|
My lewe met borskanker
NÁ HAAR eie stryd teen borskanker
reik Wilma van der Bijl, nog net so
beeldskoon soos toe sy in 1987 as Mej.
Suid-Afrika gekroon is, nou uit na
ander vroue wat kanker het. Wilma
is deur ’n donker dal toe kanker in Junie 2005 in haar
regterbors gediagnoseer is. Sy het kort daarna ’n dubbele
mastektomie ondergaan.
Sy praat openlik met HG-Pols oor haar ervaring en
moedig ander vroue aan om gereeld vir borsondersoeke
te gaan en alles in hul vermoë te doen om
gesond te bly.
Hoewel Wilma se kanker in ’n vroeë stadium
gediagnoseer is, het dié nuus die wind heeltemal
uit haar seile geneem. “Ek het glad nie die
regte risiko-profi el nie,” sê sy. “Ek was toe
42 en baie gesond. Ek rook nie, is nie oorgewig
nie en daar is nie kanker in my familie nie, met die
gevolg dat ek geen rede gehad het om te vermoed dat ek
enige risiko loop nie. Net voor die diagnose was ek egter
die hele tyd moeg. Maak nie saak hoeveel ek geslaap het
nie, dit was nooit genoeg nie. My regterbors het ook nie
honderd persent gevoel nie. Ek dink ’n mens se onderbewussyn
is bewus van wat in jou liggaam aangaan, en
borskanker het my laat regop sit.”
’n Mastektomie gevolg deur bestralingsbehandeling van nege weke en daarna chemoterapie is beproewend genoeg om enige vrou te laat wankel en dis geen verrassing dat Wilma ná haar behandeling diep moes delwe om innerlike krag te vind nie.”
Ek het kwaai aan depressie gely en die komplikasies ven die chemoterapie was enorm,” onthou sy. “Maar my kinders was ses en sewe jaar oud en hoewel ek siek en uitgeput was, het ek geweet ek moes vir hulle en vir my man die krag kry om te lewe.”
Dit het al haar kragte gekos om voort te gaan toe sy met karisinoom van die buise gediagnoseer is. “Om ’n bors te verloor hat glad nie opgeweeg teen die altenatief van die dood nie. Ek is meer as net ’n bors,” sê sy.
“Ek weet dit klink vreemd en baie mense sal glad nie met my saamstem nie, maar ek is bly oor die waarskuwing. Ek sorg nou baie beter vir myself en maak seker date k elke dag voluit leef. Waar en wanneer ek kan, moedig ek ander vroue aan om hulle elke jaar te laat ondersoek. Die ongerief van ’n mammogram is niks vergeleke met die drama en ellende van ’n mastektomie!”
“Ek is so bly my kanker is vroeg gediagnoseer. Enigsins later en die gevolge sou baie ernstiger gewees het. Ek is ook dankbaar date ek besluit het om rekonstruktiewe chirugie onmiddellik ná die mastektomie te ondergaan. Ek sou ander vroue aanraai om dit ook te oorweeg.”
Wilma: ‘Dit het vir my gewerk’
Wilma het self die wenke wat kankerbehandeling
vir haar draagliker
gemaak het, neergeskryf. “Heel eerste
moet jy die span wat jou behandel,
vertrou. Jy is uiters kwesbaar en het al
die onderskraging nodig wat jy kan kry.
Ek is so dankbaar teenoor die dokters en
verpleegsters wat my gehelp en al my
vrae en vrese met respek en vriendelikheid
hanteer het.
“Dis belangrik om so gou moontlik ná ’n
mastektomie aan die gang te kom. Wag
totdat die fisioterapeut sê dis in orde en
doen dan oefeninge om te sorg dat jou
spiere nie verslap nie. Maar moenie in
die versoeking kom om te gou te wil
bestuur nie – jy kan nie glo hoe
uitputtend die behandeling is nie.
