|
Oogappel of gifappeltjie?
‘ANITA, help tog gou jou
broer met sy das, asseblief.
Willem, jy gaan
ons weer laat maak!
Hoekom kan jy nie so georganiseerd
wees soos jou suster nie?”
Klink dit bekend? Of wat van: “Laat
hulle Pieter se kamer gebruik. Hy sal
nie omgee nie. Hy is my maklike kind,
nè, Pieter?”
Het jy ’n goue seun of dogter in
die gesin? Of ’n moeilikheidmaker? ’n
Eenkantkind of dalk ’n gelukskind?
Kundiges sê dis die vier tipiese rolle
wat kinders vir hulle in die gesinsopset
toe-eien en wat vir die res van hul
lewe ‘n bloudruk vir hul persoonlikheid
kan bly.
Sonder dat die res van die gesin of
die ouers dit besef, word kinders met
subtiele druk getrou gehou aan die
vereistes van dié rolle.
Want net soos dit ‘n gesin pas om ’n
held te hê, iemand op wie almal trots
kan wees, of ’n geliefde klein Benjamin
wat almal kan verwen, pas dit hulle op
‘n aweregse manier ook om ’n “sondebok’”
of swartskaap te hê wat stoutighede
“namens” die ander kan aanrig.
Dit is waar dat kinders se karakter
al met geboorte gedeeltelik gevorm
is, maar baie van hul persoonlikheidseienskappe
ontwikkel eers later. Dit
gebeur in alledaagse situasies soos
wanneer hulle op die televisie afstorm
om die beste plek te kry, by die huis
van hul dag by die skool kom vertel,
of terwyl hulle redekawel oor wie wat
moet doen.
Die interessante ding is dat dié
eienskappe dikwels volgens ’n vaste
patroon ontwikkel. Dit kan saamhang
met waar hulle in die gesin inpas (oudste,
middelste, jongste), of hulle seuns
of meisies is en hoe hul ouers teenoor
hulle optree.
As kinders grootword met ’n beeld
van hulself as byvoorbeeld die slag-off er, held of swartskaap, is dit baie
moontlik dat hulle hulself as grootmense
ook so gaan sien.
Wees dus maar versigtig om nie
jou kinders in ’n rol te druk nie,
sê dr. Munita Dunn, raadgewende
sielkundige en senior lektor by die
Hugenote-kollege op Wellington. Dit
kan hul moontlikhede aan bande lê
en selfs hul verhouding met broers
en susters beduiwel.
“In die gesin oefen kinders vir die
toekoms. Hulle leer hoe om met ander
klaar te kom en hoe om onenigheid te
hanteer,” sê Munita.
“Ons wil ons kinders nie in kassies
druk nie, maar dis net menslik
om dit soms te doen,” sê sy. Ouers
kan dit voorkom deur op kinders se
sterk punte te fokus eerder as op hul
swakhede en verskille. Waak dus maar
daarteen om jou kind te stereotipeer
as “ons ou skametjie” of “my verstandige
grootseun” of “ons willewragtag”.
Alette Aucamp se waarneming as
sielkundige met praktyke op Stellenbosch
en Malmesbury, het haar daarvan
oortuig dat kinders volgens sekere
patrone verskillende rolle in die gesin
vertolk. “Dit was onbetwisbaar, maar
natuurlik geld dit nie vir alle gesinne
nie. Die rolle wat kinders vertolk, is nie
afgietsels nie en skep nie noodwendig
probleme nie. Daar is baie ander
faktore wat ’n kind se ontwikkeling
beïnvloed. Maar wanneer probleme
wel opduik, help dit om bewus te
wees van die verskillende rolle.”
Die ghoeroe van spelterapie in Suid-
Afrika, die psigoterapeut Reyhana
Seedat van Durban, het die vier
belangrikste rolle uitgelig wat kinders
binne die gesin kan speel. Hierdie
rolle kan getipeer word as dié van
gesinsheld (of heldin), van “sondebok”
of swartskaap, van eenkantkind en van
gelukskind of liefl ing van die gesin.
Enkelkinders kan die eienskappe van
meer as een van hierdie rolle toon.
Ouers wat bewus is van dié rolle, sal
beter toegerus wees om probleme
die hoof te bied. Maar moenie dink jy
moet alle kinders op dieselfde manier
grootmaak nie, sê die kenners. Jy kan
gerus elkeen op ’n ander manier liefhê.
Kyk ’n bietjie watter van
jou kinders die volgende
rolle hul eie gemaak het
DIE GESINSHELD
1. Die gesinsheld
Kinders wat dié rol
speel,is waarskynlik . . .
