nie tot my deurgedring dat ek op pad is
na ’n hartaanval nie.”
Eers nadat die angiogramme gewys het presies hoe
verstop sy hartvate is, het Joe sy lewenstyl verander.
“Ek probeer nou om die vet van my braaitjops af te sny
en eerder ’n vrug te eet as ’n koeksister. Klein dingetjies
kan ’n verskil maak.”
Hartsiektes neem toe
Elke jaar kry meer as 47 000 Suid-Afrikaners ’n
hartaanval. ’n Kwart van hulle – sowat
12 000 – sterf onmiddellik. Voortydige sterftes
weens hart- en bloedvatsiektes gaan tussen
2000 en 2030 met 41 persent toeneem, skryf
dr. Krisela Steyn, navorser van die MNR, in ’n
nuwe verslag oor hartsiektes in Suid-Afrika.
Hartgene-kennis kan ’n lewe red
’n Handvol gene speel ’n rol in jou hartgesondheid.
Om ’n pasiënt se gene te ken, is om vir
die dokter ’n nuwe bril op te sit wat hom
binne-in jou selle kan laat sien sodat hy
die regte “medisyne” kan kies, beskryf die
genetikus dr. Maritha Kotzé die jongste
internasionale navorsingsinligting.
Die cholesterolverlagende middels
statiene kan byvoorbeeld mense met
een soort hartgeen se lewe red, maar sal
min help vir iemand met ’n ander soort
hartgeen. ’n Dieet met min trans- en versadigde
vette lewer weer verstommende
resultate in die tweede geval.
Van die belangrikste hartgene wat
tot dusver ontdek is, is die FH- en die ApoE-gene, asook
die gene wat ’n rol speel in die bloedstollingsproses en in
ysteroorlading. FH kom veral onder Afrikaanse, Joodse en
Indiese families voor. Tussen een uit sewentig en een uit
honderd mense uit dié groepe het ’n defektiewe FH-geen.
Mense met dié geen se kans op ’n hartaanval is vyf tot tien
keer groter as enigiemand anders s’n. Mans met die foutiewe
FH-geen kry gemiddeld op 45 jaar ’n hartaanval en
sterf as hulle nie die regte behandeling ontvang nie.
’n Ontstellende 30 – 40 persent van alle Suid-Afrikaners
dra ’n veranderde ApoE4-hartgeen wat die risiko vir ’n hartaanval
met ongeveer 40 persent verhoog.
Die meeste Suid-Afrikaners besef nie dat hulle dié gene
dra en dat dit deur sekere faktore aangeskakel kan word
nie. Die veranderings in die hartvate vind stilweg plaas.
Wie kan baat vind by ’n hartgene-toets?
Dis nou regtig nie nodig dat elke mens sy hartgene
laat toets nie, maar dit kan die volgende
mense se lewe red omdat dit jou behandeling
kan bepaal:
Mense met ’n persoonlike of familiegeskiedenis van
hartprobleme.
- Mense met ’n hoë cholesterolvlak, tipe 2-diabetes, en
diegene wat oorgewig is, ’n chroniese infl ammatoriese
siekte of hoë bloeddruk het en rook.
- Mense met ’n familiegeskiedenis van Alzheimer-siekte,
want dit is aan hartgene gekoppel.
- Mense met ’n persoonlike of familiegeskiedenis van
veneuse trombose, vroue met herhaalde miskrame en
vroue wat hormoonvervangingsterapie oorweeg.
SKAKEL JOU RISIKO AF
Nege maniere waarop jy jou
hartaanval kan voorkom
As jy een van die nagenoeg 40 persent van die bevolking is wat met slegte
hartgene gebore is, kan jy werklik keer dat dit – soos ’n lig – aangeskakel
word. En as jy met goeie hartgene gebore is, kan jy ook jou hartvate teen
skade beskerm deur sekere van jou gewoontes te verander. Baie van die
faktore lei tot ’n lae vlak van infl ammasie in die bloedvatwande, en hierdie
rooi en geswelde binnewande is dan uiters vatbaar vir verdere skade deur
die ander faktore.
Hier is jou negepuntplan, saamgestel uit inligting deur Harvard-navorsers,
hartspesialiste van die Mayo-kliniek en Suid-Afrikaanse navorsers.
1 As jy rook, hou op met rook,
hetsy dit sigare, sigarette, laeteer
of “ligte” sigarette is. Rook
is een van die belangrikste faktore
wat alle hoërisiko-hartgene aanskakel.
Dit beskadig verder die binnewande
van bloedvate so erg dat die
vate verstop kan raak. As jy ophou
rook, daal jou risiko vir ’n hartaanval
binne drie jaar. Rokers wat ouer as
sestig is, kan vyf tot sewe jaar by
hul lewe voeg deur op te hou rook.
Passiewe rook is ook ’n belangrike
risikofaktor.
2 Doen oefening. Dit hou
minstens twintig verskillende
gesondheidsvoordele in.
Oefening maak die hartvate sterker
en oper, dien as stresontlaaier en
bekamp oorgewig. Fiksheid kan jou
risiko vir hartsiektes met ’n derde
verminder. Onfiksheid is selfs ’n groter
gevaar vir jou hart as om oorgewig
te wees. Probeer om minstens
twee uur per week te
oefen.
3 Beheer jou
gewig.
Hoe vetter
jy is, hoe dikker
is die vetlaag om
jou hart en ander
organe. Mense met
’n appelvormige lyf
– die manne met die
boepe – het ’n groter risiko
vir hartsiektes as iemand met
’n peervormige lyf.
4 Eet van jongs af kos wat min
versadigde en transvette bevat.