“Onthou dat almal se behandeling en
herstel verskil. Moet jouself nie met ander
pasiënte vergelyk nie, anders raak jy
moedeloos. Ek het nie gedink ek sou ooit
weer energiek voel nie, maar met verloop
van tyd raak ’n mens weer lewenslustig.”
Wilma se wenke vir chemoterapie
- Slaap voordat jy vir chemo gaan.
- Neem jou medikasie op die voorgeskrewe tye.
- Jy sal aanvanklik dalk nie te sleg voel
nie, maar – wees gewaarsku – dit kan
jou later tref.
- Eet gesond en maak seker jou dieet
bevat baie vars vrugte en groente. Drink
ook baie water.
- Moenie enigiets vir ten minste drie dae
ná die chemo beplan nie. Ek het altyd
my chemoterapie op ’n Vrydag probeer
kry, sodat ek die naweek kon rus.
- Laat jou hare baie kort sny sodra
dit begin uitval, anders is dit ’n
groot gemors.
- Koop hope stylvolle serpies vir jou kaal
kop sodat jy ’n modestelling kan maak.
- Vermy die son nadat jy chemo gehad het,
want jou vel sal maklik merke kry.
- Jou geheue sal jou in die steek laat
en jy sal nie onthou wat gister gebeur
het nie. Dit is as gevolg van verskeie
faktore en sal mettertyd verbeter.
PAD NA HERSTEL. Links is Melléta Louw in Januarie 2003 saam met haar man
Kobus, kort voordat sy ’n knoppie in haar bors gevoel het. Teen September was
sy in die middel van haar chemoterapie, 7 kg ligter en kaalkop. Desember 2003
op Stilbaai was sy pas klaar met bestralingsbehandeling.
Net soos vir Wilma, het borskanker vir Mellèta Louw (53) onverhoeds betrap. Diè sielkundige van Wellington was in April 2003 verslae toe sy hoor sy het borskanker, maar sê dit het haar op ’n innerlike reis geneem en ’n nuwe gevoel van hoop en verwondering gegee.
Mellètta het in Januarie 2003 een aand in die bad ’n klein knoppie in haar regtebors gevoel. Dit was so klein dat sy gedink het dis haar verbeelding en eers in April vir ’n mammogram gegaan het. Die knoppie was wel kwaadaardig.
“Die operasie om die knoppie en kliere te verwyder en die weke daarna was redelik, maar ek was geseënd om nooit diek of naar te voel tydens die ses weke van chemoterapie nie,” vertel Mellèta.
“Ek het baie gelees, ook alles oor borskanker. Die kennis het my gehelp om nie die behandeling te vrees nie, ek het my hare afgeskeer nog voor dit begin uitval het. Ek het pragtige hoede met lapblomme en bont serpe gedra en steeds mooi gevoel.” Die sewe weke lange bestraling wat gevolg het, was ’n vulletjie teen die operasie en die chemo.
Daardie Desember was my mooiste Kersvakansie ooit. My behandeling was voltooi. Ek was steed bitter moeg, maar het met nuwe oè na die see, sand en die spelende kinders gekyk. Ek pak die onsekere reis aan met dankbaarheid en met ’n verskerpte bewustheid van alles rondom my. “As ek twee dinge vir ander vroue kan sê, is dit om verantwoordelikheid vir hul gesondheid te aanvaar en gedurende die beshandeling baie te rus.”
Wilma se wenke vir bestralingsterapie
- Rus elke dag voor jou bestraling en
probeer om dit vroegoggend te kry
sodat dit afgehandel is.
- Sprinkel gereeld Maizena op die vel
wat bestraal is. Dit maak die vel minder
sensitief. Dra los hemde en geen bra nie.
- Moenie ’n warm bad of stort net voor
of ná die sessies neem nie; dit sal die
vel irriteer.
- Moenie vogroom of olie op die behandelde
area gebruik nie. As jou vel baie
droog is, praat met jou dokters oor iets
om te gebruik.