• Selfversekerd
• Toegewyd
• Ordelik
• Inskiklik
• Volhardend
• Gedrewe
• Koesterend
• Baasspelerig
Het jy ’n kind wat ooglopend die toppresteerder
in die gesin is, wat in die
eerste span speel, die hoofrol in die skool
se toneelstuk vertolk en wat uitgeknip is vir
hoofseun of -meisie? Die gesinsheld gedy
daarop om vir mense te gee wat hulle wil hê
en werk toegewyd vir belonings. Dié soort
kinders is gewoond daaraan om positiewe
aandag te trek en sal alles in hul vermoë
doen om seker te maak dat hulle dit kry
– nie net van hul ouers nie, maar ook van
ander volwassenes.
Dis gewoonlik, maar nie altyd nie, die
oudste kind wat die rol van die gesinsheld
sy eie maak. Onthou jy toe jy as ouer na jou
pasgeborene gekyk het en jou voorgeneem
het om die beste ouer in die wêreld te
wees? Jy sou jou kind ’n oorvloed van aandag
gee en so verantwoordelik en perfek
moontlik wees.
Eersgeborenes word dikwels groot met
dié perfeksionistiese ingesteldheid. Hulle
streef na goedkeuring en sukses, ook in die
volwasse wêreld. As gevolg hiervan kan
hulle onrealistiese teikens vir hulself stel.
Hulle hanteer kritiek en mislukking gewoonlik
nie baie goed nie.
Sommige gesinshelde kan grootword
met die behoefte daaraan om mense te
behaag en te versorg, terwyl ander weer
gedrewe en vasberade kan wees.
“As probleme opduik, is dit dikwels omdat
dié kinders verplig voel om gesinskwessies
reg te stel,” sê die sielkundige Alette Aucamp.
“Die gesinsheld handhaaf die balans
deur bewyse te soek dat alles met die gesin
doodreg is. Dié kinders krop dikwels onaangename
gevoelens op en sal met niemand
oor Ma se depressie of Pa se drinkery of hul
eie ongelukkigheid praat nie.”
Wenke vir die ouers
van die gesinsheld
Dié kinders plaas geweldige druk op
hulself. Dit kan lei tot gevoelens van
ontoereikendheid, veral as die ouers
ambisieus is. Dié kinders sal presies
op jou verwagtings ingestel wees.
Wees versigtig wat jou woorde,
stemtoon en lyftaal vir hulle sê.
Pasop vir die vraag: “En hoe het
die ander gevaar?”
Kinders kry selfrespek deur klein
takies af te handel en dan groter
take aan te pak. Die gesinshelde
sal doelwitte wil bereik wat hul
ouers gelukkig maak. Hulle kan
ook dink jy verwag meer as wat
die geval is. Stel doelwitte wat
werklik die kind se eie is en wat
haalbaar is.
Die oudste kind, veral as daar ’n paar
jongeres in die huis is, kan voel dat hy
vinniger moet grootword en verantwoordeliker
moet wees. Sorg dat jy
nie meer verantwoordelikhede op jou
kind laai as wat hy kan hanteer nie.
As dié soort kinders voortdurend as ’n
rolmodel vir jonger kinders voorgehou
word, kan hulle kwaai druk ervaar.
DIE
SWARTSKAAP
2. Die swartskaap
Die swartskaap in
jou gesin is
waarskynlik . . .
• Mededingend
• Opstandig
• Manipulerend
• Strydlustig
• Sensitief
• Aanpasbaar
• Lojaal
• Sosiaal
Het jy ’n kind wat “gedurig in die
moeilikheid” is? Dalk is dit omdat
hy voel hy kan nie met die held
van die gesin meeding nie.
Swartskape of “sondebokke” voel
dikwels hulle sal nooit so goed
soos die “held” van die gesin wees
nie. Hulle kan ly onder innerlike
gevoelens van woede, verwerping,
eensaamheid, pyn en skuld. Hulle
weet hul gedrag is onaanvaarbaar,
maar hulle voel hulle kan dit
nie verander nie. Dié kinders kan
bakleierig of skoorsoekerig raak
teenoor broers en susters en kan
hulle soms aan die gesin onttrek.
Die gedrag van dié kinders is dikwels
teenstrydig. Maar een ding is
gewoonlik waar: Swartskape is dikwels
tweede of middelkinders en
hul persoonlikheid is gewoonlik die
teenoorgestelde van die eersgeborenes.
Hulle is dikwels onseker van
hul plek en identiteit in die gesin en
hulle kan ’n swak selfbeeld hê. Deur
negatiewe aandag te probeer trek,
kan hulle eienskappe ontwikkel wat
die ander irriteer. Hierdie optrede
ontlok nog meer negatiewe reaksie
en so ontstaan ’n bose kringloop.
Dikwels voel hulle verwaarloos
omdat ouer en jonger broers en
susters meer aandag kry. Dan gaan
soek hulle maklik hul heil buite die
gesin. Tog is dié kinders ruimhartig
en vry van gees. Hulle kan baie
gesellig wees en goed vaar met
onderhandelinge.
DIE
Wenke vir
die ouers
van die
swartskaap
Sorg dat dié kind ingesluit voel
en ’n besondere verhouding met
elke ouer het.