Dit keer dat ’n spesifieke hartgeen
aangeskakel word. (Om te weet
watter kos baie transvette bevat, lees
ons artikel op bladsy 48 in Pols nou beskikbaar.)
5 Eet minstens drie keer per week
vis en ander kos wat baie omega-
3-vetsure bevat.
Kies haring,
makriel, tuna, sardyne, forel, salm en
ander olierige vis. Hierdie “goeie’” vette
kan jou risiko vir bloedstolling en diep
veneuse trombose verminder. Boonop
laat dié vette jou gouer versadig voel.
6 Eet meer vars groente en
vrugte, veral sitrusvrugte,
spinasie en ander groen, blaarryke
groente, want hulle bevat baie
vitamien B en foliensuur wat mense
met hoë cholesterolvlakke se hart
kan beskerm. (Iemand wat reeds ’n
hartaanval gehad het of diabetes het,
sal egter nie baat vind by foliensuuraanvullings
nie.)
7Eet meer veselkos soos hawermoutpap.
Tien gram ruvesel
per dag kan jou risiko vir ’n
hartaanval met 20 persent verlaag.
8 Ken jou tellings
en hou dit in
toom. As jy jou
bloeddruk van 140/90
mm Hg kan verlaag
tot 120/80 mm Hg,
kan jy jou risiko van
’n beroerte halveer.
Met elke breuk wat jou
slegte LDL-cholesterolvlak
daal, daal jou risiko
vir ’n hartaanval ook. As een
bloeddrukmiddel se neweeffekte jou pla, gesels met jou dokter
sodat jy ’n ander een kan probeer.
Moenie net jou middels staak omdat
jy lus het nie.
9 Leer om stres te verwerk. Dit lyk
ál meer of langdurige stres ook
die bloedvatwande vatbaarder
maak vir skade.
Vroue met
hartprobleme
trek aan
kortste ent
Vroue met hartprobleme
kry swakker
mediese sorg as mans.
Die ongelykheid in die
behandeling tussen
mans en vroue eis die
lewe van baie vroue, wat
gouer en beter mediese
behandeling verdien, sê
die Kaapstadse hartchirurg
dr. Susan Vosloo.
Baie studies bewys
dat vroue se hartsiektes
toegelaat word om te
ver te vorder omdat pasiënt en dokter nie bedag
genoeg is op hartprobleme in vroue nie. Die simptome
by vroue is dikwels vaag. Hopeloos te veel
gevalle van hartaanvalle by vroue word verkeerdelik
gediagnoseer as spysverteringsprobleme of depressie.
Dokters laat ook vroue se hartprobleme verder vorder
voor hulle aspirien en ander voorkomende middels
voorskryf. Selfs as vroue borskaspyn kry, word hulle
nie so gou na ’n noodeenheid gebring as mans nie.
En wanneer hulle by die noodeenhede opdaag, doen
die dokters nie gou genoeg of glad nie ’n EKG op dié
vroue nie. Dit duur ook langer voor dokters antistolmiddels
vir ’n vrou met ’n hartaanval gee as vir mans.
‘Al meer vroue ontwikkel
hartprobleme. Tog word dit nie
gou genoeg gediagnoseer nie’
Watter vroue het die grootste risiko vir hartsiektes?
VROUE . . .
- wat rook, het gemiddeld negentien jaar vroeër
’n hartaanval as vroue wat nie rook nie.
- met diabetes het ’n twee tot drie keer groter kans
om ’n hartaanval te kry.
- wat op die Pil is, rook en ouer as 35 jaar is, het ’n
groter kans op hartsiektes.
- wat onaktief is.
- wat oorgewig is: dit is twee uit vyf Suid-Afrikaanse
vroue.
- wat hormoonvervangingsterapie ontvang. Geen
vrou behoort HVT te gebruik om kamma haar
risiko vir hartsiektes te verlaag nie.
So werk dit . . .
Die proses van bloedvatverstopping
tot ’n hartaanval geskied in ses stappe.
- Die cholesterolmolekules dring deur
die voeringlagie van die bloedvat en
pak in die wand saam.
- Die immuunstelsel stel vegterselle
(die makrofaagselle) vry wat letterlik
die cholesterol insluk. Die vegterselle vol
cholesterol word skuimselle genoem.
- Die skuimselle koek saam en vorm
’n groot stuk harde aanpaksel
binne-in die bloedvatwand. Teen jou
vroeë twintigs kan die plaak al die
bloedvat 25 persent verstop.
- In ’n desperate poging om die
binnekant van die bloedvat
glad te hou, vorm die liggaam
gladdespierselle (’n soort
kapsel) bo-oor die skuimselle.
By 45-jariges kan die plaak al
50 persent van die bloedvat
verstop hê.
- Die skuimselle skei
chemiese stowwe af
wat die kapsel verswak.
Dis nou net ’n kwessie
van tyd voor die
kapsel gaan meegee.
- Hartaanval!
Sodra die
kapsel bars,
stroom die
plaakstukke
die bloedstroom
binne.
Bloedstolsels
vergader om
hierdie stukkies
aanpaksels en dit
steek gou-gou vas in die
vernoude bloedvat.
911 As ’n mens benoud voel, skielik moeg is of ’n sooibrandgevoel
oor jou maag en bors het, veral ná oefening, kan dit ’n anginaof
’n hartaanval wees. Jy moet beslis nie eers wag en kyk of
die sooibrand ’n hartaanval is of nie. Toediening van ’n stolsel-oplosser binne drie tot vier
uur kan ’n lewe red en die kans vergroot dat die pasiënt sonder hartskade herstel, sê
dr. Elwyn Lloyd, ’n Kaapstadse kardioloog.
Heart centre
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
|