- Enige brandmerke sal stadig maar
seker verdwyn.
- Vra die mediese span om die tatoeëermerker
onder jou arm, en nie tussen jou
borste nie, te maak, anders sien jy dit
elke dag vir die res van jou lewe.
- Moenie bedrywige naweke beplan
nie. Dis asof die moegheid jou elke
Vrydag inhaal.
NUUS OOR BORSKANKER
Al meer vroue jonger as 35 jaar kry borskanker, volgens die jongste statistieke.
Die redes vir die toename is onbekend.
Dit is moeiliker om borskanker in jonger as in ouer vroue te diagnoseer.
Daar is baie redes hiervoor. Een daarvan is dat borskanker relatief seldsaam
onder jong vroue is en dokters dit daarom dikwels nie tydens die eerste
besoek vermoed nie.
Die borsweefsel is ook fermer, wat dit moeiliker maak om ’n klein knoppie
op te spoor. ’n Sonar-ondersoek van die bors is in jonger vroue die betroubaarste
ondersoek omdat ’n knop makliker in ferm weefsel met dié tegniek
opgespoor kan word. Tog lyk ’n kankergewas in 10 persent van gevalle soos
’n goedaardige weefselgewas (fi bro-adenoom) op die sonarskerm.
Daarom is dit belangrik dat ’n fynnaaldbiopsie op alle borsknoppe
gedoen word. As daar nog steeds onsekerheid is, moet meer weefsel met ’n
tweede en groter biopsie geneem word.
Vreemd genoeg word die meeste gevalle van borskanker in vroue jonger
as 35 jaar juis opgespoor terwyl hulle swanger is of borsvoed.
Sommige jong vroue met ’n sterk familiegeskiedenis van borskanker
oorweeg ’n dubbele mastektomie ter voorkoming van borskanker. Dit kan
wel die risiko vir dié vroue en ander met ’n hoë risiko vir borskanker met tot
90 persent verminder. Daar is egter nie ’n absolute waarborg dat die vrou
nie borskanker kan kry nie omdat borsweefsel ook in die armholte, bokant
die sleutelbeen en in die buikholte kan voorkom.
Anders as Wilma en Melléta is Tarryn Smith, wat in September 34 word,
nie vroeg gediagnoseer nie.
Vir haar het dit ingrypende gevolge ingehou.
Tarryn was maar 26 toe sy ’n dubbele mastektomie moes ondergaan,
gevolg deur maande lange chemoterapie. Sy gebruik steeds Herceptin, ’n
nuwe middel wat gebruik word om ’n besonder aggressiewe soort kanker
te behandel.
“Ek was 26 toe ek bewus geraak het van ’n knop in my bors, maar
borskanker was die heel laaste ding waaraan ek gedink het. Volgens my
huisdokter en selfs die chirurg wat my ondersoek het, was ek te jonk om
borskanker te kry.”
Die chirurg het nie ’n mammogram of biopsie gedoen nie omdat sy wat hom betref so ver van die borskankerradar af was – en dít
ondanks Tarryn se familiegeskiedenis van borskanker. Die gewas het binne
die bestek van ’n jaar van 1 cm tot meer as 4,5 cm gegroei, die vorm van
haar bors verander en na die kliere onder haar arm versprei.
’n Ander chirurg het ’n radikale mastektomie op haar uitgevoer en haar lewe het
onherroeplik verander.
Die les vir alle vroue is dat dokters foute kan maak. Vertrou jou instink.
Kry nog menings. As jy ongemaklik voel, moenie ophou vrae vra nie.
Die volgende ses maande was die ergste van Tarryn se lewe. “Ek het
’n veeleisende beroep beoefen, maar het alles in die stryd gewerp teen die
siekte en baie sterk chemoterapie ontvang.
Ek het ook nog my huisdokter en die eerste chirurg weens mediese versuim by die Raad vir Gesondheidsberoepe aangekla,” vertel Tarryn, “maar daar het niks van gekom nie.”