Laat ’n volwassene soos ’n ouma,
tante of oom ook ’n hegte band
met die kind smee.
Gee lof waar jy kan. Terwyl dit vir
alle kinders geld, is dit baie belangrik
vir ’n middelkind.
Wees bewus daarvan dat jou
kind dalk so optree om die aandag
van konfl ik of probleme in
die gesin af te lei. Kan die rede
vir jou kind se rebelsheid dalk
teruggevoer word na groter
probleme in die gesin of by
die skool?
Doen baie moeite om agter te kom
wat jou kind se besondere belangstelling
of talent is, en help hom of
haar om dit te ontwikkel.
Die eenkantkind
Jou eenkantkind is
moontlik . . .
• Beskeie
• Teruggetrokke
• ’n Alleenloper
• Passief
Eenkantkinders is gewoond daaraan
om na hulself om te sien en handhaaf
die gesinsbalans deur geen eise te
stel nie en “soet” te wees.
Deur “in die middel van die storie’”
sy opwagting te maak wanneer ouers
minder daarop ingestel is om elke kind
na sy behoeftes groot te maak, kom die
stil kind oor die weg deur niemand die
harnas in te jaag nie.
Alette sê baie tyd verloop voor
dié kinders hul hart
oopmaak en oor hul
gevoelens gesels omdat
hulle glo dit is juis hul
stilte en passiwiteit wat
hulle beveilig.
“Maar wanneer hulle
wel uitpraat, is ’n mens
stomgeslaan deur die warboel van hul
gevoelens. Hulle beskou hulself as anders,
selfs onsigbaar. Hulle voel soos ’n
vreemdeling in hul eie gesin en asof
hulle nie saak maak in die wêreld nie.”
Hierdie eff ens “verlore” kinders
bly uit almal se pad, het soms min
vriende en leef dikwels in ’n fantasiewêreld
waarin hulle hul eie geselskap,
televisie, boeke of rekenaars bo
meer sosiale bedrywighede verkies.
Wenke vir
die ouers
van die
eenkantkind
Ruim ekstra tyd in om met jou
eenkantkind te praat en na hom
of haar te luister. Soos met alle
kinders, maar veral met dié kind,
moet jy empatie betoon en nie
aanneem dat jy weet hoe hulle
voel nie. Die eenkantkind moet
weet dat jy luister en verstaan
wat gesê word.
Wees bewus daarvan dat
dié kinders min van hulself
verwag. Verras jouself en
die kind en gee hom nuwe
verantwoordelikhede
en belonings.
Erken en ontwikkel dié kind
se eiesoortige gawes aan
die gesin.
Sorg dat jou eenkantkind
ingelig is oor kwessies,
keuses en besluite wat
die gesin raak. Vra sy of
haar mening. Dit sal nie
maklik gelug word nie,
maar dring daarop aan.
Dit is belangrik vir die
ander kinders in die gesin
om te hoor en te sien
dat jy as ouer dié kind
se stem belangrik ag.
DIE GELUKSKIND
4. Die gelukskind
Dié kind van jou
is dalk . . .
• Spontaan
• Skeppend
• Bekoorlik
• Liefderik
• ’n Nar
• Buierig
• Manipulerend
Dikwels is die gelukskind die jongste in die gesin.
Wanneer dié kleintjie opdaag, laat ouers dikwels
sy ontwikkeling plaasvind met ’n loshande-benadering
en betrek hulle maklik ander boeties en sussies by
die grootmaakproses. Dit beteken gelukskinders kry
‘n oormaat van aandag. Hulle kom agter dat dit hul
“kleinheid’” of ‘“oulikheid” is wat al dié aandag trek en
hou aan om die rol van die baba te vertolk. Die gevolg
kan wees dat die gelukskinders hulself as broos sien en
beskerming nodig het. Hulle kan voel dat almal altyd
meer bevoeg is as hulle en verwag dat ander dinge vir
hulle doen.
Gelukskinders is bekend om hul humorsin en sal
narrestreke uithaal om spanning te verlig en die aandag
van ’n gesinskrisis af te lei. Hul plek in die gesin kan
hulle die teiken van gesinsgrappies maak. Hulle word
dikwels daarvan beskuldig dat hulle bederf is en alles
kry wat die ander kinders nie beskore was nie. Hulle
word soms toegelaat om veeleisender en onverantwoordeliker
as die ouer broers en susters te wees.
Wenke vir die ouers
van die gelukskind
Moenie in die slaggat trap en alles vir dié outjie
doen nie! Gelukskinders moet geleer word om na
hulself om te sien.
Wees bewus daarvan dat jy as ouer dalk die
behoefte het om aan jou laaste kind as jou
“baba” te dink omdat dit vir jou die einde
van ’n sekere lewenstadium aandui. Jou
behoefte lê dalk jou kind aan bande.
Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskryf verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.
|