Tarryn was pas dertig toe die kanker teruggekom het, dié keer in haar
longe. “Ek was platgeslaan. Dit was erger as die aanvanklike diagnose
omdat ek aanvaar het die behandeling sou suksesvol wees en dat ek gesond
is.
Niemand het my gewaarsku dat daar ’n goeie kans was dat my kanker
sou terugkom nie. ’n Deel van my long is verwyder en ek het weer ’n
kursus chemoterapie ontvang. Dit was baie duidelik dat die pad vorentoe
lank en pynlik sou wees.”
Vir iemand wat die pad so dapper aandurf, is daar soms ’n deurbraak in
dié sin dat hulle presies die regte behandeling kry. Vir Tarryn was dit die
middel Herceptin, waarmee tans groot sukses met die behandeling van Her2-metastatiese borskanker behaal word. Her2 is ’n geen wat help om die
manier waarop selle groei, verdeel en herstel word te beheer.
“Herceptin is verskriklik duur,” verduidelik Tarryn, “maar baie doeltreffend.
Mediese fondse was huiwerig om vir die middel te betaal, en my pa
was van plan om sy huis te verkoop om vir my behandeling te betaal, maar
die mediese fonds het op die nippertjie ingestem.
Ek sal dit waarskynlik nog ’n rukkie lank gebruik.
“Die mediese fonds sal betaal solank ek in remissie bly. Omdat my kanker
drie jaar ná my vorige chirurgie teruggekeer het, is ek baie beangs vir die
drie-jaar-keerdatum. Ná vyf jaar verminder ’n mens se kanse en ek hoop ek
het dié keer ’n beter prognose.”
Anders as Wilma beskou Tarryn kanker nie as ’n seëning of ’n wekroep nie.
“Oor ’n paar maande is ek 34, en ek gebruik ingrypende medikasie
waaroor ek baie dankbaar is, maar wat vroeë menopouse veroorsaak het. Ek
het littekens oor my hele lyf, ek het ses operasies gehad om my borste te
probeer rekonstrueer en my selfbeeld is geknou. Seksueel is ek veronderstel
om my beste jare te geniet, maar ek kry warm gloede en my buie wissel
drasties. Die enigste manier waarop ek dit kan hanteer, is dat ek ’n toegewyde
maat het op wie ek kan vertrou en staatmaak. Dis wonderlik dat daar sulke
ongeloofl ike mans bestaan; ’n mens moet net die regte een kry. Dis moeilik
om nie soms in selfbejammering te verval nie, maar ek weet ook ek moet
sterk en blymoedig wees vir die mense naaste aan my.”
Wees wawyd wakker!
Word bors-bewus. Raak meer vertroud
met die vorm en tekstuur van jou borste.
Leer wat normaal vir jou is. Die Kankervereniging
van Suid-Afrika stel voor dat
vroue op die uitkyk bly vir:
- ’n Verandering in die vorm of grootte
van die bors
- Kuiltjies in die bors, rimpeling of ’n
skurwe vel
- ’n Knop of verdikking in die bors of
onder die arm
- Afskeiding uit een of albei tepels
Uitslag op die tepel
- Terugtrekking van die tepel of
Skurfheid
- ’n Verandering in die kleur of gevoel
van die vel op die bors
- ’n Lemoenskil-voorkoms van die vel.
As dit boonop gepaard gaan met ’n
rooi, warm en geswelde bors, kan dit
infl ammatoriese borskanker wees.
Omtrent 5 persent van jong vroue
met borskanker kry dié aggressiewe
kankervorm waar ’n mens nie ’n knop
voel nie.
ONTHOU
- Nege uit tien knoppe is nie kwaadaardig
nie.
- Raadpleeg ’n kenner oor elke nuwe
knop wat ontstaan of verandering wat
voortduur. Net omdat een knop nie
kwaadaardig was nie, beteken dit nie
die ander is ook nie.
- Alle vroue ouer as veertig jaar moet
jaarliks ’n spesifi eke borsondersoek
deur ’n ginekoloog of onkoloog laat
doen. Elke twee jaar moet ’n mammogram
met ’n sonarondersoek ook
gedoen word.
- Borsvoed so lank as moontlik.
- Leef gesond en drink matig.
Watter risiko loop jy?
Volgens die Nasionale Kankerregister
vir 1998 – 1999 loop een
uit twaalf wit vroue die gevaar
om borskanker te kry. By Indiëren
bruin vroue is die risiko een
uit agttien. Swart vroue het die
laagste voorkoms van alle
bevolkingsgroepe: een uit 49.
WAT DIE DOKTERS SÊ
“Mense wat kanker oorleef, leef eintlik
elke dag met die siekte,” sê dr. Irene
Boeddinghaus, onkoloog van die Universiteit
van Kaapstad se private akademiese
hospitaal.
Baie gevalle word genees,
maar dit weet ’n mens eers agterna. Ongelukkig is
daar geen maklike manier om vas te stel of hierdie
soort kanker teruggekeer het of nie. Met prostaatkanker
is daar byvoorbeeld ’n maklike bloedtoets
wat dokters gereeld kan doen, maar die bloedtoets
vir borskanker is nie so akkuraat nie.
“Wanneer jy as pasiënt ná chirurgie en/of behandeling huis toe gaan, is
dit regtig moeilik om saam te leef met die feit dat jy nie weet of jy genees
is of nie. Ek moedig vroue aan om te leef en op te tree asof hulle genees is,
maar hulle gereeld te laat ondersoek. Met verloop van tyd raak die kanse
dat die kanker sal terugkeer, geringer, maar dit is nooit nul nie. Jy kan
waarskynlik daarop reken dat jy ná tien jaar genees is, maar jy sal vir die
res van jou lewe elke jaar ’n mammogram moet laat doen.
“Omdat daar geen gewaarborgde genesing vir borskanker is nie, is
voorkoming die beste opsie,” verduidelik Irene. “Een van die beste dinge
is om so lank as moontlik te borsvoed, maar werkgewers is gewoonlik nie
hiervoor te vinde nie. Dit help ook om voor dertig swanger te raak. Totdat
jy ’n volle termyn van swangerskap voltooi het, bly jou borsselle in ’n
veranderlike toestand, en dit is wanneer probleme met radikale selle kan
ontstaan. Swangerskap plaas borsselle in die fi nale stadium van ontwikkeling,
en sodoende bly hulle gesond.
“Dit lyk asof kanker met lewenstyl verband hou, maar daar is geen
vaste reëls wat sal sorg dat jy nie die siekte kry nie. Elke vrou is anders en ’n mens kan ook nie te veel vereenvoudig nie. In Noord-
Amerika en Wes-Europa is die voorkoms van borskanker ses
tot tien keer groter as in Japan, Asië en Afrika. In Suid-Afrika
is wit vroue vatbaarder as ander bevolkingsgroepe, maar dit
kom toenemend onder jong swart vroue voor, waarskynlik
namate hul lewenstyl meer Westers word.
“Oorerwing speel ’n rol, maar ook ander faktore soos
borsvoeding, grootte van die gesin, stres en soorte voorbehoeding.
Iets wat vroue wel kan bestuur, is hul alkoholinname en
gewig.
Alkohol inhibeer lewerfunksie en die lewer metaboliseer
estrogeen. Ons weet dat verhoogde vlakke van hierdie hormoon geneig
is om vroue vatbaarder vir borskanker te maak. Dit word ook aanbeveel
dat vroue gewig ná die menopouse verloor.
“Al is dit ’n siekte waaroor baie kommer bestaan, is daar talle opwindende
ontwikkelings wat medikasie betref. In die verlede het dokters
pasiënte met swaar dosisse chemoterapie behandel in die hoop dat dit ’n
uitwerking op die veranderende selle sou hê. Sommige van die middels
was erg toksies en dis geen wonder dat mense dikwels verskriklik sleg
gevoel het nie. Vandag se terapie is baie meer subtiel en molekulêr gerig
en partykeer is dit presies wat nodig is. Danksy die nuwe generasie middels
is daar lig aan die einde van die tonnel. Ontwikkelings in plastiese
chirurgie is ook bemoedigend. ’n Vrou kan byvoorbeeld vir ’n mastektomie
gaan en as sy bykom, is haar bors gerekonstrueer.”
Nuwe navorsing toon dat as mense gesond lewe, nie rook nie,
oefening doen en nie aangebrande en gerookte kosse eet nie,
daar wel ’n kans is dat hulle kanker kan keer
KRY JOU TOETS GOEDKOPER
Wilma het, soos verlede
jaar, weer saam met
Huisgenoot ’n spesiale
afslag van 10 persent
vir mammogramme by
radioloë reg oor die land
gereël. Dis vir die hele
Oktober, Borskankermaand, geldig.
Kyk op www.health24.com watter
radioloog naby jou jy kan besoek.
Risikofaktore en borskanker –
wat is die belangrikste?
Ons weet dat sekere faktore ’n mens se kans op borskanker verhoog. Die
siekte kom honderd keer meer by vroue as by mans voor. Dit ontwikkel
ook meestal in ouer vroue (85 persent kom voor in vroue ouer as vyftig jaar).
Die derde belangrikste faktor is ’n familiegeskiedenis waar minstens twee nabye
familielede (jou ma of suster of dogter) borskanker gekry het voor die aanvang
van menopouse. Dit verdubbel jou risiko. As een nabye familielid borskanker het,
is jou kans een uit vyf om borskanker te kry.
Kanker in jou ander bors, vorige biopsies wat abnormale of ongewone groei
van borsweefsel gewys het en bestralingsbehandeling in die borskas-area vir
ander soorte kanker, verhoog ook jou kans op borskanker.
Dan is daar die verband tussen borskanker en estrogeen. Enigiets wat jou
blootstelling aan die hormoon verhoog en verleng, kan jou risiko vir borskanker
verhoog. Dit sluit die volgende in: Vroeë aanvang van menstruasie en laat
menopouse, die gebruik van hormoonvervangingsterapie (HVT) vir vyf jaar
of langer en ’n eerste swangerskap ná die ouderdom van dertig. Hoe minder
swangerskappe jy gehad het en korter jy jou baba borsvoed, des te hoër is jou
kans op borskanker. Voorts kan die gereelde inname van alkohol (een of meer
drankies per dag) ’n vrou se kans op borskanker verhoog, net soos wat oorgewig
ná menopouse dit ook kan doen.
Het jy geweet?
’n Vrou se kans op borskankeroorlewing hang baie af
van die chirurgie en die bekwaamheid van die chirurg.
Win ’n tweede mening in as jy onseker voel.
Mammografi e is veilig. ’n Ervare radioloog kan met
mammografi e ’n knop van 0,5 – 1 cm opspoor, terwyl
jy met ’n selfondersoek ’n knop van 2 cm in deursnit
sal kan raak voel.
As jy kanker in een bors het, het jy wel ’n groter kans
om kanker in die ander bors te ontwikkel.
Jou kans op borskanker is net eff ens groter as jy
voorheen onskadelike knoppe in jou bors gehad het.
’n Tipe borskanker, buiskanker in situ (DCIS), het met
vroeë opsporing ’n uitstekende herstelkoers.
Vir meer inligting oor borskanker en besonderhede van jou naaste Reik
na Herstel-groep, bel KANSA tolvry by 0800-22-66-22, stuur ’n e-pos na
info@cansa.org.za of gaan na die webtuiste www.cansa.org.za
Gaan ook na www.health24.com se afdeling oor borskanker.
Breast centre
Lees Mellèta se storie net hier.
|